Boetstes

 

D1010011abs-1 (12)

Op Litnet se webwerf sien ek adverteer hulle ‘n kompetisie getiteld” Geheueskyfies”.  Deur ‘n kort skets of beskrywing kan jy een lewensmoment in woorde vaslê nes ‘n kamera ‘n oomblik tydloos verewig op film of digitale skyfie.

Vanoggend wil ek so paar Geheueskyfies uithaal en vlugtig belig. Die saambindende tema is: Boetstes.

Vandag is my broer Ewald se nege-en-veertigste verjaardag. Ek kon sopas telefonies met hom gesels en sy opgewonde stem hoor: “Hallo Boet! Hoe gaan dit met jou?” En ek kon antwoord: ” Goed dankie, Boet, so bly om jou stem te hoor so op jou verjaarsdag.”

‘n Eerste geheueflits:

Dis besoektyd. Pa en ons drie kinders staan voor die groot glasvenster in Sister Leigh se   nursing home.  ‘n Verpleegster kom nader. Sy het ‘n bondeltjie in haar arms wat styf in ‘n wit kombersie toegedraai is. Sy hou die bondeltjie nader sodat ons kan sien. ‘n Geplooide babagesiggie kyk vir ons. Ek voel ‘n opgewondenheid. Ek, wat net twee sussies het, het regtig nou ‘n boetie. Ek staan nog nader aan die ruit en kyk stip na die gesiggie. Die donker ogies kyk terug. Toe, ek weet nie of ek my verbeel nie, lyk dit behoorlik vir een oomblik asof hy vir my oogknip. Dis asof daar in daardie oomblik ‘n band tussen ons gesmee word: brothers for life.

 Tweede flits:

Ek sit en teken in my kamer in ons huis in Van Ryneveldstraat. Ek is in matriek. My sewejarige boetie kom by die kamer in. Ek kyk gesteurd op. Hy kom staan by my en kyk na my tekening. Hy vra of hy ook ‘n vel papier uit my tekenboek kan kry. Ek gee vir hom ‘n A4 vel papier wat los in my tekenboek lê. Hy gaan tog net daarop krabbel! Hy verdwyn en dit is ‘n ruk stil. Ek besluit om te gaan loer wat hy doen. Hy lê op die marley teëlvloer in Pa en Ma se kamer. Hy is druk besig  om te teken – sy gesig die ene frons van konsentrasie. Ek wil lag toe ek sien hoe hy improviseer. Hy het Ma se rooi lipstiffie uit die spieëlkaslaai gehaal en daarmee op die papier begin teken. ‘n Man met ‘n baadjie en iets wat soos ‘n das of serp lyk. Ek kyk verbaas na sy skepping. Die patos in die tekening tref my. Hy hou die prent voor hom en reken dit is nog nie klaar nie. Hy gaan haal ‘n liniaal en trek die sykant daarvan oor die lipstiffie-prentjie. Hy smeer die rooi liggies oor die prent. Toe eers is hy tevrede. Sy lipstiffie-man met die hartseer gesig is voltooi. Ek vra of ek sy tekening kan kry en bêre dit agterin my tekenboek.

 

 Derde flits:

My studentebroer daag van Tukkies af op. Hy kom vir die naweek by my kuier. Toe hy uit sy liggeel Volkswagen Kewer klim sien ek hy is moeg. Hy het ‘n rustige kuiernaweek nodig.

Hy sit na ete en gesels met my by die eetkamertafel. Die verhouding tussen hom en sy meisie is verbreek. Sy het dit verbreek. Sy bruin oë is treurig. Ek voel genoop om iets te doen om net sy aandag van die seer af te lei.

Ek gaan haal my tekenboek en sit dit voor hom neer. Uit die tekenboek haal ek sy lipstiffie-mannetjie van bykans veertien jaar gelede. Hy kyk aandagtig daarna en is selfs verbaas toe ek hom daaraan herinner dat hy die hartseer man geteken het. Hy vra of hy weer ‘n tekening kan maak. Ek gee hom ‘n skoon blaai in die tekenboek en ‘n rooi oliepastel. Hy kyk onbeholpe na die skoon blaai en die pastel. Wat moet ek teken, is sy vraag aan my. Ek antwoord: Teken hoe jy gevoel het toe jou meisie met jou uitgemaak het. Hy neem die pastel en begin met besliste hale teken. Nog ‘n rooi mannetjie. Hy neem weer die liniaal en vee die rooi oor die prent. Dis asof sy die hartseer in sy oë minder is toe hy klaar is. Ek vra hom om beide tekeninge te onderteken. Ek  bêre beide. ‘n Paar jaar later het hy sy eie blyplek in die Kaap. Ek gee sy tekeninge terug aan hom, met die opdrag dat hy dit moet raam.Vanuit die goue rame kyk die twee rooi mannetjies – die en met treur-oë en die ander met gesakte kop en hangskouers.

