Lewenskonsert

Posted May 11th, 2011 by
Categories: Uncategorized

“Van het concert des levens krijgt niemand ‘n program”.  So lui ‘n bekende Nederlandse spreuk.

Die meegaande foto vertel van ‘n Melodrama geleentheid in ons gemeente ‘n paar jaar gelede toe die gevierde Grafsteensangers hul buiging gemaak het met gebruikmaking van plaaslike talent. (Selfs my Reisgenoot het meegedoen!)

Die lewe is voorwaar soos ‘n konsert met die hele spektrum van lag en huil, blydskap en hartseer en altyd ‘n verrassing as jy dink jy ken die “plot”. Hoe vreemd-wonderlik is dit wat ons Lewe noem. Daar is altyd nuwe ontdekkings, nuwe mense, nuwe moontlikhede.

“Vivere” – om te leef. Om die polsing van lewe te ervaar. Om die lewensmoontlikhede elke dag te ontgin.

Die afgelope paar weke het ek skielik met verskillende vorme van teater en opvoerings te doen gekry – miskien het die Stef Bos vertoning hier in Welkom ‘n kettingreaksie veroorsaak, wie weet?  So het ek o.a  optredes van Anna Davel, Andra, Jannie Moolman en Joseph Clark (Vivere) gesien. Ook die baie pittige tong-in-die-kies “Agent Snoet en die Hondelewe”.  Telkens in die vertonings het dit my opgeval hoe veelkantig die lewe is. Musiek en liede probeer iets van die essensie daarvan vasvang, maar uiteindelik moet die lewe gelééf word, ervaar word. In elk van die vertonings het die pole van die lewe weer na vore gekom – die wipplank tussen uitbundige vreugde en ineenkrimppyn. Die volheid van liefhê en die die skreiende uitroep van eensaamheid – die All by myself-gevoel wat jou koggel soos ‘n eggo.

Veral in die vertoning van Vivere wat so skitterend uitgevoer is deur Jannie Moolman en Joseph Clark en hul vyftal ewe briljante musikante is die lewe in al sy fasette uitgebeeld – die passie (Granada) en die pyn (Miserere). En die hele spektrum tussen-in. Ook die humor (la Donna e mobile) met die wisselvallige orrelis (Tannie Koekie) wat die solis al sy dae gee en die tragi-komiese uitbeelding van die Jacques Brel treffer Ne Me Quitte Pas (moenie weggaan nie), waar die ontwykende kollig die ontroue geliefde uitbeeld.

In ‘n aangrypende Italiaans-Engelse duet (Jannie en Joseph) waarin die seer van die liefde uitgebeeld word, sing Joseph Clark die Queen-treffer: It’s a hard Life. Die woorde som iets van hierdie soet-suur van die lewe en liefde op:

You win – you lose
It’s a chance you have to take with love
Oh yeah – I fell in love
And now you say it’s over and I’m falling apart

It’s a hard life
To be true lovers together
To love and live forever in each others hearts
It’s a long hard fight
To learn to care for each other
To trust in one another right from the start
When you’re in love

I try and mend the broken pieces
I try to fight back the tears
They say it’s just a state of mind
But it happens to everyone

How it hurts – deep inside
When your love has cut you down to size
Life is tough – on your own
Now I’m waiting for something to fall from the skies
And I’m waiting for love

Ons is deur my suster, Alwa, uitgenooi na die NWU Allumni-funksie van die Vaal-Pukke  (met Vivere as hoogtepunt). Voor die vertoning begin,  kuier ons by my broer, Ewald. Ek het in die vorige blog (First of May) iets oor hom geskryf. Hy het daaglikse versorging nodig na sy ongeluk in 2007, maar nogtans bly hy vir my ‘n inspirasie en is elke gesprek met hom “food for thought”.

 Ons praat oor die lewe en die alles wat die lewe die moeite werd maak. Ten spyte van die feit dat sy lewenswerklikheid gekrimp het tot die saal en die kliniek waarin hy versorg word, blink sy oë as hy praat oor die feit dat die lewe met passie geleef moet word. Dat die die krag van leef in die NOU lê en dat ek die boodskap tog aan sy familie en vriende moet oordra.

“Wat moet ek spesifiek vir hulle sê” wil ek van hom weet.

“Dat hulle nie moet uitstel om te leef nie! Dat die lewe net oomblik vir oomblik geleef kan word en dat ons die lewe afwater deur ons weifeling en twyfel” is sy onomwonde antwoord.

Ons praat oor ‘n moontlike titel van ‘n boek oor die onderwerp Lewe. “”Life – and everything that happens between the “L” and the “E”, besluit ons sal ‘n goeie titel wees. “Ja”, voeg boet Ewald ewe skerp by” if” is die tussenwoord in die woord “Life”. Die woordjie “if” dui op al die moontlikhede en keuses wat ons gebied word in die lewe. “If only”  is seker van die harseerste woorde wat mens kan uiter, want dit vertel van ongeleefde moontlikhede. ‘n Anagram vir Life is File. ‘n Bousteen vir die lewe is geloof, selfs al verstaan ons dit nie elke dag nie. Aldus Ewald.

Ek kyk dus na hierdie herfs en die mooie herfsdae met nuwe oê. Ewald het my herinner dat ek elke dag, elke oomblik, oop-oog moet reis.  Met ‘n bewussyn van die gawe van elke dag, elke oomblik. En van Genade.

Voor ons groet vra ek wat  ‘n goeie temalied sal wees vir ons gesprek oor lewe. Ek noem ‘n paar kunstenaars op waarvan hy  hou. Sy keuse behels ‘n kortlys van twee liede: The Moody Blues se “Isn’t Life Strange”

Isn’t life strange
A turn of the page
Can read like before
Can we ask for more?
Each day passes by
How hard man will try?
The sea will not wait

Isn’t love strange
A word we arrange
With no thought or care
Maker of despair
Each breath that we breathe
With love we must weave…

Sy finale keuse is egter Sting se “Fragile”

“Fragile”

If blood will flow when flesh and steel are one
Drying in the colour of the evening sun
Tomorrow’s rain will wash the stains away
But something in our minds will always stay
Perhaps this final act was meant
To clinch a lifetime’s argument
That nothing comes from violence and nothing ever could
For all those born beneath an angry star
Lest we forget how fragile we are

On and on the rain will fall
Like tears from a star like tears from a star
On and on the rain will say
How fragile we are how fragile we are

On and on the rain will fall
Like tears from a star like tears from a star
On and on the rain will say
How fragile we are how fragile we are
How fragile we are how fragile we are

Ja, ons kry nie ‘n program vir die Konsert van die Lewe nie en ons is baie broos, maar deur die Genade van die Groot Regisseur is daar vir elkeen van ons ‘n belangrike rol om te speel. Voor die eindgordyn sak.

                   

                Jannie Moolman en Joseph Clark (foto: Marais Nell)

First of May

Posted May 2nd, 2011 by
Categories: Uncategorized

Sekere liedjies sal altyd ‘n herinneringsalbum open. First of May van die Bee Gees is een so lied. Alhoewel die liedjie eers as snit op die Bee Gees se langspeler Odessa verskyn het in 1969 en kort daarna as solus sewe vrygestel is, voel dit asof dit een van die liedjies is wat maar nog altyd daar was. Die liedjie koppel ek aan ‘n baie spesiale kersfees. Die Kersfees was weliswaar in 1967 en dus twee jaar voor die verskyning van die liedjie, maar toe First of  May sy verskyning maak, was dit asof die liedjie reeds die temamusiek van daardie besondere kersfees was en dit sal bly.

Dit was Oukersaand 1967. Ons het dit gevier in Aberdeenweg 16, Virginia. Ons het die vorige jaar daar ingetrek vanaf Klerksdorp en dit was die eerste Kersfees wat ons saam met familie daar sou vier. Die gebruik was dat ons Kersfees beurtelings gevier het by ons (Fourie familie) en my ma se suster-hulle (Die Stander familie) in Vereeniging. Dié jaar was dit die hulle beurt om by ons te wees. 

Die uitsien en die voorbereidings was altyd die opwindende deel. Die sitkamer is versier met kersversierings wat reeds vorige jare ingespan is. Hier en daar is ‘n nuwe toevoeging egter ingeroep om die geledere te versterk.  Op die klavier is die rye kerskaartjies wat ontvang is, uitgestal en die ekstra kaartjies wat nie staanplek daar kon kry nie, is oor ‘n tou gehang wat gespan van een hoek van die eetkamer na die ander. Die spyskaart is uitgewerk, die geskenke gekoop en toegedraai en die afwagting het byna ondraaglik geword.

