Potskerf-prediker
“As ek maar net kon” Coenie de Villiers se liedjie oor verlore liefde, bevat die aangrypende frase:
Dalk kan ek die seer, met ‘n potskerf besweer
of dalk kan ‘n mens, deur bloot net te wens en hard te probeer
die verhaal herskryf…
Is daar werklik omdraaikans en nuwe hoop vir ‘n vasgeloopte lewe? Kan daar uit die ashoop weer nuwe lewe kom? As mens alles verloor het, is daar nog iets om te wen?
Audrey Blignault skryf in haar essay : Nogtans sal ek jubel, dat as sy die dag voel soos ‘n garsland met doodgaansiekte, dit tyd is om weer die profeet Habakuk se lied in Habakuk 3:17 e.v. te lees.
Ek gaan soek graag versterking by Job op sulke dae, want veel slegter kan dit nie met mens gaan as met Job op die ashoop nie. Hy het alles verloor – sy veetroppe, sy besittings, sy tien kinders en nou staan hy die gevaar om sy vertroue in God ook te verloor hier waar hy op die ashoop sit en himself met ‘n potskerf krap. Hierdie suksesvolle en geseënde Godsman is ook uitgelewer aan ‘n velsiekte en verder verwyt sy vrou hom. Sy moedig hom aan om God te verwyt vir die dilemma waarin hy (Job) tans is.
In die film wat tans op die kringloop wys, Jane Eyre (Charlotte Bronte se klassieke verhaal), is daar ‘n toneeltjie wat nogal aan Job-op-die ashoop herinner. Na verloop van tyd keer Jane terug na die kasteel waar sy as goewernante gewerk het. Sy het Adele, die franse meisie wat onder voogdyskap van die edelman Edward Rochester is, opgepas. ‘n Bus laai haar by die ingang van Thornfield Hall, af. Sy drafstap die ent pad wat lei tot by die kasteel. Tot haar uiterste skok sien sy toe sy naderkom, dat die kasteel in ‘n brand verwoes is. Sy dwaal rond in die gebrande oorblyfsels en daar kom sy die huishoudster tee. Sy hoor by haar dat die versteurde vrou van die edelman een nag die kasteel aan die brand gesteek het in een van haar aanvalle. Hy het in die brandende toring opgeklim het om sy vrou te probeer red, maar tevergeefs. Wanneer Jane van die kasteel begin wegstap, sien sy ‘n verwaarloosde figuur onder ‘n boom sit met ‘n hond as geselskap. Kan dit wees? Toe sy so te se by die man is, kyk hy vraend op en vra huiwerig of daar iemand is. Jane kom nader en raak aan sy hand. Hy kyk met onsiende oe op, terwyk hy huierend haar naam noem. Die ryk edelman het alles in die brand verloor, ook sy sig.
‘n Klompie jare gelede is ek vir ‘n paar weke in die Nasionale Hospitaal behandel vir akute psoriase. Oor ‘n tydperk van maande het die vel-uitslag toegeneem en my met groeiende frustrasie en irritasie gevul. Die rooi uitslag oor my lyf het verander in rowe wat vorm en oopbars. Nie ‘n plesierige ervaring nie. Kortisoonbehandeling en ‘n soutlose dieet vorm deel van die behandeling. Die behandeling word dan opgevolg met ‘n direkte velbehandeling. ‘n Dik salflaag word oor jou hele lyf gesmeer en dan moet jy ‘n tipe plastiek-ruimtepak aantrek wat jy dag en nag moet dra totdat die rowe uiteindelik afval. Daarna word die gevoelige vel blootgestel aan Ultraviolet A (die behandeling word PUVA genoem). Dit sensitiseer jou vel vir die lig, maar dit bring mee dat jy vir ‘n paar uur ‘n donkerbril moet dra omdat jou oë dan ook uiters sensitief is vir lig.
