Boeke met Stories

Party boeke bevat stories.

Soms is die boek self ‘n storie.

Veral word die boek wat storie word, gekenmerk deur ‘n interessante inskripsie voorin: ‘n Naam, plek, datum, ‘n wens voorin geskryf. Wanneer  ek  ‘n tweedehandse boek optel wat kennelik ‘ n lang pad kom, is die eerste opwinding om te sien aan wie die boek behoort het, waar die persoon gebly het en watter geleentheid die boek se aankoop regverdig het (verjaarsdag, prestasie, krisis ).

‘n Naam, geskryf in sierletters in ‘n boek, laat dadelik baie vrae ontstaan  oor wat die persoon se omstandighede was. En altyd wonder ek of die persoon nog lewe en waarom die boek uit sy haar besit gegaan het. So bv. kyk ek na die twee piepklein sangbundeltjies wat in 1915 uitgee is. Op die titelblad staan die inligting oor die klein boekies: Het boek der Psalmen nevens de Gezangen bij de Hervormde Kerk van Nederland in gebruik. Maar ek hou van die die persoonlike inskripsie in sierletters op die blad voor die titelblad: Birthday Present to Miss MC Pretorius: Many, Many happy days on your birthday. May Good Fortune dear attend you and love light your Way. From Naudé, 26 May 1918. Dadelik wonder ek oor die “Miss Pretorius” en in watter verhouding sy tot Naudé gestaan het. Sekerlik leef hulle nie meer nie, maar steeds wonder ek oor die res van hulle verhaal…

Saterdag  het my reisgenoot en ek op die koudste dag van die jaar besluit om boeke wat nou al geruime tyd in kratte is, uit te pak en dit ten minste ‘n staanplek te gee op die boekrak wat ons onder die trap ingerig het. Toe begin die Groot uitpak, die Groot uitsorteer en die Groot ontdekkings. Ek pak uit en sorteer die boeke in hopies: Kosbaar (hou naby) goeie boek (wil dit byderhand hê om te herlees), Studeerkamerboeke (moet boontoe gedra word en plek voor in die boekrak gevind word) Boeke vir verkoop, veiling toe neem of weggee. (Weggooi is nie ‘n opsie nie)

Ek dink aan die waar woorde oor boeke wat ek onlangs in Sting se outobigrafie, Broken Music, raakgeloop het:

“Books will become for me a acquisitive passion, filling up rooms and rooms with their dusty and inert bodies. Like my Grandmother, I will never throw a book away, storing dog-eared paperbacks from school or college, year after year, stacked like hunting trophies on makeshift shelves in my room. For to sit in a room full of books, and remember the stories they told you, and to know precisely where each one is located and what was happening in your life at that time when you first read it, is the languid and distilled pleasure of the connoisseur…”

Boeke is van kleintyd af soos vriende waarvan ek nie kan afstand doen nie. daarom sal ek moeilik aanpas by ‘n e-boek in die vorm van Kindle. Want vriende het persoonlikhede en elke boek het sy eie gevoel. Tel maar ‘n nuwe boek op, bekyk die voorkant en draai hom om om ook die agterkant te bestudeer. Maak hom dan met peiteit oop en hoor hoe kraak die boek van genoegdoening om bekyk te word. Ruik aan die boek en kry die unieke geur van drukkersink op kraakskoonblaaie. Dis byna soos om die eerste een te wees wat die oggend vroeg langs die see stap nadat die gety die nag die strand skoongevee het en jy laat jou eerste voetspore op die blinkskoon strand…

Van kleintyd af het ek ook die intense behoefte om boek te red, van daar my kompulsiewe koop van boeke op veilings en tweedehandse boekwinkels. Ek kry boeke jammer, nes mens daardie leepoog hondjie in die draadhok by die DBV of in ‘n troeteldierwinkel se venster jammer kry. Tel ek ‘n goeie boek by so uitverkoping of veiling op, dan wil ek hom weer geliefd laat voel op ‘n rak tussen ander boeke, waar hy soms afgehaal word en gelees word. (ongelukkig moet ek bieg – ek het hordes ongeleesde of halfgeleesde boeke op my rak. Tog glo ek dat hulle weet dat hulle geliefd is.

Maar terug na die stories in boeke. Saterdag met die regpak van die boeke, kom my reisgenoot en ek weer op op soveel boeke af wat deel is van ons elkeen se geskiedenis en die lekker – die bekendheid van ‘n handskrif wat jy al byna vergeet het: Haar Pa se Pocket Oxford Dictionary met die inskrywing in sy eie handsrif voorin: Julius Kruger, Trades School, 16-01-1940. My Psalm-en Gesangboekie wat ek as geskenk ontvang het van my Ouma Fourie tydens my eerste studentejaar: ‘Wimpie, Gods Rykste seën met geboortedag. Van Ouma en Oom Jannie – 15 Maart 1972. So ook my reisgenoot se byna identiese gesangeboeke wat sy ‘n jaar later ontvang het: “Aan Lynette, Geseënde Kersfees, Met Liefde van Mamma en Pappa (1973).

