Archive for the 'Uncategorized' Category

Rotsliefde

Saturday, February 12th, 2011

Dis die tyd van die jaar dat die rooi gety ‘n tsunami word en die wêreld oorspoel. Rooi hartjies, rooi rose, teddies met bloedrooi strikke om die nek en hartvormsjokolades in rooi omhulsels vier hoogty. Dis die Valentysgolf wat meedoënloos alles oorspoel. Wanneer die liefde so onbeskaamd kommersiëel opgeveil word, wonder mens weer oor wat die wesenskwaliteit van die liefde is.

Liefde word al lank die groot valuta wat tranetrekker flieks verkoop. Dink maar aan die  stormagtige liefdesverhaal tussen  Rhett Butler (Clark Gable) en Scarlet O Hara (Vivien Leigh) in die klassieke film Gone with the wind (1939). Of die hartseer liefdesverhaal van Rick Blaine (Humprey Bogart)  en Ilsa Lundt (Ingrid Bergman) in Casablanca (1942).

Wie van die veertigplussers onthou nie die tranetrekker fliek uit die sewentigerjare nie?  Love story. Met Ryan O’Neill en Ali Mc Graw in die hoofrolle. Dit was die ikoonfliek van daardie era oor die liefde. Hoe kan dit anders wees as’n fliek (en boek) begin met die woorde; “What can you say about a twenty-five-year-old girl who died? That she was beautiful and brilliant? That she loved Mozart and Bach, the Beatles, and me?”  Die trane het behòòrlik gerol. Ernstig  gerol. Oor die tragiese heengaan van die hoofkarakter.

Saam met die fliek het dié veronderstelde wysheid gekom: “Love means never having to say you’re sorry.”  Wat onrealisties en onhaalbaar is. Want telkens weer moet mens die Jammerwoord kan sê.  En oefen om dit te kan doen.

 By ‘n funksie in die Kaap, loop ek na agt-en-dertig jaar weer my standerd ses Engelse onderwyseres raak. Ons gesels oor die interessante kronkelgang van die lewe. Oor waarhede en veranderlikes. Na ons ontmoeting gaan delf ek in my argiewe en spoor dié waarheid op wat sy in 1967 in my Vriendskapsboekie geskryf het:

 Love is the only freedom in the world
because it so elevates the spirit
that the laws of humanity and phenomena
of nature do not alter its course.

Toe ek  per epos haar herinner aan die woorde wat sy  in my boekie geskryf het,  druk sy haar verbasing uit dat sy as drie-en-twintigjarige groentjie-onderwyseres so waarheid kon aanhaal. Tog onderskryf sy steeds die waarheid van die woorde.

 Liefde, daardie vreemde ondefinieerbare begrip.

  Vanmiddag moet ek weer ‘n huweliksboodskap bring aan  twee jongmense wat op die drumpel van ‘n nuwe reis staan. Hulle wil bevestiging hê van die die duursaamheid van die liefde. Dat hul liefde soos  ‘n huis op ‘n rots sal wees wat die aanslae van die storms kan weerstaan. Ek kan nie vir hulle die ingeboude versekering gee dat hulle liefde die storm sal trotseer nie, want menslike liefde is feilbaar en wispelturig. Tog kan ek hulle herinner aan die onfeilbare Rotsliefde  wat God vir ons het. En  dat ons liefde se duursaamheid in sy Liefde veranker moet wees.

 Die waarheid bevestig Don Fransisco in sy lied: “I could never promise you”

 I could never promise you on just my strength alone
That all my life I’d care for you, and love you as my own
I’ve never known the future, I only see today
Words that last a lifetime would be more than I could say

But the love inside my heart today is more than mine alone
It never changes, it never fails, never seeks it’s own
And by the God who gives it, and who lives in me and you
I know the words I speak today are words I’m going to do

(Chorus)
And so I stand before you now for all to hear and see
I promise you in Jesus’ name the love He’s given me
And through the years on earth and as eternity goes by
The life and love He’s given us are never going to die…

Tydens ons wittebrood reis my reisgenoot en ek op nuwe paaie. Ons ontdek die mooi Laeveld en plekke soos Sabie, Hazyview, Nelspruit, Graskop en Pelgrimsrus. Veral Pelgrimsrus is ‘n karaktervolle dorpie wat oorloop van geskiedenis. Ons verken die dorpie stelselmatig en drink heerlik tee op die stoep van ‘n sinkgebou restaurantjie. Later stap ons verder straatop en snuffel deur winkeltjies en bekyk die Royal hotel met sy historiese kroeg. Toe stap ons met die steil paadjie uit die dorp, verby die mooi kerkie en tot by die die begraafplaas met sy driehonderd-en-twintig grafte. Tussen die grafte soek ons tot ons die berugte Rowersgraf kry. Ons neem foto’s. My reisgenoot het haar eie kamera en kiek my waar ek tussen die gras lê om die detail op ‘n grafsteen af te neem.

Toe ons begin terugstap na die dorpie, rem sy skielik terug. Sy beduie voor ons op die rotsplaat. Daar is ‘n kunstig gevormde hartjie wat deur erosie gevorm is in die rots. Sy stileer die hartjie met ‘n blommetjie en ek neem die foto. ‘n Herinnering dat as mens oopoog reis, jy die oersimbool van die liefde op onverwagte plekke raakloop. Ons lag opgewonde oor die ontdekking. Waarlik Sy Rotsliefde is ons behoud en gee koers aan ons nuwe saamreis.

Al moet mens soms sê jy is jammer. Dan groei die blomme weer in rotsholtes.

Die Goue Herder

Saturday, February 5th, 2011

As kind was die verhaal van die Goeie Herder een van die gunstelinge wat  by die kinderkrans vertel is. Aandagtig het ons as  kinderskaar op die mat gesit terwyl  Tannie Van Schalkwyk op die groen flenniebord die verhaal van die Goeie Herder laat ontvou het. Veral wanneer die Goeie Herder sy nege-en-negentig skape in die kraal gelaat het om na die verlore skapie te soek, het ons intens meegeleef en as’t ware met ons oê die herder oor die flenniebord-afstand na die verlore skapie in die hoek van die bord gewil.

 As beloning vir getroue bywoning van die weeklikse kinderkrans, het elkeen van ons ‘n prent van die Goeie Herder ontvang waar Hy op die mooiste groen weiveld. tussen sy skape staan. Elke keer dat jy in die betrokke kwartaal by die kinderkrans was, het jy ‘n skapie as beloning gekry – darem nou nie ‘n rerige skapie nie, maar ‘n prentjie van so wolwit skapie wat wag om op die groen weiveld geplak te word. So het die Herder se kudde gegroei met elke besoek aan die kinderkrans. Mits jy getrou was, was die kudde teen die einde van die kwartaal voltallig.

 Maar soms het ek poëtiese vryheid gebruik  en in my gedagtes van die Goeie Herder die Goue Herder gemaak. Dan het ek hierdie herder aangetrek met ‘n goue kleed en hom voor die skape laat uittrek –  op die paadjie wat met sulke  goue kronkels loop na die beste weivelde.

En die goue glans van hierdie herder het aan sy skape afgegee. Hulle wol het soos ‘n goue vag gelyk in die strale van die opkomende son. Hoewel dit die Bybelse waarheid so bietjie voller ingekleur het, het dit aan my ‘n gevoel van tevredenheid gegee.

 Ek het weer aan die Goue Herder gedink toe ek in Standerd vyf in Oom Saayman se  sondagskoolklas sit. Oom Saayman het sy naam gestand gedoen. Wyshede en waarhede van die Woord is weekliks in ons ontvanklike harte gesaai.