Oukersaand het uiteindelik aangebreek met die familie wat die middag reeds aangekom het. Met arendsoë het ons dopgehou toe hulle bagasie ingedra is want gewoonlik het die groot tas die lading geskenke bevat. Ai die wonder wat wag!  Soos gebruiklik is daar eers (tydsaam!) vleis gebraai en geëet terwyl die ongeduld ons omtrent verteer het. Ons kersboom dié jaar was ‘n rerige kersboom. ‘n Konifer in die voortuin (wat in hoogte al verby die volwassenes se koppe getroon het),  is met veelkleurige liggies versier en het sommer soos ‘n baken uitgestaan. Selfs van die straat af het die boom ‘n indrukwekkende prentjie gevorm. Toe die tasse (een afkomstig van elke familie) geskenke egter onder die boom geplaas is, was die prentjie volmaak. Daar moes egter eers aan ‘n  jarelange ritueel voldoen word. Die twee mans (Pa Bokkie en Oom Thys) moes met ‘n smeekliedjie ooreed word om die geskenke uit te deel. “Asseblief Oom Bokkie, asseblief Oom Thys, kom deel tog die persente uit!” Die eentonige herhaling van die liedjie het gewoonlik die gewenste uitwerking en vanjaar het Pa Bokkie die geskenke se ontvangers uitgelees en Oom Thys het dit oorhandig. Dit is behoorlik asof ek die warm Desemberaand weer om my voel as ek die gebeure herleef.

‘n Kamera  het momente van die Kersfees vasgevang, ongelukkig op ‘n skyfiefilm wat iewers in ‘n kartondoos lê, maar die een skyfie is in my geheue ingebrand. Op die skyfie  pryk die impossante kersboom met sy veelkleurige liggies. Tog dit is die twee figuurtjies onder die boom wat die aandag trek. Twee driejariges, kaalvoet met hulle kortbroeke en  hempies wat oorhang, staan trots met hulle identiese geskenke voor die boom. Boet Ewald en nefie Marius hou elkeen hulle  Go kart vas, omtrent so groot soos ‘n skoendoos. Dit is ‘n heldergeel Go kart met bloedrooi wiele. Agter die stuur sit ‘n blou plastiekmannetjie. Vir die loop van die kerskuier sou daar vele wedrenne tussen die twee nefies met hulle  karretjies wees terwyl die blou mannetjie agter die stuur hulle verteenwoordig. Die karretjies is  aan ‘n tou om die huis getrek om te  kyk wie eerste weer by die voorstoep is.

‘n Tydlose moment, want in die woorde van First of May verewig word:

First of May – The Bee Gees

 When I was small, and Christmas trees were tall,
We used to love while others used to play.
Don’t ask me why, but time has passed us by,
Some one else moved in from far away.

(chorus)
Now we are tall, and Christmas trees are small,
And you don’t ask the time of day.
But you and I, our love will never die,
But guess who’ll cry come first of May.

The apple tree that blooms for you and me,
I watched the apples falling one by one.
And I recall the moment of them all,
The day I kissed your cheek and you were mine.

(chorus…)

When I was small, and christmas trees were tall,
Do do do do do do do do do…
Don’t ask me why, but time has passed us by,
Some one else moved in from far away.

Hoewel die hartseer liefdesliedjie eintlik gaan oor ‘n onskuldige liefde tussen ‘n jong seun en meisie wat mettertyd ontluik (soos uitgebeeld in die film Melody, waarin die lied as temalied gebruik word), het hierdie liedjie vir my ‘n temalied geword ook van die onderlinge band in ‘n gesin en naby familie. Die grootword en die groeiende ontnugtering dat die “Groot Kersbome” van kindertyd nou so gekrimp het ( net soos al die plekke wat mens uit jou kindertyd onthou,  baie kleiner is by die weersiens as wat hulle in jou herinnering was). Ek moes stilweg glimlag toe ek verlede jaar ons draadkersboompie op Philippolis afneem en dink – now I am very tall and  Christmas trees are very small!

Die hartseer van daardie gestolde oomblik van die Kersfees van 1967 is dat albei nefies met hulle  Go karts as volwassenes vier dekades later in ernstige motorongelukke sou beland. Albei met ernstige breinbeserings, wat meegebring het dat hulle versorging sou benodig. Ewald tans nog in ‘n kliniek in Vereeniging en Marius tot met sy dood in Desember 2007 ook in ‘n kliniek net buite Vereeniging.

Met die eerste Mei gister het ek die liedjie weer telefonies vir my susters en vir Ewald gespeel:

Now we are tall, and Christmas trees are small,
And you don’t ask the time of day.
But you and I, our love will never die,
But guess who’ll cry come first of May.

Ware liefde

Posted April 30th, 2011 by
Categories: Uncategorized

Ware Liefde.

Ware Liefde? Mens wil byna ‘n vraagteken agter die woorde plaas. Is daar werklik so iets soos ware liefde, of is dit iets wat mens net in fiksie en sprokies aantref? Is ware liefde net beskore vir engele, soos die foto aandui wat ek tydens ons toer in Kappadosië afgeneem het?

Met die uitsending van die Koninklike troue gister, was dit amper asof die miljoene mense wat meegedoen het deur of op die strate te staan en kyk of deur die televisie uitsending dop te hou, wou sê: Ons het weer hoop en inspirasie nodig. Ons wil so graag weer glo die verbintenis kan gelukkig en durend wees. Immers dit is tog soos die sprokies altyd eindig: “En hulle het lank en gelukkig saamgeleef” Die Engelse uitdrukking klink nog meer indrukwekkend: “And they lived happily ever after…” Saam met miljoene ander het ek ook die aanloop, die seremonie, die straatoptog en die balkonsoen(e) dopgehou en gehoop dat hierdie liefdesverhaal tog ‘n gelukkige verloop sal hê. Anders as die verhaal van Charles en Diana wat ook so sprokiesagtig begin het dertig jaar gelede en as tragedie ge-eindig het.

In my Matriekjaar was die liedjie van Groep 2, Daar is niks soos ware liefde, ‘n treffer. Tydens ‘n saalopening het ‘n Dominee hewig uitgevaar teen die liedjie omdat dit dan die bestaan van die ware lliefde sou afkraak en ontken. Tog dink ek dat die liedjie juis waarsku dat ware liefde nie met valse skyn verwar moet word nie en dat jy ontnugter kan word as jy verlifdheid met liefde verwar. Ek dink die titel wil eintlik sê: Niks kan met ware liefde vergelyk word nie. Die lirieke lui:

As sawens die liggies so glinster,
dan glo jy daar’s liefde naby.
Maar dis net verbeelding,
en jy’s weer alleen.
Die oomblik van vreugde is heen.

KOOR:

Daar’s niks soos ware liefde,
Niks so teer, so mooi, so rein.
Soek jy waarheid in jou drome.
Vind jy dalk met die liefde se skyn.

Dit lyk vir my dat deel van die probleem is juis dat ons ‘n valse en geromantiseerde denkbeeld het van die liefde en dit dikwels met romanse, maanskyn en rose verwar, terwyl ware liefde juis ook in die fel sonskyn en die harde lewenswerklikheid van elke dag moet kan standhou. As liefde die sonligtoets deurstaan, sal die maanskyn en rose ook daar wees.

 In die geskiedenis en die storieskat is daar baie verhale van skynbare teenstrydighede – waar een persoon ‘n ander selfs ten spyte van syhaar gebreke kan liefhê.  Skoonlief en Ondier is tekenend hiervan. Ook Quasimodo, die Boggelrug van Notre Dame en sy liefde vir Esmeralda, die sigeunermeisie vertel van ‘n aanvaarding en ontfermende liefde tenspyte van die liggaamlike gebreke. So bring Esmerelda vir die erg gemartelde Quasimodo water as hy pleitend roep om ontferming. Later  red hy die  ter dood veroordeelde Esmerelda van ‘n gewisse galgdood en steek hy haar weg in die Notre Dame. Jare later kom ‘n grafgrawer af op die graf van Esmeralda. Tot sy verbasing vind hy die beendere van die Boggelrug, Quasimodo wat om die oorblyfsels van Esmerelda gekrul lê. 

Dit wil tog lyk asof die woordjie “nogtans” ‘n belangrike deel van ware liefde is. Dit is immers ‘n Nogtans-liefde wat Christus aan die kruis vir ons bewys het.

Don MCCullough vertel die volgende verhaal: (soos aangehaal in Illustrasies vir die lewe – Solly Ozrovech)

‘n Man en vrou het d.m.v. ‘n korrespondensiekolom ontmoet en het vir mekaar begin skryf. Mettertyd het hulle op mekaar verlief geraak al het hulle mekaar nog nooit ontmoet nie. Op ‘n dag reël hulle om op ‘n lughawe te ontmoet. Ten einde mekaar te eien het hulle besluit dat die vrou ‘n rooi serp sal dra saam met haar rooi hoed. Sy sou ook ‘n rooi angelier aan haar jas vasspeld.

Toe die man van die vliegtuig afklim, het hy dadelik na die vrou begin soek. Skielik sien hy die die vrou met ‘n rooi serp, hoed en angelier. Sy het so doodgewoon en vaal gelyk dat hy dit oorweeg het om terug op die vliegtuig te klim sonder dat hy hom aan haar bekend gestel het. Tog het hy nadergestap, geglimlag en homself aan haar voorgestel.

