Hark die Engele nader! (kersfees op Philippolis)

Op Philippolis het ek leer hark. Doodgewone alledaagse hark met ‘n langsteelhark. In die agterplaas van ons huisie met sy gruisgrond tussen die druiweprieel en die stal. Maar hark is nie maar net die bymekaarhark van blare of klippies of grond nie. Hark is soveel méér. Dis gedagte-ordening. Dis droomsekwensies en grondskilderye.

 Op Philippolis het ek eers my Ouma Alwine se harkpassie begin verstaan, haar verbete vee-sessies. Want hark en vee is nie net ‘n skoonmaakding nie, dis ordeskeppende rituele – die uitvee van die oue en ongewenste –die inhark van die nuwe…..

 Vroegmore op Oukersdag staan ek en hark  met ‘n engelrefrein in my kop: Hark now hear the angels sing, glory to the newborn king, So  al harkende met die “Hark” van die engelelied  as temamusiek , begin  my gedagtes op ‘n tweespoorpad loop. Een spoor loop terug, die ontdekkingspad van die  reis tot hier –  die ander vorentoe, die vooruitsig van ‘n eerste Kersfees saam met ou en nuwe vriende in hierdie dorpie wat soveel seën vir my, vir ons gebring het….

 Vir jare was Philippolis net die naam van ‘n dorpie iewers in die Suid-Wes Vrystaat. Op ‘n dag lees ek van Anna Neethling-Pohl wat terugkeer na Philippolis want dis die plek “om sterre te pluk’. In my agterkop liasseer ek die woorde, want so ‘n plek moet mos verken word. Jare gaan verby. Op die langnaweek van Vrouedag 2004 besluit ons om die “sterre-dorpie” te verken.

 ‘n Onverklaarbare iets gebeur toe ons die eerste keer Philippolis binnery. Ons is moeg van die gejaagde leefstyl. Ervaar ook die middeljare as plato-tyd. Soms selfs soos Klaagliedere se gruisklippie-in-die-mond-tyd. Die verwoede tempo van elke dag doof die lewensmusiek uit. Dit voel byna asof die engeltjies so bietjie op AWOL is. Her-oriëntering is nodig. Ons het  ‘n behoefte aan die salwing van ‘n rustige plekkie. Ongejaag en Leef-vriendelik.. Toe ons om die laaste draai vanaf Trompsburg se kant die dorpie nader ervaar ons so gevoel van bekendheid, van tuiskom Ons eerste aanblik van die dorpie is die kerktoring met sy besondere swart spitsdakkie. Ons  gastehuis is teenaan die kerk. Vir die duur van die naweek word die kerktoring die baken, die uurlikse klokslag ons sonwyser.

 Ons ontdek ‘n dorpie wat ‘n geskiedenis, ‘n storie met hom saamdra. En ons nooi om deel van sy  verhaal te word. Ons leer nuwe mense ken. ‘n Hartlikheid wat in ons resoneer. Ons leer stap waar ons wil wees. Af met Voortrekkerstraat. “n Ry dennebome langs die straat en een akkerboom as uitroepteken. Verby Indraf, Kokkewiet en Ons Dien, die twee kafees en die een algemene handelaar. Verby die Emily Hobhouse gedenktuin. ‘n Heerlike ontdekkingstog van karaktervolle historiese huisies. Ons raak verlief op die dorp en sy outentieke karakter. Ons leer mense ken.  Jim Reeves se Liedjie van jare her “A stranger’s just a friend you do not know” kon hier geskryf wees. Ons ervaar die opwinding van ‘n besigtigingstoer van  Philippolis op  Café se perdekarretjie, die Saterdagmiddag. Besluit: die rit is die naaste wat ons aan ‘n Suid-Afrikaanse Jingle Bells slee-rit kan kom! 