 Sover ek weet het Oom Saayman nooit enige naskoolse opleiding gehad nie, maar hy was opgelei in die kuns leef en die daadwerklike uitlewing van sy geloof.

 Kort voor die einde van die betrokke jaar sit hy ons eendag so en aankyk. “Julle weet” sê hy dan “ ons het oor baie dinge gesels die jaar. Meeste van die dinge sal julle seker vergeet. Maar ek wil so graag hê julle moet onthou dat die Here se liefde eg is en dat dit van ons egte mense maak. Nuwe mense.”

Toe vertel hy ons die verhaal van die fles vol goue albasters:

 Die lewe is soos ‘n stewige glasfles vol  goue albasters. Tog te mooi as jy daarna kyk, maar die skyn bedrieg, want sien die meeste van die albasters is nie rerig goud nie, maar eintlik gewone  glasalbasters wat maar net met ‘n lagie goue spuitverf oorgespuit is. Op die oog af lyk almal dieselfde. Jy skeer almal oor dieselfde kam en praat van die fles vol goue albasters. Die oomblik egter as jy die glasfles in die rondte draai en begin skud, gebeur daar iets. Dan begin die kamma goues hulle ware kleur of gebrek aan kleur wys. Met die skudslag begin die albasters teen mekaar skuur. Jy merk dit nie dadelik op nie, maar as jy fyn kyk sien jy tog iets het verander – by sommige albasters vind ‘n afsplintering van hulle goue omhulsels plaas. Eers net ‘n kolletjie hier en later begin die geverfde goudlagie almeer afskilfer en word die die kamma goues al leliker. Ontmasker,

 Maar ‘n interessante ding gebeur met die egte goue albasters. Van elke skuur en skudsklag begin hulle blinker word . Die rondskud doen hulle goed, Hulle ware kleure skyn deur. Die wrywing bring hulle ware karakter (kleur) na vore. Hulle is eg.

 “So “, som oom  Saayman dan die vertelling op , “is dit ook met mense . Wie waarlik nuutgemaak is deur  God en getrou bly aan Hom se  nuwe-skepsel-in Christus-egtheid sal blyk. Selfs al word dit aan ergere toetsing onderwerp. Wie egter voorgee om ‘n Christen te wees en ‘n valse front voorhou, sal altyd moet veg om die afskilferkolle weer toe te verf. Toetsing sal hom aan die kaak stel.

 Dis al meer as veertig jaar gelede dat ek die verhaaltjie gehoor het, tog bly die waarheid daarvan my steeds by.

 ‘n Jaar of drie gelede staan ek op die boonste verdieping van die Hagia Sophia katedraal in Istanbul. Ek kyk met verwondering na die indrukwekkende goue mosaieke van Christus. Dit het ‘n goue gloed. Wonderlike vakmanskap en talle mosaiekblokkies vorm die Christusfiguur wat seënend sy regterhand lig. Ek dink weer aan my prentjie van die Goue Herder. Hier is hy in al sy goue glorie uitgebeeld. Indrukwekkend. Koninklik.

 Tog mis ek ineens die kinderkransprentjie van die Goeie Herder in sy gewone herdersklere wat so tuis tussen sy skape lyk. Die goue mosaiek-Christus lyk afsydig en byna hooghartig.

 Ineens besef ek dat die Goue Herder se goudheid nie in uiterlike goue mantels en stralekranse lê nie. Die Goue Herder kom onder ons woon met ‘n menskleur lagie om hom. Ons herken nie dadelik sy Andersheid en Godheid nie. Hoe langer ons egter in sy teenwoordigheid deurbring, van hom leer en toelaat dat Hy ons verander, hoe meer sien ons sy Go(u)dheid raak en al hoe meer word sy beeld ook sigbaar ins ons lewe.

 Die Ware Herder leer ons lewensegtheid. Niks kan dit van ons wegneem nie.

Niks.

                        

‘n Kiekie met ‘n storie

Saturday, January 29th, 2011

Vandat ek in 1966 my eerste swart-en-wit kiekie met my Traveller kamera geneem het, glo ek onwrikbaar dat daar stories agter kiekies (of dan foto’s) lê. Dit moet net vertel word.

 Vandag moes ek afdrukke van foto’s gaan maak vir vriende as aandenkings van twee belangrike gebeurtenisse in die onderskeie vriende se lewens. Die eerste was foto’s van ‘n begrafnis. Die foto’s vertel die verhaal van afskeid van ‘n lewensmaat van sewe-en-vyftig jaar. Die oë op die foto vertel die seer verhaal van afskeid. Die tweede stel foto’s is ook van ‘n afskeid. Die keer die afskeidsfunksie van ‘n kollega wat sewe-en-twintig jaar in sy werkkring gearbei het en nou weens swak gesondheid demissie ontvang. Die oë vertel ook hul eie verhaal. Ek dink weer aan die veelseggende lirieke van Lucas Maree se liedjie Kiekies:

My kiekies is bewyse van die feit dat ek ook daar was, die ensiklopedie van my bestaan…

 “n Kiekie met ‘n mooi, dog hartseer verhaal kruis my pad op die geskiedkundige Griekse eiland Rhodos in 2008.

 Toe ons die helder  lenteoggend op Rhodos afklim, is dit met afwagting. Ons stap eers as groot groep saam met die toergids, verken die hawe en besef:  een van die sewe wonders van die antieke wêreld was hier gesetel. Die Kolossus van Rhodos – die massiewe indrukwekkende bronsbeeld het  wydsbeen  die hawe uitgetroon en waggehou oor seilskepe wat onderdeur die standbeeld vaar. Nou pryk daar net ‘n beskeie bokkie op elk van die pilare waarop die kolos se voete vroeër gerus het.

 Ons stap tot by die strand. Advertensieblou water begroet ons. Impulsief pak ons die naam : Rhodos met strandklippies uit – ons monument vir die spesiale dag. Dan spat die groot groep uiteen –elkeen gretig om ‘n eie verkenning van die eiland te doen. Ek en my reisgenoot vertoef in ‘n kerkie vol ikone. Ek kyk na  die ikone. Hulle kyk terug. Hulle dra kennis van elk van die verskeidenheid van mense wat die kerkie binnekom. Mense met  behoeftes en versugtinge.

Onbeantwoorde liefde. Pyn. Dankbaarheid. Die klompie brandende kerse in die sandbak vertel van die hartswense wat tot klein liggebedjies omskep is.

 Versterk deur verposing, pak ons die dorpie soos wafferse Kruisvaarders aan. Soveel te sien. So min tyd. Ons moet sewe-uur vanaand alweer aan boord van die skip wees.

 Toe ons met ‘n skuins straatjie  afloop, gewaar ons ‘n paar van ons toervriende. Hulle het by ‘n materiaalwinkeltjie vasgehak: S. Ioannides staan op die buitekant. Ben beduie geesdriftig dat ons moet naderstaan – hulle het vriende gemaak met die gawe winkelier – ‘n gedistingeerde Griekse man wat opgewonde is toe hy  Afrikaans hoor. Ons stap nader. Die vroue is besig om die groot verskeidenheid van materiale te bestudeer. Ben en ek begin met die eienaar gesels. Hy staan tussen netjies opgevoude materiale. Raak soms takserend aan die tekstuur van ‘n spesifieke materiaal.  Hy stel homself as Stephanos Ioannides aan ons voor.

 Uit die gesprek blyk dit dat hy in die middel sestigs in Suidelike Afrika was. Eers het hy op ‘n plaas in Rhodesië gewerk en toe goed bevriend geraak met ‘n Afrikaanse gesin. Hulle het later na Suid-Afrika verhuis en hy is saam.

