Archive for the 'Uncategorized' Category

Vensters na Buite

Friday, December 17th, 2010

                                     

As   vierjarige lê ek op ons kombuisvloer. Die laatmiddagsonlig stroom deur die venster in. Ek kyk op en sien groot ou boom se takke. Ek is moeg prentjies geteken en begin om my eie letters op die papier te vorm soos ek  dit in my ousus se leesboek gesien het. Ek skribbel ‘n klompie van my hiërogliewe op die papier en hardloop opgewonde na my Ma wat voor die stoof besig is. Sy kyk na my geskribbel en “lees” my hiërogliewe: “My naam is Wimpie en ek kan skryf.”  Net daar word die saadjie in my binneste gebore. Iemand kan lees wat ek skryf – ek gaan aanhou tot ek mooi kan skryf sodat ander mense kan lees dit wat ek op papier sit. Selfs al neem dit baie lank.

Vandag wil ek iets neerskryf oor vensters. En hoop dat iemand anders die “briefie in ‘n bottel” sal optel, oopmaak en lees.

Adventtyd is venstertyd. Nie alleen sien mens in die tyd dikwels versierde vensters met liggies en Kersboompies nie, maar die hele tydperk bied vir mens ‘n venster op ‘n nuwe begin.

Juis daarom bly die Adventkalender met sy vyf-en-twintig venstertjies waarvan een elke dag tot en met Kersdag oopgemaak moet word, altyd vir my ‘n lekkerte wat ek nooit sal ontgroei nie. Dit is ‘n geskenk wat ek graag aan kinders te gee en so iets van die afwagting en opwinding van die tyd tasbaar en sigbaar te maak.

Vensters het ‘n tweeledige gesig. Eerstens is dit die belangrike uitsigpunt na buite. Dit keer jou van inkerkering en vereensaming in jou eie klein wêreldjie. Tweedens bied vensters dit ‘n prentjie na binne. Kan mense van buite ook insien en iets sien van die lig wat binne-in ‘n huis skyn en selfs versierings wat in ‘n vertrek staan, veral nou in die kersgety.

Vandag sal ek graag iets wil skryf oor vensters met ‘n uitsig, vensters na buite. En graag begin met ‘n verhaaltjie. Op die internet is daar ‘n webwerf getiteld” Tommy’s window” (www.tommyswindow.com ). Daar kan mens inspirerende verhale en Powerpoint aanbiedings te siene kry. Die verhaaltjie wat hierdie webwerf en die versending van soveel inspirerende epos tot stand gebring het, is as volg:

Tommy was ‘n kreupel seuntjie wat in op die derde verdieping van ‘n ou gebou in die middestad gebly het. Sy gebrek het dit vir hom onmoontlik gemaak om te beweeg, dus het hy sy dae deurgebring in sy bed teenaan die venster wat uitgekyk het op die besige straat daaronder. ‘n Koerantjoggie-vriend van Tommy het op ‘n dag vir hom die boek gebring wat vertel van die Man wat soveel goeie dinge gedoen het. Dit was ‘n Nuwe Testament. Saam-saam het die twee maats dit deurgelees en die wonderlike waarheid verstaan: Dat Iemand hulle so liefgehad het dat Hy sy lewe afgelê het om hulle skuld te betaal. Kinderlik het Tommy hierdie belofte sy eie gemaak. Toe het hy die dringende wens gehad om ook hierdie boodskap met ander te deel. Maar hoe sou hy dit kon doen – hy was dan verlam?

Tommy het begin bid vir ‘n oplossing en daar het ‘n antwoord na hom gekom. Hy het begin om inspirerende versies uit die Bybel op stukkies papier neer te skryf. Die papiertjies het hy dan deur sy venster na buite laat val en dan het die flentertjies papier gedwarrel tot onder op die sypaadjie waar verbaasde voetgangers die papiertjies sou optel en die goeie nuus daarop lees.

‘n Welgestelde sakeman het eendag so papiertjie opgetel en dit het sy hele lewe verander – hy het die Goeie Nuus van Jesus se liefde vir hom ontdek. Hy het teruggekeer na die plek waar hy die papiertjie opgetel het en was net betyds om te sien hoe nog ‘n papiertjie neerdwarrel en voor die voete van ‘n krom ou vroutjie beland. Met veel moeite het sy gebuk en die papiertjie opgetel. Die sakeman het opgemerk hoe haar gesig by die lees daarvan ophelder. Sy het sommer flinker gestap toe sy verder van daar gaan.

Die sakeman het bly staan en die vensters bokant die straatvlak dopgehou. Uiteindelik het hy gesien hoe ‘n wit armpie uit ‘n venster op die derde vloer te voorskyn kom en nog ‘n papiertjie na onder laat val. Die sakeman het die posisie van die woonstel bepaal en hom met die trappe gehaas na die die spesifieke plek op die derde vloer. Daar het hy Tommy gevind en hom bedank vir die groot verskil wat hy in mense se lewens maak met sy boodskappies. Hy het ook voorgestel dat hy en sy vrou na Tommy sou omsien in sy gerieflike huis in die buitewyke van die stad. Tommy was baie dankbaar, maar het tog gesê hy sal eers sy Groot Vriend, Jesus,  moet raadpleeg. Toe die sakeman die volgende dag terugkeer om Tommy se antwoord te hoor, het Tommy bloot gevra;” Gaan daar by die huis waarheen jy my wil neem ook mense onder my venster verbystap?” Toe die man verduidelik dat die huis op ‘n landgoed staan en dat daar nie mense sou verbystap nie, het Tommy geantwoord: ” Ek kan nie in ‘n huis bly waar daar nie mense onder my enster verbystap nie, want ek boodskappe wat ek moet aflewer. Baie dankie vir die aanbod, maar ek het ‘n werk om hier te doen.”

Die eenvoudige verhaaltjie laat mens net opnuut besef dat ons die vensters in ons lewens moet benut. Iewers het ek ‘n opening waardeur ek mense kan bereik.

Die foto bo-aan die Blog het ek in Maart 2005 op De Compagnie, Wellington geneem. ‘n Droom het vir my waar geword. Ek het die vorige jaar ‘n kreatiwiteits- en skryfkursus op dieselfde plaas bygewoon. Nou was dit ses maande later en kon ek tydens die reunie en opvolgsessie in die idilliese Jonkershuisie op die plaas bly. Ek kon ook my droom om te skryf, begin bewaarheid. Al daardie flenterjies papier en verhaalfragmente wat ek altyd onderin my lessenaarlaai gedruk het, kon ek nou begin gebruik. Dis die begin van ‘n nuwe reis en ek begin om my Pandora-kissie met goeie en minder goeie skryfidees te ontgin. Ek “pos” versigtig my skryfbriefies by die Venster van Moontlikhede. En sien met verbasing hoe sommige briefies opgetel word, gelees word. Sommige bring selfs ‘n reaksie na vore.’n Droom wat sewe-en-veertig jaar gelede gebore is terwyl ek letters op ‘n kombuisvloerprobeer vorm het, word waar.

Hoe lyk jou vensters na buite? Gebruik jy jy jou “posbus?”

Adventtyd vertel juis van die grootste Liefdesbrief wat daardie eerste Kersnag in die onwaarskynlikste posbus gepos is – ‘n stal in Bethlehem word God se posbus aan die wêreld, aan jou en my.

Die Brief roep om ‘n antwoord. Al is dit net ‘n flentertjie papier.

Sitplek 29F

Thursday, December 9th, 2010

 

Vakansietyd. Reistyd. Ervaringstyd.

Een van die lekkerste vorms van reis, is om in ‘n straler op ‘n hoogte van 33,000 voet bo-oor die landskap te swewe en al die arme drommels jammer te kry wat soos miere op die paaienetwerk (met of sonder slaggate) moet voortkruie. Daarom is die venstersitplek so gesogte waarnemingsplek om die hele vlugervaring waar te neem. Soms vind daar vreemde ontmoetings tydens die vlug plaas, want ‘n mens weet nooit langs wie jy op die vlug beland nie.

Natuurlik droom ‘n mens.  Jy het jouself sopas gemaklik probeer ingrawe in die ietwat benouende ruimtetjie wat aan jou toegeken word en dan neem hierdie visioen van ‘n skoonheid langs jou plaas. ‘n  Vlug met wonderlike vooruitsigte doem voor jou geestesoog op. Wat sal die onsterflike woorde wees waarmee jy die gesprek aan die gang gaan sit? Jy onthou ‘n fliek uit jou universiteitsdae (And now my Love) waarin die twee bestemde verliefdes mekaar nie ontmoet nie. Die ganse fliek handel ook hulle parallelle lewens en soeke na die ideale lewensmaat. Jy kreun by die onthou van hoe hulle mekaar telkens misloop. Onthou egter die “Yes, yes, yes” uitroep in jou binneste as die  twee in die beseringstyd van die film langs mekaar op die vliegtuig beland. Wanneer die koffie op die vlug bedien word, leun sy oor na sy kant en vra vir ‘n ekstra sakkie suiker, want sy gooi drie suikers in haar koffie. Die eindtitels rol terwyl die kamera fokus op hulle twee tasse wat ‘n nadere kennismaking op die terminaal se voerband beleef. En jy weet, vandag kan die dag wees, dat Mej. Reg se sitplekpad joune kruis.