Soms is daar ‘n kriptiese inskrywing wat toegelig word met meer feite, (ook hartseer)  as mens verder in die boek lees. My Duitse Oumagrootjie se Boek: Predigten uber die Evangelien des Kirchenjahrs is  oorgetrek met ‘n groenkleurige tipe seilmateriaal  wat binnekant met naald en gare sorgvuldig vasgewerk is. Voorin is die inskripsie in pen en ink: Wilhelmine Schwartz, Frankfurt 1873. ‘n verdere skaars leesbare inskripsie blyk ‘n aanhaling uit ‘n Psalm  te wees. Agterin die boek is nog name en datums:August Carl Emil, geboren 1875, Getauft 1878. Ook: Augusta Mathilda, geboren den 14 October, gestorben 19 October. ‘n Kriptiese inskrywing met ‘n eie verhaal lê agter die inskrywig.

Die boek en inskrywing wat my egter die meeste fassineer, is die een in my Duitse ouma oor wie ek in ‘n vorige blog geskryf het  (Ouma Vanniekerk) – dit is ‘n goties-Duitse bybel met die Voorwoord:

“Erinnerung zur Funf und Vierzichsten Auflage – Halle, den 24 Februarii 1747”

Die voorste skutblad het ongelukkig verlore gegaan, dus weet ek nie wie se naam oorspronklik in die eeue-oue Bybel geskryf was nie. Klaarblyklik het die Bybel saam met Oumagrootjie Schwartz uit Duitsland na Suid-Afrika gekom. Dit was egter in Ouma Alwine se besit na haar ouers se dood.

Iewers in haar lewe moes sy ‘n krisis gehad het oor iemand van wie sy finaal afskeid moes neem en skryf sy op die skoon bladsy voor die begin van die Nuwe testament:

Close your heart to me, my love, for now we are going to part for the last time and let us be friends forever.” Op die volgende blaai het sy ook vervolg: “If the Lord helps, I must forget him forever. Winnie

Die skynbaar onbeweeglike streng ouma van my het iewers in haar lewe ‘n liefdesteleurstelling beleef wat sy in haar Bybel moes opteken.’n Bybel dus met meer as net die Bybelverhale wat ons as kinders gehoor het – ‘n intens persoonlike verhaal van liefde wat nie beantwoord is nie.

Met Saterdag se regpakkery kom ek op my ou Bybel af. Binne in die Bybel is ‘n buiteblaadjie van die Johannes-Evangelie wat ook ‘n storie vertel:

Ons is vir die Julie vakansie in Durban, ‘n grootse avontuur. Dit is  1961, Ins gaan tuis in die Coogie hotel, langs die Federal hotel en as ek reg onthou nie ver van die Belmoral hotel nie. Die hotel is nie op die befaamde Marine parade nie, maar ‘n paar strate dieper in. Vir ons is dit ‘n luukse om in ‘n hotel tuis te gaan. Ons kan nie wag vir die ding-dong deuntjie van die Xilofoon wat stiptelik die etes aankondig nie.

Soggens na ontbyt stap ons na Durban se hoofstrand met sambreel, opvoustoele, emmertjies en grafies en met ‘n bruisende opgewondeheid oor die dag wat voorlê. As ons by die Four Seasons hotel wat op die Marine parade geleë is, verbystap, verkyk ek my aan die luukse hotel en wonder wie bevoorreg is om daar tuis te gaan. Tog is die strand die groot gelykmaker want hier weet niemand in watter hotel jy bly nie (tensy jy wederregtelik van die hotel se handdoeke met die naam op saamgebring het!)

Een bepaalde oggend is daar ‘n beroering op die strand – daar is ‘n vakansiespan met ‘n poppekas en megafoon. Hulle nooi al die kinders nader vir die poppekas storie. Later vra hulle ons om die eerste paar verse van die Johannes Evangelie te memoriseer. Ons sê dit ‘n paar keer agter hulle aan. Dan kan jy voerntoe gaan en self opsê sover jy kan onthou, Die gebeure en verse maak ‘n groot indrukk op my sewejarige kindergemoed. Ek gaan staan in die ry wat wil kwalifiseer vir ‘n Evangelie van Johannes boekie. Toe dit my beurt is onthou ek die verse asof dit iewers in my brein gegraveer is:

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 

Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. Daar was ’n man van God gestuur, wie se naam Johannes was. Hy het tot ’n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo.

Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die Lig getuig…”

Ek kry ‘n Blou Johannes Evangelie  en voel skielik ryker as almal wat in die mooi hotelle teenaan die see bly. Terug by die hotel die middag skryf my Ma in drukskrif voorin my Evangelie van Johannes:

WILLEM FOURIE, FLORALAAN 62, ADAMAYVIEW

en onderaan: DURBANSTRAND     23-7-1961

Tot vandag nog bly die Evangelie my gunsteling Evangelie aangesien dit die wonderlike verhaal van Jesus se koms na die wêreld vanuit so spesiale hoek vertel.

“n Skynbaar onbenullige “boekie”  word ook die belangrikste deel van my lewensverhaal- My Ligreis.

                    

Leave a Reply