Archive for the 'Uncategorized' Category

‘n Kainos Kerk

Friday, August 6th, 2010

 

Kainos. Nuut. Nuwe begin. Nuwe lewe.

Buite in die natuur vind daar oral ontwaking plaas na die lang winterslaap. Die Kiepersol (Cussonia Spicata) wat so geskok is deur die swart ryp wat die Vrystaat tweekeer die winter getref het, stoot sy nuwe handjie-blare gretig uit. Byna soos klein bidhandjies wat vra vir ‘n nuwe begin.

Kainos nuutheid. Dis wat ek begeer na my lang hibernering die winter. Dikwels moet iemand hierdie nuutheid in ons wakkermaak.

Die liedjie van die King’s Singers druk hierdie gevoel mooi uit:

New Day

 I will love you more than me
and more than yesterday
If you can but prove to me
you are the new day

Send the sun in time for dawn
Let the birds all hail the morning
Love of life will urge me say
you are the new day

One more day when time is running out
for everyone
Like a breath I knew would come I reach for
the new day

Hope is my philosophy
Just needs days in which to be
Love of life means hope for me
borne on a new day

You are the new day

In die lente van 2005 reis ek na Philippolis om my eie retraite te hou.  Op soek na ‘n sleutel wat  die nuwe sal innooi en die stagnasie van die oue sal verdryf. Ek is reg vir ‘n totale nuwe fase in my lewe, maar tog huiwerig om die oue (en oorbekende) alleenwees agter te laat. Daarom ‘n paar dae in die Artist’s Retreat op Philippolis om te dink, te doen en te besluit.

Ek kom Sondagaand 18 September daar aan, pak af en verlustig my in die mooi dubbelverdieping Karoo-huis. Die loom Sondagstilte hang oor die dorpie. Deur die venster sien ek ‘n geraamde prentjie van die historiese kerkgebou. Net die uurlikse lui van die kerkklok onderbreek die stilte. Ek luister karoomusiek. Later is slegs die stilte  salwende musiek vir my siel.  Ek stap na buite en gaan sit in die Labirint om die oneindige sterrehemel te bewonder. Die nagstilte word net soms deur veraf geluide onderbreek. Vanwaar ek in die Labirint sit, sien ek die verligte kruis op die koppie. ‘n Diep vrede sak op my toe.

Die ritueel herhaal ek elke aand. Dit word ‘n geestelike reis. Ook ‘n duidelike padwyser na die nuwe hoofstuk in my lewe. Ek is reg om ‘n lewensverbintenis aan te gaan.

Die Dinsdagoggend haal ek die verf en skoon doeke uit wat ek saamgebring het. Dis tyd om my hand aan die kwas te waag. My onmiddelike inspirasie is die kerk wat ek so duidelik deur die lang vertikale venster kan sien. Ek begin by die ligbron. Plak ‘n ronde maan van koperfoelie op die doek en begin om die kosmiese woelinge in die naghemel te verf. Toe volg die kerk wat soos ‘n skip verrys uit hierdie  onstuimige hemel en spiralende aarde. Die spits van die kenmerkende Philippolis-toring reik na bo en word ‘n rustige baken in die ontstuimige heelal. Voor die kerk kring die gange van labirint. Maar dit vorm ook ‘n menslike brein, met ‘n oog en oor om die illusie van ‘n kop te skep. In die hart van die brein is ‘n goue sleutel. Die ontsluiting van die Kainos. Dit wat ek hier op Philippolis gevind het tydens my retraite. Dan, juis om hierdie nuutheid te bevestig, verf ek die horlosiewysers van die kerkklok dat dit op drie-en-twintig minute oor nege staan. ‘n Belangrike datum (23/9) wat Vrydag voorlê!

Onderaan die skildery verf ek die woord Kainos en die datum waarop dit geskilder is 20 Sept 2005.

Woensdag vertrek ek terug huis toe, maar eers nadat ek op Bloemfontein stilgehou en ‘n belangrike aankoop gemaak het.

Vrydagmiddag ry ek en my reisgenoot weer na Philippolis – die keer om te kyk na ‘n besondere historiese huisie wat in die mark is, maar ook vir ‘n ander rede waarvan sy nog nie weet nie.

Op die mooie gasteplaas, Bokpost, raak ons die Vrydagaand (23/9) verloof – op die selfde datum waarop my ouers vyf-en-vyftig jaar vroeër getroud is. Die volgende dag besluit ons ook om wel ‘n aanbod op die huisie te maak en die aanbod word kort daarna aanvaar.

Op ‘n helder herfsdag op Clarens in die Oos- Vrystaat word ons lewensverbintenis aan mekaar voltrek in ‘n sandsteenkerke voor familie en vriende as getuies. Dit is Goeie Vrydag en vir ons voorwaar Goeie Vrydag in die volste sin van die woord. Op ons huweliksuitnodiging pryk die prent van die Kainos kerk wat op Philippolis geskilder is.

Saam met vriende en familie vier ons die dag en die vreugde van ‘n nuwe begin. Sê ons ook dankie vir Hom wat sy belofte waarmaak:

“Kyk, Ek maak alles nuut.”

Hope is my philosophy
Just needs days in which to be
Love of life means hope for me
borne on a new day

You are the new day!

Om te fiets

Tuesday, August 3rd, 2010

Katie Meluha se mooi liedjie:”Nine Million Bicycles”  vertel van die fietsoorvloed in Bejing:
“Nine Million Bicycles”

There are nine million bicycles in Beijing
That’s a fact,
It’s a thing we can’t deny
Like the fact that I will love you till I die.

Ek sou ook aan my fiets wou sê (soos sy aan haar geliefde)  “I will love you till I die.” Want ‘n fiets is meer as net ‘n stuk metaal met rubberwiele – dit word ‘n vriend, vertroueling, ‘n bondgenoot.

Die oorhoofse tema van die blog-inskrywings is “om oop-oog te reis.”  My getrouste reismiddel as kind was my fiets. Dit was my poort na vryheid – die groot lekkerte om nie meer so afhanklik te wees van pa en ma om my by plekke te besorg nie – om skool toe, sport toe, maats toe te ry op my vetroude fiets, was ‘n reuse sprong.

Op my tiende verjaarsdag kry ek na ‘n lang wag my heel eerste eie fiets – ‘n splinternuwe droomfiets –  ‘n no 26 swart Ralleigh sport. Ek is opgewonde saam met my pa om hom te gaan uitsoek by Schiffrens in Klerksdorp se hoofstraat.  Ek bewe van opwinding toe ek hom uitkies en pa betaal.My eie wiele. Dis my verjaarsdag geskenk maar ek kry reeds so voorsmakie deur op hom vir ‘n kort entjie te mag ry. Die volgende middag kom kuier een van my maats, Deon Viljoen vir my op sy BSA Sport. Ek kan nie wag om later saam met hom terug te ry na sy huis toe nie. Ek wil so  graag my Ralleigh toets en sommer vir Deon wys dat die Raleigh die BSA se baas is.

Toe ons met een van die kleiner strate afdraai, is ek so kortkop voor, maar hou nie rekening met die feit dat dit ‘n grondstraatjie is nie. Eensklaps is daar so wal sand in die pad.Die fiets se voorwiel begin manhaftig in die sand inploeg en gee toe die stryd gewonne. Die wiel draai  summier dwars en ek trek loshande oor die handvatsels en maak hard met die  grond kennis. My ego en my lyf is gekneus, maar ek is meer bekommerd oor my splinternuwe fiets waarvan die handvatsels nou dwarsgedraai is en die wit modderskerm gebuig is. My splinternuwe fiets is ineens nie meer so nuut nie. Ek knyp die voorwiel tussen my bene vas en draai  die handvatsels weer reg. Sover moontlik probeer ek  om die modderskerm weer reg te buig. Ek draai bekaf terug  en ry hinkepink terug huis toe. So leer ek ook die nerf-af deel van fietsry ken.