 “Do you know where Krugersdorp is?”, wil hy dringend van ons weet.  Ek verseker hom dat ons goed bekend is met die plek, veral aangesien dit my geboorteplek is. Op die derde verdieping van die Krugersdorpse hospitaal het ek immers die lewenslig aanskou.

 “Do you know Livia Steyn?” is sy volgende, dringender, vraag.  Hy spreek die   naam Livia uit asof hy die geheimsinnige luierende smaak van olywe in sy mond proe. Ons antwoord ontkennend en sien die teleurstelling op sy gesig.

 Ineens kom daar egter ‘n opheldering. “Wait, I’ll show you a photo of Livia” . Uit sy toonbanklaai haal hy dadelik ‘n sepia kiekie van ‘n jong glimlaggende meisie in ‘n baaikostuum. Sy moes pas geswem het want haar kort, bruin hare krul met punte agter haar ore. Sy kyk direk vir die kamera, wat haar tydloos vasvang. In haar oë ‘n weerlose onskuld, byna soos ‘n jong Ingrid Jonker. Langs haar staan ‘n  draagbare radio’tjie. Agter haar pryk ‘n wit Triumph sportmotor.. Regs van haar arm is die twee van die registrasieletters van die nommerplaat sigbaar: EK.

 Dan vertel die gryskop Griek vir ons sy verhaal. Hoe hy hartstogtelik op Livia verlief geraak het. In 1967. “It was true love” sug hy. Die lewenslustige Livia het sy Griekse hart gesteel. Hy het haar gevra om te trou en saam met hom vir altyd en altyd op Rhodos te kom bly. “She was too young” sug hy dan.”her parents wouldn’t let her.” Hy raak liggies aan die foto asof hy sopas ‘n rol egte sy-materiaal oopgevou het.

 Sy hart was gebreek. Hy is alleen terug na Rhodos. ‘n Ruk daarna het hy die vrou ontmoet met wie hy nou al soveel jare getroud is. Hy het nooit weer met Livia kontak gehad nie. ”I often wonder”, peins hy, “is she happy?”

 Sy  goedversorgde vrou onderbreek ons gesprek toe sy van die agterste vertrek ingestap kom. Sy hoor hoe Stephanos opgewonde  met ons gesels. Die swart en wit kiekie van Livia  lê steeds op die toonbank. Sy uiter ‘n paar kortaf woorde in Grieks. Stephanos verdwyn vir ‘n rukkie en kom dan met ‘n album terug.

Onder sy vrou se streng en wakende blik, wys hy vir ons die foto’s van hul troudag.

 “This is me and my wife Helena.” sê hy dan” We have two sons and a grandchild.. We are very happy.”

 Verbeel ek my of sê hy die laaste woorde terwyl sy oë nadenkend op die foto van Livia rus?

Toemaar die Donkerman

Saturday, January 22nd, 2011

Dis Vrydag 8 Februarie 1980. Ek is gepak en gedas.

Dis die begin van ‘n nuwe hoofstuk in my lewe. Na sewe  jaar se studies is ek nou proponent. Oppad na my eerste gemeente. Ek ry in my Gunston-kleur Volksie wat my regdeur my studentejare gedra het. Vol opgewondenheid oor al die nuwe dinge wat voorlê: ‘n nuwe gemeente, nuwe provinsie en dorp, nuwe  huis, nuwe mense. Tog ook die voorbehoud: wat gaan die nuwe omgewing vir my inhou? Hoe sal ek die nuwe verantwoordelikhede kan hanteer? Ek is vyf-en-twintig jaar oud en ongetroud. Die gemeente verwag ‘n jong proponent met ‘n verloofde/vroutjie aan die sy. Verrassing vir hulle want ek arriveer alleen. Gelukkig ry my ouers so entjie agter my. Hulle kom saam vir morele ondersteuning.

Uit die kassetspeler van die motor klink musiek op. Laurika Rauch se stem klink nostalgies mooi. Die liedjie wat sy sing is ‘n tipe wiegeliedjie/troosliedjie. Dis ‘n toonsetting van Ingrid Jonker se gedig, Toemaar, die Donkerman. Ek luister aandagtig na die woorde:

Op die groen voetpad
van die horison ver
om die aarde skat,
stap ‘n ou man wat
‘n oop maan dra in sy hare
Nagtegaal in sy hart
jasmyn gepluk vir sy oop knoopsgat
en ‘n rug gebuk aan sy jare.

Wat maak hy, mammie?

Hy roep die kriekies
Hy roep die swart
stilte wat sing
soos die biesies, my hart
en die sterre wat klop
tok-tok liefling,
soos die klein toktokkies
in hul fyn-ver kring.

Wat is sy naam, mammie?

Sy naam is Sjuut
Sy naam is Slaap
Meneer Vergeet uit die land van Vaak
Sy naam is toe maar
hy heet, my lam
Toemaar, die donker man

Mammie…

Toemaar, die donker man

Die vreemde mengsel van troos en huiwering wat hierdie woorde oordra, vertolk my eie gemoed op die stadium tewyl ek die nuwe gemeente tegemoetry. Enersyds die gerusstellende Sjuut en Slaap. Andersyds die effe onheilspellende naam: Donkerman. So asof hy die swart geheimnis van die nag saam met hom dra. Wat sou tog alles vir my voorlê op hierdie dorpie wat ek glad nie ken nie? “Toemaar” troos Laurika se se stem.

Die film uit die vyftigerjare Vadertjie Langbeen (gebaseer op die boek Daddy Longlegs geskryf deur Jean Webster), vertel die mooi liefdesverhaal van Trudie, wat in ‘n weeshuis grootword. Wanneer sy matriek klaarmaak, besluit ‘n onbekende weldoener om haar universiteit toe te stuur. Sy enigste voorwaardes: sy mag nie sy naam weet nie en sy moet gereeld vir hom skryf en vertel van haar vordering op universiteit. Trudie sien die weldoener nie direk nie, maar wel eendag skrams wanneer sy sy skaduwee sien as hy uitstap. Sy noem hom Vadertjie Langbeen (a.g.v. die skadubeeld).In haar gedagtes is haar weldoener oud,gaaf en  bles. Uiteindelik na ‘n misverstand besluit sy om haar weldoener op te soek. Groot is haar verbasing as sy ontdek dat haar weldoener en die man op wie sy verlief geraak het, dieselfde persoon is. Hy is allesbehalwe oud en bles – hy is jonk, aantreklik en innemend.

Die Donkerman vertel dus van vrese, voorbehoude en verrasssings. Dikwels sien ons die skaduwee en vorm ‘n valse werklikheidsbeeld. Ons sien die voorafskaduwing van iets wat voorlê en besluit reeds dat die skaduwee vol donker en swaar gaan wees. So dikwels is dit juis die teendeel!  Selfs die skaduwee wat aanvanklik vol spoke en drogbeelde ons omhul (bv siekte en pyn) vertoon algaande ook sy ligter kant – die waardering van die klein dinge en oomblikke in die lewe. En ‘n uitbundige lag wat die donker besweer.

Tydens ‘n kuier op Philippolis verlede jaar, ry ons na die nedersettig, Waterkloof, vyf kilometer buite die dorp. Daar is ‘n gerestoureerde (eertydse) poskantoor en kerkie. Daar is ook heelwat murasies. Ons neem verskeie foto’s. Dan raak my reisgenoot kreatief en neem haar eie skaduwee in die veld af. Siedaar – die regte Vadertjie Langbeen, Donkerman-foto!