 Sondagoggend woon ons die erediens in die pragtige ou historiese kerk by,  Die gebou het die aanslae van die  Anglo-Boere oorlog, sowel as die twee wêreldoorloë oorleef . Die spitsboog vensters skep ‘n gewyde atmosfeer. Die inspirasie van die Woord en orrelmusiek skep ‘n  diep vrede in ons.

Na die diens staan die mense buite die kerk en gesels. Ons herken al ‘n paar gesigte en vriendelike glimlagte.

 Later verken ons die Labirint  wat deel vorm van die Laurens van der Post  gedenktuin. Steenspirale waarop mens kan loop, vertel van ‘n geestelike reis. Die loop daarvan is ‘n ontdekkingstog na binne waartydens jy al die negatiewe dinge en oortollige bagasie aflê. In die kern van die labirint sien jy as’t ware jou lewenspatroon. Ontdek jy jou kern-self, dit wat ten diepste saak maak. Dan is jy gereed om die terugspiraal te loop en simbolies die goeie lewensbagasie op te tel. Die spirale van die labirint bevestig dit wat ons reeds ervaar.-‘n rusplek waar jy die binnereis met insig en ‘n rustige eerlikheid kan aandurf.

 Maandagoggend voor sonsopkoms, klim ons teen die koppie in die middel van die dorpie uit. Twee kanonne staan waaksaam en tuur oor die slapende dorpie. Ons sit en wag die son in. Toe die strale teen die kerktoring en kanonlope  blink, lag ons uitbundig oor die kontras van kanon en kerktoring wat so in mekaar se skadu staan.

 Ons neem swaar afskeid van die dorpie met sy karaktervolle geboue, eiesoortige sjarme en vriendelike mense. Na Planeet Philippolis (soos ons die ervaring doop) sal ons gewis terugkeer.

 ‘n Jaar later hang ek ‘n glasengeltjie in die oop raam wat uitkyk op die kerk. Lynette se geskenk aan my.  Dis lente. Nuwe lewe bot oral. Hierdie keer gaan ek alleen. Dis tyd vir kopskrop. Retraite. Tyd om die wintersheid van ou bagasie af te skud. Om ongeskryfde woorde neer te pen. Ek gaan tuis in die Laurens van Der Post Skrywershuis.

 Toe ek die Sondagaand skuins voor middernag in die bed klim, is daar die welbehaaglike gevoel – ek is weer op  die “sterre-pluk-plek”. Ek luister na die twaalf afgemete klokslae en  voel soos ‘n eietydse Marco Polo.My tweede besoek aan die hartsplek word ‘n ontdekkingstog, geografies en spiritueel,  ‘n verkennende omlyning van my binnestem.

 In die drie dae wat volg groei die besef: hierdie plekkie se bekoring lê diep. Daar is ‘n byna magiese kwaliteit aan die omgewing wat moeilik in woorde vasgevang word. Saans verwonder ek my aan die wydsheid van die uitspansel. Die stilte. Dink weer aan die aanhaling: “ Silence is God’s first language, all the others are bad translations.”

 Soggens vroeg is ek op die solder van die skryfhuis voor die rekenaar om my eerste indrukke van die dag neer te pen. Soos eerste voetspore op ‘n skoon strand. Ek kry kans om die Woord rustig in te neem. Te dink. Gedagtes neer te skryf.  Die uurlikse kerkklok beaam die proses. Ek ervaar die oop stilte waarin mens so bewus word van God.

 Later  in die dag is dit verkenningstyd. Gesels ek, vra ek uit. Leer ek meer van die dorpie en sy inwoners ken. Ek ontmoet Richard Proctor-Sims, ‘n uitgewer wat onlangs hierheen verhuis het. Hy bly in Oom Japie se huis en bedryf sy spesialis boekwinkel  en ‘n restaurant vandaar. Hy vertel dat hy die land deurreis het op soek na ‘n plek om in af te tree, ‘n aantal moontlike plekke op sy kortlys geplaas het, maar  sy hart in Philippolis verloor het.