‘n Lang verhouding met my Ralleigh het begin. Herman Van Veen vang iets van hierdie saamgroei-verhouding tussen ‘n persoon (hier ‘n meisie) en sy of haar fiets so mooi vas in sy liedjie “Fiets”

Fiets

Hé kleine meid op je kinderfiets,
De zon draait steeds met je mee
Hé kleine meid op je kinderfiets,
De zomer glijdt langs je heen
Met je haar in de wind en de zon op je wangen,
Rijd je me zomaar voorbij, fiets

Hé lieve meid op je kleine fiets,
Als een witte stip in het groen
Slingert je blinkende kinderfiets,
Zich dwars door het zomerseizoen
En je rijdt maar door en je fiets wordt steeds kleiner,
Plotseling ben je weer weg, fiets

Toe ons Vrystaat toe trek in my standerd vyf-jaar het die rol wat my fiets in my lewe gespeel het, nog belangriker geword. Dit was my ryperd en  later (in standerd nege) ook my vryperd.

As standersessie ry ek  elke dag skool toe met my fiets, maar die lekkerste bly die terugry huistoe smiddags. Dan is dit grootliks afdraand en ek kies ‘n kortpad deur die veld want daar is sulke lekker springhobbeltjies wat ‘n toets is vir my ryvernuf.  My fiets word nou in my gedagtes ‘n vurige blinkswart perd wat galop. My (yster)perd kry ook ‘n naam wat pas by die talle ou Kaapse swaardvegterverhale wat ek in die tyd lees: ” Monsieur!” Saam durf ek en Monsieur baie uitdagings aan. Die handvatsels word ook aangepas om die “drop handles look” te kry met heldergeel handvatselgrepe weerskante. Ek is in my noppies!

Op ‘n yskoue winteroggend ry ek en my suster saam skool toe.  Ons ry langs mekaar. Ek op my Ralleigh en sy op haar groen BSA. Ek druk my hande in my sakke as pantser teen die koue. Die volgende oomblik draai my voorwiel skuins en ek ry in haar vas. My hande sit vas in my sakke en ek kan nie keer nie. Ons albei val op die yskoue teerpad. Dit word ‘n laaang, doodstil rit skool toe!

Na drie jaar verhuis ons  terug Transvaal toe en Monsieur bly my troue bondgenoot. Nou word dit die belangrike voertuig om my Sondagmiddae by my kuierplek te kry. Dis ‘n rit van ongeveer vyf kilometer en opdraand tot daar, maar my hart sing saam met die speke. Oppad terug (gelukkig dan afdraand!) sing ek die liedjies wat ons saamgeluister het kliphard terwyl ek ry.

Dit word tyd vir universiteit. My getroue fiets gaan saam PUK toe. Daar ry ek en kamermaat Etienne met ons fietse padkafee toe om ‘n Hamburger en melkskommel te koop. Heerlik! My fiets word ook ingespan vir die ver klasse wat ek moet draf.

Helaas, toe dit tyd word om Maties toe te gaan, word fiets tuis gelaat, want nou het ek mos ‘n getroue Volksie wat my bring waar ek wil wees.

Soms ry ek nog bietjie fiets gedurende vakansietye by die huis, maar hy staan meestal in die pakkamer, totdat die tuinjong op ‘n dag met smekende oë ‘n skamele bedrag aanbied vir die ryding. Ek verkoop Monsieur en voel asof ek iets kosbaars verloor het.

Jare later koop weer vir my ‘n fiets toe ek in Welkom bly en ry soms daarmee, maar besef  spoedig dat ek dit nie genoeg gebruik nie en skenk dit vir ‘n sendeling.

Tydens ons wittebroodsreis stop ek en my reisgenoot die dag op die plekkie genaamd Tonteldoos by die fiets op die foto. Dit laat ons nostalgies verlang na ons fietse. Ek wonder weer waar my getroue fiets is en hoe dit deesdae lyk?

Plotseling ben je weer weg, fiets…

Die Pienk Impala

Tuesday, July 27th, 2010

 Die dag toe my Oom Piet met sy gevleuelde ‘58 Plymouth Savoy by ons erf in Stilfontein inry, het alles begin. As  vyfjarige knaap het ek die motor onbeskaamd bekyk, bewonder, bestreel. Veral die twee prominente roomkleur vlerke wat uit die motor verrys het. Haaivinne, het die mense dit spottenderwys genoem. Vir my was dit soos die stertvin van ‘n lieflike dolfyn wat sagweg deur die water klief.

 Oom Piet het ons vir ‘n rit geneem. Die motor het sag gewieg en op die luukse sitplek het ek gewens vir ‘n motor met vlerke. Behoorlike vlerke wat onbeskaamd hulle vlerkwees wys. Anders as Oom Piet het ons maar beskeie rygoed tot op daardie stadium gehad – ‘n Tweedehandse groen 1934 seildak Morissie was Pa en Ma se eerste motor. Volgens hulle vertelling het hulle  fietse as deposito gedien vir die motortjie. Daarna was dit ‘n swart Vauxhall Velox(die eerste motor wat ek as kind geken het), Net een keer het Pa afgewyk van die veilige kleure toe hy in 1959 die twotone vuilpienk Vauxhall Victor met die roomkleur dak gekoop het. Nadat die motor oorverhit het tydens ons epiese langverlof Kaap toe, het Pa maar weer die veilige roete gevolg en die betroubare  liggroen Volksie gekoop.En by versigtige (vervelige?) vinlose motors gebly.

 Die verlange na ‘n vlerkmotor het egter gebly.

 As sesjarige graadtwee’tjie neem ek deel aan die atletiekbyeenkoms van die Laerskool, Saamtrek, Klerksdorp. Die vorige jaar het ek omkyk-omkyk gehardloop en kort voor die wenpaal gestruikel. Vanjaar, besluit ek om soos die Dominee so mooi in  die kerk gepreek het, die oog op die wenpaal te hou. Dit werk sowaar en ek wen die sestig treë vir seuns onder sewe. In ‘n rekordtyd. Pa is so opgewonde dat die bruin Kodak “movie”kamera heen en weer swaai. Toe ons weke later die  8mm ontwikkelde filmpie van die wedloop  kry, sien ons skaars die einde – ‘n klompie atlete bewe op die skerm.Die oomblik toe  ek die wenlint breek, onthou Pa darem  sy rol as kameraman en vang die wenmoment vas.

 Opgewonde oor die oorwinning, neem Pa my kort na die wedloop dorp toe. By Czanks, die gesogte  Fotografie- en stokperdjiewinkel in die hoofstraat onthul hy die doel van ons besoek. Ek kan twee modelmotortjies uitsoek as beloning vir die  prestasie.

 Ek voel skoon oorweldig. Die luukse van ‘n keuse te hê uit al die splinternuwe karretjies in die vertoonkas! Ek maak net weer seker – ja dis definitief  nie twee klein Matchbox modelle wat ek kan kies nie, maar ‘n behoorlike speelmotor – ‘n  Dinky of ‘n Corgi.

