Archive for the 'Uncategorized' Category

Die krag van onthou

Monday, October 11th, 2010

Memories, light the corners of my mind
Misty watercolor memories of the way we were.
Scattered pictures of the smiles we left behind
smiles we give to one another
for the way we were.

Die vers uit Barbra Streisand se liedjie “The way we were”  vertel van onthou wat soos ‘n waterverfskildery die verhaal van mens se lewe vertel.

Om te kan onthou is ‘n rykdom wat mens eers waardeer as jy begin vergeet. Of besef dat die brein soms vanweë verkeie redes (soos beroerte, beserings) sy vermoë om te onthou, kan verloor.

Johan Cilliers vertel die verhaal van die Reisiger sonder bagasie (geskryf deur die dramaturg Anouilh) in een van sy boeke:

” ’n Jong soldaat word tydens ’n oorlog deur ’n koeël in die kop getref en verloor sy geheue geheel en al. Hy kan nie sy naam onthou nie, weet nie wie sy ouers of waar sy tuisdorp is nie—hy word ’n geskiedenislose, identiteitslose man. Ná die oorlog word ’n poging aangewend om sy naasbestaandes deur middel van die radio en die pers op te spoor. ’n Hele aantal families doen navraag en daar word reëlings getref dat die jong man van familie tot familie sou reis, in die hoop dat daar ’n herkenning en herinnering sou plaasvind. Só reis die jong man sonder verlede, sonder die bagasie van gister, toe voort—net om keer op keer teleurgestel verder te moet reis. Tot op ’n dag dat hy by ’n huis instap en die gesin uit een mond uitroep: Dis mos ons seun! Ons broer! Dié herkenning is egter nie wedersyds nie. Hy staar hulle met onbegrip aan, staan soos ’n vreemdeling tussen vreemdes … 

Die familie konfronteer hom toe met pynlike ervarings uit sy jeugjare in ’n poging om hom tot herinnering te skok. Hulle neem hom na ’n gevaarlike wenteltrap waar hy as jong seun in ’n woedebui ’n maat afgestamp en dié sy nek en ledemate gebreek het. Hy skud sy kop: “Ek kan nie onthou nie … ” Die diensmeisie neem hom eenkant en vra met trane in haar oë of hy dan die leed wat hy haar aangedoen het, heeltemal vergeet het? Hy skud sy kop: “ Ek kan nie onthou nie … ” Só gaan dit aan, sonder sukses.

Toe onthou iemand die geboortevlek aan sy liggaam, iets waarvan tog net sy familie sou weet. Die oomblik toe hy in die spieël die geboortevlek sien, keer sy geheue plotseling terug. Toe onthou hy: Ek was geen engel nie. Sy verlede, met al die sonde en skuld daarvan, doem só grotesk voor hom op dat dit dreig om hom te oorweldig. Toe besluit hy om toneel te speel, om die feit dat hy sy geheue herwin het, te verswyg. Teen die wense van sy familie in, sit hy die volgende dag sy reis voort …

Die volgende familie by wie hy aanklop, benodig om die een of ander rede ’n manlike erfgenaam. Hy kom met hulle ooreen: hy sou hom voordoen as hulle seun, en hulle sou hulle voordoen as sy ouers. Dit het hy gedoen nie ter wille van die erfenis nie, maar om tog net ’n nuwe begin te maak, tog net ’n skoon blaadjie om te slaan, tog net sy skuldbelade geskiedenis by sy ware familie agter te laat—soos ’n vergete tas op ’n verlate perron.”

Soms is onthou te pynlik en dan word dit uitgeblok. Amnesia word die brein se veiligheidsmaatreel. Maar hoe sleg is dit om heeltemal verledeloos te wees, al klink dit soms so aanloklik.

Elkeen van ons het séér onthou-oomblikke wat ons liewer wil vergeet – die jeugdige onbesonnenheid, die pynlike gebroke hart na ‘n mislukte eerste liefde, daardie onbedagsame opmerking waarmee jy iemand as’t ware met ‘n dolk in die hart gesteek het, daardie versuimde dankie…. en tog as mens moes kies om jou brein soos ‘n lei te kon skoonvee dat jy ‘n tabula rasa begin kan maak, sou jy? Wat dan van al die goeie onthou?

Daardie kosbare kleintyd herinnering aan die koestering van ‘n oupa/ouma of pa/ma? Wat van daardie eerste vreugde van iets wat ‘n groot indruk op jou gemaak het? Musiek, smake, ‘n gevoel van blydskap oor die lewe? Wat van jou eerste ervaring van verliefdheid/liefde?

In die 2004 film “The eternal sunshine of the spotless mind” word juis hierdie vrae gevra. Die verhaal handel oor oor die teruggetrokke Joel Barish (Jim Carrey) en die spontane Clementine Kruczynski (Kate Winslet) wat op ‘n trein ontmoet.

Wat nie een van hulle besef nie is dat hulle mekaar reeds ontmoet het en in ‘n vaste verhouding was, twee jaar gelede. Na ‘n hewige uitval het Clementine die New Yorkse firma: “Lacuna, Bpk” gekry om om al haar herinneringe oor hulle verhouding uit te wis. (Lacuna beteken gaping of ontbrekende deel).  Toe Joel met ‘n skok ontdek dat sy al hulle herinneringe uit haar brein laat wis het, ondergaan hy dieselfde prosedure. Die vraag is egter of hulle nou weer voor kan begin en die keer ‘n suksesvolle verhouding (en nuwe herinneringe) opbou?

Die titel van die film kom uit ‘n gedig van Alexander Pope en is geneem uit die woorde wat Eloisa aan Abelard rig:

How happy is the blameless vestal’s lot!
The world forgetting, by the world forgot.
Eternal sunshine of the spotless mind!
Each pray’r accepted, and each wish resign’d;
Labour and rest, that equal periods keep…

Die afgelope paar weke is gevul met soveel goeie onthou-oomblikke dat ek net weer besef hoe arm mens sal wees sonder jou geheuefilmpie…

In September woon my Reisgenoot en ek die huwelik  van my oudste suster se jongste dogter by. Ek moet die bevestiging waarneem. Dit word gehou op die mooi huwelik- en onthaalplek: Memoire. Die naam noop mens  om te besef dat hier nuwe, onthoubare herinneringe geskep word. Nie verniet staan daar onder die pleknaam, Memoire die woorde: “where every moment is a memory”, geskryf nie. Hier kan goeie nuwe verhale en herinneringe geskep word.

Die diens vind plaas in ‘n skldermooi kerkie tussen ‘n woud van bome. Reg rondom die kerkie is vensters wat die natuur binnenooi. Dis paradysmooi. Toe die bruid aan die hand van haar Ma die paadjie afstap met vioolbegeleiding voel die prentjie byna volmaak. Die paartjie soen mekaar met die ontmoetslag en kom staan voor die kansel met ‘n intense bewussyn van die plegtige oomblik.

Dit word die begin van ‘n reis – die “ek en ek” wat nou die “Ons-reis aanpak – die verste (maar wonderlikste reis) van een mens na ‘n ander.

Toe die seën oor die paartjie uitgespreek word, en hulle met die mooi lied “I’ll walk with God” toegesing word, is daar net so diep bewussyn van die Teenwoordigheid van die Almagtige wat ook hulle sal begelei op hierdie nuwe reispad. Hy sal hulle help om die foto-album van mooi onthou’s te versamel en ook Hy sal sorg dat die donker van toets-oomblikke nie allesoorheersend sal wees nie.

Reis mooi op hierdie pad, Marcel en Alda en onthou dat julle altyd onthou word, veral deur Hom wat gesê het:

Die Here is die almagtige God, die Here sal onthou. (Hos 12:6)

 
 
 

 

Kerslig, vers en sterreprag

Monday, October 4th, 2010

Soms moet ‘n mens net ver wegkom van alles wat woelig, oorweldigend, irriterend en dreinerend is. “Far from the madding crowd” aldus Thomas Hardy.

Ons ontvlug toe vir ‘n week. My Reisgenoot en ek vat die pad Suidwaarts. Eers die N1 verby Bloemfontein en Edenburg. Ons swenk weg by Trompsburg op die R717. Dadelik voel ons die vryheid. Dis weliswaar ‘n smaller paadjie, maar baie stil en heel rybaar. Ons kyk na die verkleurende rantjies, die wisselende veld, die skape en selfs enkele wildsbokke. Die aantal windpompe staan soos verwelkomende uitroeptekens op die landskap. Dis onmiskenbaar karoo, al is ons nog duskant die Oranjerivier.

