Trappieslied

Trappe was nog altyd vir my ‘n wonderlike ding! Kleintyd was dit my groot  wens dat ons tog eendag in huis met baie trappies sal bly- verkieslik ‘n dubbelverdiepinghuis of ten minste dan net ‘n semi-dubbelverdieping. Oupa en Ouma van Niekerk se huis in Ontdekkers met sy dertien rooi trappe wat lei tot op die groot stoep en voordeur het ‘n diep indruk op my kindergemoed gemaak.

Tydens my laerskooljare was ‘n kuier by klasmaat Johan de Korte altyd ‘n heerlike ondervinding. Hulle het in Herzenbergstraat 24 gebly en die huis het baie trappies gehad. Die gepaste naam van die huis: “Op-en-Af” was soos musiek in my ore. Ek wou graag eendag in ‘n huis bly waarin ek op en af met trappies kon klim. Ons huis op daardie stadium het drie of vier trappies gehad tot op die voorstoepie en dan as jy in die voorportaal inkom en links draai was daar twee houttrappies na die “sunken lounge”  Vanuit die vertrek moes jy weer met twee trappies klim om in die eetkamer te kom. Die twee trappies was ons gunsteling speelplek op Sondagmiddae as ons onsself moes besig hou terwyl die grootmense slaap. Op die trappies het ons resies gehou met gekleurde albasters en dit soms  as verhoog gebruik om te mimiek op die musiek wat oor die radio speel. Daar het my twee susters een aand vir ons konsert gehou in twee wye pienk tafsyrokke met bolero’s oor. Met die twee trappies het tannie van Schalkwyk geklim om agter die lae “room divider” stelling in te neem wat sy as preekstoel gebruik het tydens die weeklikse kinderkranslesse. Sy het die gewoonte gehad om met haar gewig terug te leun op haar hoëhakskoene sodat die skerp hakke later sulke duikies op ons hout blokkiesvloer gelos het. Dit het veroorsaak dat ons later nie meer die kinderkrans in ons huis gehou het nie. maar dis ‘n ander storie.

Tydens ‘n retraite in 2003 by Good Shepherd sentrum by Hartebeestpoortdam het ek vir die eerste keer indringend kennisgemaak met die trappieslied van Ps 126.

Die nuwe vertaling se opskrif lui: “Verander tog ons lot” en die Ou Vertaling s’n: ” ‘n Oes van vreugde uit die tranesaad”. ‘n baie beskrywende titel want in die psalm is daar ‘n beweging van onder na bo. Van trane en verdriet tot vreugde en ‘n blye oes. Daarom sou die psalm tereg kon heet : ‘n (trane) Trappieslied.

 Ons het’n uitdrukking wat sê: Van lekkerlag kom lekkerhuil. Ouers sê dit soms vir hulle kinders: Onthou! Van lekkerlag kom Lekkerhuil

 Maar ons Psalm draai dit so bietjie om: Van lekkerhuil kom lekkerlag.

Vir ons klink dit maar bietjie vreemd. Huil klink so…….. hartseer en lag klink so……….lighartig. Dit voel of die twee nie saamhoort nie. Tog weet ons uit eie ervaring hoe die traan soms tog die lag kan word. Hoe daar soms selfs op ‘n begrafnis ‘n snaakse ding kan gebeur wat ‘n glimlag ontlok. Juis asof die lag die weerligafleier is wat die trane bietjie temper.

 Die psalm begin as’t ware in trane en eindig in ‘n lag van vreugde en diepe blydskap.

Dus inderdaad: ‘n oes van vreugde uit die tranesaad.Die blydskapsblomme kom nie sommer maklik op nie. Die saad word gesaai en trane is die ontkiemingvog. Tog kom daar blydskap na vore.

Die Bybel vertel dat trane nie sommer maar net soutdruppels is nie. Dat ons trane dikwels die noodsaaklike vloestof is wat die nuwe begin aandui, soos ‘n geboorte. Daarom hoef ons nie so skaam te wees as daar soms trane vloei nie. Dis as’t ware die  deurweekte watte wat die nuwe saad laat ontkiem soos in ons kleintyd eksperimente.

