Archive for the 'Uncategorized' Category

Die Hart van Lig

Monday, June 7th, 2010

Hartjiehortjiehuisie. Philippolis. 8 Oktober 2008

Die rare ding gebeur. In die toegeluikte huisie in Tobie Mullerstraat duur die nag langer en word daglig eers gestuit. Totdat – die son trefseker die uitgesnyde patroon op die luik vind en sy aankoms hartvormig aankondig. Dit word ‘n lekker wakkerwordspeletjie – kyk of die luikhart al lig deurskyn, dan is dit ‘n duidelike teken van die nuwe dag.

Lig. Jy weet as dit daar is. veral na ‘n lang nag met skrikdrome is lig die verspieder wat verlossing bring. Ek onthou een so uitgerekte wag-vir-die-lig nag toe ek vier jaar oud was. Ons het by my familie gekuier. Die vorige aand het ons ‘n oorlogsfilm in die inryteater gaan kyk. Ek dink nie my ouers het besef hoe grafies die geweldstonele gaan wees nie.  ‘n Toneel van ‘n geweldige bombardement ruk die dorpie aan flarde. In die volgende  toneel hardloop ‘n seuntjie beangs deur die vernielde strate opsoek na sy ouers. Uiteindelik vind hy die lyke van sy ouers net buite die dorpie aan die rand van die bos. Hulle lê  leweloos verwronge met bloed op hulle gesigte. Hy gaan kniel by sy ma en tel haar hand op. Dit gly willoos terug. Die kamera fokus op die seuntjie se ontreddering en angs. Die nag sien ek die prentjie  eindeloos voor my oê afspeel. Dit word ‘n lang nag. As mantra om die donkerte te besweer prewel ek my ouers  se name.  Uiteindelik verval ek in ‘n rustelose slaap. Toe ek wakkerword merk ek op dat die gordyne lig begin word. Soos die lig toeneem, kan ek die patrone op die gordyne al duideliker uitmaak –  sulke bamgoesgrasse wat geleidelik verkleur. Uiteindelik is dit dag!

LIG. Net die sê van die woord klink sommer reg. Véérlig. Lig kan niks anders as lig wees nie. Aan die bestaan van lig kan mens nooit twyfel nie – jy wéét wanneer lig teenwoordig is.

Die bevrydende teenwoordigheid van lig maak my altyd opgewonde, veral as dit deurbreek op plekke waar die donker wou  paaiboelie speel.

In haar outobigrafiese vertelling: “Om die son te aanskou” vertel Audrey Blignault van so ‘n donker tydperk in haar lewe na die motorongeluk waarin haar man dood is en sy ernstig beseer is. Terwyl sy by haar dogter en skoonseun kuier, dra sy die binnedoodsheid van seer en verlies. Dit duur etlike weke. Tot op ‘n dag. Haar kleinseun sit in sy stootwaentjie. Sy merk op hoe hy verwonderd die ligstrale dophou en dan gryp na  die klein stofdeeltjies wat in die ligbane ronddans. Hy gryp aanhoudend en lag uitbundig. Op daardie oomblik gebeur daar iets in haar binneste. Sy self sien die lig wat so sonder voorbehoud skyn en ‘n klein seuntjie gelukkig maak. Skielik voel dit asof die lig ‘n pad deur die donker in haar binneste brand. Sy onthou ineens die woorde van die Bybelvers: “Soet is die lig en goed is dit vir die oë om die son te aanskou (Pred 11:7).

‘n Wonderlike eienskap  van lig bly my by: ‘n eksperiment met ‘n glasprisma in die Skeinatklas. ‘n Sterk ligstraal val met ‘n bepaalde hoek by die prisma in en breek dan oop in ‘n kleure-reënboog. Lig herinner altyd aan die verrassing wat weggesluit lê vir diegene wat dieper wil kyk en bereid is om te wag.