Met Coenie de Villiers se Kringe om die maan in die CD speler, sing ons lustig  saam en sien ons die lirieke voor ons oë afspeel:

Dis ‘n wêreld wat nog rou is
wat ‘n mens nog in kan glo
Die paaie hier loop reguit
en die mense wat hier woon
ken die hitte van die somer
weet hoe reën jou kan beloon

Al ry jy dalk net hier verby
daar’s iets wat in jou agterbly
En maak dat jy vir altyd hier kan bly

Ja die kring om die maan
word nog more se wind
as jy jou hart verloor
in die Karoo sal jy hom vind;
want waar jy ookal gaan
dra jy dié wêreld met jou saam
ja, die wind oor die Karoo
was die kring om die maan

Daar is min om hier te sien
maar daar is veel om te onthou
daar’s die breedte van die vlakte
daar’s die randjiesveld se blou
Waar ‘n arend stadig wentel
bo sy onbekende prooi
kry ‘n vaalbos skielik kleur
en word die berge vir jou mooi…

Toe ons byna op die dorpie se drumpel is, speel ons ons ou speletjie – wie sien die kerktoring eerste? My Reisgenoot het dit tot ‘n fyn kuns ontwikkel en dié keer roep sy nog voor ons by die groepie bome verby is”Daar’s hy!” Asof op bestelling verskyn eers die hele dakkie, toe die wit toring en dan die hele kerkgebou. Op ‘n wit muurtjie verwelkom die letters ons:

PHILIPPOLIS

Ons ry eers deur die dorpie om vinnig te sien wat verander het sedert ons vorige besoek. Toe ons regs in die dwarsstraat by die winkel opdraai roep ons gelyk: “Die Spookhuis!”  Die bouvallige huisie op die hoek van Tobie Mullerstraat is reeds vyf-en-dertig jaar onbewoon. Verval het mettertyd ingetree, die afgeskilferde (eens) wit mure en geroeste rooi dak veg dapper om iets van die vroeëre sjarme van die huisie oor te dra. Tog vandag is dit anders! Die huisie is liefdevol gerestoureer en verwers is besig om die buitemure  in room en wit te verander. Die rame en en deure is herstel. ‘n Reuse verandering. Ons lag ingenome oor die transformasie.

 Toe ons voor die  plaashek aan ons huisie se agterkant stop, sien ons dat ons wegvlughuisie swaar gekry het in die twee maande sedert ons laaste besoek. Die tuintjie is verwaarloos en van die bome en plante se nuwe groei is yl a.g.v. ‘n gebrek aan water. Ons ry na binne en maak weer die plaashek toe. Ons is tuis. Asof om dit te bevestig slaan die kerkklok vyf afgemete slae.

Toe ons die kombuisdeur oopstoot en deur die huisie stap voel ons dit dadelik die vergewensgesinde, verwelkomende hartlikheid van die huisie wat soos ‘n donskombers om ons vou. Ons Asemhaalhuis. Trooshuis. Heelwordhuis. Dis Saterdag. ‘n Week se huis- en tuinterapie lê voor.

Sondagoggend is ons voor die derde gelui in die mooie ou kerkgebou. Ons ken heelwat van die mense wat vergader vir die diens. Die gewyde orrelmusiek  vul die gebou. ‘n Innige vrede neem van ons besit.

Die boodskap van die Dominee uit Joh 14 tref die kol: “As julle my liefhet, sal julle My opdragte uitvoer.”

Na die diens staan ons buite die kerk en gesels. Ons word uitgenooi na ‘n Uys Krige-aand op Waterkloof, die nedersettinkie (tans nie meer bewoon) buite Philippolis. In die gerestoureerde kerkie gaan die voorlesings en woordreis wees. Daarna is dit visbraai in die gerestoureerde poskantoor/handelshuis. Ons stem gretig in.

Dit word ‘n week van tuinbedrywighede – ek snoei en my Reisgenoot ruim op. Ek gooi nat en sy maak die takke en blare bymekaar. Tot sewe-en-twintig swart sakkke teen die agterhek opgestapel  lê. Ook die stukkende staaldeur van die ou stal word afgehaal.

Uiteindelik kry ons ook ‘n tuinhulp wat hand bysit en ons ry die vuilgoed en swart sakke ashoop toe. Die keerwalle om die bome is netjies en vertel van ‘n sorgsame hand. Die plante en bome drink die water in. Ons tel – twaalf soorte vrugtebome groei in die klein erfie, o.a. Amandels,perskes, lemoene, pekanneute, turksvye en appelkose. Kanaansvrugte ook – druiwe, granate en vye. Ons is geseënd met soveel oorvloed.

Donderdagaand breek aan. Dis effe bewolk, tog toe ons die vyf kilometer na Waterkloof aandurf, trek dit oop. Van ver sien ons die handelshuis en die wit kerkie. Dit word ‘n heerlike kuieraand. Die vure, waarop die vis gebraai gaan gaan word, vlam reeds op. Kabeljou, onbevrore en vars uit die Kaap is op die spyskaart!  Dis tyd vir die voorlesings om te begin. Ons stap almal oor na die kerkie. Dis nagdonker – net die sterre is gestrooi oor die hemelruim. ‘n Aand van verwondering. Die verwondering groei toe ons die eenvoudige kerkie binnestap. Die enigste versiering is ‘n kunstige, handgemaakte houtkruis.  Kerse dien as beligting. Die aand word met gebed geopen. Die gasvrou verduidelik die rede vir die aand. Dit is honderd jaar sedert Uys Krige se geboorte op 4 Februarie 1910 op die plaas Bontebokskloof naby Swellendam. Daarom word vanaand ‘n woordreis deur sy lewe onderneem, aangevul met voorlesings uit sy gedigte en ook ‘n kort uittreksel uit “Die ryk weduwee”.

Dit word ‘n aand gevul met kerslig, vers en woordmusiek. ‘n Innige aand. Die dertigstuks mense in die kerkie luister waarderend en aandagtig. Bevestig hulle instemming met applous. Toe die laaste woord gelees is, is almal huiwerig om op te staan en so die magiese stemming te verbreek. Tog syfer die gaste later stadig uit, nog diep onder die indruk van die woorde en die krag van woordskepping. Hulle stap met fluistergesprekke na die eetplek onder die koepel van die sterbesaaide hemel.

Die ete is ‘n feesmaal. Kabeljou het nog nooit presies so lekker gesmaak nie. Varsgebakte brood, botter en korrelkonfyt en slaai vul die hoofgereg aan. Wyn wat die ete komplimenteer. Interessante tafelgenote se gesprekstemas strek wyd.

Vir nagereg is daar lemoensoetjies en moerkoffie, geskink uit die blou enemelkan.

Vir oulaas word daar gesels en dankie gesê. Almal is dit eens dat dit ‘n feesaand was wat net daar, onder die seënende koepel van Philippolis se naghemel en uitspansel kon gebeur.

Coenie was sowaar reg:

As jy jou hart verloor in die karoo

sal jy hom vind…

Die Aflos-kaartjie

Thursday, September 23rd, 2010

 23 September is ‘n belangrike datum in ons familie – a.g.v twee goeie gebeurtenisse op die datum en ook een hartseer rede. Ek skryf graag vandag oor die goeie.Op 23 September 1950 tree ‘n negentienjarige jongman in die huwelik met sy geliefde, ‘n ses-en twintigjarige jongmeisie. Maar ek wil die verhaal bietjie vroeër gaan haal. By ‘n kaartjie wat gestuur is in 1915. Vyf-en-negentig jaar gelede.

My oupa en ouma Jacobus  en Alwine (Winnie) Van Niekerk  is getroud op 29 Februarie 1916. Skrikkeldag, midde in die Eerste Wêreldoorlog. ‘n Tyd van onsekerheid en uitsigloosheid. Hulle was albei vyf-en-twintig.

Twee maande voor die troue stuur hy aan haar ‘n kerskaartjie waarin hy sy liefde aan haar verklaar. Te midde van die grysvaalheid van die oorlog stuur hy aan haar hierdie besondere kaartjie wat vertel van geloof, hoop en liefde. Veral die liefde. ‘n Romantiese kaartjie wat selfs aan ‘n braille leser genot sal verskaf, want dit is gedruk in reliëfwerk.