 Daar altyd ook die buitekans dat ‘n bekende sport- of rolprentpersoonlikheid jou medereisiger is. Maar Spiderman?

 Ek het natuurlik eers op die vlug agtergekom wat sy ware identiteit is.

Op die oog af het hy maar gewoon gelyk. Het gewonder oor sy drie sakke handbagasie wat hy sorgvuldig in die bo-luik weggepak het. Toe neem hy plaas in sitplek 29F. Nogal teen die venster waar ek so graag sit. Wie sou kon droom dat hy sy ware kleure as Aartswebmeester, Spiderman, spoedig sou wys?

Langs hom neem ‘n goedversorgde, eksotiese vrou plaas. Sy het oosterse gelaatstrekke,  blinkswart hare en ‘n tipe argelose skoonheid. Heimlik wonder ek oor die aantal suikersakkies wat sy in haar koffie gooi. Ek bespiegel ook wat die gesprekstema tussen haar en die passasier in sitplek 29F gaan wees. Sal hy met haar oor astrale reise, eksotiese disse of oosterse gevegkuns as selfverdediging gesels?  Sy staar egter stip voor haar uit asof sy enige sulke gesprekke wil ontmoedig.

Met die opstyg staar Spiderman aandagtig by sy ruitjie uit. Seker besig met sy eie netwerk van gedagtes. Die serene skoonheid staar na die ander ruitjie wat hoofsaaklik teen die vlerk vaskyk. En ek wag.

Dit is eers toe die drankies bedien word dat die aksie begin. Spiderman bestel Coke maar die skoonheid in die middel laat die drankies met ‘n wuif van die hand by haar verbygaan. Weet sy dan nie dat sy veronderstel is om in ‘n welluidende stem te fluister dat sy graag wil koffie hê nie. Met drie sakkies suiker? Ek is diep teleurgesteld.

Maar toe begin die onthulling. Oftewel die web van bedrading. Spiderman begin met sy spinsels. Hy slaan die skinkbordtafeltjie af en sit die smal blikkie Coke voor hom neer. Gooi dit sorgvuldig in die plastiese glasie. Dis toe dat ek sien hoe hy sy hand na sy mond bring en begin spin! Die oomblik toe sy hand wegbeweeg van sy mond, vorm daar ‘n string drade tussen hand en mond.

Dit lyk asof daar ‘n onuitputlike bron sydrade in sy mond is. Hy  tel die koeldrankblikkie op en die netwerk heg hom stewig aan die blikkie. Lyk soos ‘n foefieslide van sy mond tot by die blikopening. Ek wonder benoud wat daarlangs gaan afgly, maar die webmeester spin rustig voort.. Hoe meer hy aan die blikkie of glasie raak, hoe voller span die web. Ek sien uit die hoek van my oog hoe die Oosterse skoonheid met groeiende verbasing en afkeer na die webvorming kyk. Wonder seker of hy beplan om haar netjies in die web vas te vang, toe te kokon en dan in sy handbagasie weg te pak. Dalk staan hy nog bekend as die Spiderman reeksmoordenaar.

 Mens weet nooit langs wie jy op ‘n vliegtuig beland nie.

Ek hou die proses met groeiende ongeloof dop. Want oral waar die man vat, verskyn die wit webdrade. Hy betrek later sy ander hand by die proses en die net span  groter en vorm steeds sy draadwerk. Byna soos ‘n reuse gomlastiek-tolletjiebrei.

Onwillekeurig flits die kleintyd waarskuwingsrympie wat my ma my geleer het deur my gedagtes:
“Oh what a tangled web we weave,
when first we practise to deceive…”

Hier sien ek met my eie oë hoe dit gebeur. Verwag ook enige oomblik dat die afstroping van die gewone oorklere gaan begin en die kenmerkende rooi en blou Spidermanpak te voorskyn gaan kom. Die vrou in die middel begin al meer wegdeins van Spiderman en sy web. Al kan ek nie haar gesig sien nie, is haar afkeer byna tasbaar en groei (soos die web) elke oomblik. Sy berou sekerlik haar sitpleklot.

Uiteindelik begin die draadwerk bietjie afneem. Spiderman begin die web toerol en in die Cokeblikkie se opening inforseer. Met groot gesukkel kry hy die meeste van die webdrade in die blikkie, maar daar is steeds talle fyn draadjies wat verbete klou.

Dit lyk asof die vrou ‘n sug van verligting slaak. Selfs Spiderman lyk
verlig. Toe die lugwaardin met die paadjie afstap en glasies en blikkies
versamel, kan hy nie gou genoeg die blikke aan haar besorg nie.

Hy sit terug in sy sitplek en lyk weer byna gewoon. Maar tog bly hy sy
vingers opmekaar vryf asof hy steeds besig is om die onsigbare web  af te breek.

Alles keer terug na normaal. Spiderman ontspan. Ek ook. Enige gesprek met die skoonheid is nou vergete. Spiderman staar deur die vliegtuigvenster asof hy enige oomblik verwag dat Catwoman daar gaan verskyn en roep om hulp.

Die res van die vlug verloop in gedempte stilte. Die koffietrollie kom later verby en die skoonheid beduie dat sy ystee wil hê. Met suiker! Wil ek in my gedagtes wanhopig byvoeg.

 Die vliegtuig land. Die romantiese fliek was ‘n klug, besluit ek terwyl ek wag om my drie stukke handbagasie uit die daksluitkas te haal.

Naskrif aan die leser: Moet tog nooit jou kougom met ‘n sagte peperment koulekker meng nie, dit omskep  kougom in ‘n web vol ellelange taai drade. Dit het Spiderman op vlug MN 126 van Kaap na JHB ontdek. Ek ook.

  Ek het  die instapkaartjie om dit te bewys – sitplek 29F.

Ouma Vannie-kerk

Tuesday, December 7th, 2010

Ouma Adolf. Ouma Winnie. Ouma Vannie-kerk. Ouma Besem.

My Ouma aan moederskant het baie name en byname gehad. Tog het ek haar maar net altyd Ouma Vannie-kerk genoem en so die respek wat ek vir haar gehad het uitgedruk. Op ‘n vreemde manier het ek haar met die kerk en met streng, toegewyde godsdiens assisieer. Dat haar getroude van Van Niekerk was, was eintlik maar ‘n bysaak want vir my was sy Ouma-vannie-kerk.

Die ouma van my met die Duitse bloed in haar are het gesag afgedwing. Haar Duitse herkoms het geblyk uit die feit dat haar Dachshund se naam Adolf was. Tot vandag weet ek nie of sy die Fuhrer uit respek of disrespek vernoem het nie – ek vermoed dis laasgenoemde. As my niggie en nefie saam met ons by Ouma Vannie-kerk-hulle gekuier het, het hulle altyd van Ouma  Adolf gepraat om haar  te onderskei van hulle ander ouma op Uniondale – Ouma Katte. So hulle het gesorg dat die een ouma na haar hond vernoem is en die ander na haar katte.

Die eintlike rede hoekom ek vandag oor Ouma Vannie-kerk skryf is omdat vandag, die 7e Desember haar verjaarsdag is. Sy is gebore as Alwine Bertha Wilhelmine Kobus op 7 Desember 1890 in die Oos Kaap, vermoedelik Dordrecht se wêreld. Sy sou dus vandag 120 jaar oud gewees het.

Vandag wens ek dat ek haar beter kon leer ken en meer van haar kon weet. Al wat ek vandag van haar het, is haar en oupa se troufoto, haar stoel met die armleunings, haar verjaarsdagboekie en haar Duitse Bybel. En heelwat herinneringe.

Een van die herinnneringe wat my bybly is haar gesteldheid op netheid. Sy het haar lang bruingrys hare altyd in ‘n netjiese bolla gekam. Dit was my nooit beskore om haar te sien as haar lang hare uitgekam is in die aand voor sy gaan slaap nie. Die vooreg het my ousus te beurt geval as sy soms by Ouma gaan kuier het en dan met die silwer haarborsel Ouma se hare saans moes uitkam. Die feit het ek eers onlangs gehoor, want Ouma was vir my net die streng, meestal ontoeganklike persoon wat geen huisgodsdiens oor die radio oorgeslaan het nie (veral na Oupa se dood) en wat die tafelgebed gereeld in Duits gedoen het:

Komm Herr Jesu und sei unser Gast
und segne was du uns bescheret hast

Dit het Ouma se “vreemdheid” telkens bevestig. Sy het Duits gebid, Afrikaans gepraat en Engels geskrywe.

Maar terug by Ouma se netheid. Toe sy na Oupa se dood in die vroeë sestigs naby ons in ‘n woonstel kom bly het, was dit haar gewoonte om vieruur smiddags oor te stap na ons huis, net betyds om saam met my ouers wat dan van die werk af gekom het, koffie op die kantstoep te drink.

Maar voordat sy haar in die huis begewe het, het sy eers die besem geneem en die tuinpaadjie reg rondom die huis verwoed gevee. Dit was ‘n belangrike ritueel. met die veeslag het sy nie net skoongemaak nie, maar sommer ook haar gedagtes georden. Vandaar die latere bynaam Ouma Besem. (Dit was darem nie ‘n verwysing na ‘n heks nie!).

