‘n Kind se kyk

Daar is iets wat ek wens ek hierdie Kersfees kon ontvang en ruimskoots uitdeel: Die verwondering  in ‘n kind se kyk.

Onlangs sit ek en wag vir my vrou, wat  op die besige dag  ‘n paar sake in ‘n winkelsentrum moet afhandel. En ek kyk na mense wat verbyloop. Sommige stadig en onseker, ander haastig en gedrewe. Party lyk lewensmoeg en ander het ‘n skyn van energie, maar met ‘n frons tussen die oë. Ineens sien ek ‘n oupa wat stadig stap met sy kleinkind aan die hand. Die oupa sukkel met stram knieë maar die seuntjie hou sy oupa se hand styf vas en trippel van opgewondenheid langs hom. Later toe hulle van die winkel terugkeer en in die motor langs my klim, sien ek die seuntjie se helder ogies wat verwonderd kyk na alles om hom, maar steeds met sy hand veilg in sy oupa s’n. gereeld met heldeverering na die groot oupa van hom kyk.

 Iets hiervan weerspieël Brenda Race in haar gedig: Through the eyes of a child:

 The innocence of a child’s soul

Is what makes them seem so whole.

So peaceful and trusting as they reach out

Full of life and rarely a doubt.

Skipping along while holding your hand,

Knowing that you will take their stand.

Loving you entirely for who you are,

Soaring the beauty of your soul with no scar.

As we grow older and more serious in age,

We become fearful and full of rage.

We begin to lose the things that once made us feel loved…

God grant us the gift to look back as a child,

To trust and love with a soul undefiled.

Looking once more through the eyes of a child.

 Die kyk in ‘n kind se oë weerspieël presies wat hy/sy ervaar. Daar is ‘n stukkie hemelse helderheid in ‘n kind se kykers. So asof al  die filters wat ons volwasse oë ondersigtig maak, nog nie vastrapplek op hulle kinderhelderte  gekry het nie. Dit bly vir my wonderlik om ‘n kind dop te hou  en te sien hoevel emosies en opgewondheid in hulle oë weerspieël word.

Onlangs stop ek voor my suster se woning en sien hoe opgewonde haar twee kleinkinders uitstorm om my te kom verwelkom: Wikne het ‘n blom in haar hare en lyk soos ‘n feëtjie. Kleinboet Wilco kom met uitgestrekte arms aangestorm om welkom te sê. Ek groet hulle, tel hulle op en ons gaan sit by die tuintafel en stoeltjies. Wilco gaan lê peinsend op sy armpies. Dit roep vir ‘n foto.

 Geen wonder nie dat Jesus ons herinner dat ons met kinderlike eenvoud Hom moet opsoek:

 Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” (Luk 18:16-17).

Daarom: My kerswens aan almal (myself inkluis):

Om weer met kinderverwondering na die wêreld te kyk en met  openheid van ‘n kind weer na die Jesuskind in die krip te kyk en iets van sy matelose liefde te ervaar..

 Frank O’ Connor vertel ‘n verhaaltjie van  ‘n seuntjie wat op kersoggend sy begeerde rooi lokomotief as kersgeskenk ontvang het en die groot geskenk saamgeneem het na die vroegoggend Kersdiens.

 Na die diens het hy by die kersuitbeelding in die liturgiese ruimte gaan staan en peinsend na die Jesuskind in die krippie gekyk. Toe hy besef dat die kindjie geen geskenkie by hom het nie, het ‘n roekelose vrygewigheid hom beetgepak. Hy het sy rooi lokomotief in die krippie langs die babatjie geplaas en gesê: “Dit is vir jou”. Op daardie oomblik het die seuntjie wat sy geskenk oorhandig het, ‘n ligtheid ervaar wat hom sy lewe lank bygebly het.

 Mag ons dieselfde roekelose vrygewigheid ervaar in die Teenwoordigheid van die Geskenkkind. Hy wie se oë anders na ons kyk.

  Met heelmaak-oë.

                            

One Response to “‘n Kind se kyk”

  1. Rene says:

    Dis eers as jy met kinders weer saam leef dat jy besef watse groot verantwoordelkheid op jou le,hulle glo als wat jy hul vertel.Hulle vertrou jou ook ten volle- so leef die LIG van Waarheid.

Leave a Reply