Daardie dag in 1980 met my ontvangs buite die dorp (Komga) het ek net weer besef – die Donkerman se skadu word ligter met die  leefoomblikke van elke dag. Die groetkommando van die gemeente het my buite die dorp ingewag en ek is oorweldig deur vriendelike groetwense, nuwe name en gesigte. Tog, toe ons ‘n rukkie later in die ruim pastorie (met die spartaanse meubels wat ek as alleenloper toe gehad het) sit, begin die gemeentelede spontaan die verrigtinge met die sing van Ps 100 – Prys die Heer met blye galme. Toe ek na my ouers kyk, sien ek op hulle gesigte ‘n diepe dankbaarheid en verligting. Hulle kan my afgee aan die gemeente – daar sal genade wees saam met al die nuwe uitdagings.

Die Donkerman se gesig word lig as genade ons vergesel.

Plukkers

Saturday, January 15th, 2011

Daar is iets geweldig bevredigends daaraan om vrugte uit jou eie tuin te pluk. Dit is ‘n rykdom wat soos die bekende frase in die Mastercard advertensie lui “priceless” is.

Kleintyd was die groot avontuur altyd die pluk van vrugte uit ‘n ander se boord. Hierdie vrugtestelery was die toppunt van kattekwaad in my grootwordtyd. Veral as dit nog uit die Dominee se boord kon wees! ‘n Gesteelde vrug proe mos net soeter en beter het ons geglo.

Selfs as studente (nogal Tokkelokke!) ry ons een  reënerige Sondagmiddag van Stellenbosch na Franschoek. Op reënerige Sondagmiddae is dit die gunsteling uitstappie – om vieruur by die “Swiss farm Excelsior” te wees as die varsgebakte botterbroodjies met room bedien word saam met ‘n heerlike koffie. Die hotel wat in Switserse styl gebou is met die mooi houtspitsdak is ‘n gunsteling kuierplek met ‘n asemrowende uitsig op die berge (soms met ‘n effense sneeu op hul pieke). Bokant die ingang pryk die bekende Duitse groet: Gruss Gott, tritt herein und bringt Gluck herein!” Tog is dit nie waaroor die skrywe gaan nie. Oppad Franschhoek toe ry ons oor Helshoogte. Kort voor Pniël is daar die mooiste boorde aan ons regterkant. Rye en tye appelbome. In volle drag. Die versoeking is net te groot. Ons hou stil en klim oor die draad. Dit voel paradyslik. Al hierdie appels! Plukgereed. Eetgereed. Ons besluit dadelik dat ons verstaan hoekom eers Eva en later ook Adam aan die versoeking toegegee het. ‘n Ryp appel aan ‘n boom met die vars reëndruppels daarop is onweerstaanbaar. Ons elkeen pluk ‘n appel en neem summier die eerste hap. Ai, die genot van so varsgeplukte vrug is moeilik beskryfbaar. Later, terwyl ons gemaklik geskaar is om die rooi-en-wit geruite tafeltjie in die hotel, swymel ons nog oor die intense genot van die varsgeplukte appels. Selfs die varsgebak en koffie is vandag nie heeltemal so spesiaal soos altyd nie.

Desember verlede jaar is ons weer in Philippolis vir ons jaarlikse somerkuier. Met die inryslag het ons gesien dat die appelkoosboom (waar sou die naam vandaan kom?) in volle drag is en reeds ‘n klomp van sy rypgeworde vrugte op die grond laat val het. Ons pluk appelkose van die laaghangende takke en kan nie wag om dit oop te breek, die pit uit te haal en die soet heerlikheid van die twee helftes te proe nie. En soos ook die geval met die ander vrugtebome in die tuin, proe die vrugte van ons eie boom nog lekkerder as die gesteelde vrugte uit kindertyd.

Met ‘n vorige kuier vroeër verlede jaar was die twee pekanneutbome in volle drag en kon ons na hartelus pluk. Ai, die onbeskryflike rykdom om neute van jou eie boom te pluk en dan rustig dit by die greinhouttafel uit te dop en te eet! Dit is een van die heerlikhede wat ons saam met die karaktervolle ou huisie gekry het – al die vrugtebome in die tuin: ‘n Amandelboom aan die kant van die huis maak die mooiste wit bloeisels in die lente (ons eie Wakkerboom!) en dra ‘n goeie vrag amandels. Die twee appelkoosbome dra oorvloedig, so ook die twee pekanneutbome. Daar is ‘n perske- en kaalperskeboom, ‘n vyeboom, ‘n olyf, ‘n suurlemoen- en lemoenboom. Ook ‘n turksvy en die lekker wingerd met kristal en ketobadruiwe. Om die Kanaanoorvloed volledig te maak het ek drie jaar gelede ‘n granaatboom by die bakoond geplant en met vreugde gesien hoe die granate volop begin uitswel(totdat  kwaaijongens dit, saam met kussingslope vol applkose, gepluk het). Is dit dalk “poetic justice” vir al ons strooptogte as kinders?

Terwyl ons egter die appelkose so een vir een pluk gedurende die vakansie, dink ek aan die aangrypend mooi toonsetting van ‘n gedig van Deon Opperman wat Amanda Strydom sing. Die titel daarvan is: Die Plukker

Ek sien ‘n sonryp perske daar doer bo aan ‘n tak
Hy groei hier en hy gloei daar vol sap en lig gepak
Ek haal my hoogste trapleer
want dit moet mens verstaan

‘n Plukker moet sy klim ken as hy’n boord ingaan
‘n Plukker moet sy klim ken as hy’n boord ingaan

Ek dra my trapleer na die boom en plaas
hom net mooi reg
So met die eerste trapslag klim ek die aarde weg
So met die eerste trapslag klim ek die aarde weg

Al hoër en al hoër op boontoe na die vrug
Al hoër en al hoër my mandjie op my rug
Verby tak, blaar en wolke trap vir trap, dis ver
Verby die son, verby die maan verby planeet en ster
Verby die son, verby die maan verby planeet en ster

So hoog klim ek dat onder sien ek die heelal draai
En bo my kop die goue vrug waar hemelswinde waai
En bo my kop die goue vrug waar hemelswinde waai

Aan die toppunt van my leer huiwer ek ‘n ruk
Dis bra moeilik, selfs’n kuns om so ‘n ding te pluk
Dan reik ek uit en vat hom – sy sap kan ek al proe

Laat val hom in die mandjie
En dra hom aarde toe
Die vrug deel ek met almal – ek sê neem, eet en glo
Want hierdie stukkie perske kom uit die boord daarbo
Hierdie stukkie perske kom uit die boord daarbo

Elke vrug wat mens (van jou eie!) boom pluk is soos ‘n klein vreugdesakrament. ‘n Bevestiging dat daar ‘n sorgsame Vader is wat ons behoeftes ken. En voorsien. Dit besef ons telkens as ons na die groot hoeveelheid voëltjies kyk wat lustig hulle maaltyd vind in die appelkoosboom.

In die film: City of Angels, geniet die mensgeworde voormalige engel, Seth (vertolk deur  Nicolas Cage) die vreugde van sintuiglike ervaring wanneer hy vir die eerste keer die aanraking van Maggie (vertolk deur Meg Ryan) kan voel. Wanneer hulle later saam ontbyt eet, is die eet van ‘n vars vrug vir Seth ‘n sensoriese ontdekkingstog en deur sy opgewonde beskrywing van die smaak van die vrug “proe” Maggie ook as’t ware die vrug vir die eerste keer.

‘n Varsgeplukte perske, appelkoos of vy uit ons tuin het hierdie selfde effek by my. Dis vrugte vars uit die hemelboord.

Pluk vandag ‘n vars vrug as jy kan. En eet dit met eerbiedige genieting.