Voorop is ‘n baie simboliese prentjie: Twee hande van geliefdes wat mekaar in ‘n reddingsboei ontmoet onder ‘n anker van blou vergeet-my-nietjies en die woorde met die silwer-sprinkeling op: With Fond Love. My stil, beskeie Oupa se visuele liefdesverklaring.

Binne-in is daar ‘n “Wishing you a Happy Christmas” gedrukte wens met ‘n gedrukte rypmie by. Dan, in sy eie handskrif  staan geskryf:

From Jacobus

To Winnie – with fondest Love

Christmas 1915

Oupa en Ouma Van Niekerk se huwelik duur drie-en veertig jaar totdat Oupa op nege-en-sestigjarige ouderdom dood is. Uit hulle huwelik word vyf kinders gebore, waarvan vier volwassenheid bereik. My ma, Alwine, (Winnie) is die vierde van die vyf kinders. Sy trou op 23 September 1950 in Ontdekkers, Johannesburg met Willem (Bokkie) Fourie wat saam met haar in die Rand Leases mynkantore gewerk het.

Jarelank word Oupa Jacobus se  kosbare kaartjie in die ou Hollandse Familiebybel gebere. As kind blaai ek soms deur die Bybel en kyk na die koerantuitknipsels, foto’tjies en selfs ’n pers Moedersdagstrikkie wat getrou in die Bybel bewaar word. Maar veral kyk ek na die Fondest Love kaartjie. Na Oupa en ouma se dood bly die Bybel in ons gesin se besit. My Pa en Ma is op ‘n paar maande na dertig jaar getroud toe sy onverwags aan ‘n hartaanval sterf in 1980 en my Pa vier jaar daarna.

Negentig jaar na die kaartjie se eerste gebruik, word dit weer ingespan. 

23 September 2005 (wat my ouers se vyf-en-vyftigste huweliksherdenking sou wees) vertrek my Reisgenoot en ek na Philippolis. Ons gaan besigtig ‘n historiese huisie wat in die mark is. Eintlik is dit net ‘n voorwendsel om haar op Philippolis te kry vir die Groot Vraag. Want die vraag moet in die oopheid van die Karoo gevra word.

Oupa Jacobus se kaartjie wat al die jare in die familiebybel bewaar gebly het, word ingespan vir die spesiale geleentheid.Op die oop blaadjie na sy liefdesverklaring aan Ouma Winnie, skryf ek my briefie aan my Reisgenoot, Lynette.

Na ‘n heerlike romantiese ete te Bokpost (‘n gasteplaas in die Philippolis distrik) gaan kyk ons hoe helder die karoo sterre skyn. Ons voer ‘n lang gesprek oor die pad wat ons saamgeloop het tot hier en ek  oorhandig ek die kaartjie saam met die ring aan haar. Ek weet nie of dit die priemende blik van Oupa en Ouma was  wat vanuit ‘n foto in die kaartjie na haar gestaar het en of die blinkblou van die saffier in die ring die oorredingswerk gedoen het nie, maar sy antwoord  JA.

 Die kaartjie word ‘n kosbare deel van ons Memorabilia. Met die verhuising na ons troue,  raak dit onverklaarbaar weg. En bly net weg. Ons soek oral, dink aan alle moontlike plekke waar dit dalk kan wees. Maar tevergeefs. Oupa Jacobus se kaartjie (en ons s’n ook!) het eenvoudig net verdwyn.

Twee jaar gaan verby. Een Maandagoggend kom my Reisgenoot met ‘n jubeling by die studeerkamer in. Sy het die lêer in die hand met Oupa Jacobus se kaartjie en ‘n organza lappie waarin die verloofring toegebind was. Uit vrees dat dit dalk sou verlore gaan het sy dit twee jaar gelede in die lêer  gebêre en  vergeet waar sy dit gebêre het.  Die oggend het sy ‘n dringendheid gehad om in die kas in die spaarkamer te gaan kyk en die lêer daar gesien. Ons vier die herontdekking van Oupa Jacobus se  kaartjie. Dis immers ook mos nou ons kaartjie. ‘n Afloskaartjie van meer as negentig jaar. Wat vertel van liefde wat altyd verrassend nuut bly.

Nou wag die kaartjie, om wie weet dalk eendag, nogeens ‘n volgende liefdesverhaal te vertel?

Cinema Paradiso

Wednesday, September 15th, 2010

 

Die ligte verdof. ‘n Breë straal lig skyn uit die betonleeu se bek tot op die silwerdoek. Swart-en-wit beelde vorm op die doek. Die seuntjie staar verwonderd beurtelings na die ligstraal uit die brullende leeu se bek en die skerm. ‘n Wonderwêreld ontvou voor sy oë.

Ek wou nog altyd graag ‘n film gemaak het. Juis daarom my bewondering teenoor hulle wat dit regkry om m.b.v ‘n kamera ‘n verhaal te vertel wat jou aan die hart gryp en deel van jou lewensverwysingsraamwerk word.

Die toneeltjie uit Cinema Paradiso kon net sowel my ervaring van films gewees het.  Die aangrypende film met Giuseppe Tornatore as regisseur,  vertel die verhaal van die seuntjie, Toto, se fassinasie met die films wat in hulle teatertjie in ‘n klein Siciliaanse dorpie vertoon word. Toto se pa het nie teruggekeer na afloop an die oorlog nie en word as vermis beskou. Daarom word Toto se  besoeke aan die bioskoop sy ontvlugting van die werklikheid en ‘n kennismaking met ‘n nuwe (wonder)wêreld. Selfs al moet hy die broodgeld wat hy  by sy ma kry om mee winkel toe te gaan, daarvoor gebruik. Die projektor-operateur, Alfredo, word sy getroue bondgenoot.

Die aangrypende Klankbaanmusiek deur Ennio Morricone, dra by om van hierdie film ‘n nostalgiese reis te maak waarmee  meeste “Baby Boomers” sou kon identifiseer. Die jare van onskuld en ontdekking. Veral ook bring dit ‘n verlangepyn na dit wat  onherhaalbaar verby is – die bioskoop (genaamd die Alpha, Phoenix, Apollo, Roxy, Leba of iets dergeliks). Die rooi sitplekke en die fluweelrooi gordyne wat geheimsinnig voor elke vertoning oopswaai. Die “Ushers” wat pouse (en soms in die vertoning) rondloop met skinkborde wat met sulke bande om hulle nekke gedra word. Dan skyn hulle met ‘n flitsie ewe aanloklik oor die lekkergoed op die skinkbord en vind altyd gewillige kopers.

Eintlik dink ek is daar nog self meer nostalgie verbind aan die inry wat in die sestigerjare sy hoogtepunt bereik het. Dit was die algemeen aanvaarbare vorm van gesinsvermaak oor naweke. Die hele aanloop het die uitstappie so lekker gemaak. Jy kon jou  nagklere aantrek (mits jy klein genoeg was). Daar is ‘n kosmandjie gepak  en dan het die groot uittog begin. Ons keuse was gewoonlik tussen die Meiringspark  of die Lanza. Fase twee van die opwinding was die lang wag voor die hekke van die inry wat nog nie oop was nie. Dan het hordes motors opgedam en het die angs gegroei of ons die afsnypunt sal haal. Veral wanneer ‘n  Afrikaanse film vertoon is,  moes jy ten minste ‘n uur voor die tyd daar wees, anders was teleurstelling jou voorland as jy weggewys word.

Ai – die opwinding as jy wel ingelaat word en die soektog na ‘n geskikte staanplek begin. Dan, die vorentoe-en-agtertoe en heen-en-weer die motor manuvreer totdat almal naastenby die skerm kan sien. Net om dan dalk te ontdek dat die luidsprekertjie wat by die venster ingehaak word, nie werk nie. Ek onthou ‘n geleentheid toe ek my sus en niggie inry toe  geneem het, pas nadat ek my eerste motor gekry het. Ons het ‘n staanplek gevind en toe begin die groot heen-en weer sodat almal kon sien. Die film het net begin en my niggie wat agter gesit het, het aanhou kla dat sy nie kan sien nie. Dan maar weer ongeduldig die motor herrangskik. Toe ons uiteindelik vra hoe dit dan moontlik is dat sy nie kan sien nie, sê sy daar is woorde op die skerm wat maak dat sy die prentjies nie mooi kan sien nie. Ai tog!

Soms onthou ek eerder die gevoel wat ek buite die motor ervaar het as ons op warm somersaande op ‘n reisdeken voor die motor kon sit. So onthou ek hoe tydens die film “Mary Poppins” se uitgerekte animasiegedeelte,  eerder na die sterrehemel gekyk het as na die film.