Die vrou kyk hom aan en vra toe” “Waaroor gaan dit alles tog? Ek weet nie wie jy is nie, maar die vrou daar oorkant het my vyf dollar gegee om die rooi serp, hoed en angelier te dra.” Toe die man die vrou sien na wie beduie word, besef hy dat hy een van die mooiste vroue aanskou wat hy nog gesien het. Hy stap na die vrou en sy verduidelik: “My lewe lank het mans my geselskap opgesoek vanweë my voorkoms. Hulle het my met komplimente oorlaai en my vertel dat ek beeldskoon is.Ek soek egter iemand wat my liefhet vir wie ek is en nie omgee hoe ek lyk nie. jy het aan hierdie vereiste beantwoord.” Hulle is getroud en het ‘n lang en gelukkige huwelik gehad.

Gister toe Katherine  Middleton die lang paadjie van die Westminister Abdy afstap – het sy in haar eenvoudige, dog uiters stylvolle uitrusting my laat dink aan die jong Grace Kelly wat met ‘n baie soortgelyke uitrusting haar Prins Rainier van Monaco tegemoetgestap het. Hulle huwelik was ook nie aldag maanskyn en rose nie, maar tog het hulle die beloftes wat hulle met die huwelikseremonie afgelê het, gestand gedoen tot met haar dood op 14 September 1982 ( in ‘n motorongeluk.)

Uit die film: High Society wat in 1956 vrygetel is, kom die immergroen liedjie True Love wat Grace Kelly saam met Bing Crosby sing:

Sun-tanned, Wind-blown honeymooners at last alone.

Feeling far above par. Oh, how lucky we are!

While I give to you and you give to me,

True love, true love.

So on and on it’ll always be, True love, true love.

For you and I have a guardian angel on high,

With nothin’ to do. But to give to you and to give to me,

Love forever true.

Love forever true.

Lank lewe ware liefde!

Die klank van stilte

Posted April 13th, 2011 by
Categories: Uncategorized

Stilte.

Die wonder van die die bewussyn van stilte.

“Stilte is God se oertaal”  het die 16e eeuse woestynheilige Johannes van die Kruis gesê. Hy het hierdie waarheid tydens sy lang tye van afsondering in die woestyn ervaar.

Later het Thomas Keating die aanhaling uitgebrei: “Silence is God’s first language; everything else is a poor translation. In order to hear that language, we must learn to be still and to rest in God.”

Dit was tydens die wintervakansie van 1967 dat ek “The sound of Silence’ leer ken het. Ons het soos gebruiklik die Julievakansie by die Suidkus deurgebring. Een mddag is ons na die nuwe winkelsentrum toe wat in Beach Road sy verskyning gemaak het. Die besoek aan die CNA was die hoogtepunte van die inkopies want as aandenking aandie vakansie kon elkeen van ons kinders ‘n Solus sewe plaat kies. Toe ek die oranje en wit CBS omslag sien met die logo en die woorde Seven Single wat drie keer daarop herhaal word, het ek die plaatjie binne in herken: Simon and Garfunkel se “The Sound of Silence”  Die lied het oor radiostasies gespeel en my elke keer met sy teenstrydige titel bekoor. Nou was die kans om die plaatjie my eie te maak. Die res van die vakansie het ek met ‘n ongeduld die plaatjie uitgehaal en bewonder. Ek het ‘n sit-rots gehad waar ek smiddae na die see sit ek kyk het. Dan het die liedjie solank in my kop gespeel. Ek sou egter moes wag tot ons tuis kom voor ek dit op ons Pilot radiogram kon speel. Die wag was die moete werd. Oor en oor het ek die Oranje CBS solus sewe gespeel en later die woorde uit my kop geken:

Hello darkness, my old friend
I’ve come to talk with you again
Because a vision softly creeping
Left its seeds while I was sleeping
And the vision that was planted in my brain
Still remains
Within the sound of silence

In restless dreams I walked alone
Narrow streets of cobblestone
‘Neath the halo of a street lamp
I turned my collar to the cold and damp
When my eyes were stabbed by the flash of a neon light
That split the night
And touched the sound of silence

And in the naked light I saw
Ten thousand people, maybe more
People talking without speaking
People hearing without listening
People writing songs that voices never share
And no one dared
Disturb the sound of silence

“Fools”, said I, “You do not know
Silence like a cancer grows
Hear my words that I might teach you
Take my arms that I might reach you”
But my words, like silent raindrops fell
And echoed
In the wells of silence

And the people bowed and prayed
To the neon god they made
And the sign flashed out its warning
In the words that it was forming
And the sign said, “The words of the prophets are written on the subway walls
And tenement halls”
And whispered in the sounds of silence

Hoewel ek nie die omvang an die woorde kon verstaan nie, het ek die “gevoel” van die lied verstaan en hoe woorde soms hol simbole word wat nie meer werklik dit oordra wat wesentlik is nie. In my gedagtes het ek die liedjie as musiekvideo (wat eers later jare sou kom) gesien en ekself was die die figuur in ‘n donker jas wat “neath the halo of a street lamp” gestap het, my jaskraag teen die “cold and damp” opgeslaan het en deur die klank van stilte aangeraak is. Tot vandag toe bly hierdie liedjie een van my allergunstelinge en wek dit so onpeilbare heimwee elke keer as ek dit hoor.

Stilte. Die krag wat ons so dikwels ontken en miskyk in ons dolle gejaag na meer. Tydens ‘n retraite wat ek in 2003 bygewoon het, het ek die krag van stilte herontdek. Ons moes die Saterdagmiddag vir drie ure lank stilraak. Jy kon die kapel opsoek, gaan stap, onder die bome sit of selfs gaan swem. Al voorwaarde was dat jy nie met ander sou praat nie maar in ‘n “lang gesprek” met God sou bly. Ek het vir die eerste keer die monikke bewonder wat ‘n  “vow of silence’ kon nakom vir sulke lang tye. Tog het ek so baie geleer in die drie uur. Ek kon ook die tyd gebruik om dinge neer te skryf waarvoor ek nie andersinds tyd gehad het nie. Die ontdekking van Stilte. Daardie binnestilte wat voel soos die see van Galilea nadat Jesus die storm stilgemaak het. Die klank van die vredige stilte. Mens herken dit.

Op Phlippolis het ek weer die intensiteit en die krag van Stilte ontdek. Op my bakoond-sitplek soggens as die dag  sy gang kry. Saans as ek en my reisgenoot op die voorstoep sit met die eerste sterverskynings. In die mooie kerk met sy boogvensters kon ek die serene stilte ervaar. Laataand terwyl ek alleen in die middel van die labirint sit en die stilte hoor. Mens moet immers oefen om stilte te hoor.

Die volgende verhaal vertel iets daarvan:

Lank lank gelede in antieke Japan, het daar ’n magtige man geleef wat besef het sy dood is naby. Hy het sy enigste dogter, prinses Yumiyo, aangemoedig om te trou.  Hy het vir haar gesê:  “My liefste dogter, die groen van die pruimbome het gekom en gegaan en dis al weer bloeiseltyd.  Maar jy het nog nie ’n man gekies nie.  Al die mans wat sover om jou hand kom vra het, het jy van die hand gewys.  Gaan ek, jou pa, sterf sonder dat ek jou getroud gesien het en sonder om die gesiggies van my kleinkinders te bewonder?”

Prinses Yumiyo het geantwoord:  “Nee, pappa, ek sal ’n drom maak van egte sy. Die man wat die noot hoor as ek die drom slaan,  met daardie man sal ek trou.”“Wat se nonsens is dit!” antwoord haar pa.  “‘n Sy-drom maak geen klank nie. Arme ek, ek sal doodgaan sonder dat ek my kleinkinders gesien het.”

Maar die mooie prinses Yumiyo het ’n sterk wil en sy het haar spesiale drom uit sy gemaak. Baie jong mans het na Yumiyo en haar sy-drom kom luister, nie net omdat sy beeldskoon was nie, maar ook omdat sy skatryk was!  Maar niemand kon die klank van die sy-drom hoor as sy daarop gespeel het nie. Maande het gekom en gegaan, terwyl lang rye potensiële trou-mans hulle opwagting gemaak en dan net so vinnig weer verdwyn het!  Haar vader, het net gesê:  “Ek het mos vir jou gesê! Ek het mos vir jou gesê!”

Toe op ’n dag verskyn daar in die binnehof van die paleis ’n jong, pragtig geklede man. Hy het laag gebuig voor die magtige man en toe voor die prinses.“ Waar kom jy vandaan?” vra die pa.“ Ek kom van ’n plek ver anderkant die berge en die see.” antwoord die jong vreemdeling.“En vir wat het jy so ’n ver afstand gereis?” wou Yumiyo se pa weet.“My heer, ek het gekom om met u dogter te trou.” antwoord die jong man.

“ Sy is net bedoel vir die man wat haar sy-drom se klank kan hoor. Wil jy vir my sê jy kon die klank daarvan hoor in jou veraf koninkryk, oor berge en die see?”, het die pa gevra. ” U is korrek, my heer, geen klank van die drom het my ore bereik nie!”

“Vat dan die pad, jong man, soos al die manne voor jou”  blaf-sê die magtige man beslis.  “Hoekom hang jy nog hier rond?