In Tobie Mullerstraat ontdek ek ‘n  klein,  historiese huisie met ‘n Te Koop-bordjie. Dit het groen luike en voordeur, in  tipiese Karoostyl gebou met ‘n gestroopte eenvoud. Die naambord links van die voordeur lui: Hartjiehortjie Huisie. In elk van die ses groen luike is ‘n hartjie uitgesny.  Die res van die oggend, terwyl ek besig is om  my eie indruk van die magiese landskap in woord en beeld te probeer vaslê, sien ek telkens in my gedagtes ‘n hartshuisie wat wag om betrek te word.

 aataand stap ek weer verby die huisie. Die sekerheid groei, hier wag daar ‘n nuwe hoofstuk. Veral toe ek ontdek dat daar agter die huis  ‘n lang erf  met ‘n bakoond en ‘n stal is.  Terwyl ek vertoef in  die eenvoudige vertrek met sy lang hout voerbak en klippiesvloer, voel dit vir my ineens of ek midde in die kersverhaal staan. Ek kry so ligte rilling van opgewondenheid. Besluit dat ek en Lynette ‘n aanbod op die huisie moet maak. Wat ons toe  die volgende  week  wel doen.

Advent 2005. Ons  kuier in Philippolis en ontvang  die goeie nuus dat die huisie nou amptelik ons s’n is. Ons hoor dat die huisie uit 1861 dateer en dat die oorspronklike transportakte deur Adam Kok III onderteken is. By die greinhouttafel sê ons dankie vir die hartshuis met sy plankvloer-voorhuis, slaapkamers, badkamer en kombuisie met ‘n rietjiesdak (brakdak), vuurherd en koolstoof. In die slaapkamer met die mooi muurpapier maak ons ‘n fyn engeltjie staan. ‘n  Versierde Koniferboompie  by die venster in die voorhuis .

 Vroeg op Oukersdag word die werf skoongehark. Die harkpatrone word landelike skilderye met Van Gogh se spiralende lug, golwende koringvelde wat tuiskom op Vrystaatse bodem. So al harkende neurie die engelekoor hulle kersagenda..

 Die werklikheid oortref self ons beplanning. Onder die sterre braai ons karoo-skaaptjops. Die bykosse is reeds gereed. Die greinhouttafel word uitgedra en op die voorstoepie teenaan die straat geplaas. Dit word feestelik versier.

Die lui van die koperklok is die aanduiding dat die fees begin! Twee krulkopdogtertjies hardloop na die stal waar verligte glasengeltjies  op die rand van die voerkrip hulle verwelkom. Die ou verhaal van die Jesuskind klink selfs vir ons volwassenes nuut hier in die gestroopte omgewing waar diere oor baie jare ‘n skuiling gevind het. Dit word ineens waarlik Christusfees. Ek verstaan weer die eenvoud van die Blye Boodskap. Koningskind wat kripkind word. Terwille van ons. Ek sien die opgewondenheid in die twee dogtertjies  se oë. Weet dat hierdie oomblik hulle meer sal bybly as die geskenke wat wag  onder die boompie in die voorhuis.

Laataand sit ons op die stoep en sien die uitspansel. Sterre ontelbaar. Helder. Naby. Ek steek my hand asof om een te pluk. Want op Kersfees het die hemel na aan ons gekom. Immanuel. God met ons.

Iewers vermoed ek ‘n engelekoor –Vrede op aarde. Ook op planeet Philippolis.

 

One Response to “Hark die Engele nader! (kersfees op Philippolis)”

  1. Mariana Els says:

    En nou wil ek ook hierdie planeet besoek en my hartswens is om net één Kersfees in die Hartjie Hortjie Huisie deur te bring met Karoo tjoppie in die hand terwyl ek die Engelekoor hoor sing.

    Dis pragtig geskryf!

    Ek gaan nou hark.

Leave a Reply