Wanneer my streng Duitse Ouma Alwine saamgegaan het inry toe, het ons weliswaar nog lekkerder padkos gehad maar ook ‘n selfaangestelde sensor. Sodra Ouma enigsins gevoel het het dat die toneel op die skerm darem te intens was en nie vir kinderoë bedoel is nie, het sy ewe nonchalant haar pakkie Smarties oopgemaak en die inhoud “per ongeluk” op die vloer laat  val en ons kinders dan aangesê om die Smarties te soek!

Na die film, was die groot saak om te onthou om die luidsprekertjie terug te plaas voordat jy ry, anders het die geamputeerde luidspreker saamgery! As kind was die bonus dat jy kon maak of jy aan die slaap geraak het met die terugrit na die fliek en dan bed toe gedra is deur pa. Dit was die afronding van ‘n heerlike aand.

Die talle films het tog ‘n belangrike neerslag in my lewe gevorm. Grepe uit films het hulle later weer voor my geestesoog afgespeel. Belangrike lewenswaarhede is via flieks ontdek. So is my vermoede oor die feite van die lewe  bevestig nadat ek die film: “Debbie”gesien het. Het ‘n film soos Sound of Music die draaiboek geword vir ons “middagvervolgverhaal” wat ons smiddae in die tuin laat afspeel het. Met klankbaan musiek uit ons geradbraakte onthou van die woorde van die klankbaan. Gelukkig is liede soos  “Do-Re Me” en “My favourite things” darem redelik volledig gesing. 

Grepe lewe wat homself op die silwerdoek uitspeel, het ons drome en ideale bepaal.

Na  die film “Romeo en Juliet” het die beeldskone Olivia Hussey se plakkaat my muur versier. Sy het Julie Andrews onttroon.Om self maar net weer op haar beurt onttroon te word deur Tani de Lange van ” Professor en Prikkelpop”-faam. Haar geraamde en getekende foto het prominent op my lessenaar gepryk.  Die held van die Spaghetti westerns, Clint Eastwood, het met sy skrefiestaar vir Paul Newman van die muur laat verdwyn. Clint was my model van onverstoorbaarheid. Koelkop en berekenend in enige situasie.

Een naweek is ons op ‘n gesinsuitstappie na Johannesburg. My pa verras ons – ons gaan fliek in die Cinerama met sy geboë skerm wat jou laat voel jy is deel van die gebeure op die skerm. Ons sien “The Taming of the Shrew” met Elizabeth Taylor en Richard Burton. Dit voel of ons midde in hulle woord- en vuisgevegte staan.

‘n Paar weke gelede gaan kyk ek my eerste 3-D film: “Toy Story 3” Ek sit die brilletjie huiwerig op toe die fliek begin. En snak omtrent na my asem oor die onmiddellikheid van die beeld. Dis hier by my en ek is in die storie!

Met ons huweliksonthaal noem ek my begeerte om regisseur van ‘n draaiboek te wees – in beheer van elke skoot en verhaallyn. Besef egter dat daar ‘n Groot Regisseur is wat die storielyne wonderlik tot ‘n geheel saamvoeg.

Aan die einde van Cinema Paradiso woon Toto as volwasse man en suksesvolle regisseur die begrafnis van sy getroue vriend Alfredo by. Alfredo het hom bekendgestel aan al die geheimenisse van die projektorkamer. So het Alfredo die projektor geswaai sodat die ligstraal deur die venster geskyn het en die beeld op ‘n oorkantste muur in die buiteplein geval het. So is die rolprent aan die hele dorpie vertoon. In die projektorkamer het hy ook gesien hoe Alfredo stukkies wit papier invoeg in die filmrol as die priester die film sensor. Die priester het ‘nvoorskou van die film gehad en het in die voorste ry gesit. Wanneer daar ‘n soentoneel was of die paartjie net te amoreus na sy sin begin raak het, het hy die klokkie gelui en Alfredo moes die toneel dan uitsny uit die film. Hy het nie my ouma se taktiek met die Smarties geken nie!

Wanneer Toto na die begrafnis die blik oopmaak wat Alfredo aan hom nagelaat het,  is dit vol stukkies filmknipsels wat  gesensor was deur die priester en nou deur Alfredo tot ‘n aaneenlopende film saamgevoeg. So ontdek Toto al die verlore brokkies van sy lewe.

Soms laat ‘n film jou as’t ware in die spieël kyk. Sien jy brokkies lewenswaarhede wat saam ‘n groot eenheid vorm. Weet jy dat wanneer die eindtitels van jou lewe eendag op die groot skerm van die Heelal verskyn, daar soveel medespelers in die verhaal van jou lewe verskyn. Besef jy ook dat doodgewone gebeurtenisse eintlik jou lewe help vorm het.

Dan  weet jy dat die verhaal wat die Regisseur verfilm het, uniek is. En dat die dele wat jy graag sou wou “uitklokkie” met die rooi van kruisbloed gekleur is en nou nuut vertoon.

Amanda Strydom vertel van die groot Regisseur en die lewensdrama  in haar liedjie “My Kamer”

Die wêreld is my woning nie, Totius sou verstaan
Ek reis al meer na binne
tot dit tyd word om te gaan

Ons ken die komplot van die drama
Elke eeu word daar flink repeteer
Net die rolverdeling en dekor verander
Maar waar is die groot regisseur, waar is die groot regisseur

Die wêreld is my woning nie, Totius sou verstaan
Ek reis al meer na binne
tot dit tyd word om te gaan…

  

Die Oop-oog Reis

Saturday, September 11th, 2010

“Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit. U is met al my paaie goed bekend.” Ps 139:3

Die woorde pryk voorin ‘n geskenkboek wat ek ontvang het in 1982 toe ek ‘n belangrike besluit moes neem oor ‘n nuwe werkkring. Ek het die reis aangedurf. Sedertdien het dié teksvers al in verskillende omstandighede weer die deurslag gegee as ek  keuses moes uitoefen.

 “Reis is anders as net ry. Reis is langer, dieper en eindig meer as dikwels nooit nie. Selfs al kom jy terug, reis dele van jou heeldag. Mens kan in jou kop reis, of sommer net reis wanneer jy die son iewers deur die wolke sien breek. Die alledaagse rompslomp van lewe hoef nie in jou pad te staan nie.” Erens het ek die waar woorde oor reis raakgelees en ongelukkig nie die bron aangeteken nie.

 Reis is die opwindende avontuur waarvoor jy soms ‘n reistas nodig het, maar meestal net jou sintuie.

 Met die aanbreek van die lente is daar reiskriewelings oral in my lyf! Dalk is dit die rede dat ek tans twee reisverhale gelyktydig lees. Ek  het begin met “Die Honger Reisiger” van Marié Heese en my verdiep in haar  reisvertellings wat elk afgesluit word met ‘n resep of twee. Terwyl ek nog met die boek besig is, ontdek ek André Pretorius se interessante en stimulerende reissketse: “Iets ver en nuut.” Hy vertel van sy eerste grootogige reis toe hy as sewentienjarige die Olimpiese Vlam met sy eie oë sien brand het op die Montijuic-heuwel, Barcelona. Sedertdien reis hy steeds onophoudelik.

Hy som dit as volg op: “ Die drang na nuwe insig, ‘n vars perspekief, ‘n groter bekendheid met iets of iemand wat my aandag aangryp, die belofte van ‘n openbaring waarmee ek voorheen onbekend was – dit neem my altyd weer na lughawens, stasies, hawens.”

 Die opwindende van reis is steeds dan jy ook met nuwe oë kyk na jou eie mense, herkoms. Pretorius skryf so daaroor:

“ Soms lê die grootste ontdekking van ‘n verre bestemming nie in die plek nie, maar in jouself, soms sien jy op die reis niks duideliker as jou eie plek, die mense wat jy agtergelaat het. Want reis gaan net soveel oor menswees as oor besienswaardighede.”

 My eie reiservarings as kind was maar beperk tot die kuiers by familie en vriende. Tog was  my eerste groot reiservaring ons uittog van Stilfontein na die Kaap tydens ‘n langverlof van ses weke  in 1959. Dit was ‘n epiese tog wat ons aangedurf het met die “two-tone” Vauxhall Victor wat my pa kort voor die reis gekoop het. Iewers in die haai Karoovlaktes het die motor oorverhit en moes ons met die water-seilsak wat aan die voorste buffer van die motor gehang het, gaan water skep uit ‘n boer se plaasdam. Daarmee het  ons weer die verkoeler gevul  nadat die motor afgekoel het. Maar dis ‘n verhaal  wat vorentoe nog vertel moet word.

