‘n Woestynheilige het vir etlike jare as askeet in die woestyn geleef. Hy het sy gedagtes wat deur die stilte en sy samesyn met God gevorm is, op perkamente opgeteken. Met die hulp van ink wat hy uit ‘n spesiale plant vervaardig het en ‘n primitiewe pen het hy op perkamentrolle die boodskappe van sy stilwees voor God neergeskryf en aan verbygaande karavane oorhandig
Hy het egter begin agterkom dat sy kragte besig was om af te neem en het op ‘n dag besef dat die einde van sy lewe naby is. Toe het hy ineens die intense begeerte gehad om sy testament op te teken, maar tot sy ontsteltenis het hy ontdek dat hy geen enkele perkamentrol oorgehad het om dit op te skryf nie. Uiteindelik het hy besluit om met die ink wat hy wel nog by hom gehad het sy testament op sy lyf te skryf. Hy het sy eenvoudige linnekleed afgestroop. Met slegs sy lendedoek aan sy lyf het hy hom op die woestynsand tuisgemaak om sy testament op sy verweerde lyf te skryf. Terwyl hy egter die pen naderbring om die eerste woord te skryf, het hy ineens gehuiwer en weer na sy eie liggaam gekyk –
* sy verweerde voete wat baie ver geloop het onder moeilike omstandighede om die blye boodskap aan afgeleë groepe mense te bring;
* sy knieë wat die tekens getoon het van jare se kniel in gebed;
*sy bolyf wat letsels gedra het van die martelhoue wat hy terwille van sy geloof moes verduur;
*sy vereelte hande wat gewoond was om te dien, wonde te verbind en die boodskap van liefde neer te skryf oor baie jare
Ineens het hy die pen en ink neergesit met die helder besef wat by hom posgevat het: Ek hoef nie ‘n testament op my liggaam te skryf nie, my liggaam is my testament, dit dra die letsels en tekens van my lewe, my werk, my diens. Toe het hy uitgestrek in die woestynsand gaan lê en sy hande sywaarts uitgestrek sodat sy liggaam in die vorm van ‘n kruis gelê het. Hy het sy oë toegemaak en God in ‘n dankgebed geloof vir die voorreg om soveel jare te kon leef en in instrument in die hande van die Allerhoogste te wees
‘n Verbygaande karavaan het hom ‘n paar dae later so aangetref – ‘n stil figuur wat in kruisvorm gelë het met die sand wat hom begin toewaai het – maar op sy gesig ‘n hemelvrede.
(Verhaal verwerk en aangepas nav “Testament” In “Kommerkrale” -Hennie Aucamp)
Die afgelope twee weke in Bloemfontein het ek my eerste ervaring van bestraling gehad. Die onbekende ervaring het soos ‘n berg voor my gelê. Wat presies behels dit? Wat gebeur tydens bestraling? Wat ervaar en voel mens? Watter newe-effekte is daar? In die wagkamer van Onkoterapie het ek gesit en na die mense om my gekyk – meeste gesigte en liggaamshoudings het iets vertel van die pad wat hulle geloop het, veral ook die nalatenskap van chemo (mussies om die haarlose koppe te bedek) en soms ook ‘n bleekheid en ‘n moegheid wat vertel van ‘n dapper en verbete stryd teen die aliens in hul lywe. Tog, as mens begin gesels, is daar ‘n sprankel in die oê en ‘n vasberadenheid in hul stem. Sommige is ingestoot in die bestralingskamer op hospitaalbeddens, maar steeds het hulle ‘n vriendelike groet gehad vir diegene in die wagkamer.
