Kleintyd was engele deel van my wêreld. Hulle was soos kabouters en feëtjies werklike wesens in my gedagtes. Sondae veral. In die kerkgebou het ek hulle ontmoet. Terwyl die Dominee breedvoerig uitgewei het oor een of ander Heidelbergse boek (ek het gedink die Heidelbergse kategismus is ‘n tydskrif soos die Huisgenoot maar dat dit net by Dominees afgelewer word), het ek die engele bestudeer. Hoog bo het die dak so ‘n inham met sterpatroon gemaak. Dis waar die engele gebly het. In my gedagtes het ek gesien hoe die luik in die oorhanggedeelte oopgaan en die engele opgewonde uitgevlieg kom. ‘n Hele leërskare (die woord by ‘n kerssangdiens gehoor!) van hulle. Dan ineens het hulle my raakgesien. Veral die kere wat ons op die galery gesit het waar tannie Weitz die orrel die orrel bespeel het. Dan het hulle direk na my aangevlieg gekom, my maklik opgetel en op hulle vlerke na hulle blyplek gedra. Net voor die “Amen” het hulle my weer op my sitplek kom neersit. Hulle het die diens vir my draaglik gemaak.
Toe verdwyn die engele uit my lewe. Hulle gaan op AWOL. Die lewe word vol realiteite. Kort daarna verhuis ons na die Vrystaat waar die kerk se dak glad nie so “engelblyplek” het nie. Ek begin gaandeweg meer van die die dominee se preek verstaan, maar die diens verloor sy betowering.
So met die grootwordjare en daarna bly die engele maar afwesig. Soms vermoed ek ‘n engelvlerk wat tog oor my oë vee, maar maak dit af as verbeelding. Tog bly die droom van Jakob waar hy in die Niemandsland op sy klipkussing lê en die geopende hemel bo hom sien, vir my wonderlike gedeelte (Gen 28). Veral die leer wat op die aarde staan en die punt daarvan raak aan die hemel met al die engele wat op en af met die leer klim. Dit voel telkens vir my asof ek weer my kerkengele op die droomleer herken. Ook die verskyning van God wat ‘n belofte aan Jakob maak, gryp my aan. Immers is Jakob(us) ook my tweede naam.
Toe die milleniumwending kom, weet ek dat dit weer tyd is om die engele raak te sien. Die aand na kerk met die oorgang van 1999 na 2000 sit ek in die woonkamer en luister na die sielvolle woorde van Sarah McLaglan se lied “Angel”
Spend all your time waiting for that second chance
For a break that would make it okay
There’s always one reason to feel not good enough
And it’s hard at the end of the day
In the arms of an angel fly away from here
From this dark cold hotel room and the endlessness that you fear
You are pulled from the wreckage of your silent reverie
You’re in the arms of the angel – may you find some comfort there
Gedurende Desember 2002 is ek met vakansie in die mooie Kaap. By ‘n Kerskunsmark koop ek ‘n fyne glasengeltjie en weet dat daar ‘n spesiale besteming op die engel wag. Saterdag 7 Desember is ek op Paternoster. Heelweek dreig ek al om die engelpakkie te gaan neersit voor die deur van Riana Scheepers se hartshuisie. Ek stop by die huisie en sien te laat dat daar mense is. ‘n Man is besig om ‘n houtluik te herstel en ‘n vrou sit met haar rug teen die bakoond en lees. Toe sy opkyk sien ek dis Riana. Ek sê dat ek nie wil inbreuk maak nie, maar slegs bode is wat die pakkie moet aflewer. Riana en Johann stel hulleself voor en ek word genooi om deur die huisie te stap. Toe Riana die pakkie oopmaak, is sy opgewonde oor die glasengel, wat dadelik aangestel word as bewaker van die mooi vissershuisie. In die koerant die Woensdag na my besoek, verskyn haar rubriek onder die opskrif: “Engel in my huis” waarin sy vertel van die geskenk wat ek onwetend vir haar as verjaarsdaggeskenk gebring het. So begin ‘n nuwe reis waarin engele ‘n groot rol speel.
Gedurende September 2005 hou ek so retraite op my eie. Ek bring ‘n paar dae deur in die Laurens Van der Post Skrywershuis op Philippolis. Ek wil bietjie skryf, bietjie skilder en sommer baie dinktyd hê. My Reisgenoot gee vir my ‘n geskenkie saam om my geselskap te hou – ‘n engeltjie wat ek in die venster ophang toe ek daar aanland. Elke keer as ek opkyk van my skilderpoging sien ek die inspirasie-engeltjie in die venster. So produseer ek toe meer as wat ek verwag het. Neem ook Dinsdagaand 20 September die belangrike besluit oor my en my Reisgenoot se pad saam vorentoe.
Ek neem ‘n foto van my “engel-in-die-venster” en voel behoorlik weer kleintyd se verwondering oor die gevlerkte boodskappers van die Allerhoogste wat ook saam met ons reis.
Vanoggend terwyl ek hier skryf, blaai ek weer deur Izak de Villiers se “Engel voor my uit” waarin hy sy reis deur ‘n worsteltyd in sy lewe beskryf. Die bewussyn van die Teenwoordigheid van die Almagtige en sy engele het hom as’t ware deur die tydperk begelei Ook die belofte van Eks 33:2 “Ek sal My engel voor jou uitstuur…
Die engel reis inderdaad saam.
Die Engel van die Here slaan sy laer op rondom dié wat die Here dien,
en red hulle. (Ps 34:8)