Eers jare later toe ek tydens ‘n kersvakansie op Philippolis die blare op die paadjie wegvee en later die gruisgrond in patrone hark, het ek iets begin verstaan van Ouma Alwine se ordende ritueel, want met die vee- en harkproses het ek ook sommer my kop skoongevee en gedagtes bymekaargehark.

Onlangs toe ek met my Tannie gesels oor my Ouma het ek meer begin verstaan van Ouma se streng terughoudendheid. Haar Oupa en ouma Schwartz het as immigrante vroeg  in die 19e eeu van Duitsland na Suid-Afrika per boot gekom. Toe Tafelberg reeds sigbaar was, het haar Oupa op die boot gesterf en het haar ouma aangedring dat hy nie ter see begrawe sou word nie, maar wel op land wanneer die skip in die Kaap sou vasmeer. So het haar ouma in ‘n vreemde land aangekom as weduwee met vyf jong kinders wat versorg moes word.

Ook Ouma Alwine het dit nie maklik gehad nie. As sewejarige dogtertjie is haar ma oorlede tydens die geboorte van ‘n jonger sussie. Sy is by familie geplaas en moes harde werk in en om die huis verrig reeds op daardie vroeë ouderdom. Sy moes ook dikwels op die lande werk. Straf is geredelik uitgedeel as werk nie na behore gedoen is nie.  Die lewe was hard, plek vir sentimentaliteit was daar nie. Iewers as jongmeisie het sy die hartseer van onbeantwoorde liefde ervaar, want sy het het in haar oorgeërfde Duiste Bybel so aantekening gemaak oor die vergeefse liefde (en dit later onsuksesvol probeer uitvee).

Op Skrikkeldag in 1916 trou sy en Oupa Van Niekerk. Die troufoto vertel van ‘n eenvoudige rok, sonder hooftooisel of sluier. Hulle huwelik het drie-en-veertig jaar geduur tot my Oupa se dood in 1959. Sy verhuis in die vroeë sestigerjare na Klerksdorp met die oorblyfsels van die bekende meubels uit die huis in Ontdekkers wat vir ons as kinders soveel bekoring ingehou het. Soms kuier ons by my ouma in haar woonstel, sit by haar bekende eettafel en eet haar heerlike ertesop. Hoor hoe sy die tafelgebed steeds in Duits doen. Leer om doodstil te wees as ouma huisgodsdiens oor die radio luister. Sy skryf getrou in haar Psalm- en Gesangboekie die tekste en datums neer van oordekings by  die bepaalde lied wat tydens die oordenking gesing is. Haar gunstelinglied het baie datums en tekste by:

Ruwe storms breek in woede, alles om my heen is nag

Tog hou God my in sy hoede, Hy hou oor my heil die wag.

Sy het so skielik gegaan. Op 25 Julie 1965. Sy het in die sitkamer van die woonstel gestaan met haar bekende kerkklere en -hoed, Bybel en Gesangeboek in die hand. My Oom sou haar die oggend kerk toe neem. Sy het met die trap op geroep na hom” I’m ready if you’re ready” . Toe kry sy ‘n massiewe beroerte en val net daar neer. Vir my bly dit steeds gepas dat Ouma-vannie-kerk in haar kerkklere, Bybel in die hand,  haar laaste asem uitgeblaas het.

Vandag wens ek dat ek met haar kon sit en gesels. Vir haar kon uitvra oor haar familie, kinderjare en lewe. Vir haar ook vertel van die saadjies wat sy in my ontvanklike kindergemoed gesaai het. Die pad dalk help baan het vir my uiteindelike keuse van beroep. Dalk sou sy tog trots gewees het op die feit. En nog ‘n inskrywing in haar Duitse Bybel gedoen het. Wie weet?

Iemand in Niemandsland

Wednesday, December 1st, 2010

Adventtyd is die tyd van die ligte.  Verligte kersbome, versierde winkelvensters. Huise wat soos sprokieskastele van lig lyk.

Maar wat as dit juis jou tyd van worsteling en donker is?

 Kan dit so donker raak dat jy op ‘n plek is waar niemand jou kan sien nie – selfs nie God nie?

 Soms voel dit so.

 Elie Wiesel, ‘n Jood wat die slegte doodskampe van die die tweede wereldoorlog oorleef het , het ‘n boekie geskryf met die titel “Night”

 “Never shall I forget that night, the first night in camp, that turned my life into one long night seven times sealed.

Never shall I forget that smoke.

Never shall I forget the small faces of the children whose bodies I saw transformed into smoke under a silent sky.

Never shall I forget those flames that consumed my faith forever.

Never shall I forget the nocturnal silence that deprived me for all eternity of the desire to live.

Never shall I forget those moments that murdered my God and my soul and turned my dreams to ashes.

Never shall I forget those things, even were I condemned to live as long as God himself.

Never.”

 Nag ‘n slegte tyd vir worstelaars – Niemandsland ‘n slegte plek vir lewensreisigers. Vir Elie Wiesel het die kamp gevoel soos ‘n ewigdurende nag in Niemandsland. Sonder iemand, sonder God.

 Die slegste plek waar mens jou kan bevind is Niemandsland – want daar is jy nog vis nog vlees.

 In die weermag het ons soms aan die begin van ‘n  Operasie die Niemandsland beleef – die Kaplyn – daardie  tussen-in strook  skoongekapte aarde wat die buffer tussen twee vyandige land uitmaak.Ons het sommer meestal van die “Jati” gepraat.

Niemandsland.

 Hier voel jy sommer naamloos en adresloos. Jy voel soos ‘n  tolbos wat rondrol tussen twee doringdrade, sonder anker en sonder behoortplek.

 Een aand aan die begin van ‘n ‘n geheime operasie in Angola, het ons die Kaplyn oorgesteek en in die Niemandsland betree. Hier en daar was daar darem ‘n boom wat die aanslag van die oopkap oorleef het. Daardie aand het ek  onder die boom in niemandsland aan die slaap geraak met die besef  – as vyandelike troepe vanaand ons hier betrap sal niemand dalk ooit weet wat van ons geword het nie, want vir my het die niemandsland soos die Bermuda driehoek gevoel wat mense insluk en  nooit weer na vore laat kom nie.Net geweet hier moet mens nie vertoef nie. Vir die duur van jou reis en verblyf in die Jati is jy Naamloos, identiteitloos.

 Tog is dit juis hier waar jy jou behoefte om te behoort beleef.

 Om ‘n burger van Niemandsland te wees is om nie sekerhede te hê waaraan jy kan vashou nie. Om nie die woorde van Jesaja 43:1-3 jou eie te kan maak wat sê

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep,

jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,

deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;

want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder

 Niemandsland is die alleenste alleen. Dis hier waar mens roep en jou eie stem hoor eggo, eggo, eggo….

 Eintlik – terwyl jy in jou eie Niemandsland vasgevang, besef jy hoe ondenkbaar Christus se worsteling in die Getsemane-Niemandsland moes wees. Soveel so dat in sy worsteling om aan die wil van sy Vader te voldoen, sy sweetdruppel bloeddruppels geword het…

 Dit was die werklike Niemandsland – Christus se disppels wat hom alleen laat in sy worsteling en aan die slaap raak. Hy wat wat vra: As hierdie beker by my verby kan gaan. Nogtans nie my wil nie maar u wil. Niemandsland – tog was die Vader daar.

 Die gevaar met kersfees en lydenstyd is dat ons dit kan romantiseer en dit ‘n mooi (rooi)baadjie aantrek en so die werklikheid afwater. So kan ‘n mens dan sing van ‘n dierbare krippie en kruis, terwyl die kruis self nooit dierbaar kan wees nie, maar net die resultaat van dit wat aan die kruis verkry is, oneindig kosbaar is. ‘n  Mens kry selfs bekende skilderye waar die lydende Christus met ‘n stralekrans om die kop geteken word.

 ‘n Mens kan jou dus indink dat die bekende Duitse skilder Albrecht Dürer (1471-1528) het met sy skildery Christus as die man van smarte nogal ‘n redelike opskudding veroorsaak, nie alleen in die kunskringe van destyds nie, maar veral ook in die godsdienstige kringe en die denke oor die lyding van Christus. Hier was ‘n kunstenaar wat sowaar gewaag het om Christus vir die eerste keer sonder die gebruiklike stralekrans uit te beeld. In die plek van die stralekrans was daar eerder die vlymskerp doringkroon en die gesig van Jesus spreek van lyding. ‘n Uitbeelding van Een wat nie skoonheid of prag gehad het nie dat ons na Hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van Hom sou hou nie; eerder Iemand vir wie die mense die gesig wegdraai (Vgl Jes 53:1-3)

 Die neiging om ‘n stralekrans bokant Christus se kop te wil sit, is maar in ons bloed. Waarom? Waarskynlik omdat ons nie van die werklikheid van die Gekruisigde hou nie, juis omdat Hy as Gekruisigde die dieptes van ons ellende tot op die been kom blootlê.