”Omdat, my heer, ek sy stilte gehoor het en in die stilte, u dogter se hartklop gehoor het.” Prinses Yumiyo het geglimlag en haar sy-drom weggesit, want sy het dit nie meer nodig gehad nie.

Mag die Pase van 2011 ons weer by die kern van onsself en van stilte bring.

Sodat ons weer God se hartklop kan hoor.

Dan kan die verwondering weer herleef.

Boomverbond

Posted April 2nd, 2011 by
Categories: Uncategorized

Bome is my natuurvriende wie se skaduwee ek graag opsoek om hulle stille krag en wysheid te ervaar. Om met my rug teen die skurwe stam van so ‘n karaktervolle boom te sit, is vir my ‘n terapeutiese ervaring.

So baie bome is deel van my onthou, vrugtebome waarin ons geklim het en in wie se skaduwee ons speel-speel plase uitgelê het, die kersvlam-sipres wat jaarliks hoër getroon het as ons die kersliggies om hom draai. plataanbome met sy jeukwol, akasias, veral die soetdorings van Wes-Transvaal. Bloekombome met die mooi baspatrone. Daar het heelwat van hulle gestaan in Welkom-park langs die Schoonspruit in Klerksdorp. Dit was ons piekniekplek  waar ons Sondagmiddae die geruite ou reisdeken oopgegooi het en dan kraaklekker waatlemoen geëet het. Dit was  ook die plek waar ons  jaarlikse Sondagskoolpiekniek met al die Boeresportspeletjies soos driebeenresies, sakresies en eier-en-lepel resies gehou is. En ek die oulike meisie in my Sondagskoolklas asof vir die eerste keer raakgesien het. Die Akkerbome van die (gewese) Tomstraat in Potchefstroom was altyd my gespreksgenote as ek Bult toe stap. Net so Die Eike in Dorpstraat Stellenbosch en veral ook die karakterbome in die Laan.

Tog is dit daar sekere bome en boomgebeurtenisse wat my bybly. soos die Acacia Boliviana in ons erf in Floralaan, Klerksdorp. Dit was ‘n redelike gemaklike klimboom waarin ons Vrydagaande ons tuisgemaak het. Dit het as gerieflike uitkykpos gedien waarvandaan ons (ousus en ek ) die bure se bedrywighede kon bespied en ook interessante brokkies gesprekke kon hoor as sommige van die gaste tydens een van die partytjies daar kom staan en rook het  (of selfs ‘n vinnige omhelsing daar ingepas het!) Ons eie Boom van Kennis van Goed en Kwaad in die kleine!

Tog wil ek eintlik vandag my boomverbond in herinnering roep, want dit het vandag drie-en-veertig jaar gelede gebeur – 2 April 1968.

Ek onthou die dag met die die datum: 2-4-68

Ek was ‘n veertienjarige wat op sy eerste CSV kamp was te Maselspoort, Bloemfontein.  Het so ewe hoopvol my (toe baie gewilde) visnet hemp ingepak om so bietjie “mod” (rebels) te wees op hierdie korrekte kamp. Nogals so wit visnethemp met sulke oranje en geel vertikale strepe.  Ai, ek het gedink ek is aan die toppunt van die modefront!  Toe tref ‘n ander front Bloemfontein juis in daardie week van die Aprilvakansie – ‘n  ergere koue front laat ons bedags alle warm klere wat ons het oormekaar aantrek en saans bibber ons in ons tentjies. Ewe bekaf moes ek dus maar my trui oor die visnet hemp dra. (Gedog die liewe Vader straf my ydelheid)

Maar dis nie die eintlike storie nie. Ja, op die kamp is daar ook kans vir
regmaak en skuldbelydenis gegee.(En ek moes gebruikmaak daarvan want ek het op veertien ‘n oorontwikkelde gewete gehad!) Op die spesifieke dag  is daar met die seuns en die dogters afsonderlik gesels oor hulle lewens en lewenskeuses. Maar veral onthou ek dit as my Carpe Diem dag. My Boomdag. Ds Frikkie Kelber, ‘n waardige en wyse gryskop  omie-dominee het met ons seuns gepraat oor die belangrikheid van besluite wat jy in jou jeug neem en die invloed daarvan op jou latere lewe. Jou keuse van vriende en jou keuse vir God. As uitgangspunt het hy Psalm 1:1-3 geneem en die woorde vir ons plegtig gelees:

1WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie Sit in die kring van die spotters nie;2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.3 En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.

Hy het ons gewys op die die stelselmatige agteruitgang en verwording van die onverskillige mens – eers wandel hy in die raad van die goddelose, dan staan hy op die weg van die sondaars en uiteindelik sit hy in die kring van die spotters.

Daarteenoor is die regverdige welgeluksalig (driemaal gelukkig). Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, sy vrugte op sy tyd gee en alles wat hy doen voer hy voorspoedig. Veral sy beklemtoning wat die einde van elkeen is het my bygebly: By die regverdige vind daar groei plaas en hy hy ervaar vervulling. Die goddelose daarteenoor is soos kaf wat die wind wegwaai. Ek het sommer ‘n rilling gekry toe ek in my gedagtes die prentjie sien van die Kafmens wat so weggewaai word in die wind. Dit wou ek tog nie word nie. Nee, veel eerder ‘n Boommens wat veranker is in die Bron en vastigheid het.

 Later is aan ons die geleentheid gegee om op ons eie stil te raak. Ek het met my rug teen die stam van ‘n Bloekomboom gaan sit net so bewus geword van die onherhaalbaarheid van die oomblik en die krag van keuses. En van God. As veertienjarige het ek  besluit om die dag in my hart te bêre as  my Boomverbonddag. Dat ek net daar en dan, met my rug teen die skurwe boomstam, die Here kon vra om my lewe in ‘n nuwe koers (Syne) te stuur. Die dag toe ek besluit het dat ek graag wil hê my lewe moet met Sy hulp groeikrag hê. Met die koue wind wat snydend deur die trui en visnethemp waai, wou ek net nie wees soos kaf  wat wegwaai nie.

Ek was nog altyd lief vir bome maar het daardie dag ‘het die psalm en die beeld van ‘n groeikragtige boom my lewe in ‘n nuwe koers gestuur. Ek het net geweet ek behoort. Is geanker. Die vastigheid kon my bybly selfs in die dae van woeste stormwinde en onsekerhede.

Dus vier ek vandag my Boomverbond as ‘n viering van dankbaarheid oor Hom wat sy lewe aan die Kruisboom prysgegee het sodat daar ‘n nuwe begin vir vasgeloopte, oorlaaide mense kan wees.

In die agtergrond, terwyl ek hier skryf, speel Enya se CD “The Memory of Trees”. Stemmingsvolle musiek wat my weer laat dankie sê vir die Boomwaarheid van Psalm 1. My hart is ook vol van dankbaarheid oor boomvriende wat om jou groei en jou met hulle stil teenwoordigheid en skaduwee versterk.

Twee boomvriende uit my Laer-en Hoërskooldae het my vandag kom opsoek – die twee uur lange rit aangedurf en my kom versterk met al die onthou-jy-nog-geselsies. Ons het het opnuut ontdek dat ons drie saam deel was van die belydenisgroep wat vroeg in 1971 in Klerksdorp-Oos gemeente ons geloofsreis ‘amptelik” begin het. Ons kon deel in mekaar se ontdekkings  sedertdien oor ‘n tydperk van veertig jaar –  die eina’s en Amens. Maar ook meer as dit.  In hulle sien ek die groei waarvan Ds Kelber daardie Aprildag in 1968 gepraat het, want hulle lewe dra vrug. Die vrug van verankering en die vrug van ‘n lewe van volgehoue groei, ten spyte van teenspoed. Die vrug van die Gees. Ek is versterk en verryk deur hulle vriendskap.

Ek dink weer aan Elsabé Steenberg se treffende jeugverhaal met die ewe treffende titel: Boom, Bomer, Boomste. Sommige mense is soos bome wat jou in die skaduwee van hulle lawende teenwoordigheid laat sit.

Dankie Heer dat u my Boomste Vriend is en dat deur Boomvriende ek aan u Teenwoordigheid herinner word.

Eendag as my lewensboom afgesaag word vir Ewigheidsgebruik sal my jaarringe vertel van soveel genadejare. Tot dan, wil ek steeds groei!

                                          

Herfsbriewe

Posted March 26th, 2011 by
Categories: Uncategorized

Daar is iets in die lug.

Daar’s sigbare tekens in die natuur.

My hart se sonnewyser dui op een seisoen. Maartmaand. Vroegherfs.

Dit voel vir my ek is op ‘n intense herfsdag gebore. Miskien het ‘n sterk bries deur die reuse ou boom langs die kraamsaal gestoot en ‘n handvol bont blare deur die lug gedwarrel. Dalk was dit, naas die dokter se benoude gesig, die eerste prentjie wat in my ontvanklike breintjie vasgelê is. ‘n Strooisel songeel blare.

 Want ek kry mos Maartsindroom. Dit begin met my verjaarsdag in die middel van Maart.  As die eerste blare hul geel spatsels kry, dan dink ek mos aan al die blaarmense aan my boom. Ek verlang na die wat reeds deur die briesie van hul takkie losgelig en nou in die klam grond ‘n lêplekkie gevind het.