In die film : Marvin’s  Room speel ‘n jong Leonardo DiCaprio die rol van van Hank, ‘n tienerseun vir wie al die komplekse werklikhede van die lewe te veel raak en dan uit reaksie sy enkelouer ma (gespeel deur Meryl Streep) se huis aand die brand steek. Sy ma kry toestemming om hom tydelik na sy oupa, Marvin, te neem. Die oupa is al vir twintig jaar chronies siek en bedleênd. Hank is onwillig , maar wanneer hy wel sy oupa vir die eerste keer ontmoet, vorm daar ‘n vreemde band tussen hulle. Hy besef dat sy oupa eintlik niks het om hom te vermaak daar in die donker siekekamer  nie. Hank prakseer ‘n plan – met ‘n spieëltjie kaats hy die ligstreep wat deur ‘n spleet in die gordyne val, tot by sy oupa op die bed. Wanneer sy oupa die ligkolletjie opmerk, begin hy reageer en daarna gryp. Met behulp van die spieëltjie laat Hank die ligkolletjie oral in sy oupa se  kamer dans. Hy sien hoe sy oupa dit geniet. So klein gebaar, so groot reaksie.

Om oop-oog te reis beteken dat mens die ligstrale sal raaksien. Soms byna kinderlik weer daarna sal gryp en dit toelaat om tot diep binne jou te skyn. Dan kan mens ook soms soos ‘n stukkie spieël wees wat die lig inkaats tot by ander wat in gedempte vertrekke smag na die dans van lig.

Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie (Joh1:5)

My Something-went-wrong-roos

Thursday, June 3rd, 2010

 

3 Junie 2003.

Vandag is die dag van die UITSLAG.

Die biopsies is gedoen, die bloed is getrek en ontleed. Sonar en skandering is ook agter die rug. Die ongenadige blootstelling van lyf onder kliniese ligte en oë.

Die dokter sal net na ses vanaand die resultate bring. Dit gaan ‘n lang dag wees.

Maar eers bring iemand vir my ‘n enkele roos. Tussen die ruikers wat vroeër reeds gekom het, lyk die enkele roos maar baie…..enkel. Tog het die roos ‘n storie. So vertel die roosdraer. Ek glo haar want sy ken blomme, veral rose.

Dis ‘n Leonides-roos. Die Leonides-roos is nogal ‘n gesogte roos. Dit was o.a. Hansie Cronje se gunsteling roos gewees. Op sy begrafnis verlede jaar moes bloemistes bontstaan om genoeg Leonides-rose in die hande te kry.

Ek hoor dat hierdie ‘n baie besondere Leonides roos is, een van ‘n spesiale groep.

Ek verdiep my in die vertelling: Tydens die kweektyd van die roos en sy roosgenote in die beskutting van hulle kweekhuis is hul gelykmatige en voorspelbare roosbestaan wreed ontwrig. ‘n Geweldige rukwind steek op en waai die dak van hulle kweekhuis af. Die gesogte troetelrose word eensklaps uitgelewer aan die elemente – vir die eerste keer voel hulle die skerpte van die son direk op hulle delikate roosblare, die warrel van die wind, maar ook die lafenis van regte reën. Natuurlik voel hulle heel weerloos – hulle is immers ontwerpersrose en nou kry hulle swaar. Byna soos om Koningin Elizabeth na ‘n brand in Buckingham paleis in ‘n plakkershut met gate in die dak te laat bly.

Die rose regeer op die swaarkry en die sonskyn – kleurvlekke verskyn- songeel spatsels op hierdie andersinds letsellose rose. Interessante patrone vorm op die buiteblare van elke roos. Elke ontwerpersroos kry ‘n unieke karakter. Soos gebeur met ‘n foutiewe munt of seël wat gedruk word, begin die mense navraag doen oor die unieke Leonides-rose. Die rose kry ‘n bynaam: Leonides Something-went-wrong-rose. ‘n Paar van die rose beland in Welkom. Een word persoonlik afgelewer by bed 22, Chirurgiese saal, Medi Clinic. Op die dag van die gevreesde uitslag. Ek identifiseer met die roos en sy verhaal.

Something went wrong. Dit sien ek op die spesialis-dokter se gesig toe hy vra dat ek saam met hom na die kantoortjie in die saal moet kom. Ek verkies die privaatheid van die kantoor. Die tweebed kamer is nie privaat nie.

Hy deel my die feite nugter mee: Die biopsie bevestig ‘n infiltrerende hoëgraadse adenokarsinoom. Die Gleasonskaal toon ‘n hoë 7. Die PSA telling wat nul moet wees is hemelhoog: 323 – net soos die Mazda! (Toe ek die telling later aan ‘n Doktersvriend van my deurgee, uiter hy net een woord: Bliksem!)