 Dalk moet ons juis in Advent en Kerstyd die klassieke Lydensverse lees van Jes 53:3-5 

Hy was verag en deur die mense verlaat, ’n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ’n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte – dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

 Die woordjie Chalal (deurboor) wil ons genees van al ons oppervlakkige Jesus-met-die-stralekrans-prentjies.

 Ons dink net aan die kruis as ‘n “gladde” plat las wat Jesus moes dra, maar die eintlike las wat Hy moes dra was die skerpte van die sonde as opstand teen God, die hartsprik van ongehoorsaamheid en opstandigheid. Eintlik kan mens amper die kruis sien as ‘n tipe Spykerkruis (soos die spykerbeddens waarop martelaars soms lê), want deur die dra van die kruis het die skerpte van elke mens se sonde ‘n insnyding in Jesus gemaak.

 Tog kan Chalal ook beteken – die insny-oomblik wanneer musiek begin – daardie oomblik wanneer die klank van musiek as’t ware jou oordromme prik en jy bewus word van die geluid – die eerste roersel van musiek.

 Toe ons skuld Hom deurboor op Golgota, het die musiek wat in ons dood gegaan het a.g.v. ons skuld, weer begin leef…..opgeklink, sag, gedemp, maar dit was DAAR!

 Die lyding van Jesus wil ‘n verskil maak – van die kern van my menswees af en verder uitkring. Soos gedempte musiek al wyer hoorbaar word as dit harder begin speel.  Dit raak my hele lewe – al my pyn en al my seer – ook die seer wat reeds baie ver en bykans vergete agter my lê. Deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom. (Jes 53:5) Selfs vir die pyn wat baie diep lê en wat ek nog met geen mens kon deel nie.

 Jesus het immers nie gekom om te sterf vir mense met stralekransies nie maar vir mense met pyn in hulle harte en soms ook hul oë. Daarom is Hy gestroop van alles om ons diepste seer te kon dra en genees.

Sodat jy en ek kan ontdek: Daar is Iemand in my Niemandsland.

Die Blou Engel

Monday, November 29th, 2010

Engele.

Aankondigers. Boodskappers. Tydingdraers. Gewoonlik verkondigers van Goeie Nuus.

Gisteraand met ons gemeente se Kerssangdiens moes ek die woorde van die engel aan die die herders lees:

“Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.” (Luk 2;10-12)

Terwyl ek dit lees en sien hoe Engel Martin (byna soos John Travolta net die engelvlerke in “Michael”) op die kansel verskyn en eers aan Maria ‘n goeie boodskap oordra en toe aan die herders, wonder ek weer oor engele. Hulle is vreemde eteriese wesens, nie soos Engel Martin wat soos  sy vrou, Alta,  dit uitdruk “nou erg sweet onder die wit tafeldoek wat as kleed moet dien nie!”

Miskien verleen die benaming “Blou Engel” nog ‘n meer misterieuse dimensie aan ‘n reeds onsigbare/onpeilbare wese.

Ek het nog nooit ‘n engel van aangesig tot aangesig gesien nie. Soms al oor hulle gedroom en hulle as fantasiemaatjies gehad (Vgl die blog” Om met ‘n Engel te reis”). Ek het al oor hulle gepraat en oor hulle geskryf. Tog bly ‘n engel ‘n ontwykende wese.

Aan die einde van die vorige eeu (dit klink so vreemd om dit te sê, maar twaalf jaar gelede was dit die einde van die 1900’s) besluit ‘n paar van ons om ‘n boek te skryf. Dit sal in die vorm van ‘n aanlasstorie wees waar elkeen ‘n beurt kry om ‘n hoofstuk te skryf en dan roteer die verhaal  totdat dit klaar vertel is. Ek begin die verhaal op 21 Oktober 1997 skryf en noem dit: “Die Blou Engel”. So ontwikkel die verhaal saam met my drie medeskrywers. Elkeen hou die boek vir ‘n week en skryf dan sy/haar hoofstuk wat weer die volgende week met die ander gedeel word. Ons probeer weekliks die blou tema inwerk bv. deur te ontmoet vir ‘n blou melkskommel of by Blues iets te eet. So groei die storie van Engela en haar blou engel (en die Engel Gabriël wat as beskermheer optree) tot ‘n boek. Elke medeskrywer verras met kinkels in die kabel wat ingeskryf word om die verhaal sy magies-realistiese karakter te gee. Uiteindelik word die slothooftuk geskryf – 25 Maart 1998. Dit voel half hartseer om van die Blou Engel afskeid  te neem. Elkeen van ons kry ‘n getikte, gebinde manuskrip van die verhaal en ‘n blou glasengel as aandenking.

Gedurende 1999 is ek en twee vriende op ‘n Rugsaktoer deur Europa. Tydens ons bootvaart op die gragte van Amsterdam sien ons ‘n uitbeelding van ‘n Engel en onderaan: De Blauwe Engel. Dit is ‘n bekende restaurant in die World Trade Centre in Amsterdam.

 ‘n Paar maande na my broer se ongeluk kuier my Reisgenoot en ek op Philippolis.Ek is nog dwalend. Uiteindelik besluit ek om iets te probeer skilder. ‘n Engel. ‘n Blou engel met ‘n donkerblou rok teen ‘n blou agtergrond.Ek maak so en begin skilder. Toe ek by die engel se gesig kom, bid-wens ek so ek kan deernis in haar gesig skilder. Maar sy lyk hard en ‘n bietjie vreesaanjaend. Haar oë is onsimpatiek. Ek sit toe maar ‘n goue ster op haar voorkop om meer genadig te lyk maar sy lyk nog soos ‘n halloween-engel. Toe ek klaar is, bere ek die doek weg agter die deur. Ek wil haar nie sien nie en sy troos glad nie. Inteendeel. Dis 2007.

 ‘n Paar maande gelede kuier ons weer op Philippolis. Die vlytige bruin vrou  help met die skoonmaak  van die Hartjiehortjiehuisie nadat modderwater van ‘n wolkbreuk deur ons huisie gespoel het.  Haar  naam is Angelina.  Sy maak alles silwerskoon en laat ‘n netjiese huis agter. Alles ruik sommer weer nuut en skoon. Toe sy weg is, sien ek sy het die engel- skildery agter die deur uitgehaal waar ek dit weggesteek het en dit in die spaarkamer opgehang. Die onlekker engel. Ek kyk weer aandagtig na die verfstuk en sien wat my pla – die gesig, die woeste lang hare en veral die feit dat die engel nie arms en hande het nie, net twee verpotte vlerke  (behoorlik soos ‘n sywurm-mot wat nou-net uit die kokon gekruip het, maar nie kan vlieg nie). Boonop is sy oorgewig en te BLOU.

 Ek bring haar saam Welkom toe. Op Menseregte (of dan Regtemensedag) daag Lynette my uit om iets te skilder. Ek wend ‘n poging aan en begin dit geniet. Begin selfs met ‘n tweede poging. Toe het ek moed om die blou engel te takel. Ek gee haar gesig ‘n makeover, die keer sonder gelaatstrekke, oë, neus, mond. Verf ook die ster op haar voorkop toe. Verander haar haarstyl. En gee haar arms! Maak haar ook slanker en verander haar rokkleur. Kortom ‘n totale makeover wat Hannon Botma potblou van jaloesie sal maak!  Tog kort iets – haar hande lyk onhandig. Ek verf ‘n paar blommetjies wat sy kan vashou. Skielik lyk en voel sy anders. Kan sy selfs troos.

Die Blou Engel het tuisgekom. Dalk sou sy ook in hierdie Adventtyd saam met die Veldengele wou sê: “Moenie bang wees nie want ek bring vir julle ‘n Vreugdetyding: Die Kripkind is ook jou Kruisdraer. Deur sy wonde kom daar heling.

Mag  Advent 2010 die vrees met Liefde verdryf.

Paaie

Sunday, November 21st, 2010

The long and winding road
That leads to your door
Will never disappear
I’ve seen that road before
It always leads me here
Lead me to you door

Die Lennon/Mc Cartney liedjie vul my altyd met ‘n sekere nostalgie, want dit vertel van ‘n kronkelpad wat lei tot by die bestemming waar die persoon graag wil wees. Daar is baie kronkels op die pad en ook baie teëspoed en tog, tog maak die wete van die eindpunt die reis die moeite werd.

Daar is iets opwindend aan ‘n pad, want dit lei na ‘n iewers, ‘n bestemming. Soms is ‘n pad vir ons maar net ‘n middel tot ‘n doel. ‘n Sekere afstand wat afgelê moet word. Amper ‘n noodwendigheid wat net afgehandel moet word en die reis word maar net die manier om van punt A tot by punt B te kom. Dan word die pad ‘n frustrasie. Ek dink almal onthou hoe oneindig lank die pad see toe gevoel het toe jy klein was. Ek dink my Pa het dit besef en wou die “Hoever is dit nog see toe?” vraag tot die minimum beperk, daarom het hy ons drie-uur die oggend wakkergemaak en kon ons onsself op die agterste sitplek tuismaak en inrig sodat as ons vieruur gery het, die eerste stuk van die reis tot by Harrismith  in rustige slapende toestand kon geskied. Ontbyt was gewoonlik iewers by ‘n stilhouplek in die Drakensberg. ‘n Enkele keer of wat terwyl die sneeu rondom ons lê. Dit het die pad aansienlik anders en interessante gemaak. Tog, iewers naby Mooirivier het die onafwendbare vraag opgeklink: “Pa, hoever nog see toe?