 Ek maak ten volle gebruik van  die gewigtige oomblik. My blik dwaal oor die rye en rye motortjies in die glaskas. Een van die motors wat bo-op sy boksie staan, vang my oog, vanweë sy uitsonderlike kleur én vanweë sy vlerke – ‘n helderpienk Chevrolet Impala met twee vlerke wat uitdy na die kante. Vir ‘n oomblik dink ek dat die motor dieselfde kleur is as Ma se wyerandhoed wat sy met kleinsus se doop gedra het. Shocking pink  was die beskrywing van Ma se hoed en handskoene wat sy saam met die pikswart nousluitende knielengte rok gedra het. Vir my was die skokmooi pienk hoed egter so kleurvol soos die laatmiddagwolke as die son kleinkoppie oor die Wes-Transvaalse rantjies trek.

 Maar nou, die Impala. Ek vra om hom van nader te beskou. Hy voel so tuis in my hand. Ek draai hom bewonderend in die rondte. Binnekant is  heldergeel bekleedsel  en ‘n grys stuurwiel aan die linkerkant. Maar die beste van alles is die stertkant. Die twee vinne wat so statig uitrys na die kante toe, nes Ma se beskuit wat die toemaakdoek laat lig na ‘n deeglik kniesessie. Onder die vlerke pryk twee lang rooi ligte, soos twee traandruppels. My keuse is gemaak. Die tweede motortjie word amper terloops gekies – ‘n blou Corsair met ‘n kattebak wat kan oopmaak. Ek kyk met dankbare oë na Pa. ‘n Groot geskenk voorwaar.

 Laatmiddag speel ek met die motortjies. Die Impala kry voorkeur.Net hy mag op die rooi teels van die flowerbox ry. Asof dit die presidensiële motor in ‘n konvooi is. My bewondering vir die motortjie styg met rasse skrede met die ontdekking dat as ek liggies op die linkerkant van die motor se dak druk, dit na links draai, druk ek regs, dan beweeg die saggeveerde motortjie na regs. In my gedagtes ry ek weer voor in Oom Piet se Plymouth Savoy. Maar nou is dit my eie vlerkmotor.

 Smiddae na skool kan ek nie wag om met my pienk Impala onder die vrugtebome te ry nie. Die paadjies is sorgvuldig geskraap met ‘n tamatiekisplankie. As dit koud of reënerig is, dien die sitkamermat met sy blokke en ingeweefde paadjies as die perfekte landskap vir my spogmotor.

 Vyf jaar later verhuis ons na Virginia in die Vrystaat. My speelgoedmotortjies word sorgvuldig in hul bruin tas weggepak. By ons nuwe huis bly hulle ingepak want as tiener is daar daar nuwe belangstellings.

 Toe ons drie jaar later terugtrek Klerksdorp toe, raak die tas met motortjies onverklaarbaar weg.Teen die tyd is ek in standerd agt en word die verlies nie so intens ervaar nie nie – die lewe is mos ‘n avontuur vol nuwe uitdagings. Ek is mos nou groot.

 Jare later bevind ek my weer in die Vrystaat. Iets van die kleintyd hunkering noop my om modelmotortjies te begin versamel. Ek koop mooi motortjies wat my vertoonkas volstaan en ver laat terugdink, maar nie een voel regtig “eie”  nie. Ek mis my vlerkmotor – my pienk Impala.

 Jare gaan verby – dis byna vyftig jaar na die opstel van die rekord en Pa en Ma het lankal verhuis na hul hemelse woning…

 “ Kom jy kyk? Ek bring my ’48 Dodge wat ek klaar gerestoureer het na die Motorskou in die Goudveld?” oom Piet se stem klink baie opgewonde toe hy my vroegoggend bel.

  Op ‘n helder Augustus oggend stap ek die skouterrein binne. ‘n Nostalgiese sestiger liedjie weerklink oor die terrein – Herman’s Hermits se “My sentimental friend”. Kort daarna ook Peter Sarstedt se “Where do you go to my Lovely?” Dit plaas my in die regte stemming.

 Vandag gaan spesiaal wees.

  Ek stap deur die eerste paar rye pragtig gerestoureerde motors opsoek na Oom Piet en sy Dodge. Loop ook verby ‘n stalletjie met tweedehandse modelmotortjies. Ek moet net gaan kyk. Toe ek binnestap, val die jare weg. Ek is weer die sesjarige voor die vertoonkas. Ja, sowaar, daar staan hy – gereed om opgetel te word – die pienk Impala

 Ek kan die koop nie gou genoeg beklink nie. Ek vind Oom Piet by sy pragtige donkergroen Dodge. En haal trots my eie vlerkmotor uit. Dit voel asof ek vandag ‘n rekord gebreek het. Vir geduldig wag.

Woestyn-ontdekkingstog

Saturday, July 24th, 2010

Soms wens mens jy kon op die eerste skeppingsdag langs die Skepper staan  en iets van die wordingsproses beleef. Tog lyk dit vir my asof die Vader iets van die wonder van die skepping en die lewensgeheim op die onwaarskynlikste plek weggebere het. In die Woestyn

Op een-en-vyftig  maak ek vir die eerste keer eerstehands kennis met die woestyn.

Die wesentlike woestyn. Die wonderlike woestyn.

En skielik resoneer al die woestynbeelde uit my kindertyd in my kop:

Hagar met die huilende Ismael-kind uitgelewer in die woestyn. Moses se braambos-ontmoeting in die woestyn. Die volk se veertigjarige woestyntrek. Elia onder die besembos uitgelewer aan die woestyn. Jesus se veertig dae van versoeking in die woestyn.

Terwyl ons deur die skynbare niks van die Gipsvlakte in die Namib reis, weet ek dat die woestyn gereis , geleef, deurgaan moet word.

In hierdie gestroopte landskap vind ek ‘n klankbord vir versugtinge, ‘n palet vir inbrandprentjies, ‘n wydsheid wat nooi en ‘n oerhart wat lewe klop. Soveel so dat ek op die sandgrond wil gaan lê en die ritme deur my voel.

Eintlik vorm duin sewe buite Walvisbaai die poort na my woestynervaring. Na baie skilderprentjies in Swakop ry ons na Walvisbaai en ontmoet die woestynlandskap oppad soontoe: die wisselspel van die onvaspenbare duine. Uiteindelik die berugte duin sewe. Dit word ‘n pelgrimstog teen die duin op, ‘n bedevaartstog, ‘n vasbytervaring: Dit begin stap-stap, verander in hande-viervoet en word later ‘n Survivor reis. Vyftien vorentoe, later tien, selfs vyf, maar later wisselende  kruipslae na die ontwykende kruin. Die duin word metafoor vir al die ontwykende drome en die onvermybare struikelblokke. En die bereiking van die kruin ‘n ononderhandelbare mòèt. Die einde is in sig van my eie Everest en Uhuru-piek. ‘n Bereikpunt met ‘n vergesig as verrassing. Die afkyk na die oase-palms, die verderkyk na die glooiings van die woestyn, Die seekyk na Walvis se kant. Die opkyk na die hemele wat nader voel. Dis tyd vir ‘n vlerkfoto!

Die uitbundigheid van die duinafhardloop vergoed vir die kruipslag oppad na die kruin.

Die woestyn is ‘n lewensplek!

Dit weet ek terwyl ons deur die maanlandskap van die gipsvlakte reis, die ligeen sien reageer op water, die wegskarrel toktokkie sien, die lewende klippe voel pols, die sandlandskap sien in sy verskillende monderings.

Die woestyn  is ten diepste skeppingsplek en herskeppingsplek:

Eers die landskap van die niks

Dan die ontdekking van lewe – ligeen wat reageer op ‘n druppel

Dan die oerlandskap waar die welwitschia oorleef

Dan die klippe in die klipwoestyn wat uitroep: Kyk na ons uniekheid

Die graspolle

‘n Boom

Wild wat skugter verskyn

Dan!  Die oorvloed.

