Ma Winnie. Oftewel Alwine Bertha Wilhelmine. Gebore op 13 Februarie 1924 uit die huwelik tussen ‘n toegewyde Afrikaanse pa en ‘n streng Duitse ma. Dié eerste dogter (na drie broers) van Oupa en Ouma van Niekerk het slegs 5vt 4 duim in hoogte gemeet en het haar lewe lank (swangerskappe uitgesonderd!) haar gewig van 108 pond gehandhaaf. Dalk daarom dat neef Johan haar so onthou:
Tannie Winnie was van Duitse afkoms en dit het gereflekteer in haar lewe. Die pragtige petite mensie het ‘n aansteeklike glimlag gehad met ‘n sagte stem – maar die stem het elke woord maak tel. Ek onthou haar kinders het altyd om haar ‘gekoer’.
Vreemd hoe mens se onthou van iemand mettertyd in breë penstrepe saamgevat kan word. Toe ek vanoggend ‘n invalshoek soek om ‘n paar woorde oor my ma te skryf m.d.o. op Moedersdag, probeer ek iets kry om as vertrekpunt te dien. Ek ontdek toe hoeveel van my onthou-oomblikke van my ma met musiek verband hou. Ja, daar was ander fasette – haar erns, haar opregtheid, haar diepe geloofsoortuigings, haar intense liefde vir haar gesin, haar lekker baksels beskuit en melktert en haar liefde vir ‘n goeie storie. Tog staan die musiek-onthou vanoggend voorop.
Kleintyd onthou ek stories wat sy ons ons vertel het oor musiek en die verhaal agter die musiek. So was die eerste plaat waarvan sy gehou het wat ek (as voorskoolse kleuter kan onthou), ‘n 78-spoed plaat getiteld: The ship that never sailed. Die liedjie vertel die hartseer verhaal van ‘n man wie se geliefde vir hom soos ‘n boot was wat hom na ‘n verre land sou neem. Dan die ontnugtering – die liefdesboot sink en hy bly alleen agter met sy herinneringe en drome. My ma het altyd half hartseer geraak as sy die plaat geluister het. Miskien was dit juis wat ons as kinders dan aangespoor het om te vra dat sy ook vir ons die keersy van die plaat speel want dié was ‘n opgewekte “rumoerige” liedjie wat ons sommer die “potte-en-panne” plaat gedoop het omdat ons lustig saam met die ritme van die lied getokkel het op omgekeerde potte en panne. Dit het my ma laat lag en dan was die hartseer van die skip-liedjie sommer weg.
Ek onthou ook uit hierdie tyd hoe sy vertel het dat terwyl sy my kleinsus verwag het, die liedjie : Freight Train ‘n groot treffer was en dat telkens as sy so naar was aan die begin van die swangerskap, die liedjie juis gespeel het en sy later die liedjie met naarheid geassosieer het!
Wanneer die liedjie Que Sera, Sera speel, sal ek altyd dink aan die fliek The Man who knew too much (Alfred Hitchcock se 1956 film) waarvan dié liedjie die temamusiek was. My ma het my die fliek se verhaal vertel: van die seuntjie, Hank, wat tydens ‘n gesinsvakansie in Marokko ontvoer word omdat sy pa die sterwenswoorde van ‘n man gehoor het wat ‘n belangrike komplot wou ontmasker. Die seuntjie word gyselaar gehou en later Londen toe geneem sodat sy ouers nie die inligting wat hulle by die man gekry het sou bekendmaak nie. Op een of ander wyse ontdek sy ouers dat Hank iewers in ‘n ambassade aangehou word. Hulle word deur die Eerste Minister soontoe genooi omdat hulle ‘n sluipmoordpoging op hom gefnuik het. Wanneer die ma,gespeel deur Doris Day, gevra word om te sing tydens die geleentheid, sing sy die liedjie, Que Sera, Sera (Whatever will be, will be). Vanwaar Hank aangehou word in ‘n kamer, herken hy die liedjie en sy ma se stem en begin hy saamsing. Sy ouers hoor sy stem en dit lei hulle na sy plek van aanhouding. So eindig die verhaal gelukkig danksy die lied. Dié week luister ek na ‘n nuwe opname van die liedjie, soos vertolk deur Pink Martini. Ineens word die hele verhaal van die fliek weer ‘n werklikheid – die mag van musiek en verhale!
Op dertienjarige ouderdom vra ek my ouers vir ‘n langspeelplaat as geskenk vir my verjaarsdag. Ek hoop dat hulle tussen al die skimpe kon agterkom van watter musiek ek hou. Die oggend van my verjaarsdag vertel die toegedraaide pakkie dat dit sowaar ‘n langspeelplaat is – ek skeur die geskenkpapier af en sien met ‘n soort ongeloof dat dit ‘n plaat met klassieke musiek is: The Hollywood Bowl Orchestra se “A night under the stars”. Ek moes seker vreeslik teleurgesteld gelyk het, want my ma beloof dat sy my die stories sal vertel wat die komposisies geinspireer het, Die aand luister ek na die Warsaw Concerto (Addinsell se komposisie) en hoor behoorlik die bombardement van Warskou in die musiek. Op die plaat is ook “Cornish Rhapsody” (uit die 1944 film Love Story). Met die luister van Die Slawekoor uit Nabucco van Verdi hoor ek behoorlik die versugtinge van die slawe om vryheid te kan verwerf. So het ek my liefde vir klassieke musiek via ‘n langspeelplaat en verhale verkry. Later sou ek ook met behulp van my ma die eksotiese atmosfeer van Persië ontdek in die klanke van Albert Ketelby se “In a Persian Market”.