Tog lyk dit my is die ontdekking wat elke mens moet maak, dat die reis deel is van die vakansie en daarom moet dit geniet word. Self ook halt geroep word, as jy onverwags  ‘n mooi plekkie langs die pad teëkom.

Robert Frost se gedig vertel van die opwinding van die onontdekte pad:

Two roads diverged in a yellow wood,
And sorry I could not travel both
And be one traveller, long I stood
And looked down one as far as I could
To where it bent in the undergrowth;

Then took the other, as just as fair,
And having perhaps the better claim,
Because it was grassy and wanted wear;
Though as for that the passing there
Had worn them really about the same,

And both that morning equally lay
In leaves no step had trodden black.
Oh, I kept the first for another day!
Yet knowing how way leads on to way,
I doubted if I should ever come back.

I shall be telling this with a sigh
Somewhere ages and ages hence:
Two roads diverged in a wood, and I–
I took the one less traveled by,
And that has made all the difference

Met ons epiese langverlof in 1959 het  ons die pad Kaap toe aangedurf vanaf Stilfontein. (in my Blog “die Oop-Oog Reis”  het ek reeds iets hiervan vertel)  My Pa het kort tevore sy swart Vauxhall Velox ingeruil op die splinternuwe Vauxhall Victor. Die nuwe motor was volgens die heersende mode ‘n  “two-tone” met “whitewall” bande. Eintlik was die vuilpienk motor met die roomdak vir Pa ‘n groot sprong want die eerste motortjie was ‘n groen Morissie met ‘n seildak en daarna het die swart Vauxhall gevolg.

Al wat ek as vyfjarige van die epiese rit Kaap toe onthou is dat die Kaap baaaaie ver was. Ook dat ons by die Karoo Hotel oornag het, iewers tussen Beaufort Wes en Laingsburg. ‘n Verdere herinnering was ook dié van  doeke wat buite die vensters van ons Vauxhall en my Oom-hulle se Austin gewapper het. In elk van die motors was ‘n nuwe baba van ‘n klompie maande oud. By elke stilhouplek moes daar dan doeke gewas word en in die vensters vasgedraai word om soos wappperende vredesvlae droog te word tydens die rit tot by die volgende dorp. Gelukkig was ons nog te klein om skaam te kry daarvoor, maar ek reken dit was dalk algemene gebruik in daardie tyd aangesien Huggies nog nie op die rakke was nie (en indien dit wel daar sou wees  in elk geval afgemaak sou word as geldmors, want goeie flennie-en handdoekstofdoeke moes net gewas word vir hergebruik en goeie ekonomie).

Iewers in die Moordenaarskaroo het die nuwe two-tone Vauxhall egter geprotesteer deur te oorverhit. Ons moes drasties halt roep en met die seil watersak (wat aan die buffer gehang het vir koue water tydens die rit) gaan water haal in ‘n sinkdam by ‘n windpomp. Dit het my vertroue in die nuwe spogmotor ‘n fatale knou gegee. Boonop het die temperatuurmetertjie wat ewe deftig op die neus van die motor gemonteer was, iewers op hierdie Kaapse rit verloor. Die nuwe motor het sy feilbaarheid gewys.

Later jare sou ek talle kere as student op Stellenbosch weer en weer die pad aandurf met my Gunston Volla’tjie en nogal dink aan daardie eerste reis in 1959.  Ek het dikwels nadat ek die laaste vraestel geskryf het die dag, gepak en dan teen middernag in die pad geval en in die pikdonker oor die Du Toitskloofpas gery. Met sonsopkoms was ek gewoonlik op Laingsburg. Dan het die Moordenaarskaroo nog voorgelê. Op Beaufort Wes het ek geweet dat ‘n derde van die rit agter die rug was en dat daar nog net 1000 kilo’s oor was tot in Glencoe, Natal. Wanneer ek oor Van Reenenspas in  Drakensberg gery het, het ek gewoonlik musiek begin luister op die bandspeler wat my kon “inkatrol” huis toe. ‘n Gunsteling in die tyd was John Denver se  “(take me home) Country Roads”.

Almost heaven, west virginia
Blue ridge mountains, shenandoah river
Life is old there, older than the trees
Younger than the mountains, blowing like a breeze

Country roads, take me home
To the place, I be-long
West virginia, mountain momma
Take me home, country roads

Met die koortjie gedeelte het ek lustig saamgesing en die woordjie be-long ekstra hard en uitgerek gesing.

Ook die versie:

I hear her voice, in the mornin’ hours she calls to me
The radio reminds me of my home far a-way
And drivin’ down the road I get a feeling’
That I should have been home yesterday, yesterday

het ek lustig saamgesing.

Jare later ry ek en my Reisgenoot weer oor die Drakensbergpas. Ons is op ons wittebroodsreis en ek wil vir haar my weermagkamp, (5SAI) op Ladismith wys asook die huis in Glencoe waar my ouers gewoon het  toe ek op universiteit was. Ek vertel haar van my lang ritte huistoe tydens universiteitsvakansies. Selfs ook van die enigste keer dat ek in ‘n tronksel geslaap het toe die Volla se brandstof (tydens die jare van die beperkings) opgeraak het by Paul Roux. Ek en ‘n klasmaat moes mooi vra om slaapplek in die selle van die klein polisiestasie te kry! 

 Ek en my reisgenoot stop by die klein gedenkkkerkie in Van Reenenspas. Die “little church”  ( Llandaff Oratory)  is gebou ter herinnering aan Matthew Maynhard se seun wat gesterf het terwyl hy probeer het om sy makkers te red tydens ‘n mynongeluk in 1925. Ons vertoef in die kerkie en sê dankie vir al die paaie waarop ons tot dusver gereis het. Ook vir veilige bewaring op al die roetes wat ons al moes ry. En veral sê ons dankie vir die nuwe pad wat ons twee dae vantevore saam betree het op ons Huweliksreis. Ons besef ons is reisgenote in die skadu en teenwoordigheid van die Ware Reisgenoot.

Ons het al voor ons huwelik dikwels reise onderneem, maar nou lê die opwinding van ons nuwe pad voor. En ons weet – die pad moet met verwondering en dankbaarheid gereis word. Oop-oog.

Lewensfles

Wednesday, November 10th, 2010

Vier-en twintig  jaar  gelede koop ek ‘n antieke klavier by ‘n musiekwinkel. Die handelaar vertel van die bejaarde egpaar wat die klavier vir etlike jare besit het, maar nou weens verswakte gesondheid na ‘n aftree-oord verhuis het. Hierdie klavier was juis een van die besittings waarvan hulle moeilik afstand gedoen het, maar hulle het nie ‘n keuse gehad nie. Ek bekyk die mooi ou klavier en sien dat dit bykans ‘n eeu oud moet wees, want daar is tekens waar die kandelare was. Toe ek die deksel oopklap, pryk die vervaardiger se naam daar: CJ Quandt, Berlin. Ook die Suid-Afrikaanse verskaffer het sy naam  in die staanhoutjie vir musiekstukke gegraveer: J van H Haarburger, Sole Agent, Bloemfontein.

‘n Week of wat later pryk die mooi klavier in die sitkamer van my blyplek. Die klavierstemmer (‘n blinde man) streel met sy hande oor die klavierkas en merk op dat dit baie oud moet wees. Toe hy die boonste paneel afhaal om te begin met die stem van die klavier sien ek die inskripsies op die raam van die klavier. Daar is slegs die voorletters E. C. en dan verder datums: 1916, 1917, 1918, 1919, 1920 en dan 1923 en 1924 wat met potlood neergeskryf is. Ek vertel die stemmer daarvan en hy sê dat dit waarskynlik die datums is waarop die klavier jaarliks gestem is en later het die gapings begin kom.  Toe hy die klavier klaar gestem het, skryf ek die datum September 1986 langs die laaste datum van 1924. Ook in 1990 en 2000  toe die klavier weer gestem word, voeg ek dit by.

Tydens die jaar van aankoop (1986) gaan ek met verlof. In ‘n antieke winkeltjie in Graaff-Reinet loop ek twee klavierkandelare raak wat perfek pas op die gaatjies wat gelaat is met die afhaal van die oorspronklike kandelare. Die klavier lyk  nou outentiek. Ek ondersoek die klavier en kyk weer na die datums op die binne-raam. Ek haal ook die onderste houtpaneel by die pedale af en ondersoek die binnekant. In die regterhoek aan die binnekant is daar ‘n ou vrugtefles. Ongelukkig is dit leeg. Toe ek die stemmer by ‘n volgende keer daarna vra, reken hy dat dit dalk was om gif in te plaas vir rotte wat dit dalk binne-in die klavier sou waag. ‘n Ander persoon vertel dat dit dalk met water gevul was om te keer dat dat die hout nie te droog word nie. Iewers in my kop sien ek ‘n ander prentjie:

Die jongmeisie vir wie die klavier gekoop is, het net oë vir die jongman wat weekliks vir haar musiekles kom gee op die plaas. Sy stort haar liefde vir die jongman uit in die skryf van liefdesbriefies wat sy nooit aan hom gee nie. Die briefies word sorgvuldig in die fles gebêre –  buite bereik van speurende oë. Jare later, nadat sy en haar jeugliefde getroud is, verskuif sy die briewe na ‘n toffieblik met die prentjie van ‘n jongmeisie daarop. Nou gebruik sy die fles as geheime spaarbussie om die geld wat sy weekliks inkry vir die verkoop van hoendereiers daar te spaar om later noodsaaklikhede aan te koop. Die klavier word haar getroue bondgenoot vir die speel van haar hartsliedere en as wegsteekplek vir haar hartsgoed. Soms skryf sy ‘n wens op ‘n flentertjie papier neer en plaas dit in die fles. Dit bly steeds haar spaarbussie vir neseiertjies.