 My reiskatalisator was my eerste kamera, want deur sy  lens het nuwe vistas ontvou.

 My Traveller Double Reflex kamera. Met sy profetiese naam.

 Virginia, Vrystaat. Desember 1966. Ek word die trotse eienaar van die kamera tydens die jaarlikse Kersboom op die sportgronde van die myn se “Recreation Club”.

 Die Groot Opgewondenheid. Ons stap die sportgronde vol afwagting  binne. Pa, Ma, Ousus, kleinsus, kleinboet en ek. Ek is twaalf jaar oud. Op die terrein heers daar ‘n vrolike atmosfeer. Elke kind ontvang ‘n boekie met afskeurkoepons. Pienkes, bloues, geles, groenes en  wittes. Vir elke koepon kan jy iets kry in ruil. Die heel belangrikste blou geskenkkoepon (vir seuns) en die pienke(vir dogters). Op die spesiale koepon is daar  ‘n getekende Kersvader-prentjie.

 Elke jaar is die ritueel dieselfde. So teen Juliemaand bring die verteenwoordiger ‘n verskeidenheid van geskenke waaruit die ouers kan kies.(Dit word vir ons kinders verswyg). Die bepaalde geskenk word dan teenoor die betrokke kind se naam geskryf. Tydens die Kersfunksie ontvang elke kind (via kersvader) dan die geskenk wat deur sy/haar ouers reeds maande tevore uitgesoek is. Die verwondering is dan  groot dat kersvader so presies weet wat elkeen se hartsbegeerte is.

 Dit is dan ook die groot hoogtepunt van die Kersboom die middag – die aankoms van kersvader. Want eers daarna mag die geskenk koepon ingehandig word.

 Kersvader arriveer in 1966 nie met ‘n slee nie, maar wel met ‘n trekker en versierde sleepwa.  Hy sit op ‘n Kersvader-troon en wuif goedig vir die opgewonde skare kinders wat om die sleepwa rondmaal. Uit sy skouersak gooi hy lekkers aan wie ookal gelukkig genoeg is om dit raak te vang.

 Na die indrukwekkende aankoms kan ek nie wag om die die kosbare koepon in te handig nie. In ruil daarvoor word ‘n kleinerige toegedraaide geskenk aan my oorhandig. Ek skeur die kerspapier met onbetaamlike oorhaastigheid af. Ek kyk na die die prent op die kant van die kartondoos en trek my asem in: ‘n Kamera! Daar staan dit geskrywe: TRAVELLER  DOUBLE REFLEX CAMERA.

Ek  haal die kamera versigtig uit My hart klop opgewonde. My eie kamera! Met ‘n 120 film ingesluit. Hoe het Kersvader dan so goed geweet dat ek ‘n eie kamera begeer? Pa het ‘n Pentax SP500 wat hy gebruik. Soms, net soms mag ek die die kamera vashou en selfs by wyse van uitsondering ‘n foto neem. Dis so duur kamera, dat dit eintlik net Pa is wat dit mag hanteer. Maar vandag! Ek hou my eie kamera vas.Die dag word ‘n mallemeule van opgewondenheid en die koepons word een na die ander afgeskeur, ‘n Gele vir ‘n roomys, ‘n witte vir ‘n koeldrank, ‘n groene vir ‘n rit op die speeltreintjie.

 Maar die wonderlikste bly steeds die koepon wat aan my die kamera besorg het. Nou is ek ‘n egte regte fotograaf!

 My eerste rolletjie 120 film neem ek vinnig klaar. Ongelukkig vergeet ek soms dat die kamera nie self na die volgende raampie aandraai nie en neem dus soms twee foto’s  in een raampie. Dit het interessante spesiale effekte tot gevolg. Ek neem bv. ‘n foto van my suster waar sy gehurkend poseer by die dieretuin. Net daarna neem ek ‘n pou af wat pronkend sy vere sprei. Maar albei in dieselfde raampie. Die resultaat: My suster in die omraming van ‘n dramatiese veretooisel!

 ‘n Paar maande later vertrek ek as dertienjarige standerd sessie op ‘n skooltoer per trein na die destydse Rhodesië. Daar sou my Traveller sy eerste vuurdoop hê toe ek poog om die asemrowende Victoria-waterval se koeëlronde reënboog op film te probeer vasvang.  

 My eerste proesel van ‘n buitelandse reis en ‘n kamera om dit vas te lê! My kamera was my oop-oog reisvennoot.

 Sedertdien is my kameras my getroue bondgenote om reise, ervarings en mense op film (en deesdae digitaal) vas te lê. Ek (en deesdae met Reisgenoot aan my sy) “travel” steeds voort. En poog steeds om dit oop-oog en boekstawend te doen.

Koos du Plessis se liedjie “Swerwers” som die misterie van reis miskien die beste op:

 jy wat jou op die wysheid roem
wie sou jy die swerwer noem:
die een wat sonder afskeid ry
of sy wat eensaam agter bly?
of wie?

wie sou die ware swerwer wees
die een wat reis, die een wat lees
die enk’ling op sy slentergang
of elkeen wat na iets verlang
of wie?

wie sou die ware swerwer wees:
die een te voet, die een in gees
die een wat deur die ver land stryk
of hy wat deur die rookmis kyk?
of wie?

jy wat jou op die wysheid roem
wie sou jy die swerwer noem:
die een met tas en reisbiljet
of elkeen wat nog drome het?
of wie?

 

Kleikrag

Saturday, September 4th, 2010

Toe ek die verhaal van Alice Nongebeza en haar kleipotte lees het ek dadelik aan die die kranige Turkse pottebakker Galip Korukcu gedink. Hoewel hulle op verskillende kontinente woon en elk sy unieke kleiprodukte maak, is daar by albei ‘n passie vir klei. Om dit te omvorm tot iets moois en dikwels ook iets baie bruikbaars.

So rukkie terug het ek oor die broosheid van kleipotte geskryf n.a.v die beskrywing in 2Kor4 van die die mens as kleipot wat maar maklik breek. Tog word daar in dieselfde vers ook melding gemaak van krag – die binnekrag wat nie van ons af kom nie, maar van ons Skepper. Dis juis hierdie krag wat ook in klei lê – Skeppingskrag.

Goeie Vrydag 2008. Ons is bevoorreg om ‘n demonstrasie van kleikuns te aanskou. Ons sit in die pottebakkersgrot waar Galip (wat lyk soos ‘n Turkse Einstein) sy meesterstukke skep. Sy werkswinkel en uitstalruimte is geleë in die hart van een van die heuwels naby Avanos. Die dorpie Avanos is bekend vir sy erdeware van die hoogste kwaliteit. Die reputasie strek al sedert 3000vC. Die dorpie is geleë in die sklideragtige Kappadosië streek in Turkye. Naby die pottebakkergrot is die Goreme-vallei waar die wonderlikse grotkerkies aangetref wat pragtig versier is met eeue-oue handgeskilderde ikone.

Vanoggend voel Galip se pottebakkkersgrot egter soos een van hierdie kerkies, want ons het pas as toergroep saam nagmaal genuttig. Die Pottebakkerswiel is tydelik omskep tot ‘n preekstoel en dit voel eintlik so reg. Die nagmaal word gevier met tuisgemaakte Turkse brood en plaaslike (suur) wyn. Elke nagmaalsganger ontvang sy/haar wyn in ‘n kelkie wat spesiaal vooraf deur Galip vir die toerlede gemaak is. Dit word ‘n unieke nagmaalsgeleentheid wat elkeen diep raak.

Na die bediening van die sakrament en die slotgebed, word die die doek en die plank van die pottebakkerswiel afgehaal en kan die meesterpottebakker Galip sy plek inneem. Wat dit nog meer merkwaardig maak, is dat hy sy kleikuns skep op ‘n eenvoudige pottebakkerswiel wat per voet gedraai word. Met sy primitiewe skopwiel skep Galip vertoonstukke wat oor die wêreld heen pryk. Sy terracotta klei kry hy uit die nabygeleë Kizilirmak rivier (ook bekend as die Rooi rivier).

