Halte: Solitaire

Om met ‘n engel te reis (vgl vorige inskrywing), bepaal weliswaar jou roete, maar vrywaar jou nie van vreemde haltes nie. Soos Halte Solitaire. Die halte kan baie name hê. Sommige noem die halte Eenzaamheid. Verlatenheid. Wanhoop. Desperado. Uit-dieptes-gans-verlore. Tog is dit belangrik dat jy juis by die halte sal aandoen, sodat jy meer perspektief op die res van die reis kan hê. Vir Elia was dit ‘n belangrike ontmoetingsplek met ‘n engel toe hy by Halte Besembos gaan lê het en gewens het om dood te gaan. (1 Kon 19). Eers toe hy die engel met die waterkruik en die roosterkoek raaksien, is hy genoeg versterk om vorentoe (oop-oog) te reis.

Soms voel dit mos vir ‘n mens of al die paaie in jou lewe na hierdie eensame stasie toe lei. Daarvan sing Neil Sedaka in sy liedjie Solitaire:

There was a man, a lonely man
Who lost his love, through his indifference
A heart that cared, that went unshared
Until it died within his silence

And solitaire’s the only game in town
And every road that takes him, takes him down
While life goes on around him everywhere
He’s playing solitare…

Die liedjie het vir my oor die jare meer as ‘n toestand geword, dit het ‘n plek geword met sy eie sombere inkleding van menswees. ‘n Halte waar jy nie graag wil vertoef nie, want dit vertel van isolasie, mislukking, teleurstelling en uitsigloosheid. Om uitgerangeer te wees op ‘n ongebruikte syspoor. Tog bevind jy jou soms daar (dikwels a.g.v. jou eie verkeerde keuses).

Gedurende  Julie 2005 reis ek as deel van ‘n groep vanaf Swakopmund na Windhoek. Ons neem die woestynroete en  beleef stukke onherbergsaamheid, ‘n maanlandskap en die verrassing van ‘n Welwitschia wat hardnekkig voortbestaan in die onherbergsame omgewing.

Ons woestynreis lei uiteindelik tot groter tekens van “beskawing” wat begin opduik. So beland ons  by ‘n bordjie wat ‘n afdraaipad aandui. Sou ons reguit aanhou ry met die pad, is ons bestemming ‘n plekkie genaamd Solitaire. Draai ons egter na links af, dan wag die weelde van ‘n bederf-kuier in van Windhoek op ons. Ek klim uit en neem die bordjie af.  Dis die naaste wat ek nog in lewende lywe aan Solitaire gekom het, alhoewel ek die toestand al lank ken. Ons draai links Windhoek toe. Soms is Halte Solitaire ‘n keuse wat jy kan vermy. Soms moet jy deurdruk en via Solitaire na jou eindbestemming reis.

Kruispadkeuses.
In die film Sliding Doors word Helen Quilley (vertolk deur Gwyneth Paltrow) se lewe as’t ware in twee gedeel nadat sy onverwags afgedank word by haar werk.  Alles wentel rondom die feit of  sy betyds die trein haal of  nie. In die eerste scenario is sy net betyds om wel in die trein te klim voordat die glydeur toeskuif. Sy ontmoet ‘n aangename man, James. Sy kom vroeër as gewoonlik by die huis en betrap haar kerel op heterdaad waar hy ontrou is aan haar. In die alternatiewe weergawe mis sy net-net die trein, word sy beroof en beland sy uiteindelik heelwat later tuis en word haar ontroue kerel nie betrap nie. Die fliek bou op elk van die verhaalllyne voort – In die eerste geval: Helen wat beheer van haar lewe neem, nadat sy haar ontroue kerel afgesê het. Sy verhuis, kry ”n nuwe haarkapsel, begin ‘n nuwe werk en ‘n bou ‘n moeitewerd verhouding op met James, haar nuwe vriend. In die parallelle verhaal bly sy in ‘n afbrekende verhouding met haar ontroue kerel Gerry en moet sy later as kelnerin werk net om hulle te onderhou. Haar doelbewuste inspanning om betyds die trein te haal, bepaal uiteindelik die gang van haar hele lewe. In die eerste geval leer sy om nuwe (goeie) keuses te maak en neem haar lewe ‘n positiewe wending. In die ander geval bly sy slagoffer van haar omstandighede en spiraal haar lewe afwaarts.

Dit is onvermydelik dat Halte Solitaire soms in ‘n mens se lewe opduik. Vir Elia en Moses was hulle woestynervarings ‘n voorbereidende leerskool om nog meer te kon verrig en te kon fokus op die eintlike taak waarvoor hulle bestem was. Ook Jesus se versoekingstydperk in die woestyn word die basis van sy oorwinning. Tog moet mens nie van Halte Solitaire jou permanente blyplek maak nie. Die gevaar is om jou te begin verlustig in jou lot, weg te sak in ‘n put van selfbejammering en ‘n martelaarshouding  te kweek. Alles en almal is teen my. My lot is swaarkry en ellende. Ek is van mens en God verlate.

Niemand hoef by Halte Solitaire bly vertoef nie. Gelukkig is daar ‘n trein wat ook van hierdie Halte vertrek vir diegene wat oop-oog en met verwagting reis. Die trein se reis het begin by Halte Golgota. Sy bestemming is die stad waarvan Laurika Rauch so aanrypend sing in Hot Gates:

There’s another city I’ve been told, where the streets are paved wih gold…

Die trein heet Kainos. Nuwe Begin. Maak seker dat jy op die perron is en betyds by die trein se glydeur inklim. Daar lê opwindende haltes anderkant Solitaire.

5 Responses to “Halte: Solitaire”

  1. LYNETTE FOURIE says:

    Dankie dat jy my telkens herinner aan die keuses wat ons maak. Om oop -oog te reis maak alles die moeite werd

  2. Leon says:

    Weet jy dat jy ‘n manier met woorde het? Dankie dat jy dit gebruik. Ek weet, elke keer as ek na hierdie blog kom, dat ek verras en aangevuur hier sal weggaan. Moenie ophou nie.

  3. Wim says:

    Dankie Leon. Voel soms asof mens ‘n klompie woorde in die wind strooi en nie weet waar dit gaan land nie. Ek waardeer jou terugvoer.

  4. Elize says:

    Vandag moet ek ook reageer,se ek vir myself. Ek volg die storietjies van die foto’s al van die begin af, en wil elke woord van Leon beaam. Natuurlik het ek my Niel Sedaka CD dadelik in die rekenaar gesit om te hoor wat ek lees. Ek kan nie onthou of ek al die film Sliding Doors gesien het nie, maar Solitaire het my beslis aan Tom Hanks in Cast Away laat dink. Die kinders het lekker gelag vir my gesnuifery oor ‘wilson’ wat weg dryf. Moet asb. nie ophou nie. Ek sien uit daarna om nog foto’s deur jou oe te sien.

  5. Wim says:

    Dankie vir jou kommentaar, Elize. Ek waardeer die terugvoer. Dis vreemd maar terwyl ek die stuk geskryf het, het ek ook nogal aan Tom Hanks en Wilson gedink! Tog het Gwyneth Paltrow eerste deur die deur van die sleutelbord geglip!

Leave a Reply