Maar ek verlang sommer ook na al die blare wat steeds met oorgawe aan die boom dartel (so ala Nikos Kazantakis wat mos die jubelende dans van die blare beskryf). Eintlik beskryf hy ons as die larwes (grubs) wat rondkruip op die blare en oorweldig is deur die omvang van die boom en die afgrond. So sê die een karakter (Boss) aan Zorba die volgende in die roman Zorba the Greek:

 “We are little grubs, Zorba, minute grubs on the small leaf of a tremendous tree”: Some men — the more intrepid ones — reach the edge of the leaf. From there we stretch out, gazing into chaos. We tremble. We guess what a frightening abyss lies beneath us. In the distance we can hear the noise of the other leaves of the tremendous tree, we feel the sap rising from the root of our leaf and our hearts swell. Bent thus over the awe-inspiring abyss, with all our bodies and all our souls, we tremble with terror. From that moment begins. . . the great danger, Zorba. Some grow dizzy and delirious, others are afraid; they try to find an answer to strengthen their hearts, and they say: ‘God’! Others again, from the edge of the leaf, look over the precipice calmly and bravely and say: ‘I like it.’!

Van Kazantzakis kom ook die volgende aanhaling:

I said to the almond tree, “Friend, speak to me of God,” and the almond tree blossomed.

 Nou ja, Maart is my blare-blommaand. Dan voel ek die eerste prikkels van die naderende herfs en sien sy verspieders in die boomtoppe sit geklee in hul geel monderings. Dan begin ek (ala Lucas Maree) my kiekies (en die openinge tussenin) bekyk.

 Herfstyd is staptyd, want dan is die lug helder en gevul met ‘n intense kwaliteit.

Smiddae gaan stap ek met die twee honde. Terwyl hulle vrolik al die graspos lees, kyk ek na die herfspos in die bome. Prof Willie Jonker (reeds saliger)  het altyd in die  Dogmatiekklas gesê: “Menere kyk na die herfsblare – dit is briewe van die dood om ons te herinner aan ons eie verganklikheid”. Eendag in die derdejaarsklas het hy met ‘n effense moedeloosheid na ons gekyk. “Menere julle sal binnekort mense in hulle diepe rousmart moet vertroos en bystaan, maar ken julle die pyn van lyding en die skerp seer wat afskeid meebring?”

As tuiswerkopdrag vra hy ons toe om die middag twee bundels te gaan koop: “Passieblomme van Totius” (wat ek darem oppervlakkig van Afrikaans-Nederlands I geken het) asook die bundel “Sonder Jou” van Hester Heese wat so pas verskyn het en wat sy na die dood van haar man, Dr Kallie Heese geskryf het. Ewe getrou is ek en twee vriende die middag na T. Wever Boekhandel in Andringastraat en het  ons die boeke aangeskaf. En gelees. En iets begin verstaan van die onsêbare seer van afskeid. Ons verneem toe dat Hester Heese net om die draai van die Kweekskool bly (in Van Ryneveldstraat). Een helder herfsmiddag is ons toe na haar huis toe sodat sy die boeke vir ons kan teken. Ons neem sommer ‘n bos wit rose saam en maak ons opwagtig by die voordeur van haar historiese huis. Sy is baie verras om die drie onbekende studente op haar drumpel te sien, maar nooi ons toe in vir tee. Dit word ‘n heerlike gesels-en kuiermiddag waar  sy in haar wysheid iets aan ons afgee – ‘n lewensdankbaarheid, selfs ook ten spyte van verlies en seer…

Daarom wil my  herfskyk nie ‘n morbiede lyksang wees nie. Ek raak dankbaar oor die krag van die seisoen. Want die seisoen praat! Vertel van soveel ryk belewenisse. Herinner ook aan die vlugtige tyd. En dat die lewe juis daarom kosbaar is. NOU.

 Daarom is herfstyd my vriende-uitreik en -verlangtyd. Ek wil wéét van die blaarbure om my. Hoe hul dans verloop.

 Herfstyd is ook my inhaaltyd met my herfsmusiek. Die adagio-klanke van ou bekende musiekstukke – Mozart se Klarinet konsert. Rodrigo se Concierto de Aranjuez. Beethoven se Pathetique. Pachelbel se Canon. Albonini se Adagio, Vivaldi se herfsgedeelte uit die Vier Seisoene, Allegri se Miserere. Te veel om te noem. Maar ook my herfsmusiek uit my jeugjare: Francoise Hardy se melankoliese “The Rose”, “All over the world” en “Autumn Rendezvous”, die Moody Blues se “Forever Autumn”. Joan Baez se “Forever Young” en Plaisir D’Amour hoort ook hier. So ook Mc Arthur Park (Richard Harris), Cat Stevens se Lady D’Arbanville  en natuurlik die Bee Gees se First of May. Met die luister van die Francoise Hardy liedjie kon ek iets van die pyn van afskeid ervaar wat Prof Willie by ons wou tuisbring:

The Rose (Francoise Hardy)

A lifetime comes and goes
And as my friend the rose said only yesterday
“This morning I was born
And baptised in the dawn
I flowered in the dew
And life was fresh and new
The sun shone through the cold
And through the day I grew
By night-time I was old”

“At least there’s never been
No, you have never seen
A rose more bright and gay”

A lifetime comes and goes
And as my friend the rose said only yesterday
“The good lord smiled on me
So why then should it be
I feel I’m falling now
Oh yes, I’m falling now
My heart no-one can save
My head begins to bow
My feet are in the grave”

The rose God smiled upon
Tomorrow will be gone
Forever gone away

A lifetime comes and goes
And so my friend the rose was dead at break of day…

Op die oog af ‘n ‘n baie hartseer liedjie maar tog ook die natuurlike gang van bruisende lewe na ouderdom en uiteindelik die dood.

Met my ma se skielike dood aan ‘n hartaanval in die herfs van 1980 het die woorde van die liedjie my nogal bygebly terwyl ek die lang rit van Komga af Glencoe toe alleen aangedurf het vir haar begrafnis.

Uieindelik is herfs stropingstyd waar al ons oortollige bagasie (soos die blare van die boom) wegval. In die herfs kry ons kans om “deur ‘n spieël in ‘n raaisel” te kyk en te sien dat dit wat ons dood noem net die wegbereider is vir nuwe lewe en groei. Immers hoe sal dit lyk as die lentebloeisels bot en die boom is nog oorlaai van dor wintersblare?

Daarom bly Vroegherfs van NP van Wyk Louw een van my gunsteling gedigte:

Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.


 

Om te loop met hoop

Posted March 14th, 2011 by
Categories: Uncategorized

Sekere sleuteloomblikke in ‘n mens se lewe gebeur sonder dat jy die presiese oomblik kan onthou. Ek wens soms ek kan onthou toe ek my eerste tree gegee het – daardie dapper oomblik toe ek die ondersteunende hand gelos het en op wankele beentjies een voet voor die ander gesit het. Van kleinsus is daar ‘n ou 8mm filmpie wat die oomblik vaslê. Sy was skaars ‘n jaar  oud is en het in die Dieretuin in Johanneburg haar eerste wankele treë na selfstandigheid(selflopigheid?)  gegee met ‘n hoenderboudjie wat sy pas aan gesmul het in haar hand as balanseerstaaf.

Wat wel  op die 8 mm filmpies vasgevang is, is my pogings op die atletiekveld. Sommige van die oorwinnings is vasgelê met die kamera wat teen die einde heen en weer ruk soos die fotograaf (gewoonlik pa of ma) entoesiasties die eindpoging meemaak. Ook van die neerlae is geboekstaaf. Soms is dit ‘n vreemde gevoel om as baie ouer ekself (en ‘n baie minder mobiele ekself) weer daardie laaste oomblikke te herleef – die verbete vorentoe beur om eerste die lint te breek. Iets van die herinnering lê diep gesetel en voel nog steeds bekend. Dit bring ‘n vreemde heimwee mee as ek na die ou filmpies kyk. Voorwaar Those were the days.

In 1985 besluit ek op die ingewing van die oomblik dat ek lus is om deel te neem aan die jaarlikse padwedloop tussen Odendaalsrus en Welkom oor ‘n afstand van vyftien kilometer. Ek is nie draffiks nie, speel wel gereeld muurbal en besluit om die wedloop op muurbalfiksheid aan te durf. Net om seker te maak dat ek nie na ‘n kilo of wat gaan tou opgooi nie, besluit ek om die Saterdag voor die wedloop ‘n proeflopie te maak en van Welkom na Riebeeckstad en terug te draf (nagenoeg 20 kilos). Ek voltooi die poging sleepvoetend maar is so uitgeput en lyfseer, dat ek die volgende Saterdag met moeite die wedloop voltooi. My reddng is ‘n langbeen laerskool dogtertjie wat verby my hardloop toe ons oor die laaste brug voor die eindstreep draf en roep: “Komaan oom!” Met reserwekrag wat ek iewers vandaan optower, haal ek die eindstreep en kry my medalje omdat ek darem in die toegelate tyd klaargemaak het.