Vanoggend is ons die toeskouers wat verwonderd kyk hoe so stuk rivierklei onder die hande van die meester gevorm word tot ‘n kruik. Moeiteloos, maar met toegespitste aandag werk hy. Wanneer die eindproduk van die wiel afgehaal word, is dit moeilik om te glo dat ‘n vormlose stuk klei so gou onder die hande van ‘n vaardige meester ‘n nuttige voorwerp kan word, met mooi, vloeiende lyne. Later stap ons deur sy uitstalruimte en verwonder ons aan die fyn pottebakkerskuns.

Ek blaai verlede week deur die nuutste uitgawe van Country Life en ek haak vas by die artikel oor Alice Nongebeza en haar kleipotte. Hierdie Pondo-vrou woon in ‘n gehuggie naby Port St John’s. Haar verhaal is een van verlies. In die vyftigerjare het albei haar seuns op tragiese wyse gesterf en kort daarna het haar man haar verlaat. Verder nog het daar  ‘n reeks slegte dinge met haar gebeur. Uiteindelik het sy bedags net uitsigloos in haar hut gesit, te hartseer en moedeloos om eers na buite te gaan. In ‘n droom een nag het sy gehoor hoe haar pa aan haar sê dat sy nou genoeg gehuil het – dit was nou tyd om uit haar hut te gaan en iets te doen. Kort daarna het sy gedroom hoe haar ouma vir haar wink en beduie om haar te volg. In die droom het haar ouma haar gelei tot by ‘n weggesteekte lopie in die vallei waar sy haar ‘n ryk neerslag van klei aan Alice gewys het. Sy het haar opdrag gegee om die volgende dag terug te keer na die spesifieke plek en van die klei uit te grawe. Die volgende dag het Alice inderdaad op die spoor van haar droom geloop en die kleigroef ontdek presies waar haar ouma dit in die droom aangedui het. Sy het van die klei uitgeskep en dit die volle 5km na haar blyplek geda. Daar het sy die klei gebrei en stadig begin om ‘n pot te vorm.

Vandag is Alice twee-en-tagtig jaar oud. Sy skep steeds daagliks klei by dieselfde lopie en dra dit terug na haar hut, waar sy dit deeglik brei en elke pot met sorg vorm. Nadat dit gevorm is en droog geword het, maak sy pot se oppervlakte glad met ‘n rivierklip. ‘n Week later word die pot in ‘n vuurtjie langs haar hut gebak. Voordat die vuur doodgaan, word die pot met ‘n lang stok uit die vuur gehaal en koel dit af. Die volgende dag word die pot skoongemaak en gesmeer met ‘n politoer en dan in die son gelaat sodat die was van die politoer diep in die pot kan intrek en dit kan seël. Haar potte word dan opgekoop deur ‘n winkel, Krafty Kamelion, wat dit  in Port St John’s van die hand sit.

‘n Eenvoudige bol klei het ‘n proses aan die gang gesit. Nie net voorsien dit vir Alice van ‘n inkomste nie, maar het dit haar heelgemaak. Sy gee lewe aan die klei en die klei gee lewe aan haar. So eenvoudig, maar tog so waar.

Inderdaad – Galip én Alice sal beaam, in Turks en in Xhosa, die krag van klei kan nooit onderskat word nie!

Die lente wil elkeen roep tot die kleinste vorm van kreatiwiteit. En tot Lewe.

Ns Ek hoor graag van jou met watter vorm van kreatiwiteit jy die winterse doodsheid besweer het!

Die Wakkerboom

Wednesday, September 1st, 2010

Die eerste winter na die paradyspaar uit die Tuin van Eden verban is, was koud en genadeloos. Hulle het nie iets soos koue en dorheid geken nie. Skielik was hierdie mooi aarde waarvan hulle die opsigters was, stroef en onvriendelik. Die mooi groen gras het verwelk, baie bome het hulle blare verloor en die wêreld was eensklaps ‘n vaal en troostelose plek.

Hulle het intens verlang na die skoonheid en die gerief van die idilliese blyplek wat hulle deur hul eie toedoen, moes verlaat. Die vrou het so gewens dat iets haar net weer aan die prag van hul Tuin kon herinner.

Op ‘n dag het die Skepper die mensepaar in hulle nuwe blyplek ontmoet. Die man het moeg van sy werk op die landery gekom waar hy die grond omgedolwe het om dit voor te berei vir graan wat hy binnekort sou plant. Sweet het van sy voorkop afgedrup en sy hare was vol bruin stof. Die vrou het stram orentgekom waar sy besig was om die stof wat in hulle eenvoudige huisie op alles neergesif het, te probeer wegvee.

Die Skepper het met deernis na die mensepaar gekyk.
“Julle het deur julle daad van ongehoorsaamheid gekies om julle los te maak van my wil en plan vir julle. In julle nuwe leefwêreld sal julle die werklikheid van droogtes, koue, pyn en lyding ervaar. Soos Ek egter aan julle die belofte gegee het van Een wat sal kom om die slang se kop te vermorsel, gee ek ook aan julle ‘n teken dat ek die wêreld altyd na die gestrooptheid en koue van die winter weer nuut en mooi sal maak. Ek plant vandag hier vir julle ‘n Wakkerboom om julle te herinner aan die belofte van die nuwe seisoen.”

Toe die mensepaar by hulle agterdeur uitstap, staan hulle verstom. ”n Pragtige boom met takke wat wyd en hoog sprei, staan daar – getooi met die mooiste drag spierwit bloesels. Hulle eie Wakkerboom! Jaarliks het hulle die boom stip dopgehou vir die eerste bloeisel en dan wanneer dié sy verskyning maak, het hulle ‘n danklied gesing vir Skepper wat sy belofte hou.

In my laaste jaar op Laerskool, verhuis ons in die hartjie van die winter na die Vrystaatse Goudvelde. Ons voel vreemd in ‘n dorp waar ons niemand ken nie en alles maar vaal en troosteloos lyk. Dis die middel van Julie. Selfs die huis lyk bleekvaal. Dis ‘n skrale troos dat ons twee strate van die rivier af woon want die rivier het hoë sandwalle wat deur erosie uitgekalwe is en  dus moeilik bereik kan word. Ons durf die  vreemde skool aan en kom smiddags stil-stil tuis. Al wat groen is, is die nuwe skoolklere wat ons nou dra.

Amper ongemerk begin die verandering in die natuur. Een oggend roep my ma ons opgewonde na buite. Sy staan op die stoep en beduie met ‘n glimlag na bo. Toe ons opkyk, sien ons die wonder: die vaalgrys takke van die reuse ou boom teen die stoep het ‘n tooisel heldergroen blaartjies. Dit voel asof hulle byna oornag oopgegaan het. Miskien was ons net te besig om die klein swellende botsels te sien, maar op hierdie lente-oggend staan die boom in sy liggroen lentedrag. Sommer vinnig word die res van die tuin en die dorp groen en vertoon helder lenteblomme in tuine en parke. Langs die rivier bot die bome en is daar oral vinkneste. Die omgewing word eensklaps vir ons mooi. Ons voel sommer tuis. Ons eie Wakkerboom herinner ons jaarliks aan die koms van die lente.

Kort na Jeremia se roeping as profeet, is hy  moedeloos oor al die opdragte wat hy ontvang het. Boonop is sy verweer: Maar ek is jonk. Hoe sal ek tog al die boodskappe aan ‘n wederstrewige volk kan oordra? Hulle sal my afkraak en spot. Tog laat die Here vir Jeremia iets sien wat hom kan versterk.

” Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Wat sien jy, Jeremia? En ek antwoord: Ek sien ’n amandeltak.
Toe sê die HERE vir my: Jy het goed gesien, want Ek is wakker oor my woord om dit te volbring” (Jer 1:11,12)

Die naam van die Amandelboom hou verband met die Hebreeuse woord vir “wakker”. Juis omdat die die Amandelboom van die eerste bome is wat in die lente sy bloeisels vertoon, is dit dus gepas dat hy die Wakkerboom genoem word.

‘n Paar jaar gelede kry ek met my verjaarsdag ‘n Amandelboompie as geskenk. Omdat ek weet dat ek nie onbepaald in die huis gaan aanbly nie, plant ek die boompie in ‘n groot pot. Een oggend sit ek op die stoep en en teedrink. Die winter het skaars begin om sy wyk te neem. Skielik val my oog op die boompie. Sowaar! Die eerste bloeisels sit aan die takkie. Ek gryp dadelik my kamera om dit vas te lê. My eie wakkerboompie.