En vir God is ons trane kosbaar. Daar staan immers in Ps 56: vers 9

9 U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie? (Ou Vertaling)

 Dis ‘n pragtige beeld: Trane wat ‘n kruik vul met gebrokenheid In die New English Bible lees ons: Enter my lament in thy book , store every tear in thy flask.

 Moontlk  is dit  ‘n verwysing na die professionele roubeklaers wat by rougeleenthede gehuur is om te treur en dan betaal is volgens die trane wat hulle kon opvang.

 Die wonder van die psalm is dat dit nie vashaak by die hartseer en trane nie, maar ‘n gebed is dat God ons lot sal verander en nuut maak.

In 2005 hou ons Projek 15 groep van die gemeente ‘n eie retraite op Menuha, die mooi kampterrein naby Brandfort. Weer praat die psalm met ons en word die mooie kerkie op die koppie met sy trappies wat daarheen lei (soos op foto) vir ons ‘n beeld van die pad na verandering wat nie maar ‘n gelykpad, moeitelose pad is nie.

Tog word die psalm ook weer vir ons ‘n belofte dat God die verandering en ommekeer op sy tyd bring – in ons eie lewens en die van die gemeente en gemeenskap.

Voorverlede week ervaar ek net weer die swaarte van die boer met die saaisak. Soveel dinge gebeur wat dreig om my moedeloos te maak – fisies en psigies is ek op ‘n laagtepunt. Tog – die Vrydagoggend is  ons dagstukkie gekoppel aan die boodskap van Ps 126. In die stukkie noem Johan Cilliers die geneigdheid wat ons het om ‘n ritseling van blare aan die boom te hoor en te dink dit is ‘n stormwind. Dan juis moet ons die fluisterstem van God hoor wat ons verseker:dit is ‘n skoonmaakwind. Hy  waai net die die droë blare van ons lewensboom skoon  – dis nie ‘n tornado nie, maar ‘n wind van verandering.

Vandag sit ek op die boonste vloer van ons meenthuis, hier waar my studeerkamer gesellig ingerig is en ek kan weer oor hierdie trappieslied skryf. Ek moet twintig trappies klim om by my rekenaar uit te kom en vanwaar ek sit het ek ‘n effense uitsig, hoewel die aangrensende meenthuis die uitsig redelik versper. Tog het my droom van ‘n trappiesblyplek waar geword! Vandag is ook my ousus se mylpaalverjaarsdag. Sy is die eerste een in ons gesin wat by die sestig-trappie uitkom. Ons ouers was beide in hul vyftigs toe hulle oorlede is. Dit is ‘n lang reis van 1980 toe my Ma oorlede is en 1984 toe my Pa oorlede is tot hier waar ons die mylpaal saam met my sus kan vier.  Die tranesak het tog vreugdesaad opgelewer.

Hoe bemoedigend is dit nie om te weet – buite is die seisoen stadig maar seker besig om te verander – lente is oppad. Ook in ons is daar verandering besig. Al gebeur dit trappiesgewys en stadig.

Die vreugde-oes kom!

 

 

One Response to “Trappieslied”

  1. Alwa says:

    Sestig was baie vêr – en baie oud! Nou is 60 ‘n realiteit, werklikheid, het gebeur en is dit eintlik baie baie sag…… rustig ……. vreugdevol … …. genadig….liefde……MAGIC!!!!! Met so ‘n wonderlike gesin, familie, vriende se OMGEE, SUPPORT, EN OPREGTE LIEFDE, kan dit nie anders ervaar word as om die sestig-trappie ( stages of life) met grasie en trots vol te staan. GODDELIKE GENADE as sambreel en koelte en DIE WOORD as sement en fondament van die 60- trappie – LIVE LIFE!

Leave a Reply