In die woestyn leer mens anders kyk. Verby die skynbare niks. Tot jy met X-straal oë die lewenskrag en energie van die woestyn sien. Sy primitiewe wil tot leef. En dit jou aanpraat.

 In die woestyn leer jy anders hòòr. Hoor jy die klank van suiwerende stilte. Jy dink aan Leonard Cohen se gedig:

You tell me that silence
is nearer to peace than poems
but if for my gift
I brought you silence
(for I know silence)
you would say
“This is not silence
this is another poem”
and you would hand it back to me.

Juis vanweë die stilte hoor jy dit wat andersinds uitgedoof word.

Hoor jy die roepstem van die tyd.

Hoor jy die lewenshartklop.

En jou eie.

Die woestyn is die regte omgewing vir verwondering.

In die woestyn kan ek anders voel . Want die woestyn brand braambos in my bors. (vgl Rosa Smit se gedig – Braambos)

 In  die woestyn soek jy die nuwe woorde vir ‘n ou waarheid. Soek jy dit wat jou nog altyd ontwyk het en dalk in jou  binneste versteek was.

Die woestyn stuur jou op ‘n soekgeselskap na die dinge wat soos ‘n hersenskim jou ontwyk. Hiervan vertel Koos Kombuis  se liedjie: Atlantis in jou lyf

Op ’n reis deur die woestyn
verdwyn ons trane in die sand
Op ’n gravelpad na die see
soek ek die unicorn se strand.

Ek grawe kaalhand in die grond
op soek na woorde en witblits
Maar Vader Tyd se uurglas sak
soos ’n deurkosyn in Lüderitz.

En verder:

Ek weet jy is hier iewers
in die klei van Afrikaans
Maar ek ken nog nie jou naam nie
jy sing waar die flaminke dans

jy’s die vloek wat my laat skryf
die Saharas in jou oë
en Atlantis in jou lyf.

Kyk jy terugskouend na jou woestynfoto’s , begin jy tog geleidelik musiek hoor. Jy vermoed die meesleurende klanke van Mike Batt se klankbaanmusiek vir Caravans. Dan selfs duideliker klink die woorde van Barbara Dickson se Caravan Song:

Caravans
Oh, my soul is on the run
Overland
I am flying
Caravans
Moving out into the sun
Oh, I don’t know where I’m going
But I’m going

Caravans, oh  the run
Die woestyn is die diepste spieël waarin jy uiteindelik self moet kyk. Jou eie korreltjie-bestaan raaksien. Jou kwesbaarheid. En jou  kern. Want juis in die landskap van die niks word die ware jy oop en vry. Daarom sou ek in die woestyn kaal wou staan. Net ek in my primitiefste ekheid en die wete dat ek onlosmaaklik deel van die hierdie aarde is. Stofmens. Maar juis so raakbaar naby aan die hemel. Veral as snags as die ster-karos oop oor die woestyn gesprei word. Dan sou ek die sterre wou sluk terwyl ek boontoe praat/sing.

plasse sterre
sterremere seë van sterre
by Nossob
staan jy oopmond
verstom
vir die verstommende sterre
so naby dat jy net maar jou hand kan lig
jou oop mond oop kan hou om strome
storms sterre te sluk  (Marié  Blomerus – Plasse Sterre)

In die woestyn weet jy oerseker dat geloof is om die onsienlike te sien, selfs (juis) in die plek waar daar niks is om te sien nie, maar tog sò baie.

“In die land van skynbare niks

leer U my nuut kyk

 sien ek selfs die nietigste

toktokkie as bode

van die Groot Kaptein…”

In die woestyn is jy  in die werksplek van die Timmerman.

In die binnekamer van die Godsverlatene.

 Word  stamelende stofmens weer jubelende  lofmens.

Lyftestament

Monday, July 19th, 2010

‘n Woestynheilige het vir etlike jare as askeet in die woestyn geleef. Hy het sy gedagtes wat deur die stilte en sy samesyn met God gevorm is, op perkamente opgeteken. Met die hulp van ink wat hy uit ‘n spesiale plant vervaardig het en ‘n primitiewe pen het hy op perkamentrolle die boodskappe van sy stilwees voor God neergeskryf en aan verbygaande karavane oorhandig

 Hy het egter begin agterkom dat sy kragte besig was om af te neem en het op ‘n dag besef dat die  einde van sy lewe naby is. Toe het hy ineens die intense begeerte gehad om sy testament op te teken, maar tot sy ontsteltenis het hy ontdek dat hy geen enkele perkamentrol oorgehad het om dit op te skryf nie. Uiteindelik het hy besluit om met die ink wat hy wel nog by hom gehad het sy testament op sy lyf te skryf. Hy het sy eenvoudige linnekleed afgestroop. Met slegs sy lendedoek aan sy lyf het hy hom op die woestynsand tuisgemaak om sy testament op sy verweerde lyf te skryf. Terwyl hy egter die pen naderbring om die eerste woord te skryf, het hy ineens gehuiwer en weer na sy eie liggaam gekyk –

* sy verweerde voete wat baie ver geloop het onder moeilike omstandighede om die blye boodskap aan afgeleë groepe mense te bring;

* sy knieë wat die tekens getoon het van jare se kniel in gebed;

*sy bolyf wat letsels gedra het van die martelhoue wat hy terwille van sy geloof   moes verduur;

*sy vereelte hande wat gewoond was om te dien, wonde te verbind  en die boodskap van liefde neer te skryf oor baie jare

 Ineens het hy die pen en ink neergesit met die helder besef wat by hom posgevat het: Ek hoef nie ‘n testament op my liggaam te skryf nie, my liggaam is my testament, dit dra die letsels en tekens van my lewe, my werk, my diens. Toe het hy uitgestrek in die woestynsand gaan lê en sy hande sywaarts uitgestrek sodat sy liggaam in die vorm van ‘n kruis gelê het. Hy het sy oë toegemaak en God in ‘n dankgebed geloof vir die voorreg om soveel jare te kon leef en in instrument in die hande van die Allerhoogste te wees

 ‘n Verbygaande karavaan het hom ‘n paar dae later so aangetref – ‘n  stil figuur wat in kruisvorm gelë het met die sand wat hom begin toewaai het – maar op sy gesig ‘n hemelvrede.

(Verhaal verwerk en aangepas nav “Testament” In “Kommerkrale” -Hennie Aucamp)

 Die afgelope twee weke in Bloemfontein het ek my eerste ervaring van bestraling gehad. Die onbekende ervaring het soos ‘n berg voor my gelê. Wat presies behels dit? Wat gebeur tydens bestraling? Wat ervaar en voel mens? Watter newe-effekte is daar? In die wagkamer van Onkoterapie het ek gesit en na die mense om my gekyk – meeste gesigte en liggaamshoudings het iets vertel van die pad wat hulle geloop het, veral ook die nalatenskap van chemo (mussies om die haarlose koppe te bedek) en soms ook ‘n bleekheid en ‘n moegheid wat vertel van ‘n dapper en verbete stryd teen die aliens in hul lywe. Tog, as mens begin gesels, is daar ‘n sprankel in die oê en ‘n vasberadenheid in hul stem.  Sommige is ingestoot in die bestralingskamer op hospitaalbeddens, maar steeds het hulle ‘n vriendelike groet gehad vir diegene in die wagkamer.

