Cinema Paradiso

 

Die ligte verdof. ‘n Breë straal lig skyn uit die betonleeu se bek tot op die silwerdoek. Swart-en-wit beelde vorm op die doek. Die seuntjie staar verwonderd beurtelings na die ligstraal uit die brullende leeu se bek en die skerm. ‘n Wonderwêreld ontvou voor sy oë.

Ek wou nog altyd graag ‘n film gemaak het. Juis daarom my bewondering teenoor hulle wat dit regkry om m.b.v ‘n kamera ‘n verhaal te vertel wat jou aan die hart gryp en deel van jou lewensverwysingsraamwerk word.

Die toneeltjie uit Cinema Paradiso kon net sowel my ervaring van films gewees het.  Die aangrypende film met Giuseppe Tornatore as regisseur,  vertel die verhaal van die seuntjie, Toto, se fassinasie met die films wat in hulle teatertjie in ‘n klein Siciliaanse dorpie vertoon word. Toto se pa het nie teruggekeer na afloop an die oorlog nie en word as vermis beskou. Daarom word Toto se  besoeke aan die bioskoop sy ontvlugting van die werklikheid en ‘n kennismaking met ‘n nuwe (wonder)wêreld. Selfs al moet hy die broodgeld wat hy  by sy ma kry om mee winkel toe te gaan, daarvoor gebruik. Die projektor-operateur, Alfredo, word sy getroue bondgenoot.

Die aangrypende Klankbaanmusiek deur Ennio Morricone, dra by om van hierdie film ‘n nostalgiese reis te maak waarmee  meeste “Baby Boomers” sou kon identifiseer. Die jare van onskuld en ontdekking. Veral ook bring dit ‘n verlangepyn na dit wat  onherhaalbaar verby is – die bioskoop (genaamd die Alpha, Phoenix, Apollo, Roxy, Leba of iets dergeliks). Die rooi sitplekke en die fluweelrooi gordyne wat geheimsinnig voor elke vertoning oopswaai. Die “Ushers” wat pouse (en soms in die vertoning) rondloop met skinkborde wat met sulke bande om hulle nekke gedra word. Dan skyn hulle met ‘n flitsie ewe aanloklik oor die lekkergoed op die skinkbord en vind altyd gewillige kopers.

Eintlik dink ek is daar nog self meer nostalgie verbind aan die inry wat in die sestigerjare sy hoogtepunt bereik het. Dit was die algemeen aanvaarbare vorm van gesinsvermaak oor naweke. Die hele aanloop het die uitstappie so lekker gemaak. Jy kon jou  nagklere aantrek (mits jy klein genoeg was). Daar is ‘n kosmandjie gepak  en dan het die groot uittog begin. Ons keuse was gewoonlik tussen die Meiringspark  of die Lanza. Fase twee van die opwinding was die lang wag voor die hekke van die inry wat nog nie oop was nie. Dan het hordes motors opgedam en het die angs gegroei of ons die afsnypunt sal haal. Veral wanneer ‘n  Afrikaanse film vertoon is,  moes jy ten minste ‘n uur voor die tyd daar wees, anders was teleurstelling jou voorland as jy weggewys word.

Ai – die opwinding as jy wel ingelaat word en die soektog na ‘n geskikte staanplek begin. Dan, die vorentoe-en-agtertoe en heen-en-weer die motor manuvreer totdat almal naastenby die skerm kan sien. Net om dan dalk te ontdek dat die luidsprekertjie wat by die venster ingehaak word, nie werk nie. Ek onthou ‘n geleentheid toe ek my sus en niggie inry toe  geneem het, pas nadat ek my eerste motor gekry het. Ons het ‘n staanplek gevind en toe begin die groot heen-en weer sodat almal kon sien. Die film het net begin en my niggie wat agter gesit het, het aanhou kla dat sy nie kan sien nie. Dan maar weer ongeduldig die motor herrangskik. Toe ons uiteindelik vra hoe dit dan moontlik is dat sy nie kan sien nie, sê sy daar is woorde op die skerm wat maak dat sy die prentjies nie mooi kan sien nie. Ai tog!

Soms onthou ek eerder die gevoel wat ek buite die motor ervaar het as ons op warm somersaande op ‘n reisdeken voor die motor kon sit. So onthou ek hoe tydens die film “Mary Poppins” se uitgerekte animasiegedeelte,  eerder na die sterrehemel gekyk het as na die film.

Wanneer my streng Duitse Ouma Alwine saamgegaan het inry toe, het ons weliswaar nog lekkerder padkos gehad maar ook ‘n selfaangestelde sensor. Sodra Ouma enigsins gevoel het het dat die toneel op die skerm darem te intens was en nie vir kinderoë bedoel is nie, het sy ewe nonchalant haar pakkie Smarties oopgemaak en die inhoud “per ongeluk” op die vloer laat  val en ons kinders dan aangesê om die Smarties te soek!

Na die film, was die groot saak om te onthou om die luidsprekertjie terug te plaas voordat jy ry, anders het die geamputeerde luidspreker saamgery! As kind was die bonus dat jy kon maak of jy aan die slaap geraak het met die terugrit na die fliek en dan bed toe gedra is deur pa. Dit was die afronding van ‘n heerlike aand.