In die pre-ultravioletfase lê ek eendag in die hospitaalbed en bedink die vreemdheid van my lyf. Behalwe vir die vreemde plastiekpak, is ‘n verpleegster boonop besig om steriele papiertjies tussen my tone in te druk sodat die salf tussen die tone kan “asemhaal”. Ek voel melaats. Ek bekyk die prentjie en dink skielik dat my voete nou ‘n klaagmuur geword het, waar gebedsbriefies in die skrefies gedruk kan word. Boonop jeuk my lyf onophoudelik en wens ek vir ‘n stukkie potskerf om net die volgehoue jeuksensasie te verlig. Ek ervaar Job lyflik en eerstehands. Ek het nie naastenby die somtotaal van sy verliese ervaar nie, maar net die aantasting van my lyf, laat my besef hoe kwesbaar mens is. Hoe gou kan loflied klaaglied word. Al wat ek darem redelik gemaklik kan doen is om te lees en te skryf, want my hande is darem nie besalf nie.
Ek tel my vertroude Bybel met sy bruin leeromhulsel op. Ek blaai weer tot by die geskiedenis van Job: “In die land van Us was daar ‘n man met die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy…” Geleidelik ontvou die geskiedenis van Job, word hy eietyds. …
Uiteindelik lê ek terug op die hospitaalbed. Die woorde van Job 42:5 bly my by: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek u self gesien.”
Ek moet die ontdekking met iemand deel. In my bedkassie is ‘n skryfblok en ‘n pen. Ek begin met ‘n Hospitaalbrief: Van een pasient aan ‘n ander :“Liewe Pa”
My Pa lê in Little Company of Mary hospitaal in Pretoria waar hy behandeling vir klierkanker ontvang. Henri Nouwen se treffende boek: “The wounded Healer” sou eers jare later my pad kruis, maar ek ervaar iets van die heling wat selfs vanuit die pen van ‘n “melaatse” aan ‘n ander lydende gebring kan word. Die brief is ‘n vorm van terapie, want ongemak en pyn word ‘n vreemde band wat my en my Pa hegter bind as wat ons ooit nog was. ‘n Maand later is ek by toe my Pa se seerpad voltooi is. Vroeër die aand kon ek vir hom lees van ons wat meer as Oorwinnaars is deur Hom wat as Gewonde Heelmaker herstel bring.
Toe kom Job ook tuis op Philippolis. Elke besoek wat ons aan die dorpie bring, bring nuwe ontdekkings mee. Gedurende Desember verlede jaar, het ons die eerste keer die Jobhuis in Bergstraat besoek. Die huisie is amptelik op 4 Desember 2010 geopen en huisves 25 skilderye wat die worstelstryd van Job uitbeeld. Tien jaar gelede het die kunstenares, Rina Coetzee ‘n nuwe ontmoeting met Job gehad, tydens ‘n oorgangsfase in haar lewe. Nou hang die aangrypende skilderye in ‘n permanente plek in die Jobshuis se galery. Elkeen wat daar besoek aflê kan troos, versterking en heling vind deur net in die galery te sit en die proses van Job se worsteling in te neem terwyl suiwerende musiek op die agtergrond weerklink. Mooi verhale van heling het al in die paar maande wat die Jobhuis bestaan, hom hier afgespeel. Die drie vroue wat die huisie voltyds “beman” is ingestel om ‘n hawe te skep vir mense met seer. So word dit ‘n katarsisplek. ‘n Klaagmuur met bedebriefies wat ook ‘n dankiesêplek word.
Jobhuis het weer vir my ‘n ontmoetingsplek geword met die potskerf-profeet.
En met die God wat ashoop-potskerf-mense weer hoop gee.
“ Hy sal tot God bid, God sal sy gebed verhoor,
Hom met vreugde laat bid,
Dan getuig hy voor die mense:
Hy het my gered,
Ek het nie gesterf nie,
Nou lewe ek weer.”
(Job 33: 26,28)
(Met erkenning -skilderye deur Rina Coetzee)
Explore posts in the same categories: Uncategorized