Die Aflos-kaartjie

 23 September is ‘n belangrike datum in ons familie – a.g.v twee goeie gebeurtenisse op die datum en ook een hartseer rede. Ek skryf graag vandag oor die goeie.Op 23 September 1950 tree ‘n negentienjarige jongman in die huwelik met sy geliefde, ‘n ses-en twintigjarige jongmeisie. Maar ek wil die verhaal bietjie vroeër gaan haal. By ‘n kaartjie wat gestuur is in 1915. Vyf-en-negentig jaar gelede.

My oupa en ouma Jacobus  en Alwine (Winnie) Van Niekerk  is getroud op 29 Februarie 1916. Skrikkeldag, midde in die Eerste Wêreldoorlog. ‘n Tyd van onsekerheid en uitsigloosheid. Hulle was albei vyf-en-twintig.

Twee maande voor die troue stuur hy aan haar ‘n kerskaartjie waarin hy sy liefde aan haar verklaar. Te midde van die grysvaalheid van die oorlog stuur hy aan haar hierdie besondere kaartjie wat vertel van geloof, hoop en liefde. Veral die liefde. ‘n Romantiese kaartjie wat selfs aan ‘n braille leser genot sal verskaf, want dit is gedruk in reliëfwerk.

Voorop is ‘n baie simboliese prentjie: Twee hande van geliefdes wat mekaar in ‘n reddingsboei ontmoet onder ‘n anker van blou vergeet-my-nietjies en die woorde met die silwer-sprinkeling op: With Fond Love. My stil, beskeie Oupa se visuele liefdesverklaring.

Binne-in is daar ‘n “Wishing you a Happy Christmas” gedrukte wens met ‘n gedrukte rypmie by. Dan, in sy eie handskrif  staan geskryf:

From Jacobus

To Winnie – with fondest Love

Christmas 1915

Oupa en Ouma Van Niekerk se huwelik duur drie-en veertig jaar totdat Oupa op nege-en-sestigjarige ouderdom dood is. Uit hulle huwelik word vyf kinders gebore, waarvan vier volwassenheid bereik. My ma, Alwine, (Winnie) is die vierde van die vyf kinders. Sy trou op 23 September 1950 in Ontdekkers, Johannesburg met Willem (Bokkie) Fourie wat saam met haar in die Rand Leases mynkantore gewerk het.

Jarelank word Oupa Jacobus se  kosbare kaartjie in die ou Hollandse Familiebybel gebere. As kind blaai ek soms deur die Bybel en kyk na die koerantuitknipsels, foto’tjies en selfs ’n pers Moedersdagstrikkie wat getrou in die Bybel bewaar word. Maar veral kyk ek na die Fondest Love kaartjie. Na Oupa en ouma se dood bly die Bybel in ons gesin se besit. My Pa en Ma is op ‘n paar maande na dertig jaar getroud toe sy onverwags aan ‘n hartaanval sterf in 1980 en my Pa vier jaar daarna.

Negentig jaar na die kaartjie se eerste gebruik, word dit weer ingespan. 

23 September 2005 (wat my ouers se vyf-en-vyftigste huweliksherdenking sou wees) vertrek my Reisgenoot en ek na Philippolis. Ons gaan besigtig ‘n historiese huisie wat in die mark is. Eintlik is dit net ‘n voorwendsel om haar op Philippolis te kry vir die Groot Vraag. Want die vraag moet in die oopheid van die Karoo gevra word.

Oupa Jacobus se kaartjie wat al die jare in die familiebybel bewaar gebly het, word ingespan vir die spesiale geleentheid.Op die oop blaadjie na sy liefdesverklaring aan Ouma Winnie, skryf ek my briefie aan my Reisgenoot, Lynette.

Na ‘n heerlike romantiese ete te Bokpost (‘n gasteplaas in die Philippolis distrik) gaan kyk ons hoe helder die karoo sterre skyn. Ons voer ‘n lang gesprek oor die pad wat ons saamgeloop het tot hier en ek  oorhandig ek die kaartjie saam met die ring aan haar. Ek weet nie of dit die priemende blik van Oupa en Ouma was  wat vanuit ‘n foto in die kaartjie na haar gestaar het en of die blinkblou van die saffier in die ring die oorredingswerk gedoen het nie, maar sy antwoord  JA.

 Die kaartjie word ‘n kosbare deel van ons Memorabilia. Met die verhuising na ons troue,  raak dit onverklaarbaar weg. En bly net weg. Ons soek oral, dink aan alle moontlike plekke waar dit dalk kan wees. Maar tevergeefs. Oupa Jacobus se kaartjie (en ons s’n ook!) het eenvoudig net verdwyn.

Twee jaar gaan verby. Een Maandagoggend kom my Reisgenoot met ‘n jubeling by die studeerkamer in. Sy het die lêer in die hand met Oupa Jacobus se kaartjie en ‘n organza lappie waarin die verloofring toegebind was. Uit vrees dat dit dalk sou verlore gaan het sy dit twee jaar gelede in die lêer  gebêre en  vergeet waar sy dit gebêre het.  Die oggend het sy ‘n dringendheid gehad om in die kas in die spaarkamer te gaan kyk en die lêer daar gesien. Ons vier die herontdekking van Oupa Jacobus se  kaartjie. Dis immers ook mos nou ons kaartjie. ‘n Afloskaartjie van meer as negentig jaar. Wat vertel van liefde wat altyd verrassend nuut bly.

Nou wag die kaartjie, om wie weet dalk eendag, nogeens ‘n volgende liefdesverhaal te vertel?

One Response to “Die Aflos-kaartjie”

  1. ALWA says:

    Die kosbare datum wat hieraan kan vashak (met bostik) is 18 Sept 2010, toe Marcel en Alda (my jongste )getroud is . Die “something OLD ” vir Alda, is ‘n baie spesiale sakdoekie , handgemaak met liefde, uit die duursame , erg verkleurde kant van die 60 jaar – oue trourok (23 Sept 1950). Die rok is nog al die jare met sorg bewaar ! Die “something BLUE” was ook nogsteeds aan die binnekant van dieselfde trourok vasgewerk – Glo dat die kosbare nuwe geleentheid-toevoeging tot ‘AFLOSKAARTJIE’ net soveel kosbare herinneringe en geluk sal meebring. Dieselfde God van Abram , Isak , Jakob, Bokkie , Winnie , Wim, Lynette -LEEF nogsteeds…..vandag en tot in Ewigheid die God van Geloof…Hoop….Liefde!

Leave a Reply