Ashoop-avontuur

Tuesday, January 11th, 2011

Die ashoop is ‘n vreemde plek. Hartseerplek.Waag dit maar ‘n slag op die ashoop (wat mens in die meeste stede nie meer kan doen sonder om jou lewe in gevaar te stel nie). Tog as jy wel ‘n slag ‘n “veilige” ashoop verken, sien jy die treurige verhaal van weggooigoeters.

Die lied van Doris Brasch en Dawie Couzyn wat ons kleintyd so lustig saamgesing het,vertel immers die verhaal van die lappop wat daar verlate was en toe deur haar mede-“afvalliges” tot ashoop-koningin gekroon is:

Iemand het ‘n lappop op ‘n ashoop weggegooi
Sy was gedaan en stukkend verbleik en nie meer mooi nie

op die ashoop hoor sy stemme praat
en die verwelkom haar
Maar o, ellende, toe sy kyk, wat sien die lappop daar

net ‘n vrot pampoen en ‘n stukkende skoen,
‘n grammofoonplaat en ‘n kous sonder maat,
net ‘n leë bottel bier en verlepte angelier,
‘n gelapte binneband en ‘n ou koerant

Ag hoe droewig voel die lappop toe sy alleen daar lê
want sy weet dat niemand ooit vir haar, vir lappop weer wil hê nie
‘n traan loop oor haar lappop wang want dit begin te reen
en daar lê sy sy ou lappoppie op die ashoop so alleen

Ag nee wat sê die lappop, ek soek ‘n ander oord
Wat sal die wêreld van my dink wat soort jy weet, soek soort
Ag wil almal wil vir lappop troos en soebat sy moet bly
hulle sê dis die mooiste ashoop die wat ‘n mens nog ooit kan kry

Al die goeters op die ashoop hou gou vergadering
en besluit om lappop te bekroon as die ashoop koningin
van toe af bly die lappoppie so trots tevrede daar
en al haar onderdane bedien getrou vir haar

Ai, die koorgedeelte  “net ‘n vrot pampoen en ‘n stukkende skoen” het ons met ekstra oorgawe gesing en die “net ‘n ” so uitgerek want dit was so lekker om die ashooplysie te sing.

Nouja, die stukkende skoen (en dalk ook vrot pampoen) sal jy beslis nog daar kry. Die gebreekte Grammofoonplaat waarskynlik nie meer nie, maar (veral na die feesgety) die oormaat leë bottels (en blikkies) bier.

Die afgelope naweek nooi vriende op Philippolis my en my reisgenoot om te kom “inkopies” doen saam met hulle. “Waar gaan ons heen vir die inkopie-sessie?” wil ons weet. “Ons is oppad na Ashgate” antwoord hulle. ” Daar is baie winskopies. Eintlik is alles gratis, mits jy bereid is om deur die voorraad te sif.” So vertrek ons Saterdagmiddag om 4nm. agterop ‘n bakkie na die asgate, oftewel vullishoop buite Philippolis.

Aanvanklik is ons versigtig en byna vies om deur soveel rommel te stap opsoek na herwinbare voorwerpe. Want anders as die liedjie is daar ook ‘n ontbindende skaapkarkas of twee en allerlei vreemde (nie-vlieënde) voorwerpe. Tog, na ‘n eerste vonds, begin die “inkopietog” nogal opwindend raak. Ons tel etlike enemelbekers, borde, bakkies op. Ons vind ook ‘n paar fietswiele, geroeste sinkbadjies, trommels en selfs twee skaflike melkkanne. Ook twee geroeste houtsae, potdeksels en ‘n ou broodblik. Verder is daar heelwat potskerwe, geroeste draad en selfs verskeie binneveermatrasse sonder die stopsel en die materiaal! Die laat ons maar rustig lê. Ook die yskas wat eenkant weggegooi lê, laat ons met rus. Aan die einde van ons uur en ‘n half se “inkopies” het ons ‘n skaflike vrag. Ons neem dit triomfantelik terug. Elke item sal nou goed gewas en geskrop word en dan onder die kunstige hand van ons vriendin getransformeer word tot ‘n gebruiks- of geskenkartikel.

Die nuutgemaakte produkte bied sy dan te koop aan in die winkeltjie in die Jobhuis. Die huis het ‘n baie interessante verhaal wat ek nog vorentoe oor sal skryf. Kortliks kan net genoem word dat die Jobhuis vroeër as die Spookhuis bekendgestaan het omdat dit vir vyf-en-dertig jaar lank onbewoon was en in ‘n uiters vervalle toestand was. Onder die sorgsame hand van drie vriendinne en hul helpers is die huis oor ‘n tydperk van ‘n jaar liefdevol gerestoureer en in ‘n baie mooi galery en kantoor omskep.

Die galery huisves vyf-en-twintig skilderye wat deur  ons vriendin Rina geskilder is en wat die worsteling en groei van Job uitbeeld. Dit is dus gepas dat goedere wat van die ashoop af kom hier in herstelde gedaante verkoop word.

Immers, wie op die ashoop ‘n draai gemaak het, bevind hulle in goeie geselskap want dit is waar Job ‘n tydlank sy worstelgesprek met God gevoer het. Ons lees daarvan in Job 2:8 ev.

Job het op ’n ashoop gaan sit en hy het ’n potskerf gevat en hom daarmee gekrap. En sy vrou het vir hom gesê: “Bly jy nog steeds vroom? Vervloek God en sterf!”Toe sê hy vir haar: “Jy praat nou soos ’n vroumens sonder verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”

Iets vreemds gebeur op die ashoop. Enersyds is mens bewus van die beperkte duur van alles. Iewers, eendag, eindig so baie vroeëre gebruiksartikels op die ashoop. Die hartseer is ook dat mense soms letterlik maar so dikwels ook figuurlik op die ashoop beland. Hulle drome is verpletter, hulle is geknak deur traumatiese gebeure, hulle begin wanhoop. Wanhoop word dikwels ‘n voorportaal van die ashoop. Alles lyk uitsigloos en die lewe voel soos ‘n groot Cul-De-Sac.

Juis daarom is dit soms goed om weer ‘n rukkie by Job op die ashoop te sit en te luister na sy kreet tot God. Eers dan kan ‘n ware “oop gesprek” met God begin. Daar, gestroop van alle pretensie, kan die ware verootmoediging en sielsreis begin.

Vir die Lappop was daar ‘n gelukkige einde, maar sy het ongelukkig op die ashoop gebly. Die vreugde van die Evangelie is die besef dat Iemand  nie die  ashoopmense vergeet het nie. Hy maak hulle heel en gee hulle weer ‘n nuwe waarde. Sodat hulle van die ashoop bevry word en teruggestuur word na hulle omgewing as nuttige gebruiksartikels.

Dit is die avontuur van die ashoop.

                                         

Drumpels

Tuesday, January 4th, 2011

 

Die diep rooibruin vloer se reliëf vertel die verhaal van vele voete wat hier ingeloop het op soek na die stil heiligheid wat die gebou omhul. Die hoë koepel – ‘n stil getuie van eeue se asemversugtinge wat biddend na bo gestuur is. Deur die klein boogvenstertjie straal ‘n ligstreep na binne. Bevestigend. Die glansgoud en blou steentjies se geheel vorm ‘n stipkykende Jesus – sy regterhand en vingers seënend gelig. Ek ervaar die gedrae stemming van die Hagia Sofia –plek van goddelike wysheid. ‘n Bakengebou in Istanbul.