 In my gedagtes sien ek hoe sy as tagtigjarige vir oulaas voor die klavier gaan sit en speel, die dag voor die musiekinstrument verkoop word. Haar vingers is geplooi en haar hande  vertoon ouderdomsvlekke. Die tekens van Artritis is ook sigbaar in die effe kromgetrekte vingers. Tog speel sy vir oulaas ‘n liedjie van lank gelede en streel liefderik oor die klawers. Dan, wanneer sy die rooi viltlappie troostend oor die note plaas en die klap toemaak, sê sy saggies dankie vir die klavier wat so lang pad saam met haar gekom het. Hy het twee wêreldoorloë saam met haar oorleef en deur haar onsekere jongmeisiejare was hy haar anker. Vir oulaas maak sy dan ook die paneel by die pedale oop en maak die vrugtefles leeg. Die opgespaarde geldjies, saam met die verkoopprys van die klavier, sal genoeg wees om te help betaal vir haar kleindogter se musieklesse en dalk selfs as dit rente loop, kan dit bydra tot haar studiegeld later. Sy lees haar wenspapiertjies en sê dankie vir soveel daarvan wat waargeword het.

Maandagaand kyk ek na die film wat die ware verhaal vertel van ‘n Katolieke Poolse vrou vrou wat tydens die tweede wêreldoorlog ‘n reuse verskil gemaak het in die lewens van ongeveer 2,500 Joodse kinders. Die film is ” The Courageous Heart of Irena Sendler”. Anna Paquin vertolk die naamrol. Dit vertel hoe sy as Maatskaplike Werker aangegryp is deur die lot van die Joodse kinders in die ghetto in Warskou. Sy  begin om kinders uit die ghetto te smokkel, soms selfs in ‘n gereedskapkas. Sy skryf getrou  die naam neer van elke kind wat sy so van ‘n gewisse konsentrasiekampdood gered het en plaas dan die name in ‘n glasfles. Die fles (en later meer as een fles) begrawe sy onder ‘n appelboom in die tuin. Sy is egter aangekeer deur die Nazi’s en het intense marteling ondergaan.  Irena het dit oorleef en is vir die duur van die oorlog weggesteek deur vriende. Die Joodse kinders wat uitgesmokkel is, is in die sorg van Poolse gesinne of in ‘n Katolieke klooster geplaas. Na die oorlog is die flesse met name opgegrawe en het sy probeer om die kinders weer met hul Joodse familie te versoen, maar meeste van die ouers en familie het omgekom in konsentrasiekampe. Baie van die oorlewende kinders het later weer met haar kontak gemaak om dankie te sê.

In 1999 het ‘n onderwyser in Kansas sy leerlinge uitgedaag om ‘n projek te begin wat ‘n verskil in ander mense se lewens sou maak. Hulle motto moes wees: “He who changes one person, changes the world entire” Vier leerlinge het op ‘n beriggie oor Irena Sendler afgekom en begin om hulle projek oor haar te doen. Hulle skryf ‘n toneelstuk oor haar lewe en begin dit opvoer. Die stuk se naam is: “Life in a Jar” Dit is handel oor Irena se lewe en die kinders wat deur haar gered is en wie se name in ‘n fles bewaar is. Die projek het baie aandag getrek en het meegbring dat Irena opgespoor is en selfs in 2007 genomineer is vir die Nobel Vredesprys.

Op 12 Mei 2008 sterf Irena op agt-en negentigjarige ouderdom. ‘n Merkwaardige vrou met ‘n merkwaardige verhaal. En ‘n fles wat ‘n verskil gemaak het tussen lewe en dood.

Soms wens mens jy kon ook kosbare dinge bewaar in ‘n fles. Soos die eienares van die klavier en Irena Sendler gedoen het.

Jim Croce se liedjie: Time in a Bottle herinner ons hieraan:

Time in Bottle – Jim Croce

 If I could save time in a bottle
The first thing that I’d like to do
Is to save every day
Till Eternity passes away
Just to spend them with you

If I could make days last forever
If words could make wishes come true
I’d save every day like a treasure and then
Again, I would spend them with you

But there never seems to be enough time
To do the things you want to do
Once you find them
I’ve looked around enough to know
That you’re the one I want to go
Through time with

If I had a box just for wishes
And dreams that had never come true
The box would be empty
Except for the memory
Of how they were answered by you

But there never seems to be enough time
To do the things you want to do
Once you find them
I’ve looked around enough to know
That you’re the one I want to go
Through time with

Naskrif: Die stuk oor die klavier het toe ‘n speurtog tot gevolg om die presiese ouderdom van die klavier vas te stel. Ek kon ‘n webwerf in Toronto, Kanada opspoor wat die presiese ouderdom van die klavier kan bepaal mits die volledige inligting oor die klavier deurgegee word. So ontdek ek toe met behulp van vriende in Kanada wat die inligting deurgestuur het, dat die CJ Quandt “upright” klavier in 1904 in Berlyn vervaardig is. Dit verdien ‘n viering!

Gewers en Grypers

Monday, November 1st, 2010

 

Hande is wonderlike instrumente – ons gebruik dit om te gee, te werk, te skep, te heel, te groet, te koester en te bid.

Hande is ook selfsugtige instrumente – ons kan daarmee gryp,  verniel, afbreek,  wond, doodmaak.

Billy Graham het gesê: “God has given us two hands, one to receive with and the other to give with.”

Gewers en Grypers – ‘n mens sou die mensdom in twee groot kategorieë kon verdeel.

In haar boek” Die Gewers”  Skryf MER:

 “Die niet geef’ dat hy heef’

is niet waard dat hy leef”

Sy sien ook die groot tweedeling in die mensdom – diegene wat met oorgawe gee en die wat selfsugtig gryp dit wat hulle wil hê

Gewers help dat jy kan sê: My beker loop oor! Grypers dreineer jou en laat jou droeër voel as ‘n uitgesuigde lemoen.

Die afgelope ruk het ek net so bewus geraak van die twee kategorieë van mense.

Ek kuier onlangs by ‘n agt-en-tagtigjarige mentor-vriend. Hy is iemand wat die lewe voluit leef en elke dag nog iets nuuts byleer. Hy gee soveel terug aan die wêreld en die mense om hom. Hy is ‘n Gewer, want hy leef uit die genade van die Groot Gewer. Verlede jaar het hy begin om mosaiek te doen en nou vul dit soveel van sy tussen-in tydjies. Want ledige uurtjies het hy nie. Hy wil nog ‘n groot projek met die mosiek aanpak en praat entoesiasties daaroor. Hy is geesdriftig oor elke teëltjie was sy regte plekkie vind. Oor kleure en teksture. Hy gee graag van sy handewerk weg aan ander. Terwyl ek by hom kuier sien ek die entoesiasme waarmee hy elke projek aanpak. Ek neem ‘n foto as herinnering.

Die afgelope week het ons ook te doen gekry met die grypende selfsugtige hande. Verlede Dinsdag kry ons ‘n slegtenuus-oproep van ons Philippolis buurman. – hulle het by ons huis op Philippolis ingebreek en ‘n klomp goed weggedra. In die proses het hulle ook die karaktervolle agterdeur (‘n bo-en – onderdeur met ‘n venstertjie) met ‘n koevoet oopgebreek en die deur erg beskadig. Dadelik ervaar ek ‘n diepe wrewel teeenoor die anonieme “hulle” wat met grypende, vernielsugtige hande ons lewe binnegedring het en met hulle  gierige hande deur ons besittings gesif het om goed te kry wat aan “hulle” behoeftes voldoen. Breekhande, gryphande wat gewelddadig mens se lewe binnedring en hulle vuil vingermerke nalaat. Dit bring ‘n wrang smaak in die mond mee en laat ineens ‘n wolk oor ons hang. Ons besef dit kon erger gewees het en dat niemand beseer is in die proses nie, maar dit neem nie die gevoel van onbehae weg nie.

Grypende hande hoef nie noodwendig jou beursie, selfoon of besittings te gryp nie. Grypende hande neem ook soms selfsugtig jou tyd, lewe in beslag.

Ek blaai onlangs deur ‘n kunsboek wat heelwat van die werke van Rodin uitbeeld.