Toe uiteindelik ook my oomblik van waarheid – eers die vooraf vastelling en afbakening van die twee areas wat bestraal moet word. Daar word groen sterretjies op my lyf gemaak met ‘n merkpen en dan ook vier tatoëerkolletjies wat die bestralingsplekke afbaken. Die bestraling self volg dan – die gaan lê en op die bed en die blootlê van die gemerkte areas. Dan besef ek ook dat my lyf my testament geword het wat vertel van die pad, veral die afgelope sewe jaar se vreemde reis met die ongewenste plakkers wat hul in my lyf kom vestig het. Terwyl die bestraling dan vir ‘n klompie minute duur, is dit behoorlik asof iets van die waarheid by mens instraal: Net genade hou jou as gebroke en beleërde mens heel. Ineens onthou ek die woorde wat in boogvorm geskryf staan bokant die ingang van die Kweekskool op Stellenbosch: Sol Justitiae Illustra Nos (Son van Geregtigheid bestraal ons)
Op ‘n vreemde manier word die woorde deur ‘n bestralingsapparaat nuut by my ingebrand.
In Neil Diamond se aangrypende liedjie Morningside besing hy die handewerk van ‘n Pa wat ‘n handgemaakte tafel vir sy kinders nalaat:
Morningside
The old man died
And when he died
He left a table made of nails and pride
And with his hands he carved these words inside
For my children
And the legs were shaped with his hands
And the top made of oaken wood
And the children sat around this table
Touched with their laughter
Ah, and that was good
Morningside
The old man died
And when he died
He left a table made of nails and pride
And with his hands he carved these words inside
For my children
The words he carved became his epitath
For my children
Op die meegaande foto is die hande die testament van ‘n lewe wat geleef is. By my Oom se begrafnis het ek my Tagtigjarige Tannie se hande afgeneem waar dit die jonger hande van ‘n buurseun omsluit wat haar wou troos. Tog is dit vir my veelmeer die troos van haar hande met hul lewensverhaal wat troos oordra aan die jonger geslag. ‘n lewenstestament – kyk hierdie hande het geleer om te ontvang en af te gee. Hierdie hande het gebid en gewerk. Nou rus dit in die wete: Iemand hou my in Sy hande. Altyd.
My hande is my lewenstestament. Neem die troos daarvan met jou saam.
Vir my is die letsels op my liggaam ( baie prominent) vir my goed en sleg…..herinner my aan ‘n intense motorongeluk (goeie en slegte gevolge), ‘n maermaak operasie (nie suksesvol), angeogram (goeie gevolge) en boweal van Genade!!!! Ek het nie ‘n probleem met oudword nie, ook nie met die bogenoemde letsels nie – word bedek deur my gemaklike klere, MAAR ….ek het ‘n groot probleem met die “oumens” vlekke op my HANDE! Op my gradeplegtigheid foto (26 jaar gelede!!) hou ek my graadsertifikaat houer vas met die mooiste leliewit hande….my hande nog altyd my trots, maar nou is ouderdom ‘n werklikheid. Ek gebruik die nuutste en beste “anti age… age spots remover” handeroom – lyk tog party dae “ligter”. Sal bitter graag die vlekke “wegtoor”. Na 26 jaar , op DV 7 Oktlober 2010 is ek baie bevoorreg om weer ‘n graadsertifikaat vas te hou – hande met vlekke…..bewys van GOD se GENADE……LIEFDE!
Sorrrrryyy – 36 JAAR GELEDE!!!!!
Alwa: Die verloop van tyd het ‘n lelike manier om ons onkant te vang. Ek moes glimlag oor daardie een.
Geluk met die graadsertifikaat wat wag. E werk op die oomblik ook hard aan myne.
Wim: Ek bly verwonderd oor jou treffende foto’s. En stories. Dankie.
Alwa : ons sal weer ‘n nuwe graadfoto moet neem vanjaar – en weet die merke op hande en kraaispoortjies om oë vertel hul eie verhaal. Geluk met die prestasie.
@Leon – dankie vir jou moontlikmaak van die blog en aanhalings wat jy gereeld stuur. Dit “trigger” nuwe gedagtes en dalk sommer nuwe stories!
Kom heel toevallig op jou blog af..Na aanleiding van my soektog waar om ‘n braambos in my tuin te plant.Ek so bietjie rondgespring lees op jou blog..SO MOOI!!!Woorde so pragtig saamgesnoer soos balsem vir my ek-is-bang-vir-kanker…