Toe uiteindelik ook my oomblik van waarheid – eers die vooraf vastelling en afbakening van die twee areas wat bestraal moet word. Daar word groen sterretjies op my lyf gemaak met ‘n merkpen en dan ook vier tatoëerkolletjies wat die bestralingsplekke afbaken. Die bestraling self volg dan – die gaan lê en op die bed en die blootlê van die gemerkte areas. Dan besef ek ook dat my lyf my testament geword het wat vertel van die pad, veral die afgelope sewe jaar se vreemde reis met die ongewenste plakkers wat hul in my lyf kom vestig het. Terwyl die bestraling dan vir ‘n klompie minute duur, is dit behoorlik asof iets van die waarheid by mens instraal: Net genade hou jou as gebroke en beleërde mens heel. Ineens onthou ek die woorde wat in boogvorm geskryf staan bokant die ingang van die Kweekskool op Stellenbosch: Sol Justitiae Illustra Nos (Son van Geregtigheid bestraal ons)

Op ‘n vreemde manier word die woorde deur ‘n bestralingsapparaat nuut by my ingebrand.

In Neil Diamond se aangrypende liedjie Morningside besing hy die handewerk van ‘n Pa wat ‘n handgemaakte tafel vir sy kinders nalaat:

Morningside
The old man died
 
And when he died
He left a table made of nails and pride
And with his hands he carved these words inside
For my children

And the legs were shaped with his hands
And the top made of oaken wood
And the children sat around this table
Touched with their laughter
Ah, and that was good

Morningside
The old man died
 And when he died
He left a table made of nails and pride
And with his hands he carved these words inside
For my children
The words he carved became his epitath
For my children

Op die meegaande foto is die hande die testament van ‘n lewe wat geleef is. By my Oom se begrafnis het ek my Tagtigjarige Tannie se hande afgeneem waar dit die jonger hande van ‘n buurseun omsluit wat haar wou troos. Tog is dit vir my veelmeer die troos van haar hande met hul lewensverhaal wat troos oordra aan die jonger geslag. ‘n lewenstestament – kyk hierdie hande het geleer om te ontvang en af te gee. Hierdie hande het gebid en gewerk. Nou rus dit in die wete: Iemand hou my in Sy hande. Altyd.

My hande is my lewenstestament. Neem die troos daarvan met jou saam.

Brose Kleipotte

Sunday, July 4th, 2010

Kleintyd in die kinderkrans leer ons  liedjies soos : Laat ons skyn vir Jesus, Red wat verlore gaan, Jesus roep my vir ‘n sonstraal. Tog is dit die liedjie van die pottebakker en die klei wat in my kop prentjies maak. Ek weet nog niks van pottebakkerswiele en soorte klei nie, maar verstaan iets van die man wat iets uit die klei skep:

Doen slegs U wil Heer, U wil met my -U pottebakker, met my die klei –

Vorm my en maak my, net soos U wil – Op U bly wag ek, nederig en stil.

Klei -‘n wonderlik vormbare medium om gedagteprentjies gestalte te gee.

My eerste herinnering van klei is my  onbeholpe gewoel met modder om kleikoekies en -diertjies te maak in die agtertuin van ons huis. Die diep bevrediging om met modderbesmeerde hande jou modderskepping uit te stal, lê die grondslag vir my lewenslange belangstelling in kleikreatiwiteit.

My eerste defnitiewe  onthou van speelklei, is my eerste dag in Graad 1. Juffrou Ackerman  herrangskik die raserige groep en laat ons  seuntjie-dogtertjie langs mekaar sit in die dubbelbanke. Dit het nogal ‘n effek, want wat sê mens vir ‘n vreemde meisie wat ook grootoog na jou staar? Juffrou deel aan elkeen ‘n stukkie klei uit, met die opdrag dat ons iets vir haar moet maak. Ek begin my stukkie klei  in slangetjies uitrol.  Hestertjie (sy het darem haar naam vir my gesê!) begin ingedagte wolletjies op haar trui afpluk en vorm dit tot bolletjies tussen haar duim en voorvinger. “Kyk”sê sy  terwyl sy trots haar hand uithou “hier is ‘n klompie eiertjies.” Ek vorm  ‘n kleimandjie met die kleislangetjies en rond dit af  ‘n gevlegte handvatsel. Die woleiertjies word versigtig in die mandjie geplaas. Ons is baie trots op ons spanpoging. Die ys is gebreek.

Die wonder van klei is die absolute plooibaarheid daarvan. Om ‘n stuk klei in die hand te neem, dit te brei en te vorm, is om onbeperkte moontlikhede in jou hand te hou. Die bol klei kan enigiets word; ‘n vis, ‘n duif, ‘n leeu, ‘n blompot, ‘n mensfiguur!

Eers as volwassene neem ek Pottebakkersklasse en ontdek die terapie van klei. Die oomblik as jy die  koel kleirol in jou hande neem, dit begin brei en op die pottebakkerswiel vorm, is magies. Dis ‘n  wonderlike sensasie om die klei op die wiel te sentreer want dan voel jy  klei lewe. Onder jou hande  word die vormlose iets nuuts.  Soms die teleurstelling as dit onder jou hande knak as jy dit te haastig  optrek. Dan verstaan mens die gedeelte waar Jeremia oor die pottebakker se skouer loer en sien hoe die voorwerp begin vorm aanneem en dan, ineens, klaaglik misluk!  Tog die wonder- Jeremia sien dat die pottebakker geduld met die klei het, hy gooi dit nie woedend eenkant in die hoek omdat dit misluk het nie, maar brei dit weer en vorm dit dan tot iets bruikbaars. (Jer 18) So ‘n groot lewensles – die Skepper wat geduldig met ons besig is en ons mislukkings hervorm tot nuwe moontlikhede.

Die 1996 film Phenomenon vertel die verhaal van George Malley (vertolk deur John Travolta), ‘n doodgewone werktuigkundige wat op sy 37e verjaarsdag saam met sy vriende kuier en dan as hy uitstap, deur ‘n lig uit die hemelruim oorweldig word. Hy is tydelik bewusteloos, maar wanneer hy wakker word, beskik hy oor buitengewone vermoëns. Hy is voorwaar soos ‘n stuk klei met oneindige moontlikhede – hy kan dinge oombliklik snap,  leer tale moeiteloos aan en is in staat om wiskundige probleme op te los. Sommige mense wil sy vermoë misbruik en van hom ‘n pion in hulle spel maak. Dan ontmoet hy vir Lace (Kyra Sedgwick), ‘n kreatiewe vrou wat meubels uit afvalstukke hout maak,  Sy is sinies oor die liefde, maar geleidelik ontdek hulle dat hulle weer  mekaar nuut kan laat kyk na onvoorwaardelike liefde. ‘n Liedjie op die klankbaan van die film is “Piece of clay” (deur Marvin Gaye) Dit  handel juis oor die feit dat mense soms ander soos klei wil vorm met selfsugtige motiewe, maar beklemtoon dan dat ons eerder mekaar se broosheid as kleimense moet respekteer:

Father stop criticizing your son
Mother please leave your daughters alone
Don’t you see that’s what wrong
With the world with world today
Everybody wants somebody
To be their own piece of clay

We should all love each other
Love and take one another
We should love each other
Love and not hate, oh

Everybody wants somebody
To be their own piece of clay…

Gedurende April  2005 kuier ek by my broer op Paternoster nadat ons die KKNK bygewoon het. Ons gesels oor die lewe wat soveel moontlikhede inhou en dat mens deur kreatiwiteit uiting kan gee aan die unieke prentjie wat jy in jou binneste ronddra. Hy inspireer my om iets te skilder en ons praat oor die wonder van die lewe met al sy fasette: goed en sleg.

Ons besoek ‘n pottebakkersateljee en verkyk ons aan die uniekheid van elke pot. Ek neem ‘n foto van ‘n groep potte wat ge-raku is en elk sy eie patroon vertoon a.g.v. van die vuur waarin die potte gebak is. So is die  lewe, sê ons – elke mens se verhaal is uniek al verg dit die hitte van vuur en toetsing om dit na vore te bring.