Behalwe vir nog twee desperate pogings bykans tien jaar gelede toe ek aan twee 10km wedlope deelgeneem het en darem klaargemaak het (en ‘n medalje gekry het vir die grootse pogings!) is dit omtrent die somtotaal van my wedloopgeskiedenis.

Saterdag die 12e Maart het ek die voorreg om weer ‘n deelnemer te wees. Die vereiste is ‘n minimum afstand van 400meter. Die tyd waarin dit afgelê word,  is van geen belang nie. Al vereiste is dat jy moet opdaag en die “Survivor” rondte saam met medelopers aflê. Die geleentheid is Kansa se jaarlikse “Relay for life”. Dit is ‘n viering van die lewe en betrek diegene wat die stryd teen Kanker aangedurf het en deur die genade gesond genoeg is om te kan deelneem. Daar is oud en jonk, swart, wit en gekleurde survivors.  Kinders van ‘n jaar of twee oud met die tekens van die strawwe behandeling op hulle gesiggies. Bejaardes met ‘n deurwinterde kyk in die oë. Elkeen kry ‘n wit band met die woord “Survivor” daarop en ‘n goudkleurige medalje aan ‘n pers lint. Die vreemde van die wedloop is dat jy jou medalje kry nog voor die wedloop begin. Want jy het immers reeds getoon dat jy met Genade van Bo en die baie liefde en ondersteuning van jou naby-mense sovér kon volhard.

‘n Paar  liede word vooraf gesing, ‘n gebed word gedoen en dan is die oomblik daar : Die aftelling: vyf-vier-drie-twee-EEN. Dan begin die vreemde optog om die veld beweeg. Anders as die titel van een van van George Weideman se jeugverhale is hierdie nie die Optog van die Aftjoppers nie maar die Wedloop van die Wenners. Dit is mense wat die waarheid van Fil 4:13 hul eie gemaak het en steeds maak: “Ek is tot allles in staat deur Christus wat my krag gee.”  Ja dit is mense wat ook die teenstrydiheid van ons kleipotbestaan ken soos Paulus dit beskryf in 2 Kor 4:

In alles word ons verdruk,maar ons is nie teneergedruk nie;

ons is oor raad verleë,maar nie radeloos nie;

op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie

 Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam,

sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.

Dit voel byna surrealisties om deel van hierdie vreemde optog te wees. My Reisgenoot stap saam met my en ons luister na die uitbundige lied: Stand up for the Champions  wat oor die luidsprekers weerklink. ‘n Vreemde versameling mense met een ding in gemeen – iewers het hulle geleer om met die werklikheid van hul eie verganklikheid gekonfronteer te word. Die reaksie op hierdie konfrontasie – ‘n Vurige keuse vir die lewe en vir ‘n lewe vol kwaliteit waar beuselagtighede nie meer ‘n plek het nie. Dit gaan nou oor die dinge wat werklik van waarde is. juis daarom kan ‘n mens hoor hoe iemand in die groep dikwels onbevange lag. Dit is immers wat hoop doen – dit laat jou die lag temidde van die seer.  Bevrydend, want die dood se doppie is geklink. Vir eens en altyd. Deur Hom wat eers sy lewe moes aflê om die groot Survivor te word. Hy  loop voor.

Toe ons die einde van die baanrondte nader, dink ek aan die mooi verhaal wat hom afgespeel het tydens die Olipimpiese Spele van  1992 wat in Barcelona plaasgevind het:

 Dit het vir een van die onvergeetlikste oomblikke in  die geskiedenis van die Spele gesorg.  Brittanje se Derek Redmond het sy lewe lank ’n droom gekoester – om die goue medalje in die 400 meter te wen.  Die droom was binne sy bereik toe hy nader getree het vir die halfeindrondte.

Hy het soos ’n droom weggespring en was besig om die wedloop van sy lewe te hardloop.  Hy kon die wenpaal sien toe hy die finale draai neem.  Skielik het hy die allerverskriklikste pyn in sy been gevoel.  Hy het op die baan neergeval met ’n geskeurde dyspier.

Terwyl die noodhulpspan op hom afstorm het, het hy weer op sy voete gekom. “Dit was uit pure instink, want ek wou die wedloop klaarmaak”  het Redmond later verduidelik.  Op een been het hy aan gesukkel eindstreep toe.

Uit die pawiljoen het ’n groot man met ’n T-hemp aangehardloop gekom en in die proses ’n sekuriteitswag uit die pad gestoot.  Dit was Jim Redmond – Derek se pa!  “Jy hoef dit nie te doen nie, Derek”  het hy by sy seun gepleit.  “Ek wil klaarmaak Pa,”  het Derek geantwoord.  En sy pa se reaksie was:  “Dan sal ons dit saam doen.”

En so is pa en seun saam oor die eindstreep.  Derek het die dag nie die goue medalje gekry waaroor hy so gedroom het nie, maar hy weggeloop met die wete dat hy vir sy familie saak maak.

Dit is wat dit die loop met hoop moontlik maak – daardie saamloop met iemand wat die las help dra. Altyd ook die wete Iemand dra my waar ek self nie meer kan loop nie.

                        

Op reis met Stef

Posted March 7th, 2011 by
Categories: Uncategorized

Ek is my lewe lank op reis
Ek volg die weë van die twyfel
Ek soek na wat ek nooit sal vind nie
Want ek wil dwarsdeur die dood heen sing
Ek wil probeer om iets te maak
Ek wil nie breek nie, ek wil nie haat nie
Maar op soek na mooi woorde
Het die liefde my verloor

Koor:
En ek is altyd maar oppad
Altyd maar oppad
Ek reis onrustig en onseker
Tussen die liefde en die leegte

Die Afrikaanse vertaling wat Amanda Strydom gemaak het van Stef Bos se lied: “Tussen de liefde en de leegte”, het nogal deur my kop geflits die afgelope naweek. Dit was ‘n letterlike reis van Bloemfontein tot Welkom en weer terug die volgende dag. Met Stef as passasier word dit ‘n baie interessante reis en word selfs die bekende landskap nuut. Anders as die woorde van die lied was die reis nie onrustig en onseker nie, maar rustig en vol nuwe ontdekkings.

Miskien moet ek die verhaal van vooraf vertel.

Dit begin vyftien jaar gelede in Oudtshoorn. Tydens 1996 se KKNK  loop ek en vriende in die hoofstraat van dié feesdorpie. Ons is so opgewonde oor al die vertonings wat ons al gesien het en sien uit na die klompie wat nog voorlê, o.a. ‘n vertoning in die Burgersentrum van Stef Bos, die Belgies/Nederlandse sanger. Sy eerste besoek aan die KKNK.

Langs die straat sit ‘n man op ‘n muurtjie. Hy is kaalkop geskeer en dra ‘n lang-kortbroek met ‘n oranje T-hemp. Hy smul lekker aan ‘n draairoomys.  Ek herken hom as Stef Bos, wie se vertoning ons die aand gaan kyk. Ons stap nader, groet en stel onsself  bekend. Hy groet vriendelik  en vra uit vanwaar ons is. Hy onderteken vir ons ‘n plakkaat en CD van hom wat ons pas by ‘n stalletjie gekoop het.

Die CD heet : “Tussen de liefde en de leegte” Sy inskripsie lui: “Oudtshoorn  04-04-‘96  – Tot nog eens ergens ooit. Stef Bos.”

Ons gesels nog bietjie en hy vertel van die interessante ontdekking van soveel Nederlandse name in Suid-Afrika, waarvan Oudtshoorn sommer ‘n goeie voorbeeld is. Ons groet – beindruk met die gemaklikheid van Stef.

                             

Die aand in die Burgersentrum lewer hy ‘n kragtoer van ‘n vertoning en neem hy ons op reis met woorde en musiek. Ons besluit dit is die hoogtepunt van ons fees.

‘n  Reis met baie stasies begin daardie dag. By feeste en vertonings op verskeie plekke gaan kyk ek na Stef Bos se optredes: By Aardklop (Potchefstroom), Sterrewagteater, Wynand Mouton en Sand du Plessis teater (Bloemfontein), die Aula (Pretoria) en selfs ook Vooruit-teater in Gent, België. Verlede jaar tydens die Woordfees op Stellenbosch tree hy op saam met die February susters by ‘n wynplaas. Elke keer is dit van vooraf  lekker om te luister na sy musiek en na die tyd met hom te gesels. Ook ‘n foto ter aandenking te neem. Dit word ‘n tipe ritueel. Toe my Reisgenoot deel van my lewe word, gaan sy saam na vertonings en die ontmoetings na die tyd.

          

In November 2004 stuur ek ‘n epos aan Stef. Daarin spreek ek die wens uit dat hy eendag in die Ernest Oppenheimer teater in Welkom kan optree, selfs al voel dit na ‘n gek idee, dit is tog ‘n droom van my.

Stef antwoord op my epos en sê dat nuwe plekke hom intrigeer en dat hy nog eendag in Welkom sal kom optree. ‘n Paar jaar gaan verby. Tydens die gesprekke na optredes herinner ek hom aan eendag se optrede in Welkom. Hy bevestig dat dit nog sal gebeur.