Met die binnestap van die indrukwekkende Bisantynse kerk uit die sesde eeu, wys Halit Ucan, ons bekwame gids, die massiewe deure aan ons. Die deure met hul swaar beslag is afkomstig uit Tarsus, Paulus se plek van herkoms. My oë dwaal van die imposante deure na die Christus- mosaiek wat verwelkomend in die ingang troon. Paulus en Christus. So inter-verweef loop hulle voetspore op hierdie Turkse toer wat ek en my reisgenoot kan meemaak. Terwyl ons saam met die ander toerlede en ‘n groep uitgelate Turkse laerskoolkinders die verslete spiraalpad na die boonste vloer van die museum-kerk volg, dink ek daaraan hoe elke drumpel mens weer tot ‘n nuwe ontdekking lei…

Sommige mense praat soms van ‘n drumpelvrees: Die letterlike vrees om oor ‘n drumpel te tree. Dis iets wat eienaars van winkels probeer hokslaan deur hulle ware so uitnodigend as moontlik voor te stel om mense as’t ware die winkel in te lok. Tog gebeur dit dat iemand deur die venster sal staar en selfs ‘n behoefte het om iets van naderby te kyk en dan omdraai – dit lyk my dit gebeur veral met mans by juwelierswinkels. (dalk iets met die pryse te doen wat hulle in die vensters sien!)

Die vreemde gevoel van oor die drumpel te tree is tegelyk onseker en opwindend: Ek onthou hoe daar dikwels tussen twee kinders wat haaks was so oomblik van waarheid was. Een van die twee het ‘n streep op die grond getrek en gesê: “Daar is jou kesh.” En die ander een weet – tree jy oor hierdie streep, dan is daar moeilikheid! Dis dalk dan wat dit nie verkeerd sou wees om drumpelvrees te kry nie! Tog word jy dan dalk gebrandmerk as lafaard. Dus trap jy oor die streep…

Izak de Villiers vertel in sy outobigrafiese boek : Strooidak en Toring van so gebeurtenis toe hy op skool was. Die klasboelie het hom op alle maniere getreiter om hom uit te lok tot ‘n geveg. Uiteindelik het hy Izak een dag gevolg en paar van sy trawante by hom gehad. Izak hulle probeer ontglip deur met sy fiets in ‘n smal stegie in te ry. Daar was egter ‘n hek aan die punt en hy was vasgekeer. Die boelie het grynslaggend nadergestaan met sy twee helpers by hom. Hy het geweet Izak was letterlik en figuurlik in ‘n hoek gedruk. Toe trek hy ‘n streep op die grond. Hy kom staan toe op die streep en spoeg na Izak. “Kom toe slaan my!” koggel hy. Izak het geweet dat hy net een kans het. Hy het die boelie op sy knie geskop en toe die vooroor buk, hom met een harde vuisslag teen die kant van sy kop geslaan. Die volgende oomblik slaan die boelie op die grond neer soos ‘n boom wat deur weerlig getref is.

Die volgende dag is Izak ingeroep na die hoof se kantoor. Hy wou by Izak weet waarom hy die klasmaat geslaan het. Al wat Izak kon antwoord: Meneer soms het mens net een kans om uit ‘n benarde situasie te kom. Ek moes my een kans gebruik. Die hoof het hom lank aangestaar en toe laat gaan.

Een kans. Soms kom ‘n spesifieke drumpelgeleentheid net eenmaal oor jou pad.

So aan die begin van die nuwe jaar kan mens jouself dalk baie verwyt oor verspilde kanse. Jy was te bang, te dom, te ongelowig om die tree te gee. En so het ‘n kosbare geleentheid tot iets nuuts verbygeglip. Dalk is dit ook soms nodig dat ons onsself vergewe oor verspilde geleenthede en nie aanhou terugkyk nie. Ons moet eerder ingestel wees op nuwe kanse, nuwe drumpels.

Hieraan herinner Jesaja ons:
“Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom..
(Jes 43:18,19)

Jesaja plaas ons vir ‘n oomblik in die sirkus tent – daar is die tromrol! En dan val die kollig op die sweefstokkunstenaar. Hy staan op die platform, duik vorentoe, gryp die sweefstok vas en swaai….

Aan die oorkant  kom nog ‘n sweefstok in beweging en die kunstenaar moet die een stok los en met perfekte tydsberekening  die volgende stok vasgryp.
Applous en gejuig klink in die sirkustent op as die sweefstokkunstenaar op die regte tydstip die een sweefstok los en  die ander een foutloos vasgryp.

Sweefstok artieste is meesters van die tussenruimte (Ron Martoia)
Juis in die mate dat hulle bereid is om groot ruimtes oor te steek, is die mate waarin hulle as groot kunstenaars beskou word. Want al is daar ‘n wetenskaplike berekende linkerbreindimensie aan hulle vaardigheid, is daar terselfdertyd ‘n geweldige hoeveelheid instink en aanvoeling wat daarmee gepaardgaan. Sweefstokartieste sweef oor gapings. Hulle is eintlik die volmaakte toepassers van die Jesaja 43 beginsel, want die oomblik as hulle die een sweefstok los, is hulle volkome gefokus op die nuwe wat voor hulle lê, draai nie halfpad in die lug om eers totsiens vir die oue te waai nie, maar strek hulle uit na die nuwe geleentheid, die (enigste) geleentheid wat nou belangrik is..

Dit lyk vir my ons sal in die nuwe jaar iets van die sweefstokkunstenaar moet aanleer. Die waagmoed om op die regte tyd te kan laat los en die nuwe vas te gryp. Dit verg geloofsmoed. En ‘n oorwinning oor drumpelvrees.

Mooi sweef in 2011.

                                    

Oorvloed

Saturday, January 1st, 2011

Op Kersdag vanjaar het ek die voorreg gehad om op die wal van die Gariepdam te staan en te kyk hoe die vol dam sy oorvloed van water pluimend oor die oorloop stort. ‘n Indrukwekkende gesig.

Onwillekeurig het ek aan die ou Halleluja liedjie gedink: 

Strome van Seën van Bowe, daal met verkwikking tans neer; skenk uit U Hemelse volheid, skenk ons ‘n oorvloed, O Heer!”

Mens raak jou net so bewus van die letterlike oorstroming van oorvloed as jy die massas water sien stroom. Ek lees dat as die Gariepdam vol is, beslaan dit ‘n oppervlakte van meer as 370vk km en het dit ‘n inhoudsmaat van 6000 miljoen kubieke meter wat deur die 914 meter lange damwal in toom  gehou word.

Oorvloed. Dikwels wens ons mekaar dit toe as goeie geskenk vir die nuwe jaar. maar ek dink ons het die woordjie hol gemaak met ons eie interpretasie van wat oorvloed is. Oorvloed het nie te make met ‘n oorvloed van welvaart, besittings en selfsugtige bymekaarmaakgoed nie. oorvloed hou verband met ‘n Oorvloedige Gewer wat uit sy onuitputlike oorvloed gee sodat ons sy ‘deurgangskanaal” na ander kan wees.

Ferdinand Deist vertel in sy boek Coram Deo die volgende verhaal:

Rabbi Baruk van die dorpie Mezbizh se dogter het hom eendag uitgevra oor die kuns van gee. “My dogter,” het hy gesê, “daar is drie maniere waarop mense gee. Sommige sê vir hulleself: ‘Ek sal iets vir dié arme drommel gee. Ek is immers die soort mens wat sulke dinge doen.’Ander dink weer: ‘As ek iets vir hierdie man gee, sal ek hierná voordeel daaruit kan trek.’Hulle wil hê die hemel moet hulle rente betaal. Maar daar is sommige wat weet: ‘God het hierdie geld in my hand gesit vir hierdie man, en ek is God se posbode.’”