Vandag eers besef ek hoe waar daardie woorde was. In sy en my verhaal het die toetsing gekom, maar deur die genade is ons betyds uit die raku-vuur gelig.

Brose kleipotte, maar tog behoue.

“Ons wat hierdie skat in het, is maar kleipotte wat maklik breek, die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.” (2Kor4:7)

Halte: Solitaire

Saturday, June 26th, 2010

Om met ‘n engel te reis (vgl vorige inskrywing), bepaal weliswaar jou roete, maar vrywaar jou nie van vreemde haltes nie. Soos Halte Solitaire. Die halte kan baie name hê. Sommige noem die halte Eenzaamheid. Verlatenheid. Wanhoop. Desperado. Uit-dieptes-gans-verlore. Tog is dit belangrik dat jy juis by die halte sal aandoen, sodat jy meer perspektief op die res van die reis kan hê. Vir Elia was dit ‘n belangrike ontmoetingsplek met ‘n engel toe hy by Halte Besembos gaan lê het en gewens het om dood te gaan. (1 Kon 19). Eers toe hy die engel met die waterkruik en die roosterkoek raaksien, is hy genoeg versterk om vorentoe (oop-oog) te reis.

Soms voel dit mos vir ‘n mens of al die paaie in jou lewe na hierdie eensame stasie toe lei. Daarvan sing Neil Sedaka in sy liedjie Solitaire:

There was a man, a lonely man
Who lost his love, through his indifference
A heart that cared, that went unshared
Until it died within his silence

And solitaire’s the only game in town
And every road that takes him, takes him down
While life goes on around him everywhere
He’s playing solitare…

Die liedjie het vir my oor die jare meer as ‘n toestand geword, dit het ‘n plek geword met sy eie sombere inkleding van menswees. ‘n Halte waar jy nie graag wil vertoef nie, want dit vertel van isolasie, mislukking, teleurstelling en uitsigloosheid. Om uitgerangeer te wees op ‘n ongebruikte syspoor. Tog bevind jy jou soms daar (dikwels a.g.v. jou eie verkeerde keuses).

Gedurende  Julie 2005 reis ek as deel van ‘n groep vanaf Swakopmund na Windhoek. Ons neem die woestynroete en  beleef stukke onherbergsaamheid, ‘n maanlandskap en die verrassing van ‘n Welwitschia wat hardnekkig voortbestaan in die onherbergsame omgewing.

Ons woestynreis lei uiteindelik tot groter tekens van “beskawing” wat begin opduik. So beland ons  by ‘n bordjie wat ‘n afdraaipad aandui. Sou ons reguit aanhou ry met die pad, is ons bestemming ‘n plekkie genaamd Solitaire. Draai ons egter na links af, dan wag die weelde van ‘n bederf-kuier in van Windhoek op ons. Ek klim uit en neem die bordjie af.  Dis die naaste wat ek nog in lewende lywe aan Solitaire gekom het, alhoewel ek die toestand al lank ken. Ons draai links Windhoek toe. Soms is Halte Solitaire ‘n keuse wat jy kan vermy. Soms moet jy deurdruk en via Solitaire na jou eindbestemming reis.

Kruispadkeuses.
In die film Sliding Doors word Helen Quilley (vertolk deur Gwyneth Paltrow) se lewe as’t ware in twee gedeel nadat sy onverwags afgedank word by haar werk.  Alles wentel rondom die feit of  sy betyds die trein haal of  nie. In die eerste scenario is sy net betyds om wel in die trein te klim voordat die glydeur toeskuif. Sy ontmoet ‘n aangename man, James. Sy kom vroeër as gewoonlik by die huis en betrap haar kerel op heterdaad waar hy ontrou is aan haar. In die alternatiewe weergawe mis sy net-net die trein, word sy beroof en beland sy uiteindelik heelwat later tuis en word haar ontroue kerel nie betrap nie. Die fliek bou op elk van die verhaalllyne voort – In die eerste geval: Helen wat beheer van haar lewe neem, nadat sy haar ontroue kerel afgesê het. Sy verhuis, kry ”n nuwe haarkapsel, begin ‘n nuwe werk en ‘n bou ‘n moeitewerd verhouding op met James, haar nuwe vriend. In die parallelle verhaal bly sy in ‘n afbrekende verhouding met haar ontroue kerel Gerry en moet sy later as kelnerin werk net om hulle te onderhou. Haar doelbewuste inspanning om betyds die trein te haal, bepaal uiteindelik die gang van haar hele lewe. In die eerste geval leer sy om nuwe (goeie) keuses te maak en neem haar lewe ‘n positiewe wending. In die ander geval bly sy slagoffer van haar omstandighede en spiraal haar lewe afwaarts.

Dit is onvermydelik dat Halte Solitaire soms in ‘n mens se lewe opduik. Vir Elia en Moses was hulle woestynervarings ‘n voorbereidende leerskool om nog meer te kon verrig en te kon fokus op die eintlike taak waarvoor hulle bestem was. Ook Jesus se versoekingstydperk in die woestyn word die basis van sy oorwinning. Tog moet mens nie van Halte Solitaire jou permanente blyplek maak nie. Die gevaar is om jou te begin verlustig in jou lot, weg te sak in ‘n put van selfbejammering en ‘n martelaarshouding  te kweek. Alles en almal is teen my. My lot is swaarkry en ellende. Ek is van mens en God verlate.

Niemand hoef by Halte Solitaire bly vertoef nie. Gelukkig is daar ‘n trein wat ook van hierdie Halte vertrek vir diegene wat oop-oog en met verwagting reis. Die trein se reis het begin by Halte Golgota. Sy bestemming is die stad waarvan Laurika Rauch so aanrypend sing in Hot Gates:

There’s another city I’ve been told, where the streets are paved wih gold…

Die trein heet Kainos. Nuwe Begin. Maak seker dat jy op die perron is en betyds by die trein se glydeur inklim. Daar lê opwindende haltes anderkant Solitaire.

Om met ‘n Engel te reis

Monday, June 21st, 2010

 

Kleintyd was engele deel van my wêreld. Hulle was soos kabouters en feëtjies werklike wesens in my gedagtes. Sondae veral. In die kerkgebou het ek hulle ontmoet. Terwyl die Dominee breedvoerig uitgewei het oor een of ander Heidelbergse boek (ek het gedink die Heidelbergse kategismus is ‘n tydskrif soos die Huisgenoot maar dat dit net by Dominees afgelewer word), het ek die engele bestudeer. Hoog bo het die dak so ‘n inham met sterpatroon gemaak. Dis waar die engele gebly het. In my gedagtes het ek gesien hoe die luik in die oorhanggedeelte oopgaan en die engele opgewonde uitgevlieg kom. ‘n Hele leërskare (die woord by ‘n kerssangdiens gehoor!) van hulle. Dan ineens het hulle my raakgesien. Veral die kere wat ons op die galery gesit het waar tannie Weitz die orrel die orrel bespeel het. Dan het hulle direk na my aangevlieg gekom, my maklik opgetel en op hulle vlerke na hulle blyplek gedra. Net voor die “Amen” het hulle my weer op my sitplek kom neersit. Hulle het die diens vir my draaglik gemaak.

Toe verdwyn die engele uit my lewe. Hulle gaan op AWOL. Die lewe word vol realiteite. Kort daarna verhuis ons na die Vrystaat waar die kerk se dak  glad nie so “engelblyplek” het nie. Ek begin gaandeweg meer van die die dominee se preek verstaan, maar die diens verloor sy betowering.