Die spesialis verduidelik die opsies. Hy teken prentjies op die papier – ‘n eendimensionele prostaat. dis nie my liggaam wat so lyk nie. Hy voeg die pyltjies in om na die verskillende behandelings-opsies te verwys. Ek neem dit in asof deur ‘n filter. Vra wat hy sou gedoen het as hy in my (prostaat) skoene gestaan het. Hy vertel. Verduidelik. Skryf moontlikhede op die papier neer. Professionele simpatie, met tog ‘n tikkie menslikheid wat deurskyn.

Later toe ek terugkeer kamer toe wag Leonides langs my bed. Ek glimlag wrang vir hom. Something did indeed go wrong.

Ek dink aan ‘n begrip wat ek iewers in ‘n lesing op Universiteit gehoor het – Felix Culpa – die gelukkige ongeluk. Die positiewe wat na vore kom uit die hartseer. Vir Leonides was dit so – hy het ‘n interessante geel vlek op sy buiteblaar om dit te bewys. Sy en my Skeppingskunstenaar sal hierdie dak-afwaai-liggaam-buite-beheer in ‘n Felix Culpa  omskep.

My Reisgenoot bring vir my ‘n piouter kruis met ‘n blou steen in die kruispunt. Sy sit stil by my. So baie om oor te gesels. So min woorde. Ons reispad-vriendskap het dan pas eers begin.

Later terug by die huis kry Leonides Something-went-wrong ‘n ereposisie in die wit nis in die gang. Ek neem ‘n foto.

Elke keer as ek by my kamerdeur indraai knik ek vertroulik vir hom. Ek verbeel my seker, maar ek is oortuig: sy geel spatsel knik speels terug.

Naskrif: Dis vandag presies sewe jaar sedert die dag van die uitslag. Ek kry nog steeds behandeling en die PSA wat na behandeling tot byna nul afgekom het, is weer oor die 100. Tog het soveel wonderlike dinge intusssen gebeur, veral die feit dat ek en my Reisgenoot ‘n huweliksbelofte kon aflê op ‘n herfshelder dag in Clarens.

Die Skepper is ook Herskepper. Die Something-went-wrong word ‘n belofte – Ek laat alles meewerk ten goede.

Kyk Ek maak alles nuut.

‘n Spiraalreis met ‘n doel

Wednesday, June 2nd, 2010

 

Philippolis, Suid-Vrystaat. 9 Augustus 2004

My eerste regte kennismaking met ‘n labirint. My Reisgenoot en ek kuier vir die naweek op Philippolis en sien die dorpie vir die eerste keer. Ons ontdek fasette in die dorpie wat ons opgewonde maak. Dis ‘n dorpie waar mens kan tot verhaal kom. Rustig raak. Die sterrehemel met ‘n psalm 8 verwondering beleef. Die helende stilte beleef. Ek dink weer aan die aanhaling wat ek iewers gelees het: ” Silence is God’s first language, all the others are bad translations.” Ons geniet ons kuier op Planeet Philippolis!

Die Sondagmiddag is dit die ideale tyd om die labirint te verken. Dit vorm deel van die Laurens van der Post Gedenktuin en is teenaan die mooie Moederkerk geleë. Ons stap met die paadjie wat lei vanaf die Suilegang. Dit voel opwindend. ‘n Ontdekkingstog. Ons betree die steenpaadjie van die labirint. Dit vorm ‘n uitkringende spiraalroete wat jou soms nader aan die middelpunt neem en dan weer verder. Amper soos ‘n belofte wat jy weet moet waar word, maar wat soms bietjie dowwer raak. Nes jy dink, nou gaan jy nooit  die middelpunt bereik nie, dan swenk die paadjie weer belofteryk binnewaarts. Tussen die spirale van die steenpaadjie is daar watervore, dus moet jy mooi opletloop, anders trap jy die paadjie mis en beland kniediep in die waterslootjie. Dit gebeur toe ek dit die minste verwag – ek probeer ‘n foto neem van my eerste labirintreis en trap die paadjie mis. Toe my linkerbeen wegsak in die waterslootjie duik-val ek vorentoe terwyl ek die kamera verbete vashou. So maak ek eerstehands kennis met die steenpaadjie en voel ek die growwe tekstuur van die bakstene teen my wang toe ek daar lê. Ek glimlag – dis tipies soos dit gaan in die lewe. Nes jy dink jy is mooi op dreef (“look Ma, no hands!”) dan maak jy met ‘n slag weer kennis met die harde werklikheid. Gelukkig is nie ek of die kamera beskadig nie nie. Met ‘n groter versigtigheid én nedrigheid loop ek die oorblywende stuk en bereik die kern sonder enige verdere ongevalle. In die kern van die labirint maak ek myself tuis en beskou al die steenkronkelinge om my. So stukkie lewenswaarheid leer ek hier in die hart van die  labirint – dit maak nie saak hoeveel draaie en wendings jou lewenspad neem nie, daar is ‘n einddoel en dis eers met die aankoms by dié doelwit dat jy die patroon van die pad verstaan.

