Rotsliefde

Dis die tyd van die jaar dat die rooi gety ‘n tsunami word en die wêreld oorspoel. Rooi hartjies, rooi rose, teddies met bloedrooi strikke om die nek en hartvormsjokolades in rooi omhulsels vier hoogty. Dis die Valentysgolf wat meedoënloos alles oorspoel. Wanneer die liefde so onbeskaamd kommersiëel opgeveil word, wonder mens weer oor wat die wesenskwaliteit van die liefde is.

Liefde word al lank die groot valuta wat tranetrekker flieks verkoop. Dink maar aan die  stormagtige liefdesverhaal tussen  Rhett Butler (Clark Gable) en Scarlet O Hara (Vivien Leigh) in die klassieke film Gone with the wind (1939). Of die hartseer liefdesverhaal van Rick Blaine (Humprey Bogart)  en Ilsa Lundt (Ingrid Bergman) in Casablanca (1942).

Wie van die veertigplussers onthou nie die tranetrekker fliek uit die sewentigerjare nie?  Love story. Met Ryan O’Neill en Ali Mc Graw in die hoofrolle. Dit was die ikoonfliek van daardie era oor die liefde. Hoe kan dit anders wees as’n fliek (en boek) begin met die woorde; “What can you say about a twenty-five-year-old girl who died? That she was beautiful and brilliant? That she loved Mozart and Bach, the Beatles, and me?”  Die trane het behòòrlik gerol. Ernstig  gerol. Oor die tragiese heengaan van die hoofkarakter.

Saam met die fliek het dié veronderstelde wysheid gekom: “Love means never having to say you’re sorry.”  Wat onrealisties en onhaalbaar is. Want telkens weer moet mens die Jammerwoord kan sê.  En oefen om dit te kan doen.

 By ‘n funksie in die Kaap, loop ek na agt-en-dertig jaar weer my standerd ses Engelse onderwyseres raak. Ons gesels oor die interessante kronkelgang van die lewe. Oor waarhede en veranderlikes. Na ons ontmoeting gaan delf ek in my argiewe en spoor dié waarheid op wat sy in 1967 in my Vriendskapsboekie geskryf het:

 Love is the only freedom in the world
because it so elevates the spirit
that the laws of humanity and phenomena
of nature do not alter its course.

Toe ek  per epos haar herinner aan die woorde wat sy  in my boekie geskryf het,  druk sy haar verbasing uit dat sy as drie-en-twintigjarige groentjie-onderwyseres so waarheid kon aanhaal. Tog onderskryf sy steeds die waarheid van die woorde.

 Liefde, daardie vreemde ondefinieerbare begrip.

  Vanmiddag moet ek weer ‘n huweliksboodskap bring aan  twee jongmense wat op die drumpel van ‘n nuwe reis staan. Hulle wil bevestiging hê van die die duursaamheid van die liefde. Dat hul liefde soos  ‘n huis op ‘n rots sal wees wat die aanslae van die storms kan weerstaan. Ek kan nie vir hulle die ingeboude versekering gee dat hulle liefde die storm sal trotseer nie, want menslike liefde is feilbaar en wispelturig. Tog kan ek hulle herinner aan die onfeilbare Rotsliefde  wat God vir ons het. En  dat ons liefde se duursaamheid in sy Liefde veranker moet wees.

 Die waarheid bevestig Don Fransisco in sy lied: “I could never promise you”

 I could never promise you on just my strength alone
That all my life I’d care for you, and love you as my own
I’ve never known the future, I only see today
Words that last a lifetime would be more than I could say

But the love inside my heart today is more than mine alone
It never changes, it never fails, never seeks it’s own
And by the God who gives it, and who lives in me and you
I know the words I speak today are words I’m going to do

(Chorus)
And so I stand before you now for all to hear and see
I promise you in Jesus’ name the love He’s given me
And through the years on earth and as eternity goes by
The life and love He’s given us are never going to die…

Tydens ons wittebrood reis my reisgenoot en ek op nuwe paaie. Ons ontdek die mooi Laeveld en plekke soos Sabie, Hazyview, Nelspruit, Graskop en Pelgrimsrus. Veral Pelgrimsrus is ‘n karaktervolle dorpie wat oorloop van geskiedenis. Ons verken die dorpie stelselmatig en drink heerlik tee op die stoep van ‘n sinkgebou restaurantjie. Later stap ons verder straatop en snuffel deur winkeltjies en bekyk die Royal hotel met sy historiese kroeg. Toe stap ons met die steil paadjie uit die dorp, verby die mooi kerkie en tot by die die begraafplaas met sy driehonderd-en-twintig grafte. Tussen die grafte soek ons tot ons die berugte Rowersgraf kry. Ons neem foto’s. My reisgenoot het haar eie kamera en kiek my waar ek tussen die gras lê om die detail op ‘n grafsteen af te neem.

Toe ons begin terugstap na die dorpie, rem sy skielik terug. Sy beduie voor ons op die rotsplaat. Daar is ‘n kunstig gevormde hartjie wat deur erosie gevorm is in die rots. Sy stileer die hartjie met ‘n blommetjie en ek neem die foto. ‘n Herinnering dat as mens oopoog reis, jy die oersimbool van die liefde op onverwagte plekke raakloop. Ons lag opgewonde oor die ontdekking. Waarlik Sy Rotsliefde is ons behoud en gee koers aan ons nuwe saamreis.

Al moet mens soms sê jy is jammer. Dan groei die blomme weer in rotsholtes.

One Response to “Rotsliefde”

  1. Rene says:

    Dis die lekker van die Blog, n mens word meer oopgestel om al die klein dingetjies raak te sien en God se grootheid te besef.

Leave a Reply