So met die grootwordjare en daarna bly die engele maar afwesig. Soms vermoed ek ‘n engelvlerk wat tog oor my oë vee, maar maak dit af as verbeelding. Tog bly die droom van Jakob waar hy in die Niemandsland op sy klipkussing lê en die geopende hemel bo hom sien, vir my wonderlike gedeelte (Gen 28). Veral die leer wat op die aarde staan en die punt daarvan raak aan die hemel met al die engele wat op en af met die leer klim. Dit voel telkens vir my asof ek weer my kerkengele op die droomleer herken. Ook die verskyning van God wat ‘n belofte aan Jakob maak, gryp my aan. Immers is Jakob(us) ook my tweede naam.

Toe die milleniumwending kom, weet ek dat dit weer tyd is om die engele raak te sien. Die aand na kerk met die oorgang van 1999 na 2000 sit ek in    die woonkamer en luister na die sielvolle woorde van Sarah McLaglan se lied “Angel”

Spend all your time waiting for that second chance
For a break that would make it okay
There’s always one reason to feel not good enough
And it’s hard at the end of the day

 In the arms of an angel fly away from here
From this dark cold hotel room and the endlessness that you fear
You are pulled from the wreckage of your silent reverie
You’re in the arms of the angel – may you find some comfort there

Gedurende Desember 2002 is ek met vakansie in die mooie Kaap. By ‘n Kerskunsmark koop ek ‘n fyne glasengeltjie en weet dat daar ‘n spesiale besteming op die engel wag. Saterdag  7 Desember  is ek op Paternoster. Heelweek dreig ek al om die engelpakkie te gaan neersit voor die deur van Riana Scheepers se hartshuisie. Ek stop by die huisie en sien te laat dat daar mense is. ‘n Man is besig om ‘n houtluik te herstel en ‘n vrou sit met haar rug teen die bakoond en lees. Toe sy opkyk sien ek dis Riana.  Ek sê dat ek nie wil inbreuk maak nie, maar slegs bode is wat die pakkie moet aflewer. Riana en Johann stel hulleself voor en ek word genooi om deur die huisie te stap. Toe Riana die pakkie oopmaak, is sy opgewonde oor die glasengel, wat dadelik aangestel word as bewaker van die mooi vissershuisie. In die koerant die Woensdag na my besoek, verskyn haar rubriek onder die opskrif: “Engel in my huis” waarin sy vertel van die geskenk wat ek onwetend vir haar as verjaarsdaggeskenk gebring het. So begin ‘n nuwe reis waarin engele ‘n groot rol speel.

Gedurende September 2005 hou ek so retraite op my eie. Ek bring ‘n paar dae deur in die Laurens Van der Post Skrywershuis op Philippolis. Ek wil bietjie skryf, bietjie skilder en sommer baie dinktyd hê. My Reisgenoot gee vir my ‘n geskenkie saam om my geselskap te hou – ‘n engeltjie wat ek in die venster ophang toe ek daar aanland.  Elke keer as ek opkyk van my skilderpoging sien ek die inspirasie-engeltjie in die venster. So produseer ek toe meer as wat ek verwag het. Neem ook Dinsdagaand 20 September die belangrike besluit oor my en my Reisgenoot se pad saam vorentoe.

Ek neem ‘n foto van my “engel-in-die-venster” en voel behoorlik weer kleintyd se verwondering oor die gevlerkte boodskappers van die Allerhoogste wat ook saam met ons reis.

Vanoggend terwyl ek hier skryf, blaai ek weer deur Izak de Villiers se “Engel voor my uit” waarin hy sy reis deur ‘n worsteltyd in sy lewe beskryf. Die bewussyn van die Teenwoordigheid van die Almagtige en sy engele het hom as’t ware deur die tydperk begelei Ook die belofte van Eks 33:2 “Ek sal My engel voor jou uitstuur…

Die engel reis inderdaad saam.

Die fontein van lewe

Wednesday, June 16th, 2010

29 Augustus 2003

Clarens, Oos-Vrystaat.

Dis vandag (29/8) my Reisgenoot se verjaarsdag. Ek besluit om haar Clarens toe te ontvoer vir die dag. Ons is nog net ‘n paar maande saam op reis. Daar is soveel nuwe horisonne om te verken. Ons stap deur die dorpie en ontdek ons eie spesiale haltes. By die komberswinkel luister ons na die verhaal van die twee susters wat al soveel jaar saam die besigheid bestuur. Hier kry mens nog die gevoel van ‘n outydse handelshuis met hoë houtrakke en die verkoopsware uitgestal op die rakke, sommige wat met ‘n leertjie bereik moet word. Die houtklap van die ou toonbank word opgelig en ons word agtertoe geneem om na ‘n groter voorraad komberse te kyk. Ons vind ‘n mooi tartan kombers. Die berekeninge word met ‘n pen op ‘n stukkie karton gedoen. Ons glimlag vir die stukkie nostalgie.

Etenstyd vind ons ‘n lekker tafeltjie by Artist’s Café. In die agtergrond is sielsmooi musiek. Tjello en ‘n vrouestem. Ons geniet die gedeelde oomblik. Verken die omgewing deur rond te kyk en sien dan ‘n interessante fontein buite. Ons bekyk dit van nader. Die fontein is van klip gebou. ‘n Geroeste kraan spuit ‘n dik stroom water uitbundig in die fonteinbak. Die lawende prentjie met die gewillige kraan noop ons om ons hande in die koel fonteinwater te druk en die oomblik te beleef. Ek dink aan die aanklag wat tot die volk gerig word in Jeremia 2: (Hulle het ) My , die fontein van lewende water verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie”. Ek neem die fontein af en wens ek kon tuis ook so verfrissende oase skep om my aan die oomblik en die Bybelwaarheid te herinner. Die fontein-oomblik word een van my Reisgenoot se kosbaarste geskenke van die dag.

Fonteinwater. Lewensbron. 

In die treffende film “Manon of the spring” (wat volg op die die aangrypende Jean De Florette) word die verhaal vertel van Manon, Jean se pragtige dogter. Sy besef dat daar jare gelede ‘n onreg teen haar pa gepleeg is, deurdat die fontein wat sy grond van water voorsien, deur ‘n gierige Ugolin toegestop is, sodat Jean se blomme-boerdery sou misluk. Die swaarkry en waterdra lei uiteindelik tot haar pa se dood. Na sy dood neem Ugolin die plaas oor en maak die verseëlde fontein weer oop. Hy het ‘n florerende boerdery. Op ‘n dag ontdek Manon die bron van die fontein in ‘n ondergrondse grot en stop dan op haar beurt die fontein toe, sodat Ugolin se water opdroog, maar ook die dorpsfontein. Eers waneer daar ‘n krisis in die dorpie onstaan a.g.v. die watertekort, kom daar ‘n wending by die inwoners en word die onreg van jare gelede bely.  Dan maak Manon weer die fontein se toevoer oop. Dit bring weer water en herstel na die dorpie

Tydens ‘n herfskool ‘n paar jaar gelede by die die PUK (tans die NWU), stap ek een aand na die  fontein voor die hoofgebou. Sopas het ons  geluister na ‘n besonder inspirerende lesing deur Dr. Johan Cilliers. Sy onderwerp: “Om God te sien” ‘n Mens kan God sien in die klein en alledaagse, herinner hy ons, maar jy het ‘n “wedergeboorte ” van jou sintuie nodig.