Auguste Rodin is gebore op 14 November 1840. Sy droom van kleintyd af was om te skep. Nadat hy ‘n ‘n studiekursus voltooi het wat hom sy passie vir beeldhouwerk laat ontdek het, doen hy aansoek om student te word aan die Ecole des Beaux-Arts in Parys. Sy aansoek word egter  drie keer afgekeur omdat hy nie volgens die styl van daardie tyd werk nie en dus nie konformeer nie. Dit word die begin van sy jarelange stryd om erkenning. Eers op sestigjarige ouderdom kry hy erkenning van die kunskringe in Parys met sy uitstalling van honderd-en-vyftig beeldhouwerke  vir die internasionale uitstalling van 1900.

Rodin  was baie lief  om hande d.m.v  sy beeldhouwerk uit te beeld en het dikwels die hande geisoleer van die beeld om die kragtige seggingskrag van die hande daarmee uit te beeld.

Is sy kunswerk “Grypende Hand” (1885) – detail uit “Die Poorte van die Hel” is die desperate grypende hand toonbeeld van iemand wat  probeer om self iets te gryp maar ontdek dat hy niks het om aan vas te gryp nie.

Dit is vir my die simbool van vernietigende en selfsugtige hande: Grypers.

Daarteenoor vorm hy ‘n aangrypende bronsbeeld in 1908. Hy noem die beeld “Die Katedraal” en laat blyk dat tydens sy besoeke aan kerke en katedrale  die vorm en die struktuur van die geboue hom geinspireer het om ook dit in sy beeldhouwerk toe te pas. So vorm die twee hande die effek van die spits van ‘n katedraal en wys dit op die wonderlike vermoë wat die mens het om dromer, bouer, spirituele mense en skepper te wees.

Dié hande beeld vir my die skeppende en dienende vermoë van die mens uit: Gewer.

Ek en my Reisgenoot is toe die afgelope naweek Philippolis toe om die skade te gaan ondersoek wat die Grypers gelaat het. Veral was ek hartseer oor die vernielde agterdeur en die gevoel van betreding wat my beetgepak  het toe ons deur die huisie stap. Die leegheid van ‘n sitkamer sonder mooi kleurvolle kelim beklemtoon die verlies.

Tog is daar die positiewe: Die drie skelms is Vrydag aangekeer en klaarblyklik is al die gesteelde goedere teruggekry (hulle het ook by twee ander huise in dieselfde week ingebreek). Ons het selfs ‘n glimps gekry van ons kelim waar dit geberg word in die polisie se stoor en wat ons hopelik binnekort kan opeis, sodra die saak afgehandel is.

Nog meer positief egter was die helpende hande – die getroue tuinman, Dawid wat sy hulp kom aanbied om die agterdeur weer te herstel, skarniere reg te buig en kort-kort terwyl hy skroef in die deur nog vaster draai en oor ‘n vernielde stuk hout stryk, mompel.: “Dis ‘n boggerasie die meneer, maar gelukkig is die boggertjies gevang. Ek sien die are op sy hande wat prominent uitswel terwyl hy die skroef nog ‘n laaste verbete draai gee. So ook ‘n borswering teen geweld en vernieting bou. Op sy stil ,beskeie manier is hy ‘n Gewer.

Uiteindelik is die grootste inspirasie die Hand van Hom wat ons kunstig gevorm het en ons verseker: Niemand sal julle uit my hand ruk nie (Joh 10:28)

Met so bewussyn, van die hand van die Almagtige wat ons lewe rig, kan ons ook ons hande uitsteek en begin bou.

Nehemia het dit gedoen toe die mure van Jerusalem platgelê het. Hy het die leiers aangespoor om hulle hande uit te steek en te begin met herstelwerk.

So begin sy verslag aan die leiers:

 En ek vertel hulle van die hand van my God wat goed was oor my.. (Neh 2:18)

Uiteindelik is elkeen van ons se lewe (en hande) bewys van die Skepperhand wat ons lewe rig, of deur ons weggestoot word.

Drome

Saturday, October 23rd, 2010


Drome kan goeie vriende wees aldus Vicky Leandros se “Dreams are good friends”, maar soms kan drome vae skimme bly wat jou werklikheid moet versag maar nooit self werklikheid word nie.

 Onlangs vra ‘n kollega tydens ‘n diens -wat sou jy sê is die kosbaarste plek in ons stad? Verskillende mense antwoord verskillend hierop, maar dan verras hy deur te sê: Dis die begraafplaas, want dink net daaraan hoeveel kosbare drome lê nie hier begrawe nie.

Dis nogal ‘n skokkende besef – soveel mense leef met drome maar die drome bly onvervuld – dus maar net ‘n droom, ‘n hersenskim.

Die HAT omskryf drome as: Voorstellings wat op wense en verbeelding berus; lugkastele.

Daar is sekere liedjies wat ‘n hartseer verhaal vertel : So onthou ek ‘n 78 plaat wat ek as kind hier in die laat vyftigerjare geluister het – die plaat is eintlik gekoop vir die hartseer liedjie op die A-kant, maar ons as kinders het gedink die liedjie op die keersy was die treffer, want ons wou dit oor en oor luister. Ons het dit sommer ons “potte-en-panne” liedjie genoem want ons het soms potte en panne ingespan om die orkes te begelei! Maar as ons veronderstel was om buite te speel het my ma die plaat omgedraai en aandagtig geluister na die eintlike rede waarom hulle die plaat gekoop het – ‘n liedjie getiteld: “The ship that never sailed” Dit het die hartseer verhaal vertel van ‘n man wie se liefde vir sy beminde vir hom was soos ‘n boot wat hy liefdevol gebou het, maar voor die skip te water gelaat is het sy hom verlaat en die droomskip het nooit geseil nie.

I built a dreamboat to sail the sea
With you by my side when it sailed
Your eyes were the lights
That would guide my way
A love light that never failed

Your arms I fashioned in sails of white
Your kisses to keep breezes warm
And then I pictured your heart of gold
As an anchor in storm

(Sail away, sail away
Don’t wait until the dawn
Sail away, sail away)

It’s too late, too late
And you are gone
Now here on the shore
As I stand alone and watch
The moon that has paled

I’m left with nothing to call my own
But the ship that never sailed
(The ship that never sailed)

David Carroll And His Orchestra

Tydens verlede jaar se uitdunne van Brittain’s Got Talent, stap deelnemer no 1432 op die verhoog: ‘n sewe-en-veertigjarige muisvaal huisvroutjie met haar onversorgde grys hare, outydse kerkrok, donker sykouse en wit hoëhakskoene en ontlok ‘n gelag onder die toeskouers en selfs ‘n meerderwaardige: wat-soek-sy-op-die-verhoog kyk van die siniese beoordelaars. Sy is Susan Boyle en op ‘n vraag van die beoordelaars – wat is jou droom, antwoord sy pront: To sing like Elaine Paige. Dit ontlok ‘n meewarige gegiggel van die gehoorlede en opgetrekte wenkbroue van die beoordelaarspaneel.

Die oomblik toe die musiek begin speel en sy die eerste note van “I Dreamed a dream” (uit Les Misrables) sing, verskyn ‘n uitdrukking van ongeloof en verbasing op die gehoor en beoordelaars se gesigte. Sy sing dit so mooi en met gevoel, dat dit klink of die liedjie vir haar geskryf is. Uiteindelik verwerf sy die tweede plek in die landswye kompetisie en begin haar internasionale sangloopbaan op die vooraand van haar vyftigste verjaarsdag. Die lied wat sy gesing het is heel gepas:

I dreamed a dream in time gone by
When hope was high and life worth living
I dreamed that love would never die
I dreamed that God would be forgiving

Then I was young and unafraid
And dreams were made and used and wasted
There was no ransom to be paid
No song unsung, no wine untasted

Uiteindelik vertel die liedjie ook van die hartseer van ‘n droom wat gesterf het:

But the tigers come at night
With their voices soft as thunder
As they turn your hope apart
As they turn your dreams to shame

And still I dream he’d come to me
That we would live the years together
But there are dreams that cannot be
And there are storms we cannot weather

I had a dream my life would be
So different from the hell I’m living
So different now from what it seemed
Now life has killed the dream I dreamed

Dit bly seker een van die grootste tragedies in die lewe. Nie dat mense sterf nie, maar dat hulle drome sterf. En so ook hulle gees.
In die treffende liedjie van Cat Stevens, Father and Son, gee ‘n pa raad aan sy seun oor die lewe en drome:

It’s now time to make a change,
Just relax, take it easy.
You’re still young, that’s your fault,
There’s so much you have to know.
Find a girl, settle down,
If you want you can marry.
Look at me, I am old, but I’m happy.

I was once like you are now, and I know that it’s not easy,
To be calm when you’ve found something going on.
But take your time, think a lot,
Why, think of everything you’ve got.
For you will still be here tomorrow, but your dreams may not.

Dit bly die hartseer waarheid. Jy mag dalk bly leef, maar jou drome kan tot niet gaan.