Dis eers as ’n mens geleer het om op die laaste manier te gee, dat jy werklik ervaar: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang” (Hand. 20:35)

Daar is nog ‘n verhaaltjie wat die eerste redakteur van De Kat, Johan van Rooyen,  per geleentheid vertel het.

‘n Baie suinige vrou kon dit nie oor haar hart kry om iets weg te gee nie. Sy het met mag en krag vasgeklou aan al haar besittings. As daar ‘n honger persoon of bedelaar by haar deur opgedaag het, het sy hulle met ‘n afjak weggestuur. Eendag staan daar ‘n baie netjiese, dog arm vroutjie voor haar deur. Sy vra of die vrou nie dalk vir haar iets het het, aangesien haar man sy werk verloor het en hulle sukkel om aan die lewe te bly. In ‘n vreemde opwelling van naasteliefde sê die suinige vrou dat sy in haar kombuis sal gaan kyk, Sy haal niks uit die oorvol spens of groenterak nie. Toe sien sy die weggooi ui wat sy op die asblik neergesit het om uit te gooi. Dit het reeds sulke lang uitloopsels (lowwe). Die suinige vrou neem dit na die deur waar die behoeftige vroutjie staan en gee dit vir haar: “Dis al wat ek het”, sê sy en maak die deur toe.

Kort daarna sterf die suinige vrou. Toe sy by die hemelpoort aankom is dit gesluit. Sy roep en vra om ingelaat te word. ‘n Stem sê: “Dit wat jy weggegee het op aarde, kan jy saambring hemel toe”. Die volgende oomblik sien die vrou ‘n verlepte groen lowwe van ‘n ui wat oor die muur hang. “Gryp dit en hys jouself oor die muur”, sê die Stem. Die vrou gryp die lowwe van die ui krampagtig vas en begin haarself teen die muur optrek.Nodeloos om te sê: dit kon haar gewig nie dra nie en sy stort karplaks neer en val in ‘n armsalige hopie langs die muur neer…

Ja, ek weet die verhaaltjie hou nie rekening met genade nie en klink al te veel na verdienstelikheid wat nodig is om in die hemel te kom, maar ek dink dit illustreer tog wat die Groot Gewer van sy kinders verwag – ‘n ruimhartigheid jeens ander in nood, juis omdat elkeen wat  oorvloed het, dit ook so onverdiend uit sy Hand ontvang.

Daarom sou ek wens, vir myself en ander, dat ons die oorvloed van die Gewer sal raaksien en met dankbaarheid ontvang. Elke dag van die nuwe jaar. Maar dat ons ook , soos Rabbi Baruk dit so mooi gestel het, besef dat ons elkeen God se Posbode is wat ook aan ander moet aflewer…

Aan sy volgelinge beloof Jesus: “Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê en dit in oorvloed” (Joh 10:10b)

As ons besef hoe “oorvloedig’  die woord “oorvloed is, sal ons  oorvloediger leef en vrymoediger gee. Die woord perissos in Grieks beteken: superabundant (kwantiteit) en superior (kwaliteit). Nog sinonieme in Engels is:  exceeding, beyond measure, superfluous, extravagant, extra-ordinary, more than sufficient,vehement. Dit laat ons besef hoe power ons uitloop-uie geskenk soms is.

Verder is my wens vir myself en elkeen dat ons oop-oog sal reis vanjaar sodat ons die rykdom van oorvloed waarmee ons geseën word elke dag sal raaksien en gebruik. Hieraan herinner Mike and the Mechanics se lied, Beggar on a Beach of Gold:

I didn’t know when I was lucky
Discontented feeling bad
Filled with envy
For possessions other people had

I found my pride had always hurt me
Fought the world to gain control
Not realising
I was sitting on a beach of gold

Oh lord I’m a poor man
With all the riches I can hold
I’m a beggar
And I’m sitting on a beach of gold

The problems I encountered
Gave me strength helped me sustain
To know the pleasure
First I had to cure the pain

When I was searching for solutions
I found the answer lay in me
I’m a drifter
But I’m drifting on a silver sea

Oh lord I’m a poor man
With all the riches I can hold
I’m a beggar
And I’m sitting on a beach of gold

I didn’t have courage
My life was as dark as night
When alone in the darkness
I saw the brightest light
Let the light shine down

Are you out there now on empty
Feel you’ve nothing left to give
Sick of trying
Have you lost the will to live?

Don’t be drowning in the shallows
With the beach so near at hand
Hear the voice say
Stand up get up
And join me on the gilded sand

Come and join me on the beach
With all the riches I can hold
Cause I’m a beggar
And I’m sitting on a beach of gold…


‘n Kind se kyk

Wednesday, December 22nd, 2010

Daar is iets wat ek wens ek hierdie Kersfees kon ontvang en ruimskoots uitdeel: Die verwondering  in ‘n kind se kyk.

Onlangs sit ek en wag vir my vrou, wat  op die besige dag  ‘n paar sake in ‘n winkelsentrum moet afhandel. En ek kyk na mense wat verbyloop. Sommige stadig en onseker, ander haastig en gedrewe. Party lyk lewensmoeg en ander het ‘n skyn van energie, maar met ‘n frons tussen die oë. Ineens sien ek ‘n oupa wat stadig stap met sy kleinkind aan die hand. Die oupa sukkel met stram knieë maar die seuntjie hou sy oupa se hand styf vas en trippel van opgewondenheid langs hom. Later toe hulle van die winkel terugkeer en in die motor langs my klim, sien ek die seuntjie se helder ogies wat verwonderd kyk na alles om hom, maar steeds met sy hand veilg in sy oupa s’n. gereeld met heldeverering na die groot oupa van hom kyk.

 Iets hiervan weerspieël Brenda Race in haar gedig: Through the eyes of a child:

 The innocence of a child’s soul

Is what makes them seem so whole.

So peaceful and trusting as they reach out

Full of life and rarely a doubt.

Skipping along while holding your hand,

Knowing that you will take their stand.

Loving you entirely for who you are,

Soaring the beauty of your soul with no scar.

As we grow older and more serious in age,

We become fearful and full of rage.

We begin to lose the things that once made us feel loved…

God grant us the gift to look back as a child,

To trust and love with a soul undefiled.

Looking once more through the eyes of a child.

 Die kyk in ‘n kind se oë weerspieël presies wat hy/sy ervaar. Daar is ‘n stukkie hemelse helderheid in ‘n kind se kykers. So asof al  die filters wat ons volwasse oë ondersigtig maak, nog nie vastrapplek op hulle kinderhelderte  gekry het nie. Dit bly vir my wonderlik om ‘n kind dop te hou  en te sien hoevel emosies en opgewondheid in hulle oë weerspieël word.

Onlangs stop ek voor my suster se woning en sien hoe opgewonde haar twee kleinkinders uitstorm om my te kom verwelkom: Wikne het ‘n blom in haar hare en lyk soos ‘n feëtjie. Kleinboet Wilco kom met uitgestrekte arms aangestorm om welkom te sê. Ek groet hulle, tel hulle op en ons gaan sit by die tuintafel en stoeltjies. Wilco gaan lê peinsend op sy armpies. Dit roep vir ‘n foto.

 Geen wonder nie dat Jesus ons herinner dat ons met kinderlike eenvoud Hom moet opsoek:

 Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.” (Luk 18:16-17).

Daarom: My kerswens aan almal (myself inkluis):

Om weer met kinderverwondering na die wêreld te kyk en met  openheid van ‘n kind weer na die Jesuskind in die krip te kyk en iets van sy matelose liefde te ervaar..