 

Vierde Flits:

Dis Goeie  Vrydag sowat twintig jaar later. My Reisgenoot en ek lê ons huweliksbeloftes aan mekaar af. Ek het met my broer gereël om die ringe aan te gee as ons by die gedeelte in die formulier kom. Die diens begin en daar is nog geen teken van hom en sy vriendin nie.  Halfpad tydens die boodskap hoor ek ‘n geskuifel in die kerkie. Toe ons omdraai tydens die sing van ‘n lied, sien ek Broer en sy vriendin het hulle plekke in die tweede bank van voor ingeneem. Hy is laat vir die diens, maar betyds vir die funksie wat hy moet vervul. Toe hy vorentoe kom om die ringe te oorhandig, gee hy my so half stoute, half verskonende kyk. Die ondeundheid blink in sy bruin oë.

Vyfde Flits

Ons kuier by my broer. Hy het onlangs ‘n winkel en huis op die mooi Suid-Vrystaatse dorpie gekoop. Hy is besig om met ‘n voorskoot aan wors te braai op die sypaadjie voor die winkel. Sy luidprekers van die Coffee Shop is na buite gedraai en Katie Melua se stem verskaf die agtergrondmusiek.

Mense wat inkopies kom doen het, groet eers en staan stil om ‘n geselsie aan te koop. Dit is vir ons opvallend hoeveel mense hy reeds ken en die gemaklike wyse waarop hy met oud en jonk, swart en wit gesels. Hy lyk ontspanne. Ek neem ‘n foto van hom onder die winkel se uithangbord. Hy lag gelukkig vir die kamera en fotograaf.

 Sesde Flits:

Dis ‘n maand voor my broer se nege-en-veertigste verjaarsdag. Ons staan by die toonbank van die kliniek waar hy versorg word. Terwyl ons navraag doen om te hoor of dit geleë is om hom te besoek, kom hy saam met sy versorger die lang gang afgestap en herken my: “Hallo Boet!” weerklink sy blye groet deur die gang.

Ons stap saam met hom na die kuier-area. Hy stap stadig en hou my hand styf vas.

“Ons het net sommer so vroegtydige Kersfeesgeskenk vir jou gebring en vier sommer reeds jou verjaarsdag al is dit ‘n maand voor die tyd.”

Hy kyk na my met sy sagte bruin oë. “Baie dankie Boetstes” sê hy.

Ek knik net want woorde is onbeholpe werktuie.

“Jy is ‘n inspirasie vir my, Boetstes”, is al wat ek kan sê.

En weer, soos nege-en-veertig  jaar gelede lyk dit asof hy oogknip.

Brothers for life

 Ewald-Fo

 

8 Responses to “Boetstes”

  1. Len says:

    Wim… geen kommentaar! Ek het nooit ‘n Boetses gehad nie, net Susse en ek verruil hul vir niks, want hulle is al van my familie wat oor is. Groetnis.

  2. Amanda says:

    Wim, jou vermoë om te skryf dat dit aan die diepste van harte raak, is verstommend. Dankie vir die deel van jou Boet se storie. Hy is gelukkig om jou vir sy Boetstes te hê.

  3. Mefri says:

    Ek het dit nou erg baie geniet Wim. Die band tussen jou en jou Boeta is sigbaar en lieflik

  4. Ina Beukes says:

    Wim, dit is pragtig! Ek glo dat jy vir hom net so kosbaar is…

  5. Wim says:

    Baie dankie aan elkeen vir die kommentaar. Dit was vir my belangrik om iets neer te pen van ons pad as broers saam. Dis verras my telkens dat dit wat ‘n eie belewenis is, ook vir ander iets beteken.

  6. Lizelle Potgieter says:

    Hello Wim My naam is Lizelle. Ek hoop jy kan my help. Ek het toevallig op die foto van jou niggie, Etoux, afgekom. Ek hoop dit is die regte persoon. Sy was met Johnny du Bruyn getroud en het ‘n seun Vaughn en dogter, Julie. Dit is na Julie wat ek soek. Sy was met my broer, Marius de Villiers getroud en hulle het ‘n dogter, Leanne. Ons het vir Leanne seker twintig jaar laas gesien en het geen kontak met haar of Julie nie. Ek hoop jy kan my help. Ek wil vreeslik graag met Leanne kontak maak. Ek sal dit waardeer as jy my kan laat weet.
    Baie dankie , Groete Lizelle Potgieter

  7. Gerlene says:

    So’n spesiale skrywe. Siblings is so belangrik. Ek worstel baie met feit dat my seuntjie John nie broers/susters gaan hê nie. Dankie vir jou deel.

  8. Hannetjie Pieterse says:

    Hartseer mooi…..

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.