Toe ek veertien jaar oud was het ek ‘n wenslysie met veertig items opgestel. In die lysie  was my drome vir die toekoms saamgevat. Van die drome het (en sal) ek nooit behaal nie, bv. om die 800m in onder 2min te hardloop. Tog was daar baie drome wat ek gedink het net drome sou bly, wat tog bewaarheid is, bv. om oorsee te reis, veral op ‘n sneeupiek in Switserland te staan. Dit kon ek genadiglik doen. Ook drome soos: Om die Bybel van voor tot agter deur te lees het ek nog as veertienjarige verwesentlik. Sommige drome het my egter bly ontwyk: Om ‘n kortverhaal te skryf en te publiseer, om ‘n nuwe taal aan te leer,’n kruik van klei te maak en self te versier, foto’s te neem in in ‘n galery uit te stal, om my eie huis te besit en die groot droom: om eendag gelukkig getroud te wees.

Die drome het ek gedink sou net drome bly. Ses jaar gelede ontdek die wenslysie wat ek in 1968 opgestel het. En steeds kon ek baie wense nie met ‘n regmerkie afmerk nie. Ja ek was vyftig jaar oud en in ‘n beroep waar ek ‘n verskil in mense se lewens kon maak. Ek het al heelwat gereis en interessante plekke gesien. Tog was daar sekere belangrike mylpale wat ek nie bereik het nie. Ek was steeds ongetroud, ongepubliseer en het ‘n behoefte gehad aan ‘n kreatiwiteit. En boonop was ek siek, reeds ‘n jaar met kanker gedagnoseer. My wenslysie sou nou my “bucket list” moes word!

Vroeër vanjaar kyk ek weer na my lysie. Besef ineens dat soveel van die ongemerkte items nou ‘n merkie het. Ja, ek kan nog steeds nie die 800m in onder 2 minute hardloop nie. (Dalk loop in 20min!) en ek kan steeds nie Frans praat nie. Tog is ek op soveel ander maniere geseën. Ek het vir my reisgenoot ‘n kleikruik gemaak met ‘n Hebreeuse teks daarop. Met die opening van die galery op Philippolis kon ek van my foto’s uitstal. Ek kon ook artikels en kortverhale skryf. Gaan Backpack vir ‘n maand in Europa, tweekeer ‘n toer na Turkye meemaak. Op Paulus se voetspore loop. Op ‘n Griekse eiland in winkeltjies snuffel, Veral is ek dankbaar vir die helder herfsdag in Clarens toe ek en my Reisgenoot lewensmaats geword het. Die groot regmerkie kon ek afmerk.

Einde September vanjaar kuier my Reisgenoot en ek vir ‘n week in ons Hartjiehortjie Huisie op Philippolis. Terwyl ek daar by die greinhout tafel sit en Pekanneute uitdop wat ek sopas van ons eie boom in ons eie tuin gepluk het, besef ek net hoe geseënd ons is. En hoeveel merkies op my lysie die afgelope ses jaar bygekom het. Ervaar ek “welgeluksaligheid”. En voltooiingsvreugde. Besef ek net weer die waarheid van Psalm 1 vs 1-3 (OV)wat ek ook as veertienjarige ontdek het:

Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose nie…maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit. 

Drome (wense) kan waar word. Die Droomgewer sorg daarvoor.

Vreugde!

Monday, October 18th, 2010

Ons is by Oktober se halfpadmerk – volgens C Louis Leipoldt die mooiste mooiste maand soos hy dit besing in sy gedig “Oktobermaand”
Dit is die maand Oktober,
                       die mooiste, mooiste maand:
Dan is die dag so helder,
                       so groen is elke aand,
So blou en sonder wolke
                       die hemel heerlik bo,
So blomtuin-vol van kleure
                       die asvaal ou Karoo.

Dit is ‘n tyd van die jaar dat mens sou verwag om meer vreugde op mense se gesigte waar te neem – ‘n strawwe winter is immers pas agter die rug en die natuur verras met nuwe kleure en geure. Tog is dit soms die tyd dat mens juis bewus word van jou eie gebrek aan vreugde en lewensblydskap. Daarom het hierdie groot plakkaat wat in Menlyn winkelsentrum opgeplak was my so getref: “Joy!”

In ‘n Peanuts-strokiesprent  vra Lucy: “ Waarom dink jy is jy op aarde geplaas, Charlie Brown?”

Charlie  antwoord: “Om ander gelukkig te maak.”

Daarop sê Lucy: “Ek dink nie ek maak iemand gelukkig nie… Natuurlik maak niemand my ook besonder gelukkig nie…”

En dan, in die laaste prentjie, skreeu Lucy kliphard: “Iemand doen nie sy werk nie!!”

Dikwels doen ons die Lucy-ding: ons soek die skuld vir dit wat ons ongelukkig maak in omstandighede en ander mense maar nie in onsself nie. Dis een van die grootste lewenslesse wat mens op die oop-oog reis leer: Om nie jou vreugde afhanklik te maak van ander en van wisselende omstandighede nie, maar om ‘n diep innerlike bron van vreugde te hê wat onlosmaaklik gekoppel is aan die Bron. (Fil 4:4 Verbly jou in die Here, ek herhaal, verbly jou!”)

Die afgelope week was ons oogetuies via CNN en die nuus van die dramatiese redding van die die drie-en-dertig vasgekeerde myners in die San Jose-myn  in Chili.

Wat mens opgeval het was die suiwer vreugde op die gesigte van die gereddenes, die familie, die reddingspan, selfs die Eerste Minister. Daar was nie vrae, verwyte en beskuldigings nie. net egte onvervalste vreugde!

Dit was asof die nege-en-sestig dae in hulle afsonderingskelder hulle weer duideliker laat sien het wat werklik belangrik is – die mense wat jou lewe verryk en jou as mens versterk: vrou, kinders, ouers, broers, susters, ander familie en vriende. Voor die werklikheid van die Groot Skeiding raak soveel dinge onbelangrik en word die belangrike dinge wat soms vergeet word, weer in hul regmatige posisie herstel. Word God se Teenwoordigheid en beskikking weer onmisbaar.

In daardie eerste omhelsing nadat die mynwerker uit die Feniks 2 kapsule geklim het lê al die blydskap, verlange en versugtinge van sewe weke opgesluit.

Dalk is dit juis goed dat ons soms afstand inneem – bietjie van buite kyk na dit wat ons so vanselfsprekend aanvaar – geliefdes, gesondheid en die gawe van die lewe. Want as daar die gevaar bestaan dat dit van jou weggeneem kan word, juis dan besef jy hoe kosbaar dit is.

Dit sal interessant wees om te hoor wat die bevryde mynwerkers vorentoe sê oor die keerpunt in hulle lewens, maar ‘n mens kan nie maar net met jou lewe aangaan asof niks gebeur het nie, na so ingrypende gebeurtenis nie. Ons een Professor op Universiteit het ons altyd herinner: “Menere ‘n mens is nie ‘n stuk polonie nie! Jy het die vermoë om te leer uit wat met jou gebeur en ‘n beter mens te word.”

As  kind het ek soms saam met my ma geluister geluister na  een van haar gunstelingliedjies: “The Bluebird of Happiness” gesing deur Jan Peerce. Die liedjie het altyd ‘n heimwee by haar ontketen en het ‘n diep indruk op my nagelaat:

  Bluebird of happiness


The beggar man and his mighty king are only
diff’rent in name,
For they are treated just the same by fate.
Today a smile and tomorrow tears,
We’re never sure what’s in store,
So learn your lesson before too late, so

 Be like I, hold your head up high,
Till you find a bluebird of happiness.
You will find greater peace of mind
Knowing there’s a bluebird of happiness.
And when he sings to you,
Though you’re deep in blue,
You will see a ray of light creep through,
And so remember this, life is no abyss,
Somewhere there’s a bluebird of happiness.

Die soektog na geluk en blydskap word ook mooi uitgebeeld in die film “The Pursuit of Happyness” (2006). Die film is gebaseer is op die ware verhaal van Chris Gardner.  In die film word die rol  van Chris vertolk deur Will Smith. Hy gebruik die gesin se spaargeld om te belê in masjiene wat gebruik word in beenskandering. Hy verloor die spaargeld want hy kry nie die masjiene verkoop nie. In die proses verlaat sy  vrou hom en moet hy die versorging van Christopher,sy kleuterseun, waarneem.  Hy verloor ook hulle blyplek en hulle is aangewese op plekke wat oornagverblyf aan straatmense verskaf. Een aand is hy en sy seun se enigste keuse om in ‘n stasietoilet te oornag. Hy maak die verblyf draaglik deur aan sy seun ‘n verhaal te vertel. So leer hulle om in die klein dingetjies vreugde te vind. Selfs die verkeerde spelling, Happyness op ‘n winkelvenster (i,p.v Happiness)gee aanleiding tot ‘n belangrike gesprek tussen pa en seun en ontleen aan die fliek sy titel. Uiteindelik kry die pa wel ‘n werk by makelaars en kan hy weer sorg vir hom en sy seun, maar nou het hulle die werklike waarde waarde van  dinge geleer raaksien. Dis uiteindelik nie geld wat geluk koop nie, maar kosbare verhoudings wat geluk moontlik maak.

Dit sou die drie-en-dertig mynwerkers heelhartig beaam. Die ontwykende “bluebird of happiness” is veel nader aan ons as wat ons besef.