Die talle films het tog ‘n belangrike neerslag in my lewe gevorm. Grepe uit films het hulle later weer voor my geestesoog afgespeel. Belangrike lewenswaarhede is via flieks ontdek. So is my vermoede oor die feite van die lewe  bevestig nadat ek die film: “Debbie”gesien het. Het ‘n film soos Sound of Music die draaiboek geword vir ons “middagvervolgverhaal” wat ons smiddae in die tuin laat afspeel het. Met klankbaan musiek uit ons geradbraakte onthou van die woorde van die klankbaan. Gelukkig is liede soos  “Do-Re Me” en “My favourite things” darem redelik volledig gesing. 

Grepe lewe wat homself op die silwerdoek uitspeel, het ons drome en ideale bepaal.

Na  die film “Romeo en Juliet” het die beeldskone Olivia Hussey se plakkaat my muur versier. Sy het Julie Andrews onttroon.Om self maar net weer op haar beurt onttroon te word deur Tani de Lange van ” Professor en Prikkelpop”-faam. Haar geraamde en getekende foto het prominent op my lessenaar gepryk.  Die held van die Spaghetti westerns, Clint Eastwood, het met sy skrefiestaar vir Paul Newman van die muur laat verdwyn. Clint was my model van onverstoorbaarheid. Koelkop en berekenend in enige situasie.

Een naweek is ons op ‘n gesinsuitstappie na Johannesburg. My pa verras ons – ons gaan fliek in die Cinerama met sy geboë skerm wat jou laat voel jy is deel van die gebeure op die skerm. Ons sien “The Taming of the Shrew” met Elizabeth Taylor en Richard Burton. Dit voel of ons midde in hulle woord- en vuisgevegte staan.

‘n Paar weke gelede gaan kyk ek my eerste 3-D film: “Toy Story 3” Ek sit die brilletjie huiwerig op toe die fliek begin. En snak omtrent na my asem oor die onmiddellikheid van die beeld. Dis hier by my en ek is in die storie!

Met ons huweliksonthaal noem ek my begeerte om regisseur van ‘n draaiboek te wees – in beheer van elke skoot en verhaallyn. Besef egter dat daar ‘n Groot Regisseur is wat die storielyne wonderlik tot ‘n geheel saamvoeg.

Aan die einde van Cinema Paradiso woon Toto as volwasse man en suksesvolle regisseur die begrafnis van sy getroue vriend Alfredo by. Alfredo het hom bekendgestel aan al die geheimenisse van die projektorkamer. So het Alfredo die projektor geswaai sodat die ligstraal deur die venster geskyn het en die beeld op ‘n oorkantste muur in die buiteplein geval het. So is die rolprent aan die hele dorpie vertoon. In die projektorkamer het hy ook gesien hoe Alfredo stukkies wit papier invoeg in die filmrol as die priester die film sensor. Die priester het ‘nvoorskou van die film gehad en het in die voorste ry gesit. Wanneer daar ‘n soentoneel was of die paartjie net te amoreus na sy sin begin raak het, het hy die klokkie gelui en Alfredo moes die toneel dan uitsny uit die film. Hy het nie my ouma se taktiek met die Smarties geken nie!

Wanneer Toto na die begrafnis die blik oopmaak wat Alfredo aan hom nagelaat het,  is dit vol stukkies filmknipsels wat  gesensor was deur die priester en nou deur Alfredo tot ‘n aaneenlopende film saamgevoeg. So ontdek Toto al die verlore brokkies van sy lewe.

Soms laat ‘n film jou as’t ware in die spieël kyk. Sien jy brokkies lewenswaarhede wat saam ‘n groot eenheid vorm. Weet jy dat wanneer die eindtitels van jou lewe eendag op die groot skerm van die Heelal verskyn, daar soveel medespelers in die verhaal van jou lewe verskyn. Besef jy ook dat doodgewone gebeurtenisse eintlik jou lewe help vorm het.

Dan  weet jy dat die verhaal wat die Regisseur verfilm het, uniek is. En dat die dele wat jy graag sou wou “uitklokkie” met die rooi van kruisbloed gekleur is en nou nuut vertoon.

Amanda Strydom vertel van die groot Regisseur en die lewensdrama  in haar liedjie “My Kamer”

Die wêreld is my woning nie, Totius sou verstaan
Ek reis al meer na binne
tot dit tyd word om te gaan

Ons ken die komplot van die drama
Elke eeu word daar flink repeteer
Net die rolverdeling en dekor verander
Maar waar is die groot regisseur, waar is die groot regisseur

Die wêreld is my woning nie, Totius sou verstaan
Ek reis al meer na binne
tot dit tyd word om te gaan…

  

One Response to “Cinema Paradiso”

  1. Leon says:

    In die Kritz (?) mag ons nooit gekom het nie, maar na baie pleit darem in die Capitol in Wynberg. Gelukkig het ek mense op die regte plekke geken: my oom het die flieks gedraai by die See Breeze inryteater en ons bure se seun Rudolph het dieselfde gedoen by die Constantia. By my oom het ek geleer van die projektors, en films las en die koolstofstaaf-ligte, maar Rudolfh was die een wat my dikwels van bo uit die projektorkamer flieks laat kyk het – ongemaklik deur die klein venstertjie, maar so opwindend.
    Dankie dat jy dit met ons gedeel het. Dalk moet ons almal weer Cinema Paradiso gaan kyk.

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.