Tydens die Woordfees in Stellenbosch verlede jaar stem ons saam dat die optrede nou ‘n werklikheid moet word, want dit is bykans ses jaar sedert ek hom die eerste keer gevra het om hier te kom optree.

In Augustus verlede jaar stuur ek weer ‘n epos waarin ek my begeerte uitspreek dat die optrede ‘n werklikheid kan word. Stef stuur die epos aan sy agent en sê dat dié met moontlik datums na my sal terugkom.

Twee maande gelede word die datum bevestig: 4 Maart 2011. Die reëlings begin in alleryl. ‘n Heerlike vooruitsig, maar so baie moet voor die datum gebeur.

Toe ek en vriend Leon Vrydag om 12hoo by die groot venster van die lughawe in Bloemfontein staan, knibbel die twyfel steeds: “Sal hy werklik op die SAA vlug  wees wat sopas geland het? Ek hou die mense wat uitklim afwagtend dop. Uiteindelik – die bekende figuur van Stef met sy rugsakkie nonchalant oor die skouer.

So begin ‘n letterlike reis na Welkom en ‘n figuurlike reis om die droom wat al sewe jaar daar is, te verwesentlik. Die reis word ‘n ‘n reis ook van verbeelding – gesprekke wat wissel van’n replika van  Hitler se bunker in Bloemfontein en die werkinge van die Baaden-Meinhof bende tot ‘n seuntjie wat tande kry en die herkoms van die naam Verkeerdevlei. Erens, terwyl ‘n Coke, wat uit die yskassie opgediep word ons laaf, gaan die gesprek ook oor Eugene Marais se “Siel van die mier.  Toe ons reeds die teater kan sien, haal Stef diep asem en sê: “Ek kan die teater ruik!”

Vir my is een van die spesiaalste belewenisse van die dag die heerlike voorskou van die aand se program terwyl Stef die Steinway vleuelklavier uittoets. So word ek ‘n eenman toeskouer in die mooie teater wat die klank van musiek selfsugtig kan indrink. Stef speel liede, ‘n keurspel bestaande uit o.a. Kloofstraat, die Taal van my hart en Stilbaai. ”n Solo vertoning vir ‘n solo-gehoor. ‘n Intens lekker ervaring wat afgerond word met die eet van ‘n prinsburger en Coke van Steers onder een van hulle sambreeltjies.

Vrydagaand is die foyer ‘n miernes (ja sowaar Eugene Marais se woelge geskarrel is daar!) van bedrywighede. Die port en knibbelkos is keurig uitgestal op mooi gedekte tafels. Die teater glimlag. Die glimlag verbreed toe die vertoning begin met die eerste note en woorde van Stilbaai 

My hande is wakker
My oë wil slaap
My kop is in Stilbaai
My hart in die Kaap

Ek staan op die grens
Van die dag en die nag
En my kop weet nie meer wat
Om te doen met my hart

Die aand word ‘n hartsreis op maat van ou én nuwe liede. Die musiek word ingevul met eerlike vertellings wat die gehoor laat skater. Stef Bos het tuis gekom in Welkom. Toe die laaste note van “Ik heb je lief”  in die ouditorium weerklink, staan Stef op na ‘n marathon vertoning van langer as twee uur. Die applous bevestig: iets baie spesiaals het vannaand hier gebeur. ‘n Stukkie Bos-betowering is oor die gehoor gesprinkel en almal is onwillig om op te staan en die atmosfeer te verbreek.

Toe ons Saterdagoggend na die lughawe ry om Stef te besorg, gesels ons oor die lekker van die vorige aand en die die vreemde reis wat mens aandurf as jy die eerste tree gee op die pad van ‘n verhouding.

By die lughawe drink ons vir oulaas ‘n koppie tee terwyl ons wag vir die vlug om aangekondig te word. Stef teken die plakkaat wat in my studio opgeplak gaan word om my te herinner dat drome tog waar word:

Voor Wim

Na jare, dan tog (wat hulle ook sê)

Uiteindelik in Welkom

Dankie vir die wonderlike aand

Ons sien mekaar

Stef Bos

Met die groetslag bevestig ons: daar sal ‘n weersiens wees. Tot dan sal ons gevoed wees met die sielsverrykend en helende klanke van musiek.

Voorwaar: “De macht van de Muziek!”

               

Vader Tyd

Posted March 1st, 2011 by
Categories: Uncategorized

Elke keer as ons tuiskom by ons asemskep-huis op Philippolis, is daar by ons die afwagting om die slag van die kerkhorhorlosie te hoor. Gewoonlik kom ons vlak voor vyf op ‘n Vrydagmiddag daar aan en ons het skaars die agterdeur oopgesluit of ons hoor die gerusstellende klank van die kerkhorlosie se slae. Dan kan jy maar jou polshorlosie afhaal en weet – die kerkhorlosie sal die gang van tyd aankondig.

Tyd. ‘n begrip wat vir my met oneindigheid verband gehou het toe ek klein was.

As voorskoolse kleuter was  my ouma en oupa se  groot huis met  ‘n reuse tuin my paradys. Agter in die erf was daar ‘n terras met ‘n groentetuin op die boonste vlak. Maar in die tuin was daar volop vrugtebome: appelkoos-, lukwart-  en vyebome.

Ons het nie baie van die lukwartbome gehou nie want ons moes altyd die groot harde blare hark en optel. Wanneer jy die klein oranje lukwartvruggie wou eet, moes jy baie skil aftrek vir ‘n klein beloning: so bietjie vrug rondom die groot glansende bruin pit. Appelkose was beter: die het jy net oopgebreek, die pitjie uitgehaal en die sonoranje helftes gulsig geeet.

Maar die vye!  Ai,  die lekkerte om teen die grys tak op te klim en reikhalsend ‘n sagte vy te pluk. Jou duim dan by die klein ogie in te druk en die vye oop te skeur: die heerlike sagte rypheid van die vy in te suig tot net die wit binnekant van die skil oorbly. Uiteindelik slinger  jy  dan die skil skuldig oor die steenmuur tot in die bure se erf , dat alle getuienis van die heerlike vergryp uitgewis kan wees.

Totdat ons op ‘n dag hoor hoe oupa en ouma praat van hulle bure. Mr en Mrs Tate. Hoe streng hulle is. Toe het ons maar die vyeskille elders verdoesel, maar in ons kindergemoed was daar die begeerte om vir Vader Tyd en sy vrou te sien . Want ons het slegs die Afrikaanse woord TYD geken en gereken as ons hoog genoeg in die vyeboom opklim en oor die muur loer, sou ons sien hoe tyd lyk. Of Vader Tyd ‘n wit lang baard het en Moeder Tyd kromgetrek en klein is van die baie tyd wat sy reeds op aarde is.

Maar ons het hulle nooit gesien nie.

Wanneer ek die eerste kleursels van herfs op die toppe van die Witstinkhoutbome in ons straat gewaar, dan dink ek weer aan die ontwykende Mr en Mrs Tate, wat eintlik steeds in my kop Vader en Moeder Tyd is. Dan dink ek ook dat die Prediker sy skrywe oor tyd eintlik aan hulle gerig het.

1 Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:

2 daar is ’n tyd om gebore te word,’n tyd om te sterwe,’n tyd om te plant, ’n tyd om plante uit te trek,

3 ’n tyd om ’n lewe te neem, ’n tyd om ’n lewe te red, ’n tyd om af te breek, ’n tyd om te bou… (Prediker 3)

 Die wonder van mens se kinderjare is die feit dat tyd so oneindig ver gestrek het – ‘n Vrydag middag was heerlik lank en gevul met speletjies en planne en dan  het  die res van die naweek nog ver vooruitgestrek. Dit het oneindig lank gevoel van een Kersfees tot die volgende,  van een verjaarsdag totdat jy weer kersies kon doodblaas. Tyd was jou bondgenoot. Daar was genoeg tyd om baie dinge te doen, drome te droom, planne te maak. Een Somermiddag kon ‘n hele ewigheid omvat. Die gevoel word so goed beskryf in Henriette Grove se verhaal “Klein Koninkryk” dat ek net eenvoudig ‘n groot stuk daaruit moet aanhaal:

“En tyd, daardie ander stuitsteen van ons sterflikheid? Ek lê op my rug waar die oorloop van die watertenk mosterdblommetjies en kweek uitstoot. Dit ruik na gras en groen en klam rooigrond. Tyd is ‘n dag en ‘n dag is oneindig. In die somer ‘n lang draal van son en lig en broei. Mossies swerm op uit oom Salmon se populiere en sak neer op sy perskeboord. 

 Tyd is heuning.  Maans  steek sy handskoenhande diep in die stroopsoet nes en hy lig die koek uit. Stroop syg en stoot oor die selle. Nou proe dit na bloekom, maar as die soetdorings blom, gaan dit deurtrek wees van die geur van die goudgeel klossies.

