Eenvoud

                                 

Eenvoud is die vreugde van die lewe,
dis gee en neem net wat daar is…
dis dankbaar eet van elke skewe snytjie brood
…wat liefde is.

Jannie du Toit sing die toonsetting van Koos du Plessis se woorde op sy CD Palet. Dié Eenvoud-liedjie groei eenvoudig op ‘n mens!  Soos alle dinge wat gebore is in eenvoud, lê die liedjie se trefkrag juis in sy oorrompelende eenvoud.

Soms is dit heerlik om aan ‘n keurig gedekte tafel te sit met gestyfde Damask tafeldoek, servette, Sheffield silwer eetgerei, fyn porselein eetservies en kristalglase. En ‘n hele spyskaart van vyf geregte  en al die nodige bybehore.

Tog word mens se diep honger soms juis net gestil deur die eenvoud van ‘n bord tuisgemaakte sop, varsgebakte brood en heerlike plaasbotter. Dan is hierdie één dis jou hele begeerte en stil dit jou honger volkome, veral as dit saam met ‘n geliefde of hartsvriende genuttig word by die lig van ‘n olielamp/kers.

So ‘n eenvoudige maaltyd was ons aandete op Goeie Vrydag vanjaar. My Reisgenoot en ek het laatmiddag op Philippolis aangekom, ons bagasie in die Hartjiehuis ingedra en toe heerlik sit en ontspan onder die lawende koelte van die Appelkoosboom. Ons kon die eerste aanmaning van herfs-wat-wil-winter-word in die laatmiddagluggie voel. ‘n Ideale tyd vir ‘n hartlike sop en brood. Ons het die lampe opgesteek, die tafel met grasmatjies gedek en die sop en brood opgedien. ‘n Perfekte Goeie Vrydag aandete. Die gestrooptheid van die versierings en die spyskaart het by die wese van die dag gepas.

Ons het dankie gesê vir die eenvoudsfeesmaal en die ete met blydskap geniet. ‘n Heerlike, eerlike ete. Selfs die patrone van die greinhouttafel wat in die lamplig sigbaar was, het ‘n verhaal vertel van hout wat deur ‘n vakman voorberei is en omvorm is tot ‘n eenvoudige, dog treffende tafel waar gesinne die vreugde van saam-eet kon smaak.

In die loop van die naweek maak ons kennis met drie gesinne (familie van mekaar) wat uit drie windrigtings kom om juis hier in Philippolis byeen te kom vir ‘n familiefees. Die onderskeie egpare kom van Kaapstad, Durban en Benoni en ontmoet mekaar hier in die karoo vir ‘n paasfees-bymekaarwees. Wat my opval toe ek oor die muur in die agterplaas kyk en die egpare se onderskeie motors in die agterplaas van die gastehuis sien staan, is dat nie en met  blinknuwe vlagskip-motors gekom het nie. Dit is beskeie, kleiner en praktiese motors wat hulle ry. So by myself dink ek dat as hulle met swierige motors en luukse 4×4’s gearriveer het, sou hulle hiperverveeld gewees het op hierdie klein Karoodorpie. Om hier ‘n langnaweek te kan deurbring moet jy nie opsoek wees na die blink ooraanbod van die stad nie. Jy moet kan opgewonde raak oor gestroopte eenvoud: die stilte van ‘n kleindorpie, die rykdom van die sterrehemel en die malse heerlikheid van ‘n volmaan wat voel of dit rakelings by die kerktoring verbyskuur.

Elke keer as ons verby die gastehuis stap en die mense sien gesels op die stoep, groet ons en merk op dat hulle gelukkig lyk. laatmiddag as hulle van ‘n stappie deur die dorp en veld terugkeer is daar ‘n stil tevredenheid aanwesig.

Op paasmaandag nooi ons die groep van ses mense vir tee en om so bietjie meer oor die dorpie en sy geskiedenis met hulle te deel. Dit word ‘n interessante kuier en ons sien die opregtheid van die mense as hulle uitvra oor die betekenis van ‘n Brakdak en wat Hartjiehortjie nou eintlik beteken. Ons hoor in hulle vrae en gesprekke die hunkering na die eenvoud van die landelike bestaan in ‘n klein dorpie waar daar nog ‘n gemeenskapsgevoel is en mense mekaar ken en omgee vir mekaar. Toe hulle bykans twee ure later groet, voel dit asof ons mekaar goed ken, sonder om te weet wat hulle beroepe, adresse of status in hulle gemeenskappe is. Ons het mekaar as bure, medemense, soekers na sin in eenvoud leer ken en herken.

In sy boek “Rykdom in Eenvoud” skryf Willem Nicol in die openingsparagraaf: ” Ons samelewing wil ons graag wysmaak dat ‘n mens jou lewe moet verryk deur dit al voller te maak met besittings, aktiwiteite, status en mag. maar in werklikheid lei dit na ‘n gejaag wat jou lewe verarm en innerlik leeg laat loop. Daar lê groter rykdom in die teenoorgestelde rigting, naamlik eenvoud.”

Dit was ook ons (her) ontdekking die naweek. Die dinge wat die naweek vol vreugde en sin gemaak het, het niks met materiële besit te doen gehad nie: Dit was die vreugde van ‘n veldstappie, die opgewondenheid oor ‘n volmaan wat oor die dorpie verrys, die blydskap oor ‘n bloedrooi granaat wat plukgereed aan die boom hang, gedeelde vriendskap om ‘n tafel.

Juis daarop sê Nicol ook in sy boek: “Die bron van eenvoud lê in die hart en in die geloof.

G’n wonder dat daar die afgelope tyd wêreldwyd so ‘n versugting is na eenvoud nie, en dan noem Nicol  die titels van ‘n aantal blitsverkoperboeke op:

Enough is enough;  99 ways to a simpler lifestyle; Small is beautiful; The freedom of simplicity, Beyond the rat race ens.

In ons soeke na eenvoud moet ons juis by die Skepper van Eenvoud begin – Sy anderste koms na hierdie wêreld, sonder prag of praal, vertel juis dat Hy ons by die kern van ons menswees wil bring – om gestroopte, eerlike mens voor God te wees.

NP van Wyk Louw se Feesgedig vertel juis hiervan:

“Nie in die wit paleise nie

wou Hy (uit soewereine wil)

tot ons soort staat gebore word;

maar, waar die Kuise en die Arme stil

en buite die hotel se poort

verniet loseer het in `n stal

het hy, Visarendjie van God

in ons benoude vlees geval.”

Uieindelik vertel Sy geboorte, lewe en Kruisdood vir ons  die eenvoudige, dog ondeurgrondelike waarheid: God het ons uit liefde kom opsoek en herstel, sodat ons oop viir God kan leef en ‘n hart kan hê vir mense om ons.

“Eenvoud is die vreugde van die lewe…” 

  

Leave a Reply