Terwyl ek by die fontein gaan sit sien ek die helderverligte Hoofgebou voor my. Ek kyk en neem waar asof ek die bekende baken uit my Universiteitsdae vir die eerse keer werklik sien – die nege dakvensters, die drie balkonne en die twee datumskilde soos harte weerskante van die venster. Die spuitfonteine borrel jubelend en vorm ‘n dansbeeld van die weerkaatsing van die gebou in die water.

Onwillekeurig kom die vers waaruit die  die leuse van my Alma Mater geneem is, by my op: “Want by U is die fontein van die lewe; in U lig sien ons die lig.” (Ps 36:10).

Terwyl ek daar by die fontein sit, dink ek daaraan hoeveel male ek as student hier verbygestap het, Soms selfs met die PUK kandelaar en leuse  gesakwapen op my baadjie. Tog nie altyd werklik bewus van hoe lawend die fontein is en hoe verhelderend die lig is nie.

Daarom bid ek die aand daar: help my om weer te kan sien, U weer raak te sien. Met verwondering te let op die  fyn weefpatroon wat u in elke mens se lewe weef. In die weerkaatsing van die helder lig wat die gebou verlig, sien ek woorde wat ingegraveer is op die granietblok by die fontein. Waterspatsels het van die woorde byna onleesbaar gemaak, maar ek braille as’t ware die letters uit:

JOHANNES CALVYN 10 JULIE 1509 – 27  MEI 1564

“EK OFFER MY HART”

Die slagspreuk van Calvyn word weer vir my nuut en waar. Om met nuwe oë te kan sien, het mens ‘n nuwe hart nodig. ‘n Heelgemaakte hart. ‘n Aangeraakte hart. Dan kan mens héélhartig oop-oog reis.

Vandag terwyl ek die inskrywing van my fonteinherinneringe maak, is dit Jeugdag, 16 Junie 2010.Ek bid dat ons in hierdie land fonteinmense sal wees. Met héél harte en genoeg lewenswater vir ‘n dorstige medemens.

Vandag!

Thursday, June 10th, 2010

 

“Wat is die mooiste woord in Afrikaans?”, vra ‘n artikelskrywer onlangs. Dan gee hy ‘n klompie woorde wat hy as antwoord gekry het op die vraag, o.a. die voorspelbare woorde: liefde, vrede, vreugde, hoop, geloof, vertroue ens. Dan verras hy deur te sê dat vir hom die mooiste woord in Afrikaans “VANDAG” is. Eintlik is dit ‘n woord wat mens ‘n paar keer vir jouself moet herhaal en dink aan al die moontlikhede. Vandag kan ek iets doen wat ek nog nooit gedoen het nie. Vandag kan ek ‘n nuwe woord aanleer.’n Blog begin. ‘n Nuwe vriend(in) ontmoet. ‘n Nuwe uitsig kry.

John Denver se mooi liedjie oor vandag bly nog altyd my hieraan herinner:

Today, while the blossoms stil cling to the vine – I’ll taste your strawberries, I’ll drink your sweet wine – A million tomorrows shall all pass away – Ere I forget all the joy that is mine, Today.

I can’t be contented with yesterday’s glory -I can’t live on promises winter to spring -Today is my moment, now is my story- I’ll laugh and I’ll cry and I’ll sing.

Carpe Diem. Die Slagspreuk wat Meneer Keating(Robin Williams) aan sy klas leer terwyl hulle staar na al die groepfoto’s van hul voorgangangers in die portaal van die tradisieryke skool. Dit bly vir my ‘n aangrypende toneeltjie uit die aangrypende “Dead Poet’s Society”(1989). Carpe Diem.Gryp die Dag!

My Vandag-foto het ek geneem op ‘n spesiale dag wat ek op Paternoster deurgebring het. Heel naweek was die weer mistig/trietsig/reënerig. Maar hierdie Maandag  7 Junie 2004 was ‘n perfekte skoongewaste dag. Eers verlustig ek my in die malse geel blomme wat oral groei en die begraafplaas soos ‘n blommeskou laat lyk. Daarna durf ek ‘n seestappie aan. Dit voel of die strand skeppingsnuut voor my uitstrek. Ek ervaar die bruisende wete dat vandag onherhaalbaar en onvervangbaar is. Ek tel ‘n uitgespoelde seemeeuveer op en skryf die woord: “Vandag” in sierletters op die strand.Plaas ‘n noodsaaklike uitroepteken langsaan en versier dit met ‘n tweelingskulp wat naby lê. ‘n Intense joie de vivre neem van my besit. Hierdie vonkeldag moet verewig word. Met my kamera zoom ek in op die woord en druk die sluiterknoppie. Vandag – ‘n oomblik wat ek ook more en vorentoe sal onthou.

Juis die week word ek aan my “vandag”-woord herinner. Ek gaan vir opvolgtoetse in Bloemfontein en voel skoon uitgemergel deur al die Flikkergram- en Xtrale kameras. Voel uitgelewer en voos.

‘n Verrassingsgeskenk wat ek kry, toe ek na die tyd by familie en vriende kuier, plaas sommer die dag in perspektief. Uit ‘n onverwagte oord kry ek ‘n DVD van Rob Bell, getiteld “Today”. Dit bevestig die waarheid dat vandag die enigste ruimte is waarbinne jy kan handel en groei.  Die regte geskenk op die regte dag.

Die aansporing van Ef. 5:16″maak die beste gebruik van elke geleentheid” is by uitstek ‘n “vandag”vers. Deur elke geleentheid ten volle te benut/beleef, belê jy in vandag se moontlikhede en sluit jy die nuwe moontlikhede vir more oop.

In sy boek “Elke dag tel” vertel John Maxwell van die basketbalafrigter wat sy spelers geleer het dat die oefensessie wat jy vandag gemis het, nie weer more ingehaal kan word nie. Dis vir altyd verlore. Daarom het hy hulle hierdie slagspreuk geleer” Maak Vandag jou Meesterstuk. Belê alles wat jy kan in vandag, dan sal jy na ‘n reeks “vandags” die goeie vrugte pluk.

Dit sluit aan by die waarheid wat Izak de Villiers uitlig in sy boek: “Wat dra my deur ‘n krisis?”. Hy verduidelik dat mens soms ontmoedig raak deur die lang proses om oorwinning te behaal oor negatiewe gewoontes en gedagtes. Jy ontmoedig jouself deur te vra: Hoe sal ek dit ooit regkry om in die bepaalde saak bo uit te kom? Hy gee dan die goeie raad om as’t ware in dagdigte kompartemente te leef, waar jy fokus op elke dag se taak en klein oorwinnings en nie die hele reis probeer vooruitsien nie. Sy raad: “Bou ‘n muur om elke dag”.

Om oop-oog te reis sal mens dus leer om elke dag ‘n muurbouer te wees. Jy “omring” as’t ware elke dag met sy eie muur. Jy ontgin die moontlikhede van vandag en word nie lamgelê deur gister se foute en verwyte nie. Jy leer om met die genade van Bo met nuwe oop-oë te kyk en en te weet: vandag is die enigste ruimte en tyd wat ek het om ‘n verskil te maak.

Dit lyk my die ou man wat die hoofkarakter is in die film: “The Milagro Beanfield war” het die waarheid goed verstaan. Met ‘n troeteldiervark as enigste geselskap leef hy op sy lappie grond wat gierige grondbaronne wil inpalm vir hulle selfsugtige doeleindes. Ten spyte van al die woelinge om hom stap hy en sy vark rustig dorp toe waar hy steeds sy sake ongejaag afhandel.Hy leef elke dag rustig maar tog voluit. Soggens as hy opstaan gaan staan hy voor die spieël, strek hom uit en sê: ” Thank you God for letting me live another day.”

Mag die dankbare ontvangs van “vandag” jou reis bepaal!