  Tyd is vye. Hulle swel ryp in die boom by die sifdraadkoelkas. Die vrugte sit geel in die son. Pluk, kind, pluk, anders suig die streepkewers al die sap uit die soet geswelde putjies. Tyd is groenmielies. Jy loop suutjies deur die smal plantgang, al tussen die geil plante deur, want die skoolkinders sê as mens jou oor teen ‘n stam hou, kan jy die plant hoor groei. Haha, waar het jy van so iets gehoor? Maar jy buk tog en druk jou oor teen die skurwe groen kop. Sjuut nou, dood-, doodstil. Jy hou jou asem op.

 Wind ritsel. Dan is dit weer doodstil. Jou hart klop binne-in jou ore: doef en doef! Die blink pitte swel net al witter van die mieliemelk en die vrugbaarheidsbaard kielie jou gesig, maar van spraak … hu, g’n sprook.

 “Spul dooie goed,” sê jy teleurgestel, en as jy jou aandkos kry, groenmielies, byt jy diep tussen die wit pitte in. Dit sal hulle leer…

 Soos ruimte was tyd konkreet, sowel vrug as fees en ure lank speel in die sand met geen begin en geen einde nie, nes die blou van die lug. Soms het dit stilgestaan, soos ‘n op ‘n Sondagmiddag wanneer die grootmense lê en jy self in ‘n slaapdonker kamer moes rus, maar die meeste van die tyd was dit soos in die Begin – dit was môre en dit was aand en tussenin kom ‘n hele aardryk tot stand.”

Met hierdie kindertyd-prentjie wat Henriëtte Grove skilder, kan ek my volkome vereenselwig. Juis in hierdie gejaagde en gefragmenteerde tyd waarin ons leef, verlang ek soms terug na die tydlose vreugdes van kindwees, veral ook die skat van tyd waaruit jy daagliks kon put.

Bietjie meer as ‘n week gelede het die skat van tyd ook opgeraak vir Liedjieskrywer/sanger Lucas Maree. Sedert sy eerste album Kiekies is ek ‘n getroue aanhanger van sy musiek. Daarom luister ek met ekstra nostalgie na die die koortjie van sy lied: Die tyd stap aan:

“Die tyd  stap aan, dit vlieg vir jou en my

In doodse stilte gaan die tyd verby

Die tyd stap aan, dit vlieg vir jou en my

Maar elke oomblik voel soos ‘n ewigheid vir my”

Dankie Lucas vir jou tydlose lirieke en musiek.

Granaat van die liefde

Posted February 25th, 2011 by
Categories: Uncategorized

My eerste kennismaking met ‘n handgranaat was maar versigtig-versigtig. Dit was tydens ‘n “dril” op die grens. Net die gedagte dat die granaat in my hand oor soveel potensiële plofkrag beskik, was genoeg om dit liewer vinnig neer te sit en seker te maak dat die pennetjie nog mooi en stewig in is.

Veeleerder hanteer ek ‘n regte egte granaat. Dit lê my hand rondvol. Geheimsinnig. Uitnodigend. Want soos die handgranaat gelaai is vol “pitte” van verwoesting wat wag op die ‘sneller”, so is die granaatvrug gepak vol heerlike deurskynrooi pitte, wat wag op die die oopsny-oomblik. Dit is moeilik om die presiese smaak van ‘n granaat te beskryf. Elke keer as jy die verrassende pitjie op jou tong tuismaak, word jy weer verras met die smaak – die soeterige omhulsel en dan die effe bitterder nasmaak. Elke keer proe jy weer om seker te maak van die eiesoortige smaak. Jy laat die rooi pitjie op jou tong lê sodat die smaak begin versprei. Dan die stroping van die vlesigheidjie om die pit totdat die vrank smaak begin.  So herhaal jy die proses. Pit vir pit.

Granate is ook verlangvrug. Wie terugdink aan hulle sorgelose kinderjare of grootwordplek, koppel dikwels die smaak en geure van vrugte daaraan. Coenie de Villiers se “Lied van die Exiles” bevat iets hiervan: “Kom jy dalk van Philippolis op die vlakte van my land, waar die peperbome skadu’s maak en die son verbete brand. Onthou jy in die skemer hoe die skape huis toe kom; hoe granate in die leivoor soos ‘n veldbrand rooi kan blom…”

Dit is interessant dat die granaat een van die vrugte is wat die verspieders uit die beloofde land teruggebring het. Naas die reuse druiwetrosse wat aan drastokke teruggebring is, was ook vye en granate. Ons lees daarvan in Num 13:21:

Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar ’n rank met een tros druiwe afgesny, en twee het dit aan ’n draagstok gedra; ook van die granate en van die vye

Ek kan my net die prosessie voorstel: Twee verspieders met die draagstok op hulle skouers en die reuse druiwetros. Dan die volgende een met ‘n houer vol granate en nog een met heerlike vye. Vreemd dat die heerlike vrugtegeskenk nie die volk dadelik oorreed het om nie na die negatiewe verslag van tien van die verspieders te luister oor hoe gevaarlik die land is en hoe reusagtig die mense is nie.

Granate. Nie net beloofdelandvrugte nie, maar ook Hoogliedsvrugte. In dié liefdesboek van die Bybel, word die blommende granaat simbool van die intensiteit van die liefde van die bruid vir haar bruidegom – die liefde wat roep om die teenwoordigheid van die geliefde

“Ek is my beminde s’n, en sy begeerte is na my. Kom, my beminde, laat ons uitgaan in die veld, laat ons in die dorpe vernag. Laat ons vroeg na die wingerde gaan, laat ons sien of die wingerdstok uitloop, die druiwebloeisel oopgaan, die granate blom. Daar sal ek u my liefde gee.” (Hooglied 7:10)OV

Dit laat mens wonder of die paradysvrug, wat gewoonlik in Kinderbybels as ‘n bloedrooi appel geteken word, nie eerder ‘n rooi granaat kon gewees het nie.

Vanuit die Griekse en Romeinse mitologie ontdek ons ook die Granaat as simbool van liefde:

 Daar word vertel hoe die pragtige godin Persephone deur Hades, die god van die doderyk, geroof en na sy onderwêreldse koninkryk gebring. Haar ma, Demeter, die godin van die landbou en vrugbaarheid, is so verbysterd omdat haar dogter nie meer daar is nie, dat sy  sorg dat alle oeste  misluk.

Ten einde te verseker dat die grond weer vrugbaar word, word Hades aangesê om Persephone aan haar ma terug te besorg. Terwyl sy egter in die onderwêreld was, het Persephone die pitte van die granaat geëet, ’n vrug wat die huwelik versinnebeeld. Dit beteken sy mag nie haar eggenoot verlaat nie.

’n Kompromis word aangegaan: Persephone sal  toegelaat word om ’n deel van die jaar by haar ma te bly, wanneer die gesaaides goed groei (somer), maar die res van die jaar moet sy dan weer by Hades deurbring, wanneer die aarde onvrugbaar word (winter).

Ek was nog nie op ‘n huwelik waar ‘n granaat aan die pasgetroude paartjie voorgesit is nie, maar dit sal blykbaar nie onvanpas wees omdat die granaat die onverbreekbaarheid van die huweliksband simboliseer.

In Anatolië, Turkye word die granaat dikwels gebruik as motief op hulle erdeware. Daar word die granaat as ‘n heilige vrug gesien (ook juis omdat dit beskou word as die vrug van die Boom van Kennis van Goed en Kwaad.)  Boonop word die granaat ook deur hulle verbind met huweliksgeluk en -trou.  Daar is dit die gebruik om die pitte van ‘n granaat in die huis van ‘n pasgetroude paartjie te strooi omdat, so word gegeglo, dit die standhoudendheid van die huwelik bevorder en ook sommer vrugbaarheid verseker. Boonop bring dit ook ‘n lang en gelukkige lewe mee.

Tydens ons Turkye toer, reis ons na Iznik, vroeër bekend as Nicea, waar een van ons Belydenisskrifte reeds in 325nC ontstaan het. Dit is ‘n effe trietsige dag. Vanuit die bus sien ons die landskap en die fyn motreentjie wat neersif. Ons toerleier stuur ‘n paar oopgebreekte granate deur die bus, sodat toerlede van die blinkrooi pitte kan uithaal en proe. Granate is eie aan dié streek in Turkye. My reisgenoot en ek delf elkeen van die rooi pitte uit die granaatdop en eet terwyl die rooi sap van die granaat aan ons vingerpunte en mondhoeke kleef.

Toe ons by die plek stilhou waar die belydenis geformuleer is, reën dit steeds fyntjies. Ons klim uit en stap gesambreel tot by die waterkant waar slegs  nog die fondamente van die kasteel is waar die biskoppe in die jaar 325nC byeengekom het om die belydenis te formuleer.

Terwyl ons koes-koes onder die sambrele skuil en een van die toerlede vir ons die tydlose Belydenis van Nicea voorlees, proe ek steeds die nasmaak van die granate op my tong. Ek dink daaraan dat net soos die skil van die granaat die pitte bymekaarhou, ons as gelowiges ook deur die liefde van Hom oor wie die belydenis gaan, saamgebind word.

Ons glo in een God, die Almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge;
en in een Here Jesus Christus, sy eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore:
Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God…