‘n Prentjie wat my bybly is die spontane sangsessies as Oom Thys en Tannie Tina kom kuier en Pa en Ma vorm saam met hulle ‘n kwartet. Dan het hulle ou gunstelinge gesing soos Beautiful Isle of Somewhere, True Love, Perfect Day. Let the rest of the world go by, Lily Marlene, en God be with you till we meet again.
Na my Oupa se dood het my Duitse Ouma na ‘n woonstel toe getrek en het die Carl Ecke klavier wat altyd in hulle huis gestaan het, na ons toe gekom. Soms het Ma voor die klavier gaan sit en die enkele liede wat sy kon onthou, gespeel. Ek het nooit die name van die liede gehoor nie. (ek vermoed dit was ‘n Jim Muller keurspel) Tog kan ek van die deuntjies onthou.
As David Whitfield se Angellus (Angel Voices) oor die radio gespeel het op U eie keuse het Ma met geslote oë gesit en elke noot ingedrink. Dit was ook sy wat my die stories van die poskaart album met liede se woorde vertel het, Veral Oh where is my wandrin’ boy tonight, Thora en The lost Chord.
Wat ‘n voorreg om saam met haar twaalf dae in Switserland deur te bring in September 1976! Om saam deur die skilderagtige Grindelwald se strate te stap en die prentjiemooi begraafplaas aan die voet van die berge te sien! Haar versugting: “Ai as mens maar eendag in so fraai plek jou laaste rusplek kan vind”. Tydens ‘n kerkdiens wat ons in Zurich se Grossmunster bygewoon het, het die orrelis tydens die offergawe Bach se Toccata en Fuga in D mineur gespeel en dit het trane in haar oë gebring. Die volgende dag het ons ‘n plaat met dié opname in ‘n musiekwinkel in Zurich gekoop.
My ma was die een wat my aangespoor het om te skryf. Toe ek as vyfjarige nog nie kon lees of skryf nie, het ek maar prentjies geteken. Een middag het ek onder die kosyn van die kombuisdeur gelê in ons huis in Stilfontein. Ek was moeg geteken en het begin lettertjies naboots wat ek gesien het in ‘n storieboek. Toe ek my “skryfpoging” vir Ma gaan wys waar sy besig was om kos te kook het sy opgewonde gesê dat ek vir haar ‘n briefie geskryf het en vir my gelees wat ek kamtig geskryf het. Ek was so opgewonde dat ek elke keer onder die deurkosyn gaan lê het (want dit was klaablyklik my magiese skryfmuse!) en telkens gehardloop het dat Ma die briewe kon “lees”. Toe ek in die skool leer lees, het sy my my eerste volwaardige boek laat lees – Die Twee Wesies deur Fanny Eden (Dit was maar ‘n hartseer beginboek, maar ek was nogal aangegryp deur die lot van die twee weeskinders!)
Op skool was Ma die een wat gehelp het om my opstelle en mondelinge beter te laat lyk en klink. Toe ek een vakansie verveeld was en niks gehad het om te lees nie het sy haar ou pak Girls Chrystals uit die trommel opgediep en my die vervolgverhaal Princess on Probation laat lees. Dit het die verveling laat verdwyn en ek is later in die vakansie saam met haar biblioteek toe om my eie Tarzan, Trompie en Uile-boeke uit te neem.
Ma wou in haar jeugjare graag ‘n “Sendingdame” word wat in verre lande die evangelie aan ongekerstende mense sou bring, maar oupa van Niekerk wou dit nie toelaat nie. Aan die einde van Standerd 7 moes sy uit die skool (Hoërskool Monument) gaan sodat sy “haberdashery” kon aanleer om ‘n inkomste te verdien. Later het sy as kassiere by die OK basaar gaan werk totdat sy ‘n kantoorpos in Rand Leases se mynkantoor gekry het (waar sy haar lewensmaat ontmoet het). Telkens as ons oor die vreemde draaie gepraat het wat ‘n mens se lewenspad soms neem, het sy gesê: “God maak nie ‘n fout nie”.
Tog het die hunkering om ‘n verskil in mense se lewens te maak, gebly. Miskien het dit onbewustelik op my kindergemoed ‘n indruk gemaak, want kleintyd as ek na kerk my sussies se poppe gedoop het, het ek verklaar dat ek ‘n dominee gaan word as ek eendag groot is.
Hoe groot was haar blydskap toe sy op 8 Februarie 1980 my toga kon omhang na my ordening as leraar op Komga! Vir haar was dit ‘n groot baken-oomblik. Twee maande later, nadat sy gesorg het dat ek goed ingerig is in die grote pastorie, het sy op 29 April onverwags aan ‘n hartaanval gesterf.
Soms wonder ek wat was die laaste musiek wat my Musiek-ma op daardie oomblik gehoor het. Dalk die Angellus gesing deur ‘n volle engelekoor?
Moedersdag 2012 dank ek die Skepper vir Ma Winnie (Alwine) wat die basis van soveel belangstellings in my lewe gelê het. Veral ‘n geloofsfondament. Terugskouend oor die vreemde kronkels wat my lewenspad soms gevolg het, kan ek beaam: “God maak nie ‘n fout nie.”
Dankie Ma Winnie vir jou nalatenskap!
‘ Oppad na Switserland! September 1976