 Frank O’ Connor vertel ‘n verhaaltjie van  ‘n seuntjie wat op kersoggend sy begeerde rooi lokomotief as kersgeskenk ontvang het en die groot geskenk saamgeneem het na die vroegoggend Kersdiens.

 Na die diens het hy by die kersuitbeelding in die liturgiese ruimte gaan staan en peinsend na die Jesuskind in die krippie gekyk. Toe hy besef dat die kindjie geen geskenkie by hom het nie, het ‘n roekelose vrygewigheid hom beetgepak. Hy het sy rooi lokomotief in die krippie langs die babatjie geplaas en gesê: “Dit is vir jou”. Op daardie oomblik het die seuntjie wat sy geskenk oorhandig het, ‘n ligtheid ervaar wat hom sy lewe lank bygebly het.

 Mag ons dieselfde roekelose vrygewigheid ervaar in die Teenwoordigheid van die Geskenkkind. Hy wie se oë anders na ons kyk.

  Met heelmaak-oë.

                            

In-Transito-Kersfees

Tuesday, December 21st, 2010

Dis ‘n tyd vir saamwees met geliefdes en goeie vriende. Soms is dit net so goed om ‘n tradisionele tuiskersfees te vier. Om omring te wees deur die die mense wat jy liefhet, in ‘n omgewing waar jy tuis voel. Ek onthou die liedjie wat The Goombay Dance Band in die tagtigs gesing het:

Christmas at sea – far away from home.
No families and no heavenly snow.
Christmas at sea – visions of home
Sailing tonight all alone.

Terwyl hierdie liedjie tot vervelens oor die eter weerklink het, het ek enersyds gedink: Nog ‘n kommersiële kersliedjie soos Boney M se “Mary’s Boy child”. Tog het ‘n ander stemmetjie gesê: Hoe erg moet dit wees om ‘n Kersfees deur te bring, ver van alles en almal wat vir jou bekend en bemind is. Iewers op die wye oseaan dryf  jy rond op  Kersdag, ‘n stippeltjie op ‘n kaart, met geen vaste grond in sig. Die gedagte was nogal genoeg om ‘n hol kol in my binneste te veroorsaak. Kersfees wil jy wees waar jy hoort. Geanker tussen diegene wat jou na aan die hart lê. Nie onbekend, onbemind en adresloosloos nie.

‘n Kersfees van so klompie jaar gelede was vir my so. Ek was met Desembervakansie in die Kaap en het by my broer gekuier. Heerlik, soos net die Kaap kan wees. ‘n Dag of wat voor Kersfees het sy planne egter weens onvoorsiene omstandighede verander en dit het meegebring dat hy op Kersdag Hermanus toe moes gaan. Juis a.g.v. die komplekse situasie kon ek nie saamgaan nie. Hy het gery en ek het gebly – weliswaar in ‘n luukse dakwoonstel op Bloubergstrand, maar tog alleen.  Skielik het die Kaap nie meer so wonderlik gevoel nie. Ek het later na ‘n eetplek gaan soek en daarna by Seepunt  ‘n lang ent op die Promenade gestap. Van vooraf het mense aangestap gekom twee-twee of in groepe. Die enkelinge was die uitsondering. ‘n Frase uit ‘n Peter Sarstedt liedjie, Beirut, het deur my kop gemaal – “There stood I so brilliantly alone…”

In 2001 het ek dit weer beleef. Ek arriveer stoksiel-alleen by die see. Op Oukersdag. ‘n Paar noodaankope om eetgoed aan te skaf word by die winkelsentrum gedoen. Almal lyk besig en gejaagd en asof hulle iewers behoort en na ‘n huis oppad is waar iemand op hulle wag (so voel dit vir my). Behalwe ek.

Kersoggend reën dit en dis asof dit die hartseer van alleenwees beklemtoon. Die Kersdiens is versterkend maar ek sien oral om my pare en gesinne. Boonop lek die kerk se dak en die druppels plons met gereelde intervalle op die leë stoel langs my. Na die inspirerende diens groet ek die ouderling wat kersgroete by die deur aan almal oordra, met ekstra hartlikheid en staan rond op die kerk se drumpel. Hoopvol. Dalk sal  iemand my nooi vir tee. maar wat is die kans? Mense skarrel verby en  glimlag  net skrams in hulle  haas om by hulle huise en kreunende kerstafels te kom. My kersmaal bestaan uit koue vleis en en slaai met ‘n see-uitsig, maar weereens “Brilliantly alone.”  ‘n Mens moet tog nie op hierdie spesiale dag alleen wees nie, besef ek. 

Vlak voor Kersfees 2006 is my Reisgenoot en ek op ‘n toer in Turkye. Ons is ‘n paar maande getroud en die toer voel soos ‘n verlengstuk van ons wittebrood. Ons vier St Nicholas-dag deur ‘n besoek te bring aan die St Nicholas katedraal in Demre, Turkye. Daar is ook ‘n standbeeld van hom en die kindertjies wat gretig om hom saamdrom. Byna soos Jesus met die kindertjies wat op sy uitnodiging na Hom stroom.  Later in die hotel hou ons ‘n kersdiens en tydens die aandete daag ‘n vrolike kersvader (die vermomde busbestuurder) op met ‘n sakvol geskenke vir al die toerlede. Dit voel asof die kersviering ‘n korreksie wil bied op Kersfeeste wat nie aan die “prentjie” beantwoord het nie. Veral omdat dit my eerste Kersviering saam met my vrou is. 

Toe ons ‘n paar dae later tyd verwyl op die lughawe in Athene terwyl ons wag vir die Air Olympic-vlug wat ons huis toe moet neem, is  ons intens bewus van die feit dat dit Kerstyd is. Oral is daar keurig versierde kersbome met liggies en blinkertjies. Dis egter eers toe ek die jong paartjie sien wat by ‘n kersboom staan met ‘n baba in hul arms, dat ek skielik besef dat dit dalk ‘n moderne Josef en Maria kan wees met die Beloofde Kind in hulle arms. Hulle kyk rond asof hulle soek dat iemand die oomblik moet verewig. Ek nader hulle en vra of ek eers vir hulle ‘n foto met hulle kamera kan neem en dan ook een met my eie kamera. Hul knik gretig. Gaan staan voor die kersboom by die Tolvrye winkels. Op die oog af is dit die prentjie van ‘n jong (Moslem?)paartjie met hulle eersteling in hul arms. Tog word hulle vir my op daardie oomblik die universele Josef en Maria in transito met hulle kosbare kind. Op vlug na ‘n vreemde land omdat die lewe van hul beloftekind in gevaar is. Ja ek besef dat die prentjie nie so stralend en goed daar sou uitsien soos die twee mense en hul kind voor my lens nie. Tog word hulle vir my die simbool van die Josef en Maria wat onderweg is.

Die eerste Kersfees was nie ‘n oordaadfees in ‘n stewige gesinshuis met koerende oupas en oumas om die pasgebore kindjie nie. ‘n Stal vertel van ‘n spartaanse blyplek onderweg. met diere en herders as gaste. So anders as ons baie “veilige” en geborge Kersfeesvierings. En net daar op die lughawe in Griekeland, besef ek dat ons nie te tuis op hierdie aarde moet raak nie. Ons is immers “vreemdelinge en bywoners” op reis na ons eintlike bestemming. Daaraan wil die “transito-kind” van Bethlehem  ons herinner.

Dalk is dit juis die alleenkersfeeste wat ons ook soms hieraan wil herinner.

Sodat ons dankbaar en oop-oog verder kan reis. En ook dié raaksien wat “brilliantly alone” is.

Geseënde Kersfees!