In die 1990 film “Awakenings” word die verhaal vertel van ‘n neuroloog (vertolk deur Robin Williams) wat die effek van die middel L-Dopa ontdek. Wanneer hy dit toedien aan pasiente wat lank ‘n ‘n tipe koma was,  ontwaak hulle uit hierdie jarelange toestand van komatose. Dit voel soos ‘n nuwe lewe en  bring ‘n opgewondenheid onder almal. Ongelukkig duur die euforie nie lank nie, want die effek van die middel is nie blywend nie. Geleidelik sak die pasiënte weer een vir een terug in hulle vorige toestand.

Elke lente se Wakkerboom word weer later ‘n winterboom. Die bloeisels en blare verdwyn en die takke staan maar weer kaal. Tog is elke lente ‘n herinnering aan die belofte van ‘n “wakker” Skepper wat ook sy belofte om alles nuut te maak, gestand sal doen.

Elke lente bring ons nader aan die Paradysseisoen.

Vier daarom vandag die lente!

Panis Angelicus

Thursday, August 26th, 2010

‘n Lied uit my Hoërskooldae, agtervolg my deesdae. Nie een van die treffers van my  vroeg-Hoërskooldae soos Then I kissed her (The Beach Boys), Simon Says (1910 Fruitgum Co),  Sweet Pea (Tommy Roe) of Baby Come back (The Equals) nie. Nee my agtervolglied is baie gewyd en stemmig. Die lied was een van die gunstelingliede wat die Dogterskoor van ons Hoêrskool altyd gesing het. Panis Angelicus.

 Wanneer die verhooggordyn  oopgeskuif het vir die konsert of vir die Eistedfodd en die koorlede staan daar in hul netjiese skoolbaadjies, knielengte rompies gesykous en getieke-hak, dan kon jy maar seker wees dat “Panis Angelicus” deel van hulle repertoire sou wees Destyds was dit vir my ‘n somber lied. Dalk omdat ek nie die Latynse woorde verstaan het nie, of dalk omdat ek  die begeleidster/afrigtertannie se swart rok onthou en die ernstige uitdrukking op haar gesig waarmee sy elke frase beklemtoon het. P-a-n-i-s A-n-g-e-l-i-c-u-s.

 Tog dink ek deesdae anders oor die lied. Kyk ek met die wyser insig van groeiende jare weer na die lied wat so by die koor ingedril is. Verstaan ek iets van die betekenis van die lied. Luister ek anders daarna.

 Verlede jaar woon ek en my Reisgenoot ‘n musiekuitvoering by op ‘n Sondagmiddag. Fanie Smit van “alle  volke loof die Here”-faam bied dit aan saam met ‘n aantal soliste, kore en musikante.

 Aanvanklik is ek nie in die regte stemming vir die uitvoering nie. Dis kort voor drie op ‘n Sondagmiddag na ‘n heerlike ete en ‘n rustige sonslapie. Boonop protesteer my lyf en sukkel ek om te beweeg. Dit sal soveel makliker wees om maar net om te draai en verder te slaap. Tog is daar ‘n diep behoefte na musiek. Die terapeutiese krag van suiwer musiek. Dus woon ons die uitvoering by. Dit word ‘n onvergeetlike middag.

 Die voorganger lei die middag in met ‘n aanhaling  wat die terapeutiese waarde van musiek beklemtoon:

 “…want musiek lei mens langs ‘n pad waar spraak jou nie kan volg nie. Dit is die hoë vesting of die diepverborge skuilplek waar jy onopgemerk van jou wonde kan genees.” (Hildegard Knef – Das Urteil)

  Dit word ‘n gevulde middag. Kore, solo’s, orrel-trompet en klaviermusiek. Fragmente van liede steek in my gedagtes vas soos die  “echoes of mercy” uit ‘n Engelse Hymn.

 Maar dan sing ‘n sopraan die bekende “Panis Angelicus”. Ek luister na die bekende klanke wat vanmiddag vreemd en nuut klink. Vir die eerste keer voel dit asof ek die lied verstaan en die betekenis daarvan my eie kan maak.

 Toe ons tuis kom, soek ek die betekenis van die woorde op:

Latin text An English translation
Panis angelicus

fit panis hominum;

Dat panis coelicus

figuris terminum:

O res mirabilis!

Manducat Dominum.

Pauper, servus et humilis.

Te trina Deitas

unaque poscimus:

Sic nos tu visita,

sicut te colimus;

Per tuas semitas

duc nos quo tendimus,

Ad lucem quam inhabitas.

Amen.

The angelic bread

becomes the bread of men;

The heavenly bread

ends all prefigurations:

What wonder!

consumes the Lord

a poor and humble servant.

Triune God,

We beg of You,

that you visit us,

as we worship You.

By your ways,

lead us who seek

the light in which You dwell.

Amen.

 

Vanmiddag het ek voorwaar Engelbrood geëet –het dié brood se helende krag my versterk soos vir Elia onder sy Besembos.

 Elke keer as ek sedertdien my hand uitseek na die stukkie nagmaalsbrood in die bord, dink ek weer aan die lied:

Engelbrood word mense brood. ‘n Broodnodige ondervinding vir ‘n honger mens.

Lewenstrappies

Friday, August 13th, 2010

Kleintyd die groot opgewondenheid as ons by Oupa en Ouma van Niekerk gaan kuier in Ontdekkers, Johannesburg. Hulle het in Clarendonrylaan 25 gebly – so mooi ou huis met dertien rooigepoleerde trappies tot by die voorstoep en die mooi voordeur met loodglasprentjies. Nadat ons gegroet het en behoorlik binne was, het ek dadelik in die gang af gehardloop en na die afdruk gekyk wat in ‘n somber swart raam gehang het. Hoewel ek nog nie kon lees nie, het ek die naam van die afdruk gehoor :”The Different Stages of Life”.

My Ma het eendag vir my verduidelik dat dit die verhaal vertel van ‘n mens se lewe – van geboorte (die baba in die wiegie) tot gryse ouderdom (die  omie in die stoel wat weer direk gelyk met die baba sit, maar aan die anderkant van die trappiesboog). Elke tien jaar in ‘n mens se lewe word deur ‘n trappie voorgestel.

Op die eerste trappie staan ‘n seun van tien jaar wat sy hula hoop rol, dan die jongman van twintig met ‘n meisie aan sy sy, vervolgens die dertigjare man met sy vrou en kindertjies. So gaan dit dan voort tot op vyftig wanneer die man op die kruin van die trappiesboog staan waar hy terug- én vorentoe kyk. Dan begin die trappies afwaarts loop, sestig, sewentig, tagtig, negentig, honderd.

Een prentjie op die afduk het ek goed geken – die Kinderbybelprentjie van Adam en Eva in die paradys. Adam sit ewe knus onder die Boom van kennis van Goed en Kwaad. Eva staan langs hom met haar lang golwende bruin hare wat strategies haar naaktheid bedek. Maar wat my altyd gefassineer het was dit wat sy in haar uitgestrekte hand vashou – ‘n blinkrooi appel met so goudblink skynsel – onweerstaanbaar! En Adam, in plaas daarvan dat hy na sy mooi vrou kyk, is sy oë vasgenael op die verleidelike appel. Die skildery beeld dus die presiese oomblik van verleiding uit en die mens se Groot Val. Vandaar dan die hartseer kurwe in die mens se lewensgang. Van kind tot fiere jongman, tot volwassene en dan die geleidelike afname in kragte en die hulp van ‘n kierie. Die verkromming en verswakking totdat die honderjarige biddend in sy stoel sit.

Ek onthou my ongeduld om op die volgende trappie te kom. Ek was altyd net iewers tussen die wiegie en die die tienjarige seun. Ek wou so graag saam met die vrolike knaap op sy trappie staan waarop daar geskryf  is:

“Ten years of age , this happy boy

  his days are bright and full of  joy.”

Telkens moes ek egter hoor dat ek nog oppad is na dié trappie en eers as ek die dag tien is, daar sal staan. So ook ousus Alwa wat nog net so jaar of wat weg is van die eerste trappie en kleinsus Lana wat nog in die wiegie lê. Gelukkig was ek baie verder as sy!

Vir my was my ouers en grootouers baie ver op die trappies – Pa en Ma op die dertig-trappie (Pa eintlik nog in die twintigs want hy was jonger as Ma). Oupa en Ouma op die sestig trappie wat al oor die Bult is en dus BAIE OUD!  Peinsend het ek na die verskillende trappies gekyk en gewonder of ek ooit bo op die vyftiger kruin sou staan en (byna ondenkbaar!) soos Oupa  en Ouma self oor die kruin sou sou stap.