Later lees ek bietjie meer oor die verskil tussen ‘n labirint en ‘n doolhof. By ‘n doolhof kan jy jou vasloop en dan moet jy terugdraai en weer soek na die regte pad. In ‘n labirint is daar slegs een roete. Dit kronkel soms verder en soms nader aan die eindpunt, maar dit lei altyd tot by jou eindbestemming. Ek lees ook oor die spirituele simboliek van die labirint. Op jou reis na binne moet jy ligter word deur van die oortollige bagasie ontslae te raak (‘n baie moeilike opdrag vir my wat so kan opgaar!). Wanneer jy dan die middelstuk van die labirint bereik, moet jy dink oor jou reis terug. Op hierdie terugreis moet jy nuwe dinge saamneem.Dit is die goeie  ontdekkings wat jy maak oor die sin van jou menswees en jou doel op aarde.

Met my eerste   kennismaking met die labirint leer ek dus sommer meer van die lewe en van myself. ‘n Jaar later sou ek weer in die middel van die labirint gaan sit om ‘n belangrike besluit te neem. So word die labirint ‘n belangrike deel van my “oop-oog reis”.

 Gaan loop dus gerus die honderd-vier-en-sestig treë van die labirint op Philippolis. En ontdek die vreugde van bagasie minder maak. Hou bietjie lewensvoorradopname. En pak dan die regte  benodigdhede in jou reissak., Mooi reis!

‘n Kerk, ‘n Sjabloon, ‘n Kamera, ‘n Kiekie

Tuesday, June 1st, 2010

 

Augustus 2005. Rosendal. ‘n Badkamervenster.

Wie sê mens kan nie ver kyk en oop-oog reis in ‘n Badkamer nie?
My Reisgenoot en ek is op ‘n verkenningstog in Rosendal, Oos-Vrystaat. Ons verken, verkyk en verluister ons aan alles wat die klein dorpie te bied het. Uiteindelik besoek ons Turksvy Trading. Dis ‘n winkel geskoei op die lees van ‘n outydse handelshuis. Iets van alles. Nostalgiese goed. ‘n Ware ontdekkingstog vir ons twee reisigers.

Selfs die badkamer van die winkeltjie is interessant. ‘n Groot ou enemelbord wat ondergronds in myne voorkom, is aangebring by die toilet: GEVAAR. SKIETWERK AAN DIE GANG!

Maar dis die venster wat my boei. Op die ruitjies is daar sjabloonwerk in die vorm van ‘n takkie met ‘n blaar. Kyk mens egter deur die oop blaargedeelte, is die mooi ou sandsteenkerk van Rosendal sigbaar. Dis ‘n foto werd. Met my digitale kamera wat nog ‘n nuwe speelding is, fokus ek deur die sjabloonprent op die kerk en druk die sluiter.
Ons eie “kyk” op die kerk word vasgelê.

Met hierdie blog-inskrywings wil ek graag probeer anders kyk, verder kyk en moontlik ook nuut kyk. Ons is redelik kykvoos. Herhalende beelde op die TV, moegmakende berigte in koerante, tekens van verwaarlosing wat ons in ons omgewing opmerk, maak ons kyk dof. Verwagtingloos. Laat ons versigtig kyk en kyk sonder verwondering.

Ons kyk blind. Soos die bedelaar wie se verhaal on Lukas 18 so aangrypend vertel word. Jesus vra : Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? Hy antwoord dringend: Dat ek kan sien!

Sien is nie altyd net die sigbare waarneem van die werklikheid om ons nie – dis ook om met ‘n binne-oog te sien. Met jou hart te kyk. Soos die nuutkyk van ‘n kind.

Op hierdie blog “Om oop-oog te reis” wil ek graag saam met jou oefen om nuut te kyk. Daarvoor gaan ons foto’s, skilderye en soms net iets so eenvoudigs soos ‘n herfsblaar gebruik.

Ek sien uit na die reis!