Oupa is eerste van die Trapboog af in 1959 -op ouderdom 69 (tog so naby die sewentig trappie). Daarna Ouma in 1965 op ouderdom 75  (sy het die verste van almal gevorder). Toe eindig Ma se reis in 1980 op ouderdom 56 en Pa s’n in 1984 op ouderdom 53. Nou staan drie van ons vier kinders op die vyftiger trappie en slegs kleinboet Ewald is op 46 nog oppad  soontoe.

Ek sien nog steeds uit na elke nuwe trappie en die ontdekkings wat dit bring. Tog is daar nie meer die dwingende ongeduld nie. Ek is tevrede om te wees waar ek nou is.

“At fifty he stands still at last

 and views the future and the past.”

Dit is vir my ‘n goeie fase om te wees – om terug te kan kyk en dankie te sê. Dan ook vorentoe te kyk en uit te sien na nuwe ontdekkings wat saamval met die “rustiger” fase van lewe. Tog om eintlik immer jonk te bly, altyd te leef met Hoop in die hart. 

As ek dus deesdae na die afdruk kyk wat nou in ons huis hang en ‘n nuwe raam gekry het, dink ek aan die opdrag van Ps 78:

Ek gaan ’n gedig voordra, ek gaan julle inlei in geheimenisse

uit die verre verlede. Wat ons gehoor het en wat ons weet,

wat ons vaders ons vertel het, sal ons vir ons kinders nie verswyg nie.

Ons sal aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van

die Here en van sy mag,van die wonderdade wat Hy gedoen het. (vs 2-4)

Daar moet dus ‘n aangee wees van die lewensaflosstok aan die volgende geslag. Sodat hulle dit op hulle beurt kan ontdek en weer aangee.

Crosby, Stills, Nash and Young se liedjie : “Teach your children” dra ook die boodskap:

You, who are on the road
Must have a code
That you can live by.
And so, become yourself
Because the past
Is just a goodbye.

Teach, your children well
Their father’s hell
Did slowly go by
And feed them on your dreams
The one they pick
The one you’ll know by.
Don’t you ever ask them why
If they told you, you would die
So just look at them and sigh
And know they love you.

Immer Jonk

Tuesday, August 10th, 2010

Die nuwe groei van die amper-lente laat my vandag nadink oor jeug, jonkwees en daardie rare kwaliteit om jonk van gees te bly.

In my Matriekjaar huiwer ek voor die werklikheid van die “grootmenslewe” wat wag. Eers die lekker van studentewees en dan, ‘n eie loopbaan. Verantwoordelikheid.

Ons sit die middag in die middestad van Johannesburg. My ouers het my gebring vir ‘n beurs-onderhoud. Ek het by Anglo American vir ‘n studiebeurs aansoek gedoen. Binnekort moet ek die intimiderende toringgebou instap. Daar speel ‘n liedjie oor die radio. My Ma draai die volumeknoppie harder en sê: “Luister na die liedjie en maak dit jou eie.” Ek luister na die Lied van Bob Dylan wat so mooi gesing word deur Joan Baez. Die titel van die liedjie –
Forever Young

May God bless and keep you always,
May your wishes all come true,
May you always do for others
And let others do for you.
May you build a ladder to the stars
And climb on every rung,
May you stay forever young,
Forever young, forever young,
May you stay forever young.

May you grow up to be righteous,
May you grow up to be true,
May you always know the truth
And see the lights surrounding you.
May you always be courageous,
Stand upright and be strong,
May you stay forever young,
Forever young, forever young,
May you stay forever young.

May your hands always be busy,
May your feet always be swift,
May you have a strong foundation
When the winds of changes shift.
May your heart always be joyful,
May your song always be sung,
May you stay forever young,
Forever young, forever young,
May you stay forever young.

Die liedjie word vir my ‘n lewenstemalied.
Om jou dromeleer na die sterre te klim, al is daar soms teleurstellings (ek het toe nie die beurs gekry nie), Om steeds ‘n mens te bly wat “upright, courageous and strong”  is.

Op Brekfis met die Shrink was die onderwerp Saterdag juis: ” The art of possibility.” Hoe om te leef en altyd nuwe lewensmoontlikhede te ontgin. Die tragiese is dat daar mense is wat juis ophou leef voordat hulle sterf. Wat eintlik reeds afskeid geneem het van die lewe, voordat hulle enduit en voluit geleef het.

In die onlangse fliek: “the Curious case of Bejamin Button” ontgin die regisseur juis die tema van jonk vs oud. Wat sal gebeur as jy oud gebore word en dan jonger word tydens jou lewe? Dit is wat met Benjamin Button (goedvertolk deur Bradd Pitt) gebeur. By sy geboorte is hy ‘n verrimpelde stokou babatjie met oudersdomsvlekke. Hy word in die ouetehuis groot (of dan klein!) en begin geleidelik al jonger en fikser word. Tog besef hy dat dit hom isoleer van ander. Hy probeer die liefde van sy lewe oortuig dat ouderdom ‘n relatiewe saak is en dat al wat saak maak, die liefde is wat hulle vir mekaar het. Tog veroorsaak sy jonger word soveel probleme in hul verhouding dat hy uiteindelik van haar weggaan.

Alphaville se lied” Forever Young” druk iets van hierdie versugting uit – om a la Benjamin Button immer jonk te kan wees:

It’s so hard to get old without a cause
I don’t want to perish like a fading horse
Youth is like diamonds in the sun
And diamonds are forever

Forever young, I want to be forever young
Do you really want to live forever, forever forever
Forever young, I want to be forever young
Do you really want to live forever
Forever young

Die uitdaging bly: Nie om noodwendig fisies jonger te word nie, maar om innerlik jonk (en groeikragtig) te bly. Om selfs as volwassene, middeljarige nie ‘n geplooide siel rond te dra nie, maar iets van die entoesiasme van die nuwe polsende lewe te kan ervaar ongeag die datum op jou geboortesertifikaat.

Daarom is die Bybelse beskrywing van die gelowige as immergroen boom (selfs tot in die sg. gryse jare) vir my so treffend:

“Die regverdiges sal sterk wees soos die Palmbome…selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees.” (Psalm 92:13, 15)

Dit lyk vir my dis die geheim – om lewenskragtig te kan bly – lewenslank, omdat jy soos die boom van Psalm 1 geplant is by die regte Bron. Daarom dat jy ook vrugte op die regte tyd dra.

Ons is grootgemaak met die waarskuwing: “Onthou vroeg ryp, vroeg vrot!” Dit het dan meestal gesinspeel op kinders wat op vroeë ouderdom reeds “groot” wil wees. Dit lyk vir my dat die meeste lewensvervulling kom na diegene wat geduldig is met die proses van leef en weet dat die regte beloning ook kom vir hulle wat met verwagting bly leef:  oop-oog en oop-hart. Wat met verwondering kyk na die lewe. Met ‘n verwagting. met hoop.
Dalk is dit juis die kuns – ook vol verwagting te leef en tog ook geanker te wees.

Soos die foto van die klein dopeling wat soveel moontlikhede het wat vir haar voorlê, maar tog die anker het van ‘n ouer/grootouer wat vastigheid bied. Uiteindelik die sekerheid van ‘n anker, maar ook vlerke om te vlieg en drome te kan verwesentlik.

So klompie jaar gelede hou ons vakansie by Badplaas – My Oom en Tannie, albei reeds in hul sestigs, hou saam vakansie. Ons sit vroegaand buite die restaurant waar daar mooi musiek speel. Toe die liedjie van Cliff Richard speel, staan my Oom op en neem hy my Tanne vir ‘n dans. Hulle dans met ‘n grasie én met ‘n uitbundigheid. En maak al dansend die woorde van die liedjie waar:

The young ones
Darling, we’re the young ones
And the young ones
Shouldn’t be afraid
To live, love…

Once in every lifetime
Comes a love like this
I need you,
You need me
Oh, my darling, can’t you see
That young dreams
Should be dreams together
And young hearts
Shouldn’t be afraid
And some day
When the years have flown
Darling, then we’ll teach
The young one of our own

Once in every lifetime
Comes a love like this
I need you,
You need me
Oh, my darling, can’t you see
That young dreams
Should be dreams together
And young hearts
Shouldn’t be afraid
And some day
When the years have flown
Darling, then we’ll teach
The young one’s of our own